Die woord van die Koninkryk—Begryp die sin daarvan
1 In sy gelykenis van die saaier het Jesus gesê dat die saad wat op “die goeie grond” geval het “die een wat die woord hoor en die sin daarvan begryp”, afgebeeld het (Matt. 13:23). Het ons, nadat ons van die Koninkryk gehoor het, “die sin daarvan begryp”? In watter mate beïnvloed dit ons lewe? Stel ons Koninkryksbelange eerste en toon ons sodoende dat ons die sin van die boodskap begryp?
2 ’n Juiste begrip van die Koninkryksboodskap vereis persoonlike studie. Ons moet tyd inruim om oor die geestelike voedsel wat voorsien word te peins. Om Die Wagtoring vlugtig te lees, is dieselfde as om ’n smaaklike en voedsame maaltyd vinnig weg te sluk. Ruim jy tyd in om deeglik oor die geestelike voedsel na te dink? Om die meeste voordeel daaruit te trek, moet ons ’n dryfveer en ’n gesonde geestelike aptyt hê. As dit ontbreek, kan ander bedrywighede die voordele van persoonlike studie minder belangrik laat lyk of die tyd wat ons daaraan moet bestee in beslag neem. Dit is nie maklik om met ’n goeie studierooster vol te hou nie. Hoewel dit vereis dat ons ’n goeie balans handhaaf wat ons prioriteite betref, is die geestelike rykdom wat verkry kan word van onskatbare waarde.—Spr. 3:13-18; Kol. 1:27.
3 Die boekie Ondersoek die Skrif help ons om elke dag positiewe, opbouende gedagtes oor die Koninkryk te hê. Diegene wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” beplan sodat hulle elke dag ’n paar minute daaraan kan afstaan om die teks en kommentare te lees (Matt. 5:3). Baie tekste verduidelik verskillende aspekte van die Koninkryk. Die teks vir 22 November 1994 het byvoorbeeld oor Matteus 13:4 gehandel. Die kommentaar het die Koninkrykshoop bespreek en het ons aan die gevare van onheilsame omgang met familielede en bure herinner. Die feit dat daar elke werksdagoggend by Bethelhuise regoor die wêreld ’n bespreking van 15 minute van die dagteks is, beklemtoon die voordele en die erns daarvan om die dagteks saam te bespreek. Sluit jou gesin se daaglikse roetine ’n soortgelyke bespreking in?
4 Namate jou waardering vir die Koninkryk toeneem, sal jy ’n groter dryfveer hê om die Koninkryksboodskap aan ander te verkondig. Die Wagtoring en die Ontwaak! voorsien dít wat met verstandelike brandstof vergelyk kan word wat ons verstand met die jongste, vars inligting voed. Hulle help ons om voortdurend bewus te wees van hoeveel die wêreld God se Koninkryk nodig het. Hulle help ons om geestelike persone te wees, wat ‘die denke van Christus het’ (1 Kor. 2:15, 16). Dit alles kan ons hoop versterk en ons ywer vergroot om die Koninkrykshoop aan ander te verkondig.—1 Pet. 3:15.
5 Dit is lewensbelangrik dat ons persoonlik die sin van die Koninkryksboodskap begryp. Die Koninkryk is die middel wat God gaan gebruik om sy soewereiniteit te handhaaf, ’n einde aan goddeloosheid te maak en ’n nuwe wêreld te bring—’n paradys. Jesus het ons beveel om dit eerste in ons lewe te stel. Ons moet skaapgeaarde onderdane wees om onder sy heerskappy te kan leef (Matt. 6:10, 33). Maak ten volle gebruik van die geleentheid wat jy het om die seëninge daarvan te geniet.