Wees gedurende April “ywerig vir voortreflike werke”!
1 Verlede jaar is ’n ongeëwenaarde getuienis gegee toe miljoene eksemplare van Koninkryksnuus Nr. 34 wêreldwyd versprei is. Gemeentelike verkondigers asook pioniers het ywerig aan hierdie opwindende werk deelgeneem. Was jy onder hulle? Dan het jy dit ongetwyfeld terdeë geniet om ’n aandeel aan daardie merkwaardige kampanje te hê. Nou wonder jy dalk: Watter ‘voortreflike werk’ lê hierdie jaar vir ons voor?—Tit. 2:14.
2 Gedurende April en vroeg in Mei sal ons die voorreg hê om ’n spesiale uitgawe van die Ontwaak! te versprei, naamlik die nommer van 22 April 1996, met die titel “Wanneer daar nie meer oorloë sal wees nie”. Aangesien hierdie onderwerp by baie huisbewoners byval sal vind, sal ons probeer om die tydskrif so wyd moontlik te versprei. Vanweë die belangrike inligting wat dit bevat, moet hierdie nommer van die Ontwaak! gedurende April en tot in Mei aangebied word totdat die voorraad uitgeput is.
3 Ons doelwit—deelname deur alle verkondigers: Dit sal werklik aanmoedigend wees as elke verkondiger in hierdie land gedurende April ’n aandeel aan die predikingswerk kan hê. Met die herdenking van Christus se dood nog vars in ons gedagtes, sal ons ongetwyfeld ons waardering vir God se goedheid wil toon deur ’n regstreekse “lofofferande” in die veldbediening te bring.—Heb. 13:15.
4 ’n Ywerige poging moet aangewend word om vas te stel wat die behoeftes van elke gemeentelid is sodat almal gedurende April ’n ywerige deelname aan die bediening kan hê (Rom. 15:1). Boekstudiehouers moet deeglik bewus wees van die omstandighede van diegene in hulle groepe en moet praktiese hulp aanbied wanneer dit nodig is. Het enigiemand vervoer nodig? Wie kan dit voorsien? Is sommige skugter of selfbewus? Kan meer ervare verkondigers saam met hulle werk? Wat van diegene wat in hulle huis gekluister of siek is? Kan hulle telefoongetuieniswerk doen, briewe skryf of op die een of ander produktiewe manier deelneem?
5 Sommige wat onbedrywig geword het, ontvang gereelde geestelike aanmoediging, en hulle kan aangespoor word om weer eens aan die predikingswerk deel te neem. Die kampanje met die spesiale Ontwaak! sal aan hulle ’n uitstekende geleentheid bied om weer bedrywig te word.
6 Lei kinders op om deel te neem: Baie kinders van Jehovah se Getuies gaan al jare lank saam met hulle ouers van huis tot huis, hoewel hulle nog nie as ongedoopte verkondigers dien nie. Is dit dalk nou die tyd vir hulle om te begin? Word hulle uit hulle hart beweeg, en is hulle gereed om ’n betekenisvolle aandeel aan die huis-tot-huis-werk te hê? Gesinshoofde moet tyd gedurende die gesinsbybelstudie gebruik om hulle kinders wat aan die vereistes voldoen te help om na gelang van elkeen se ouderdom en vermoë ’n gepaste aanbieding voor te berei. Ouer kinders kan ’n gedagteprikkelende vraag kies om die huisbewoner se belangstelling mee te wek en dan die aandag op die antwoord in die tydskrif vestig. Jonger kinders kan ’n doeltreffende getuienis in net ’n paar woorde gee. Hulle kan die huisbewoner byvoorbeeld aanmoedig om “’n spesiale tydskrif te lees wat hierdie maand wêreldwyd aangebied word”. As deel van jou gesin se voorbereiding moet jy wenke insluit om algemene besware te oorkom. Jy sal ’n hele paar goeie gedagtes in die Redenering-boek vind. Tydens etenstye en by ander gepaste geleenthede kan jy die gesinslede aanmoedig om hulle velddiensondervindinge te vertel.
7 Bybelstudente wat aan die vereistes voldoen, doen die werk wat Jesus gedoen het: Jesus het nie sy onderrigting tot leerstellige sake beperk nie. Hy het sy studente in die bediening vergesel en hulle geleer hoe om te preek (Luk. 8:1; 10:1-11). Wat is die situasie vandag? Meer as 65 000 Bybelstudies word in Suid-Afrika en die buurlande onder toesig van ons takkantoor gehou. Met die regte aanmoediging kan baie van hierdie studente ongetwyfeld die volgende stap in hulle opleiding doen en aan die vereistes voldoen om in April as ongedoopte verkondigers te dien.
8 As jy ’n Bybelstudie hou, kan jy oor hierdie vrae nadink: Maak die student in ooreenstemming met sy ouderdom en vermoë vordering? Het hy ander informeel van sy geloof begin vertel? Is hy besig om hom met “die nuwe persoonlikheid” te beklee? (Kol. 3:10). Voldoen hy aan die vereistes vir ongedoopte verkondigers wat op bladsye 97 tot 99 van Ons bediening-boek uiteengesit word? As jy dink dat hy aan die vereistes voldoen, kan jy gerus die saak met hom bespreek. Party studente hoef net direk genooi te word om aan die werk deel te neem. As die student instem, moet die presiderende opsiener natuurlik eers op die gewone manier reël dat twee van die ouer manne ’n bespreking met hom hou. Aan die ander kant is daar moontlik iets wat die student terughou. Miskien kan een van die ouer manne jou na die Bybelstudie vergesel en probeer uitvind hoe hy oor die waarheid voel. Nadat die ouer man geluister het na wat die student sê, sal hy dalk praktiese wenke asook skriftuurlike hulp kan gee.
