Vraebus
◼ Wat moet ons in gedagte hou as ons die paragrawe by die vergaderinge lees?
Baie van die tyd wat vir die Wagtoring-studie en die Gemeentelike Boekstudie opsy gesit word, word gebruik om die paragrawe te lees. Dit beteken dat die broer wat toegewys is om te lees ’n groot verantwoordelikheid as onderrigter dra. Hy moet op ’n manier lees wat aan die materiaal ‘betekenis gee’ sodat luisteraars dit nie net sal verstaan nie, maar ook tot optrede beweeg sal word (Neh. 8:8, NW). Die leser moet dus goed vir sy toewysing voorberei. (1 Tim. 4:13; sien studie 6 van die Skoolhandleiding.) Hier is ’n paar vereistes vir betekenisvolle openbare voorlesing.
Gebruik regte beklemtoning: Bepaal vooraf watter woorde of frases beklemtoon moet word om die regte begrip oor te dra.
Spreek woorde reg uit: Dit is noodsaaklik dat die uitspraak reg en duidelik is sodat die gehoor uitdrukkings wat in die publikasie voorkom, sal verstaan. Slaan onbekende woorde of woorde wat selde gebruik word in ’n woordeboek na of luister na die Genootskap se kassetopnames.
Praat hard genoeg en met geesdrif: As ’n mens hard genoeg en geesdriftig praat, wek dit belangstelling, raak die emosies en motiveer die luisteraar.
Lees hartlik en op ’n geselstrant: Natuurlikheid en vlotheid gaan hand aan hand. Met voorbereiding en oefening kan die leser ontspanne wees, en die voorlesing sal gevolglik eerder aangenaam as eentonig en langdradig wees.—Hab. 2:2, NW.
Lees die materiaal soos dit gedruk is: Voetnote sowel as inligting tussen ronde en vierkantige hakies word gewoonlik hardop gelees as dit die gedrukte teks verduidelik. Die enigste uitsonderings is verwysings wat bloot die bronnemateriaal identifiseer. ’n Voetnoot moet gelees word waar die paragraaf daarna verwys, en word ingelei deur te sê: “Die voetnoot lui . . .” Nadat jy dit gelees het, kan jy eenvoudig met die res van die paragraaf voortgaan.
Wanneer openbare voorlesing goed gedoen word, is dit een van die belangrikste maniere waarop ons ander kan ‘leer om alles te onderhou wat ons Groot Leermeester beveel het’.—Matt. 28:20.