Waardeer jy die Nuwe Wêreld-vertaling?
1 Hoe verheug was ons tog nie toe die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte by onlangse byeenkomste in vier van die plaaslike tale vrygestel is nie! Die gehore het dit met dawerende applous begroet. Onthou jy hoe die verkondigers opgewonde tougestaan het om hulle eksemplare te kry? Party het dit onmiddellik begin lees, en sprekers het dit daardie dag al op die verhoog gebruik. Dit was ’n vreugde om te sien hoe verkondigers en pioniers ’n voorraad vir hulle Bybelstudente en hulle gesin kry.
2 Een broer het gesê: “Ons het baie, baie lank vir ’n betroubare vertaling gewag.” ’n Ander persoon het eers sy waardering teenoor Jehovah uitgespreek en toe teenoor die Genootskap en die vertalers vir al die tyd en inspanning wat hulle aan hierdie projek gewy het.
3 Die waarde daarvan: Die grootste naam in die heelal verskyn 237 keer in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte alleen. (Sien Aanhangsel 1-2.) Hoewel die vertalers van die Christendom en die Jodedom meestal die Goddelike naam uit hulle Bybels weggelaat het, het Jehovah se Getuies daardie naam die plek en eer gegee wat dit toekom. Is dit op sigself nie ’n goeie rede om die Nuwe Wêreld-vertaling te gebruik nie?
4 Baie van ons moes weliswaar gewoond raak aan die letterlike taal van die Nuwe Wêreld-vertaling. Maar Die Wagtoring het ons met baie van hierdie terme en die akkuraatheid daarvan vertroud gemaak. Hoewel ons dalk taamlik gewoond is aan ons ou Bybelvertalings, is hulle nie so akkuraat en eenvoudig soos die Nuwe Wêreld-vertaling nie. Ons hoef nie bekommerd te wees oor onegte tekste of valse leringe met betrekking tot Jehovah se Godheid, die toestand van die dooies en ander sake nie. “Dit is so duidelik en maklik om te verstaan”, het een ouer man gesê, “en ons sal kort voor lank die tekste memoriseer soos ons met die ou Bybel gedoen het.” Die duidelikheid en betroubaarheid van hierdie vertaling maak dit dus uitsonderlik.
5 Die Nuwe Wêreld-vertaling is ’n uitstekende Bybelstudiehulp. Ongeveer honderd bladsye is gewy aan ’n tabel van die Bybelboeke, ’n indeks van Bybelwoorde, ’n aanhangsel, die Bybelonderwerpe vir bespreking en kaarte. Dit alles kan Bybellees werklik aangenaam maak.
6 Maak goed gebruik daarvan: Het jy die Nuwe Wêreld-vertaling eindelik in jou eie taal? Indien wel, het jy dit al van voor tot agter gelees? Wat van jou gesinslede en Bybelstudente? Waarom lees jy dit nie saam met jou gesin of ’n vriend nie? Sodoende kan jy daarmee vertroud raak en dit jou eie maak.
7 Maak seker dat jy jou eksemplaar saam met jou by die vergaderinge het. Gebruik dit elke keer as jy ’n deel op die program het en uit die Griekse Geskrifte lees. Om twee Bybels saam te dra, is dalk ’n bietjie ongerieflik, maar dit sal jou groot vreugde verskaf om hierdie uitstekende vertaling te gebruik.
8 As dit Jehovah se wil is, hoop ons dat dit nie te lank sal wees voor die volledige Bybel beskikbaar is nie. Maar intussen moet ons ons groot voorraad van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte verminder. Hoe kan jy help? Gebruik dit in die veldbediening wanneer jy uit die Griekse Geskrifte lees. Noem op ’n taktvolle wyse vir die huisbewoner dat jy uit ’n vertaling lees waarmee hy dalk onbekend is. Wys vir hom al die Bybelstudiehulpmiddele wat in die Nuwe Wêreld-vertaling is, en vra hom of hy ’n eksemplaar wil hê. Wys dit ook vir jou Bybelstudente aangesien dit beslis tot hulle geestelike vordering sal bydra.
9 Daar is onlangs by ’n vergadering gesien hoe ’n negejarige verkondiger op ’n bedrewe wyse na haar Nuwe Wêreld-vertaling oorslaan elke keer as sy uit die Griekse Geskrifte lees. Wat ’n goeie voorbeeld van opregte waardering! Mag ons soortgelyke waardering toon in die manier waarop ons hierdie goeie gawe van ons liefdevolle hemelse Vader gebruik.—Jak. 1:17.