Watter soort gees openbaar jy?
1 Paulus het sy brief aan die gemeente in Filippi met hierdie woorde afgesluit: “Die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus Christus sy met die gees wat julle openbaar” (Filip. 4:23, NW). Hy het hulle geprys vir hulle opregte belangstelling in die verkondiging van die goeie nuus sowel as vir hulle hartlike, liefdevolle besorgdheid oor mekaar se welsyn.—Filip. 1:3-5; 4:15,16.
2 Dit behoort ons begeerte te wees om daardie selfde gees in ons gemeente te openbaar. Wanneer almal ywerig, vriendelik en gasvry is, skep dit ’n gees wat deur waarnemers raakgesien word. ’n Positiewe en liefdevolle gees bring eenheid en geestelike vooruitgang mee (1 Kor. 1:10). ’n Negatiewe gees lei tot ontmoediging en halfhartigheid.—Openb. 3:15,16.
3 Ouere manne moet die leiding neem: Die ouere manne het ’n verantwoordelikheid om ’n goeie, positiewe gees onder hulle en in die gemeente te handhaaf. Waarom? Omdat die gemeente deur hulle gesindheid en gedrag beïnvloed kan word. Ons waardeer dit om ouere manne te hê wat ywerig in die velddiens is, wat ons met ’n hartlike glimlag en vriendelike woorde groet en wie se raad positief en opbouend is, of dit nou privaat of van die verhoog af gegee word.—Hebr. 13:7.
4 Ons moet natuurlik almal ons deel doen om die gemeente vriendelik, gasvry, ywerig en geestelik gesind te maak. Ons kan elkeen hartlik en liefdevol in ons omgang met ander wees (1 Kor. 16:14). Daar moet onder ons geen onderskeid gemaak word wat ouderdom, ras, opvoeding of finansiële status betref nie. (Vergelyk Efesiërs 2:21, NW.) Vanweë ons hoop kan ons ’n vreugdevolle gees, hartlike gasvryheid en ywer in die bediening aan die dag lê.—Rom. 12:13; Kol. 3:22,23.
5 Almal wat met ons omgaan, nuwelinge inkluis, moet hartlik ontvang word en die liefde en gehegtheid van die broederskap aanvoel. Deur ons bediening en deur goeie Christelike eienskappe aan die dag te lê, lewer ons bewys dat die gemeente “’n pilaar en grondslag van die waarheid” is (1 Tim. 3:15). Ons ervaar ook geestelike sekuriteit deur “die vrede van God” wat ons hart en sinne bewaar (Filip. 4:6,7). Mag ons almal ywerig daarna streef om die soort gees te openbaar wat sal verseker dat ons Jehovah se onverdiende goedhartigheid deur die Here Jesus Christus geniet.—2 Tim. 4:22, NW.