Laat hulle welkom voel by die Gedenkmaal
1 Gedurende die afgelope paar jaar was net 1 uit 3 persone wat die Gedenkmaal bygewoon het ’n verkondiger van die goeie nuus. Hierdie jaar sal dit waarskynlik weer die geval wees. Party woon dalk die Gedenkmaal by omdat ’n familielid of kennis wat in ’n ander stad woon hulle aangespoor het om dit te doen, terwyl ander miskien deur die plaaslike verkondigers uitgenooi is. En ander wat die Gedenkmaal bywoon, is moontlik, hoewel hulle gedoop is, nie meer in die bediening bedrywig nie. Ons wil almal opreg verwelkom wat Jesus se bevel respekteer: “Doen dit tot my gedagtenis.”—1 Kor. 11:24; Rom. 15:7, NW.
2 Toegewese saalwagters moet gereed wees om almal, veral nuwelinge, te verwelkom wanneer hulle by die Koninkryksaal aankom. Ons almal kan egter by die Gedenkmaal die weg van gasvryheid volg (Rom. 12:13, NW). Hoe kan ons dit doen?
3 Daardie aand sal party verkondigers baie besig wees om belangstellendes te vervoer. Ander kan vroeg kom en gereed wees om besoekers wat op hulle eie kom te groet. Wanneer ’n vreemdeling die saal binnekom, moet jy hom hartlik groet en ’n gesprek met hom aanknoop. Vra hom of hy enigiemand in die plaaslike gemeente ken. As hy wel iemand ken, moet jy na hom omsien totdat daardie persoon kom. (Vergelyk Lukas 10:35.) As hy niemand persoonlik ken nie, kan jy hom gerus nooi om gedurende die vergadering by jou te sit. Verduidelik hoe die wyn en brood gedurende die program gebruik gaan word. Hy sal moontlik jou hulp nodig hê om tekste na te slaan wat deur die spreker aangegee word.
4 Wanneer die Gedenkmaalviering ten einde loop, kan jy vir hom sê dat jy bly is dat hy gekom het. Hy sal dalk vrae oor ons werk hê wat jy kan beantwoord. Jou persoonlike belangstelling sal dalk tot ’n bespreking van die een of ander Bybelonderwerp lei, by die Koninkryksaal of elders. Broers wat wakker was en op so ’n prysenswaardige manier die inisiatief geneem het, het al uitstekende studies begin. Voordat die besoeker die Koninkryksaal verlaat, moet jy hom aan ander bekend stel en hom hartlik nooi om weer te kom.
5 Wat ’n plesier is dit tog om ons dierbare broers en susters te verwelkom wat ’n geruime tyd al versuim om die vergaderinge gereeld by te woon of wat onbedrywig in die bediening is! Pleks van vrae te vra oor waarom hulle nie die vergaderinge bygewoon het nie, kan jy bloot sê hoe bly jy is dat hulle daar is. Miskien sal iets wat hulle gedurende die Gedenkmaaltoespraak hoor hulle beweeg om hulle toegewyde verhouding met Jehovah weer in oënskou te neem. Die hartlike manier waarop jy hulle verwelkom en die opregte besorgdheid wat jy aan die dag lê, sal hulle dalk ontroer. Sê vir hulle dat jy daarna uitsien om hulle weer te sien.—Rom. 1:11,12.
6 ’n Spesiale openbare toespraak met die titel “Die ware godsdiens voorsien in die behoeftes van die mensegemeenskap” sal op 10April in die meeste gemeentes gehou word. Maak seker dat almal wat die Gedenkmaalviering bywoon, uitgenooi en gehelp word om teenwoordig te wees. Dit is ons hoop dat diegene wat hierdie spesiale vergaderinge bywoon welkom sal voel en die hartlike gees van samesyn sal ervaar wat onder Jehovah se volk heers.—Ps. 133:1.