Pioniers help ander
1 Jesus het gesê: “Die oes is werklik groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.” Aangesien die eerste-eeuse oesinsamelaars min was en baie gebied gehad het om te dek, kon Jesus hulle beveel het om soveel mense moontlik met die goeie nuus te bereik deur hulle een-een uit te stuur. Maar hy het hulle eerder ‘twee-twee uitgestuur’ (Luk. 10:1, 2). Waarom twee-twee?
2 Daardie dissipels was nuut en onervare. Deur saam te werk, kon hulle by mekaar leer en mekaar aanmoedig. Dit is soos Salomo dit gestel het: “Twee is beter as een” (Pred. 4:9, 10). Selfs nadat heilige gees op Pinkster 33 G.J. uitgestort is, het Paulus, Barnabas en ander dissipels medegelowiges in die bediening vergesel (Hand. 15:35). Wat ’n voorreg moes dit tog nie vir sommige gewees het om persoonlik deur sulke bekwame manne opgelei te word nie!
3 ’n Voortreflike opleidingsprogram: Soos in die eerste eeu is die hedendaagse Christengemeente ’n organisasie wat hulle op die predikingswerk toespits. Dit voorsien ons ook van opleiding. As individue moet dit ons hartgrondige begeerte wees om die goeie nuus so doeltreffend moontlik te verkondig. Hulp is beskikbaar gestel sodat meer verkondigers bekwamer kan word.
4 By die Koninkryksbedieningskool wat onlangs gehou is, het die Genootskap ’n program vir pioniers aangekondig om ander in die veldbediening te help. Is daar ’n behoefte hieraan? Ja, daar is. Meer as eenmiljoen verkondigers is in die afgelope drie jaar gedoop, en baie van hulle het opleiding nodig om bekwamer in die predikingswerk te word. Wie kan gebruik word om in daardie behoefte te voorsien?
5 Voltydse pioniers kan help. Jehovah se organisasie voorsien hulle van baie raad en opleiding. By die twee weke lange Pionierdiensskool ontvang pioniers opleiding wat by hulle behoeftes pas. Hulle vind ook baat by vergaderinge met die kring- en streekopsieners en by die ouer manne se leiding. Hoewel nie alle pioniers so ervare is soos Paulus en Barnabas was nie, het hulle waardevolle opleiding ontvang wat hulle graag aan ander wil oordra.
6 Wie sal baat vind? Is deelname aan hierdie program tot nuwe verkondigers of pasgedooptes beperk? Glad nie! Daar is jonger en ouer persone wat die waarheid al jare ken, maar wat hulp in sekere aspekte van die bediening sal waardeer. Party vaar uitstekend wanneer dit kom by lektuurverspreiding, maar sukkel om herbesoeke te doen of Bybelstudies te begin. Vir ander is dit dalk maklik om Bybelstudies te begin, maar hulle merk op dat hulle studente nie vordering maak nie. Wat hou hulle terug? Bekwame pioniers kan gevra word om op hierdie gebiede hulp te verleen. Sekere pioniers behaal welslae daarin om belangstelling te kweek, Bybelstudies te begin en nuwe studente na die organisasie te rig. Hulle ondervinding sal nuttig wees in hierdie nuwe program.
7 Vind jy dat jou rooster jou nie toelaat om die gemeente se gereelde velddiensvergaderinge so gereeld te ondersteun as wat jy graag wil nie? ’n Pionier kan dalk saam met jou werk wanneer ander verkondigers nie beskikbaar is nie.
8 Goeie samewerking is nodig: Die ouer manne sal twee keer per jaar reëlings tref sodat verkondigers wat graag persoonlike hulp wil hê aan die “Pioniers help ander”-program kan deelneem. As jy instem om hierdie hulp te ontvang, moet jy en die pionierverkondiger wat toegewys is om jou te help, bymekaarkom en ’n praktiese velddiensrooster uitwerk en daarby bly. Kom elke afspraak na. Let op na doeltreffende maniere om die goeie nuus aan te bied terwyl julle saam werk. Ontleed waarom sekere benaderings doeltreffend is. Pas gerus die wenke toe wat die pionierverkondiger dalk gee om jou aanbieding te verbeter. Namate jy die dinge toepas wat jy leer, sal jou vooruitgang in die bediening vir jou sowel as vir ander duidelik word. (Sien 1 Timoteus 4:15.) Werk so dikwels as moontlik saam en neem aan alle aspekte van die bediening deel, onder andere informele getuieniswerk, maar spits jou toe op enige spesifieke gebied waarin jy persoonlik hulp nodig het.
9 Die diensopsiener sal belangstel in die vooruitgang wat gemaak word. Van tyd tot tyd sal hy die Gemeentelike Boekstudiehouer nader om te hoor hoe jy by die program baat vind. Die kringopsiener sal jou ook help wanneer hy die gemeente besoek.
10 Jehovah wil hê dat sy volk opgelei en “toegerus vir elke goeie werk” moet wees (2 Tim. 3:17). Beskou die “Pioniers help ander”-reëling as ’n goeie voorsiening om diegene te help wat graag hulle vermoë wil verbeter om die woord te verkondig. As dit jou voorreg is om hieraan deel te neem, moet jy dit met dankbaarheid, nederigheid en vreugde doen.