Verkondig die Koninkryk
1 In Hebreërs 10:23 word ons aangespoor om ‘die openbare bekendmaking van ons hoop vas te hou’. En ons vestig ons hoop op God se Koninkryk. Jesus het uitdruklik beveel dat die goeie nuus van die Koninkryk in al die nasies verkondig moet word (Mark. 13:10). Ons moet dit in gedagte hou terwyl ons aan ons bediening deelneem.
2 Wanneer ons mense nader, probeer ons ’n gesprek aanknoop oor iets waarin hulle belangstel of waaroor hulle besorg is. Ons meld gewoonlik dinge waarvan hulle deeglik bewus is, soos misdaad in die omgewing, jongmense se probleme, die kommer wat dit meebring om ’n bestaan te probeer maak of ’n krisis in wêreldaangeleenthede. Aangesien die meeste mense se gedagtes op hierdie “sorge van die lewe” toegespits is, sal hulle dikwels sê wat hulle op die hart het wanneer ons besorgdheid en begrip toon (Luk. 21:34). Dit kan vir ons die weg open om ons hoop aan ander te vertel.
3 As ons nie versigtig is nie, kan ons gesprek egter by negatiewe dinge stilstaan, wat daartoe sal lei dat ons nie die doel van ons besoek—om die Koninkryksboodskap te verkondig—bereik nie. Hoewel ons mense se aandag op die slegte toestande vestig wat soveel benoudheid veroorsaak, is dit ons doel om die aandag op die Koninkryk te vestig, wat uiteindelik al die mensdom se probleme gaan oplos. Ons het ’n waarlik wonderlike hoop waarvan mense dringend moet hoor. Hoewel ons dus aanvanklik party aspekte kan bespreek van hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, moet ons gou die aandag vestig op ons hoofboodskap, die “ewige goeie nuus”. Sodoende sal ons ons bediening ten volle kan uitvoer.—2 Tim. 3:1; 4:5; Op. 14:6.