9 ‘Koop die tyd uit’ om hulppionierdiens te doen: Dankbaarheid vir die losprys beweeg duisende elke jaar om die tyd gedurende die Gedenkmaalseisoen ‘uit te koop’ om hulppioniers te wees (Ef. 5:15-17). Hoewel opofferings gemaak moet word, is die belonings groot. ’n Goeie aantal jongmense benut die skoolvakansie om hulppionierdiens te doen. Volwassenes wat voltyds werk, benut aande en naweke ten volle in hierdie selfde bedrywigheid. Daar was derhalwe al hele gesinne wat saam hulppionierdiens gedoen het! In party gemeentes het die meeste van die ouer manne en bedieningsknegte asook hulle vrouens as hulppioniers ingeskryf. Ander is deur hulle ywerige voorbeeld aangespoor om dieselfde te doen, met die gevolg dat ’n groot persentasie van die gemeente gedurende April as hulppioniers dien.
10 Hetsy jy hulppionierdiens kan doen of nie, soek na maniere om jou velddiens gedurende April uit te brei. Stel vir jou ’n persoonlike doelwit wat ’n mate van inspanning sal verg, maar bereikbaar is. Jou begeerte om jou ooreenkomstig jou persoonlike omstandighede in Jehovah se diens ‘uit te gee en heeltemal uitgegee te word’, sal sy seën geniet.—2 Kor. 12:15.
11 Velddiensvergaderinge: Gedurende die Ontwaak!-kampanje moet daar elke dag velddiensvergaderinge gereël word, op ’n tyd wat dit moontlik sal maak om vroeg in die bediening te begin. Voorsiening moet ook vir aandgetuieniswerk gemaak word. Die meeste verkondigers sal oor die naweke velddiens doen; daarom moet gemeentes vir die duur van die spesiale verspreiding van die Ontwaak! velddiensvergaderinge op Saterdae reël, in die oggend sowel as middag.
12 Diegene wat velddiensvergaderinge behartig, moet toesien dat daar baie gebied beskikbaar is. Gebied waarin daar nie onlangs gewerk is nie, moet eerste gedek word. Ontoegekende gebied waarna die Genootskap omsien, moet egter nie sonder die Genootskap se toestemming gewerk word nie. Het jy een of meer persoonlike gebiedskaarte wat nie onlangs gedek is nie? As jy hulp nodig gaan hê om gedurende die kampanje daardeur te werk, moet jy met die diensopsiener of met die broer wat na die gebied omsien, praat, en hulle sal met graagte reël dat jy gehelp word.
13 Hoeveel tydskrifte gaan jy versprei? Elkeen moet daardie vraag self beantwoord. Om te bepaal hoeveel tydskrifte jy gedurende die kampanje kan versprei, moet jy dink aan die soort gebied waarin jy gaan werk, jou ouderdom, jou gesondheid, die tyd wat jy aan die werk kan bestee asook ander faktore. Let egter op die herinnering wat in Die Wagtoring van 1 Januarie 1994 gegee is: “Verkondigers kan na gelang van hulle omstandighede byvoorbeeld ’n doel van 10 tydskrifte per maand stel; pioniers kan 90 probeer haal.” Sal ’n soortgelyke doel in jou geval realisties wees?
14 Ouer manne—Sorgvuldige beplanning is nodig: Verseker, indien moontlik, dat al die gemeente se gebied met die spesiale nommer van die Ontwaak! gedek sal word. Skenk sorgvuldig aandag daaraan om enige sakegebied wat aan die gemeente toegewys is te werk. Diegene wat in hierdie gebied werk, moet goed voorbereid en netjies geklee wees. ’n Lang aanbieding is nie nodig nie. Wanneer jy ’n sakeman nader, kan jy sê dat jy mense wat werk nie dikwels tuis vind nie; daarom besoek jy sy werksplek om hom ’n artikel aan te bied waarin hy ongetwyfeld sal belangstel. Dan kan jy kortliks ’n spesifieke gedagte in die tydskrif bespreek. Straatgetuieniswerk met tydskrifte moet ook binne die gemeente se gebied behoorlik georganiseer word. Die doeltreffendste manier om straatwerk te doen, is om die inisiatief te neem en eerder verbygangers te nader as om vir hulle te wag om na jou toe te kom. Aangesien jy in die openbaar gaan wees, moet jy daarop let om ’n waardige voorkoms te hê. Daar is dalk ander plekke in julle gebied wat gedurende die kampanje gewerk kan word, soos lughawes, hospitale, parkeerterreine, parke en verpleeginrigtings. Die liggaam van ouer manne moet bepaal watter gepaste reëlings getref kan word om in hierdie dele van julle gemeente se gebied te getuig.
15 Jehovah is ’n onvermoeide werker (Joh. 5:17). Hy het die hemel en die aarde sowel as die plante en die diere geskep; maar hy het aangehou werk totdat hy die kroon van sy arbeid op aarde—die mens—geskep het. Die feit dat ons lewe, is ’n regstreekse gevolg van God se gewilligheid om te werk. As “navolgers van God” moet ons deur ons liefde vir hom beweeg word om “ywerig vir voortreflike werke” te wees (Ef. 5:1; Tit. 2:14). Aangesien Jehovah ons heel beste poging verdien, en aangesien die begeerte om resultate te behaal kenmerkend van ’n ywerige persoon is, moet ons daarin belangstel om werk van hoë gehalte in die bediening te lewer. Jehovah waardeer natuurlik enige opoffering wat ons vir hom maak, en ons werk is nooit tevergeefs nie (1 Kor. 15:58). Laat ons ons gedurende April met dankbare harte ywerig inspan, met die versekering dat ons Jehovah se goedkeuring en seën sal geniet en ryklik sukses sal behaal!