Die Seëninge wat dit in hou om saam met ander te werk
1 Dink jy dit hou voordele in om saam met ander in die bediening te werk? Jesus het so gedink. Hoewel die oes groot en die arbeiders min was, het hy 70 dissipels “twee-twee” in die gebied uitgestuur. Hoe het hulle almal tog nie daarby baat gevind toe hulle in “elke stad en plek waar Hy sou kom”, gepreek het nie!—Luk. 10:1, 17; Matt. 9:37.
2 Dit is stimulerend om saam met ander te werk. Party van ons is skaam en vind dit moeilik om vreemdelinge te nader. Dit gee ons moontlik vertroue om die Woord van God met vrymoedigheid te verkondig as ons iemand aan ons sy het. Wanneer ons iemand by ons het, is dit dalk makliker om die werk te doen soos ons geleer is om dit te doen (Spr. 27:17). Die wyse man het gesê: “Twee is beter as een.”—Pred. 4:9.
3 Dit is goed om saam met verskillende verkondigers en pioniers te werk. Die apostel Paulus het onder andere saam met Barnabas, Silas, Timotheüs en Johannes Markus gewerk, en hulle het baie seëninge geniet terwyl hulle saam gepreek het. Dieselfde kan vandag die geval wees. Het jy al saam met iemand gewerk wat lank in die waarheid is? Nadat jy sy vaardigheid in die getuieniswerk gesien het, het jy waarskynlik ’n paar goeie idees gekry wat jou gehelp het om bedrewener te raak. Het jy al saam met redelik nuwe verkondigers gewerk? Dan het hulle waarskynlik baat gevind by van die dinge wat jy geleer het en het jy hulle miskien só gehelp om bekwamer te word en groter vreugde in hulle bediening te smaak.
4 Hou jy tans ’n Bybelstudie? Indien wel, kan jy gerus een van die ouere manne of die kringopsiener nooi om jou te vergesel. Dit hou voordele in as ons Bybelstudente die opsieners leer ken. As jy huiwerig is om die studie in die teenwoordigheid van ’n ouere man te hou, sal hy miskien gewillig wees om dit te hou en kan jy dan toekyk. Jy kan hom gerus ná die tyd om wenke vra oor hoe jy die student kan help om vinniger vordering te maak.
5 Wees ’n opbouende metgesel wanneer jy saam met ander werk. Jou opmerkings oor die gebied moet positief wees. Moet nooit oor ander skinder of oor gemeentelike reëlings kla nie. Hou jou aandag gevestig op die bediening en op die seëninge van Jehovah. As jy dít doen, sal jy sowel as jou metgeselle geestelik verkwik huis toe gaan.
6 Miskien maak jou omstandighede dit vir jou moeilik om gereeld saam met ander broers en susters te werk. Maar jy kan, indien moontlik, gerus tyd inruim om saam met ’n ander verkondiger te werk. Julle sal albei geseën word!—Rom. 1:11,12.