Is jy voorbereid op ’n mediese situasie wat jou geloof kan toets?
Hou hierdie inligting waar jy dit in ’n noodgeval gou kan kry
1 Niemand dink daaraan dat hulle dalk vandag of môre in die hospitaal kan beland nie. Tog ‘tref tyd en lotgeval ons almal’ (Pred. 9:11). Al is mediese behandeling nie die vorm van gesondheidsorg waaraan jy voorkeur gee nie, ontstaan die vraag: Wat sal jy doen om jouself teen ’n ongewenste bloedoortapping te beskerm as jy in ’n ongeluk betrokke is en bewusteloos na ’n hospitaal geneem word? Ja, ’n ongeluk of ’n skielike verslegting van ’n gesondheidstoestand kan jou onverwags voor ’n toets van jou geloof te staan bring.
2 Wat sal jy doen om jou onkreukbaarheid te handhaaf as jy jou om die een of ander rede in ’n hospitaal bevind en iemand daar vir jou sê dat jy sal sterf as jy nie ’n bloedoortapping kry nie? Sal jy sommer aanvaar dat hierdie bewering ’n ware aanduiding van jou toestand is? Is jy ten volle oortuig dat jy nie bloed wil hê nie? Is jy daarop voorbereid om hierdie toets van jou geloof die hoof te bied en om jou ‘van bloed te onthou’?—Hand. 15:28, 29.
3 As jy ’n ongewenste, geestelik besoedelende bloedoortapping wil weerstaan, moet jy in die eerste plek ’n vaste oortuiging hê. So ’n oortuiging moet op ’n duidelike begrip berus van wat die Bybel oor bloed sê. Anders kan jy onder emosionele omstandighede maklik deur iemand geïntimideer word wat beweer dat hy meer van die situasie weet as jy. Sal jy onder die wanindruk gebring kan word dat dokters dalk meer oor bloed weet as God? Onder hierdie omstandighede wil jy tog sekerlik “vasbeslote” wees om te “doen wat reg is” in Jehovah se oë, ongeag wat blote mense sê (Deut. 12:23-25, NW). Maar moet jy hierdie uitdaging alleen die hoof bied?—Pred. 4:9-12.
HOSPITAALINLIGTINGSDIENSTE EN HOSPITAALSKAKELKOMITEES
4 Om diegene te help wat hulp nodig het wanneer die bloedoortappingskwessie opduik, het die Genootskap die Hospitaalinligtingsdienste by Brooklyn begin. Elke takkantoor het ’n Hospitaalinligtingsafdeling. In Suid-Afrika en die naburige lande het die Genootskap altesaam 12 Hospitaalskakelkomitees in die groot stede gestig. Hierdie komitees bestaan uit meer as 50 ouere manne wat spesiaal vir hierdie taak opgelei is.
5 Hospitaalinligtingsdienste kan navorsing in mediese tydskrifte oor die hele wêreld doen om inligting oor die beskikbaarheid en doeltreffendheid van talle vorme van bloedlose chirurgie en behandeling te kry. Dit voorsien dan inligting oor hierdie mediese vooruitgang aan Hospitaalskakelkomitees, hospitale en party dokters. (Soms het Hospitaalinligtingsdienste mediese artikels uitgestuur wat toon wat sonder bloed gedoen kan word en het sodoende voortdurende konflik by ’n hospitaal uit die weg geruim.) Dit hou die komitees op hoogte van gunstige hofbeslissings wat regters sal help om ons gevalle met bykomende insig te beskou. Dit hou ook verslag van tegemoetkomende geneeshere sodat die komitees se lêers op datum is vir gebruik wanneer probleme met bloedoortappings opduik.
6 Die Hospitaalinligtingsdienste hou ook toesig oor die opleiding en werk van die Hospitaalskakelkomitees. In die stede waar hulle werksaam is, hou die Hospitaalskakelkomitees gereeld leersame besprekings met die hospitaalpersoneel om verhoudinge met hulle te verbeter. Hulle ondervra hierdie personeel ook om enige bykomende dokters te vind wat ons sonder die gebruik van bloed sal behandel. Hierdie broers is gereed om jou te help, maar om dit doeltreffend te kan doen, is daar noodsaaklike stappe wat jy vooraf moet doen om vir hulle die grondslag te lê.
