Die predikingswerk—’n eervolle voorreg
1 Die bediening van die goeie nuus is ’n eervolle voorreg wat Jehovah ons gegee het (Rom. 15:16; 1 Tim. 1:12). Is dit hoe jy dit beskou? Ons moenie toelaat dat die verloop van tyd of die bespotting van ander die belangrikheid daarvan in ons oë laat afneem nie. Die eer om God se naam te dra, is ’n voorreg wat net aan ’n paar gegee is. Hoe kan ons ons waardering vir hierdie voorreg laat toeneem?
2 Die verkondiging van die Koninkryksboodskap bring nie vir ons die wêreld se guns mee nie. Baie beskou ons werk met apatie of onverskilligheid. Ander bespot dit of staan dit teë. Sulke teenstand kan van werkmaats, bure of selfs gesinslede kom. In hulle oë lyk dit dalk of ons mislei word en dwaas is (Joh. 15:19; 1 Kor. 1:18, 21; 2 Tim. 3:12). Hulle ontmoedigende kommentare is daarop gemik om ons ywer te demp en ons traag te laat word of ons sover te kry om ons eervolle voorreg prys te gee. Negatiewe beskouings word deur Satan bevorder, wat “die verstande van die ongelowiges verblind het, sodat die verligting van die heerlike goeie nuus ... nie sou deurskyn nie” (2 Kor. 4:4). Hoe reageer jy daarop?
3 Dit is belangrik om in gedagte te hou dat ons Koninkrykspredikingswerk die belangrikste werk is wat enigeen van ons vandag kan doen. Ons het ’n lewensreddende boodskap wat nêrens anders gevind kan word nie (Rom. 10:13-15). Wat belangrik is, is om God se goedkeuring te hê, nie die mens s’n nie. Die wêreld se negatiewe beskouing van ons predikingswerk verhinder ons nie om die goeie nuus moedig te verkondig nie.—Hand. 4:29.
4 Jesus het groot waarde geheg aan sy voorreg om sy Vader se wil te doen (Joh. 4:34). Hy het hom uitsluitlik aan die bediening toegewy en nie toegelaat dat enigiets wat sy aandag kan aftrek of teenstanders hom traag laat word nie. Die verkondiging van die Koninkryksboodskap het altyd die eerste plek in sy lewe beklee (Luk. 4:43). Ons word beveel om sy voorbeeld te volg (1 Pet. 2:21). As ons dit doen, dien ons as “God se medewerkers” (1 Kor. 3:9). Maak ons ten volle van hierdie voorreg gebruik? Soek ons na geleenthede om die goeie nuus formeel sowel as informeel aan ander te verkondig? As Getuies van Jehovah moet ons altyd gereed wees om ‘sy naam in die openbaar bekend te maak’.—Hebr. 13:15.
5 Ons aandeel aan die bediening word grootliks deur ons gesindheid bepaal. Het ons ’n innige waardering vir alles wat Jehovah vir ons gedoen het? Het ons in ons hart ’n liefde vir Jehovah ontwikkel wat ons beweeg om ons bes in sy diens te doen? As ons oor die seëninge peins wat ons nou geniet sowel as oor Jehovah se beloftes vir die toekoms help dit ons om ons Skepper oorvloedig lief te hê. Sulke liefde spoor ons tot optrede aan—volharding en gereeldheid in die Koninkrykspredikingswerk in die mate wat ons omstandighede dit toelaat. Ons ywer sal bewys lewer van ons liefde vir Jehovah en ons naaste.—Mark. 12:30,31.
6 Ons toon hoeveel waarde ons aan iets heg deur wat ons daarmee doen en wat ons daaroor sê. Waardeer ons werklik ons voorreg om die Koninkryk te verkondig? Verheerlik ons ons bediening? Is ons vasbeslote om ten spyte van teenstand in hierdie lewensbelangrike werk te volhard? As ons hierdie wonderlike voorreg hoog op prys stel, sal ons beslis ywerig en heelhartig wees.—2 Kor. 4:1,7.