Bied die goeie nuus met ’n positiewe gesindheid aan
1 Ons almal wil graag vreugde put uit en sukses behaal met wat ons doen, veral wat die dissipelmaakwerk betref. Wat verskaf ons sulke bevrediging? Dit begin by die handhawing van ’n positiewe geestesgesindheid terwyl ons besig bly in die lonende werk om ander te help (Spr. 11:25). Die manier waarop ons die goeie nuus aanbied, moet toon dat ons waarlik glo wat ons sê. As ons werklik uit die hart praat, sal ons opregtheid en persoonlike oortuiging weerspieël word (Luk. 6:45). As ons ons aanbieding oefen, sal ons meer vertroue hê wanneer ons met die mense in die gebied praat. Dit sal veral nuttig wees gedurende September wanneer ons die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? aanbied. Jy sal die volgende wenke dalk nuttig vind wanneer jy die goeie nuus met ’n positiewe gesindheid aanbied.
2 Wanneer jy die “Skepping”-boek aanbied, kan jy met jou eerste besoek sê:
◼ “In ons gesprekke met ons bure het ons gevind dat party hulle vertroue in God stel. Ander vind dit moeilik om aan hom te glo. Hoe voel jy? [Wag vir ’n antwoord.] Let op hoe die Bybel oor hierdie saak redeneer. [Lees Romeine 1:20.] Ons kan bewyse van God se ‘ewige krag en Godheid’ sien deur na die dinge te kyk wat hy geskep het.” Lees die laaste paragraaf op bladsy 48 van die Skepping-boek en vestig die aandag op die ingewikkeldheid van die lewende sel. Of gebruik paragraaf 18 op bladsy 147 om te toon hoe ’n boom se verbasende omloopstelsel die aandag op die werk van ’n Skepper vestig. Bied die boek teen die gewone bydrae aan.
3 Wanneer jy teruggaan na diegene met wie jy gesels het oor die feit dat God die Skepper is, kan jy die volgende sê:
◼ “Op my vorige besoek het ons oor die bewys van God se bestaan gepraat—sy wonderlike skepping. Is dit vir jou moeilik om te glo dat die Een wat die heelal geskep het ook in ons toekoms sal belangstel? [Wag vir ’n antwoord.] Dit is interessant om te sien dat die toekoms reeds deur die Skepper bepaal is.” Lees Jesaja 46:9, 10. Na gelang van die persoon se belangstelling kan jy die prente en byskrifte in hoofstuk 19 van die Skepping-boek gebruik om die ideale toestande te beklemtoon wat God belowe het. Lees paragraaf 1 van hoofstuk 20 en bied ’n Bybelstudie aan. As die persoon instem, kan jy die studie in die Kennis-boek begin.
4 Jy kan hierdie aanbieding probeer wanneer jy die “Skepping”-boek aanbied:
◼ “In my gesprekke met mense in die omgewing het ek opgelet dat die meeste mense graag ’n veilige gemeenskap en ’n vreedsame wêreld wil hê. Waarom dink jy kon die mens nie sulke toestande teweegbring nie? [Wag vir ’n antwoord.] Party leiers is dalk opreg en doen goeie dinge, maar let op die Bybel se wyse raad.” Lees Psalm 146:3, 4; vra dan: “Is daar enigiemand wat in die mens se behoeftes kan voorsien?” Lees verse 5 en 6. Wys die prent op bladsy 251 van die Skepping-boek en vestig die aandag op die voordele van God se heerskappy. Bied die boek aan.
5 As God se heerskappy met die eerste besoek bespreek is, kan jy hierdie voorstel met die herbesoek probeer:
◼ “Toe ek ’n paar dae gelede hier was, het ons gesels oor die mens se onvermoë om ware vrede op aarde teweeg te bring. Jy onthou moontlik dat ons gekyk het na die rede wat die Bybel vir sulke onvermoë gee. [Lees weer Psalm 146:3.] Het jy opgelet waarom God ons vermaan om nie ons hoop op mense te stel nie? [Wag vir ’n antwoord.] Jy stem moontlik saam dat enige hoop vir ’n permanente oplossing van God af moet kom. Die rede waarom ons hierdie vertroue kan hê, word in Psalm 146:10 verduidelik. [Lees.] Wat moet ons doen as ons ’n onderdaan van God se Koninkryk wil wees?” Blaai na bladsy 250 van die Skepping-boek, lees paragraaf 13 en vestig die aandag op Johannes 17:3. Bied aan om te demonstreer hoe miljoene, deur ’n studie van die Bybel, die kennis ingeneem het wat tot die ewige lewe lei. As die huisbewoner instem, kan jy vir hom die Kennis-boek aanbied en die studie begin.
6 Wanneer jy van winkel tot winkel werk, kan jy hierdie kort benadering met die “Skepping”-boek gebruik:
◼ “Ons lewer vandag ’n spesiale diens aan die sakemense van die gemeenskap. Ons is almal bekommerd oor die toename in misdaad en geweld in ons gebied. Dink jy dat enigiemand ’n ware oplossing vir die probleem het? [Wag vir ’n antwoord.] God het ’n oplossing.” Blaai na bladsy 196 van die Skepping-boek; lees en lewer kommentaar oor Spreuke 2:21, 22 in paragraaf 19. Wys vir hom die titel van hoofstuk 16 en bied die boek aan.
7 Wanneer jy ’n herbesoek doen by ’n sakepersoon by wie jy die “Skepping”-boek gelaat het, kan jy sê:
◼ “Op my vorige besoek het ek gemeld dat God die enigste een is wat werklik die blywende oplossing vir misdaad en geweld het. Volgens sy belofte kan ons die vertroue hê dat ’n vreedsame aarde ’n werklikheid sal word. Let op die keuse waarvoor elkeen van ons gestel word.” Lees paragraaf 11 op bladsy 250 van die Skepping-boek, met inbegrip van Psalm 37:37, 38. Lewer kommentaar oor die prent op bladsy 251 en lees die eerste sin van paragraaf 14. Bied ’n gratis Bybelstudie aan wat óf by hulle werksplek óf by hulle huis gehou kan word.
8 As “God se medewerkers” het ons alle rede om positief te wees wanneer ons die goeie nuus aanbied (1 Kor. 3:9). As ons hierdie gesindheid behou, sal dit tot Jehovah se ryk seën lei.