NOODSAAKLIKE STAPPE WAT ’N MENS VOORAF MOET DOEN—HET JY DIT AL GEDOEN?
7 Maak eerstens seker dat almal in die gesin hulle persoonlike mediese dokument volledig ingevul het—met die datum, persoonlike handtekening en die handtekeninge van getuies daarop. Sommige broers wat by ’n hospitaal opgedaag het met ’n dokument sonder ’n datum en/of die handtekeninge van getuies daarop moes al verneem dat hulle dokument ongeldig is. En het al ons ongedoopte kinders hulle ingevulde identifikasiedokumente? Indien nie, hoe sal die hospitaalpersoneel dan in ’n noodgeval waarby jou kind betrokke is, weet wat julle standpunt oor bloed is en met wie hulle in aanraking moet kom?
8 Sorg vervolgens dat almal hierdie dokumente ALTYD by hulle het. Maak elke dag voor jou kinders skool toe gaan seker dat hulle dit by hulle het, ja, selfs voordat hulle na ’n speelplek of ontspanningsterrein toe gaan. Ons moet almal seker maak dat ons hierdie dokumente by ons het wanneer ons by die werk is, met vakansie gaan of by ’n Christelike byeenkoms is. Moet nooit daarsonder wees nie!
9 Dink net wat met jou kan gebeur as jy in ’n ernstige toestand by die ongevalle-afdeling van ’n hospitaal aankom en jy bewusteloos is en/of nie daartoe in staat is om jou standpunt te verduidelik nie. As jy nie die dokument by jou het nie, en daar nog geen familielid of ouere man by die hospitaal is om jou standpunt namens jou te stel nie, en daar besluit word dat jy ‘bloed nodig het’, sal jy waarskynlik ’n bloedoortapping ontvang. Ongelukkig het dit al met sommige gebeur. Maar as ons die dokument by ons het, praat dit namens ons en stel dit ons standpunt.
10 Daarom is ’n mediese dokument beter as ’n mediese armband of halsketting. Laasgenoemde kan nie ons Bybelse redes vir ons standpunt verduidelik nie en het ook nie handtekeninge om te bevestig wat daar gesê word nie. ’n Kanadese hofbeslissing het die volgende oor ’n suster se dokument gesê: “[Die pasiënt] het die enigste manier moontlik gekies om dokters en ander verskaffers van mediese sorg omtrent haar wense in te lig indien sy ooit bewusteloos sou raak of andersins nie daartoe in staat sou wees om haar wense oor te dra nie, naamlik dat sy nie tot bloedoortappings instem nie.” Moet dus nooit daarsonder wees nie!
11 Aangesien ons mediese dokument hoofsaaklik ontwerp is om in noodgevalle gebruik te word, sal dit verstandig wees om in die geval van selektiewe chirurgie jou eie, persoonlike, vollediger dokument (wat op ons mediese dokument gebaseer is) vooraf op te stel sodat jy besonderhede daarby kan insluit, soos die tipe chirurgie asook die name van die dokters en die hospitaal. Dit is jou reg om dit te doen en sodoende jou keuse van behandeling te verseker. Al voorsien jy en die dokter nie ernstige probleme nie, moet jy verduidelik dat hierdie dokument se bepalings gevolg moet word in die geval van enige onverwagse komplikasies.—Spr. 22:3.
12 Die volgende belangrike stap is om met die mediese personeel te praat met wie jy in die geval van óf selektiewe óf noodbehandeling te doen sal kry. Met wie moet jy veral praat?
PRAAT MET DIE MEDIESE PERSONEEL
13 DIE MEDIESE SPAN: Dit is wanneer mensevrees nie die oorhand moet kry nie (Spr. 29:25). As jy onseker voorkom, kan iemand tot die slotsom kom dat jy nie opreg is nie. Wanneer chirurgie nodig is, hetsy selektiewe of noodchirurgie, moet jy of jou naaste gesinslid met vasbeslotenheid ’n paar doelgerigte vrae aan die hoof van die chirurgiese span stel. Een belangrike vraag is: Sal die span die pasiënt se wense respekteer en die pasiënt onder alle omstandighede sonder bloed behandel? Sonder hierdie versekering sal jy nie baie goed beskerm wees nie.
14 Sit jou wense duidelik en met waardige oortuiging uiteen. Stel dit duidelik dat jy mediese behandeling met alternatiewe bloedlose middels vir jou probleem wil ontvang. Bespreek jou mediese dokument wat jy vooraf opgestel het en die hospitaal se vorm wat hulle van aanspreeklikheid vrystel op ’n kalm en oortuigende wyse met die chirurg. As hy onwillig is om jou wense te respekteer, sal jy tyd spaar as jy die mediese superintendent van die hospitaal vra om vir jou ’n ander dokter te vind. Dit maak deel uit van sy werk.
15 DIE NARKOTISEUR: Van al die dokters op die mediese span met wie jy voor die operasie moet praat, IS DÍT DIE EEN DOKTER MET WIE JY BESLIS MOET PRAAT. Dit is die narkotiseur se verantwoordelikheid om jou aan die lewe te hou terwyl die chirurg opereer, en hy is die een wat besluite neem oor dinge soos die gebruik van bloed. Dus is jy nie ten volle beskerm as jy net met die chirurg praat nie. Daarom moet jy met die narkotiseur praat, hom van jou standpunt oortuig en vasstel of hy dit sal respekteer of nie.—Vergelyk Lukas 18:3-5.
16 Dit lyk asof dit gebruiklik is dat die narkotiseur die pasiënt laat die aand voor die operasie vir ’n kort rukkie besoek—te laat as hy teen jou standpunt oor bloed gekant is. Dring daarop aan dat die chirurg vooraf ’n narkotiseur kies wat sy samewerking sal gee en met wie jy lank voor die selektiewe chirurgie kan praat. Dan sal daar tyd wees om ’n ander narkotiseur te vind as die eerste een onwillig is om jou wense te respekteer. Moenie dat enigiemand jou dit probeer wysmaak dat jy nie hierdie reg het om voor jou operasie met die narkotiseur tevrede te wees nie.
17 Jy moet jou standpunt, wat nie onderhandelbaar is nie, aan al hierdie dokters duidelik maak: GEEN BLOED NIE. Vra vir mediese behandeling met alternatiewe bloedlose middels. Meld enige bekende alternatiewe middels vir bloed wat in jou geval gebruik kan word. As die mediese span van mening is dat dit nie in jou geval sal help nie, kan jy hulle vra om in mediese lektuur navorsing te doen oor ander moontlikhede. Verseker hulle dat, as hulle wil, jy vir hulle inligting kan kry deur jou ouere manne te vra om met die naaste Hospitaalskakelkomitee in verbinding te tree.
OEFEN JOU REG UIT
18 Bestudeer die vorm wat die hospitaal van aanspreeklikheid vrystel noukeurig, asook die toestemmingsvorm wat die hospitaal jou met jou toelating laat teken. Soms is daar net ná ’n verklaring dat hulle jou wense sal respekteer ’n paragraaf wat sê dat die ondergetekende toestemming gee dat die hospitaal “lewensreddende” behandeling kan toepas wanneer hulle probleme ondervind. Dit kan bloed insluit. Jy het die reg om enige van hierdie verklarings te verander om bloed uit te sluit of jy kan hulle heeltemal skrap. Verpleegsters sal jou dalk probeer keer en sê dat jy dit nie mag doen nie, maar jy mag! Verduidelik dat so ’n vorm ’n kontrak is wat jy met hulle aangaan en dat jy nie ’n kontrak kan onderteken waarmee jy nie saamstem nie. As enigeen jou teen jou wil probeer dwing om te teken, moet jy vra om met die mediese superintendent en/of die pasiëntverteenwoordiger van daardie hospitaal te praat.
19 Kan jy so optree? Ja, jy kan. Jy moet dus jou regte as pasiënt ken. Hierdie menseregte word nie by die voordeur gelaat wanneer jy ’n hospitaal binnegaan nie. Jy hoef hulle nie prys te gee sodat jy behandeling kan ontvang nie. Moenie dat enigiemand jou iets anders probeer wysmaak nie.
20 Een so ’n reg word die reg van ingeligte toestemming genoem, wat beteken dat geen behandeling van enige aard sonder jou toestemming aan jou gegee kan word nie. Jy kan selfs alle behandeling weier as jy wil. Jy moet alleenlik jou toestemming tot behandeling gee nadat jy ’n ondubbelsinnige verduideliking ontvang het van wat die mediese span beoog om te doen, sowel as van al die risiko’s wat daaraan verbonde is. Dan, nadat jy hieroor ingelig is, kies jy die behandeling wat jy wil hê.
21 Om seker te maak dat jy weet waarvoor jy toestemming gee, MOET jy goeie vrae vra oor enigiets wat jy nie verstaan nie, veral wanneer die hospitaalpersoneel groot woorde of mediese terme gebruik. As ’n dokter byvoorbeeld sê dat hy “plasma” wil gebruik, kan jy in alle onskuld tot die gevolgtrekking kom dat hy na ’n “plasma-uitdyer” verwys, maar dit is dalk nie die geval nie. Voordat jy toestemming gee, moet jy eers vra: “Is dit ’n komponent van bloed?” Vra die volgende oor enige van sy prosedures: “Sluit daardie behandeling die gebruik van bloedprodukte in?” As hy die een of ander toerusting beskryf wat hy wil gebruik, kan jy vra: “Word my bloed op enige tydstip tydens die gebruik van hierdie toerusting geberg?”
22 Maar wat staan jou te doen as jy alles gedoen het soos dit hierbo uiteengesit word en daar is steeds geen samewerking nie of selfs ’n mate van teenkanting teen jou standpunt? Moenie huiwer om hulp te vra nie. Sommige het té lank gewag om hulp te vra en het hulle lewe in gevaar gestel.
WAARDEVOLLE HULP IN ’N TYD VAN NOOD
23 Die volgende prosedure sal jou help om die nodige hulp te kry: (1) Sodra jy of ’n geliefde selektiewe of noodchirurgie moet ondergaan waar daar ’n konfrontasie is omdat die hospitaal bloed wil gebruik; of (2) as jou mediese toestand of dié van ’n geliefde ernstig versleg; of (3) waar, in die geval van ’n kind (of volwassene), die dokter, ’n verpleegster of die mediese superintendent van die hospitaal sê dat hulle ’n hofbevel gaan kry, moet jy:
24 MET JOU PLAASLIKE OUERE MANNE IN AANRAKING KOM as jy dit nie reeds gedoen het nie. (Vanweë ons standpunt oor bloed is dit inderdaad verstandig om ons ouere manne te laat weet wanneer ons ook al na ’n mediese inrigting moet gaan.) Dan, as hulle meen dat dit nodig is, SAL DIE OUERE MANNE MET DIE NAASTE HOSPITAALSKAKELKOMITEE IN AANRAKING KOM. As jy wil, sal van die lede van die Hospitaalskakelkomitee moontlik op hierdie tydstip na die hospitaal toe kom om jou by te staan.—Jes. 32:1, 2.
25 Hierdie ouere manne van die Hospitaalskakelkomitee weet wie die tegemoetkomende dokters in jou gebied is en kan jou help om met hulle in aanraking te kom en kan ook ’n lys opstel van ander dokters of hospitale wat kan help. As daar niemand plaaslik beskikbaar is nie, moet die ouere manne met die naaste komitee in aanraking kom. En as dit ook nie help nie, sal hulle die Hospitaalinligtingsafdeling by Bethel skakel. Hulle sal moontlik ook vir ’n onderhoud met ’n tegemoetkomende dokter reël wat aan jou huidige mediese span kan verduidelik wat sonder die gebruik van bloed gedoen kan word. Die broers van die Hospitaalskakelkomitees is opgelei om sulke situasies te hanteer.
26 Lede van die Hospitaalskakelkomitees is ook bereid om jou of ’n familielid te help om met ’n dokter of ’n mediese superintendent te praat, maar jy moet daardie hulp aanvra. Hierdie broers kan natuurlik nie namens jou besluite neem nie, maar dikwels kan hulle jou help om die Genootskap se beskouing van sake te ondersoek en jou van jou mediese en wetlike keuses in kennis stel.
27 As die mediese span steeds nie hulle samewerking wil gee nie, moet jy met die mediese superintendent van die hospitaal praat oor die moontlikheid om hulle te vervang met ander dokters wat aan die hospitaal verbonde is en wat jou wense sal respekteer. As die superintendent huiwer om dit te doen en SLEGS as jy beslis ’n ander chirurg by ’n ander hospitaal het en jy wel oorgeplaas kan word, dan het jy die keuse om ’n geskrewe verklaring met die datum en jou handtekening daarop aan die superintendent te gee waarin jy die name verstrek van die dokters wat jou nie sonder bloed wou behandel nie en sê dat jy nie meer van hulle dienste gebruik sal maak nie.
28 Kan jy dit doen? Ja, jy het daardie reg. En as ’n landdros later oor die saak uitspraak lewer, kan jou geskrewe verklaring baie daartoe bydra dat hy jou wense erken. Dit kan dit ook vir ander chirurge moontlik maak om op etiese wyse na vore te kom en jou hulle dienste aan te bied. En, die belangrikste van alles, jy kan die nodige mediese aandag ontvang vóór jou toestand gevaarlik versleg. Moenie te lank wag nie!
29 Hoewel ons vir niemand kan sê om mediese versekering uit te neem nie, moet jy bewus wees van die feit dat ons dikwels ernstige probleme ondervind om ’n andersins tegemoetkomende dokter te oortuig om diegene te behandel wat onvoldoende of geen mediese dekking het nie.
STRIKVRAE WAARNA JY OP DIE UITKYK MOET WEES
30 Jy moet bewus wees van die feit dat daar vrae is wat dokters en ander aan jou kan stel wat nie altyd met ’n goeie beweegrede gevra word nie. Die een wat die meeste deur dokters (en sommige landdroste) gevra word, is:
• “Sou jy eerder wou sterf (jou kind laat sterf) as om ’n ‘lewensreddende bloedoortapping’ te aanvaar?”
31 As jy ja sê, sou dit in godsdienstige sin korrek wees. Maar daardie antwoord word dikwels verkeerd verstaan, en by tye lei dit selfs tot ongunstige hofbeslissings. Jy moet onthou dat jy nie in die bediening is in hierdie situasie nie. Nee, jy praat oor mediese behandeling wat jy nodig het. Jy moet jou gevolglik by jou gehoor, hetsy medies of wetlik, aanpas.—Ps. 39:2; Kol. 4:5, 6.
32 Vir ’n dokter, ’n regter of ’n mediese superintendent kan ’n “ja” beteken dat jy ’n martelaar wil wees of dat jy jou kind vir jou geloof wil opoffer. Om hulle in hierdie situasie van jou vaste geloof in die opstanding te vertel, help gewoonlik nie. Hulle sal jou as ’n godsdiensdweper bestempel, iemand wat nie redelike besluite kan neem wanneer ’n lewe op die spel is nie. In die geval van kinders sal hulle jou as ’n agterlosige ouer beskou wat sogenaamde “lewensreddende” mediese behandeling weier.
33 Maar jy weier NIE mediese behandeling as sodanig nie. Jy verskil slegs met die dokter oor die SOORT behandeling. Hierdie standpunt sal dikwels die hele situasie vir jou en hulle verander. Daarbenewens is dit misleidend van hulle om voor te gee dat bloed veilig is en dat dit die ENIGSTE “lewensreddende” behandeling is. (Sien Hoe kan bloed jou lewe red?, bladsye 7-22.) Jy moet hierdie punt dus baie duidelik stel. Hoe kan jy dit doen? Jy kan só antwoord:
• “Ek wil nie (Ek wil nie hê my kind moet) sterf nie. As ek wou (hê my kind moet) sterf, sou ek by die huis gebly het. Maar ek het hierheen gekom om mediese behandeling te ontvang sodat ek (my kind) kan leef. Wat ek wil hê is mediese behandeling met alternatiewe bloedlose middels vir my (my kind). Daar is alternatiewe middels beskikbaar.”
34 Etlike ander vrae wat dikwels deur dokters en landdroste gevra word, is:
• “Wat sal met jou gebeur as ’n oortapping deur ’n hofbevel aan jou opgedwing word? Sal jy daarvoor verantwoordelik gehou word?”
• “Sal jy, as jy ’n oortapping aanvaar of een aan jou opgedwing word, uit jou geloof gesit word of nie die ewige lewe kry nie? Hoe sal jou gemeente jou beskou?”
35 Een suster het vir ’n landdros gesê dat sy in so ’n geval nie verantwoordelik is vir die besluit wat hy neem nie. Hoewel dit uit een oogpunt korrek is, het die landdros aangeneem dat dit beteken dat hy die verantwoordelikheid op hom kon neem, aangesien sy nie daarvoor verantwoordelik gehou sou word nie. Hy het beveel dat sy ’n oortapping moes kry.
36 Jy moet besef dat sommige, deur hierdie vrae te vra, gewoonlik na ’n manier soek waarop hulle jou weiering om bloed te aanvaar, kan omseil. Moet tog nie onbewustelik vir hulle die geleentheid skep nie! Hoe kan ons dan daardie misverstand vermy? Jy kan antwoord:
• “As bloed op enige manier aan my opgedwing word, sal ek dit soos ’n verkragting beskou. Ek sal vir die res van my lewe weens die emosionele en geestelike gevolge van daardie ongewenste aanval ly. Ek sal my met al my krag teen so ’n skending van my liggaam verset. Ek sal alles in my vermoë doen om my aanvallers te vervolg, net soos ek in die geval van verkragting sal doen.”
37 Die feit dat ’n oortapping wat aan ons opgedwing word vir ons ’n walglike ontering van ons liggaam is, moet sterk en duidelik beklemtoon word. Dit is nie ’n nietige saak nie. Staan dus jou man. Stel dit duidelik dat jy mediese behandeling met alternatiewe bloedlose middels wil ontvang.
WAT MOET JY DOEN OM VOORBEREID TE WEES?
38 Ons het van die dinge hersien wat jy moet doen om jou en jou gesin teen ’n ongewenste bloedoortapping te beskerm. (Ons hoop om later meer besonderhede te verskaf oor die hantering van probleme wat ontstaan wanneer hulle dreig om aan babas en kinders oortappings te gee.) Ons het ook gesien wat die Genootskap op liefdevolle wyse gedoen het om ons in ’n tyd van nood te help. Wat moet jy met hierdie inligting doen om seker te maak dat jy daarop voorbereid is as jou geloof in ’n mediese situasie getoets sou word?
Eerstens: Hou ’n gesinsbespreking om hierdie dinge te hersien en te besluit wat julle gaan sê en doen, veral in ’n noodgeval.
Tweedens: Maak seker dat jy al die nodige dokumente het.
Derdens: Maak dit ’n saak van ernstige gebed tot Jehovah om jou te ondersteun in jou vaste besluit om jou ‘van bloed te onthou’. As ons sy wet oor bloed gehoorsaam, kan ons verseker wees van sy guns en die gawe van ’n eindelose lewe.—Hand. 15:29; Spr. 27:11, 12.
[Venster op bladsy 5]
As enige mediese situasie ernstig versleg tot die punt waar daar met ’n oortapping gedreig word, kan jy hierdie venster nagaan om te sien wat jou te doen staan:
1. Kom met die ouere manne in jou gemeente in aanraking sodat hulle jou kan help.
2. Laat die ouere manne met die naaste Hospitaalskakelkomitee in aanraking kom indien nodig.
3. Die Hospitaalskakelkomitee kan jou help om met dokters en ander te praat.
4. Die Hospitaalskakelkomitee kan jou ook help om met ander dokters in aanraking te kom sodat hulle met jou huidige chirurge oor alternatiewe soorte behandelings kan praat.
5. Die Hospitaalskakelkomitee kan jou ook help om vir die nodige behandeling na ’n gesondheidsfasiliteit oorgeplaas te word waar die dokters jou wense sal respekteer.