Ons “verkondig die woord”
1 In ooreenstemming met die Bybel se beskrywing van “die laaste dae” het die meeste mense vandag net “’n vorm van godvrugtige toegewydheid” (2 Tim. 3:1, 5). Dit is omdat godsdiensleiers versuim het om hulle kuddes ware geestelike leiding te gee. Die geestelikes van die Christendom staan nie die Bybel voor nie. Hulle verkies eerder om die nuttelose leringe van filosowe en teoloë na te praat of om sosiale en politieke geskille voor te lê as om die Woord van God te verkondig. Baie godsdiensleiers glo nie die Bybel nie. Hulle meen dat dit verouderd is, en daarom bevorder hulle verkeerdelik die evolusieteorie pleks van die Bybel se lering oor ’n Grootse Skepper. Die meeste geestelikes gebruik nie eers God se persoonlike naam nie, en hulle het geen beswaar daarteen dat dit uit moderne Bybelvertalings verwyder word nie.
2 Net soos die godsdiensleiers in Jesus se dag, preek die hedendaagse geestelikes tevergeefs (Matt. 15:8, 9). Dit is net soos die profeet Amos voorspel het. Daar is “nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor” (Amos 8:11). Mense het, meer as enigiets anders, die geestelike voedsel in God se Woord nodig.
3 Hoe om mense se geestelike behoefte te bevredig: Paulus het Timoteus aangespoor om te bly by ‘die heilige geskrifte wat ’n mens wys kan maak tot redding’, en hy het hom dus plegtig gelas om ‘die woord aan ander te verkondig’ (2 Tim. 3:14, 15; 4:2). As Jehovah se Getuies moet ons bly by wat die Bybel leer wanneer ons die predikingswerk doen en sodoende ons Voorbeeld, Jesus, navolg wat gesê het: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Joh. 7:16). Ons gebruik God se Woord as die grondslag vir ons leringe omdat ons besef dat dit Goddelike wysheid bevat, en ons wil hê mense moet weet wat die bron van die inligting is wat ons aan hulle meedeel.—1 Kor. 2:4-7.
4 Mense moet eers die waarheid uit die Bybel hoor om van Jehovah te kan leer en geloof in hom te stel. Paulus het logieserwys geskryf: “En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?” (Rom. 10:14). Deur God se Woord te verkondig, help ons ander om deur juiste kennis geloof te verkry. Sulke kennis kan lewens ten goede verander en doen dit wel. Die Engelse outeur Charles Dickens het aangaande die Bybel geskryf: “Dit is die beste boek wat daar nog ter wêreld was of sal wees, want dit leer jou die beste lesse waardeur enige mens wat geloofwaardig en getrou probeer wees moontlik gelei kan word.”
5 Diegene wat na geestelike waarheid honger, kom tot die besef dat dit deur die gesag van God se Woord ondersteun word. In 1913 is Frederick W. Franz, as ’n jong universiteitstudent, ’n boekie gegee met die titel Waar is die dode? Nadat hy met groot belangstelling die Bybel se antwoord op hierdie vraag gelees het, het hy gesê: “Dít is die waarheid.” Miljoene waarheidsoekers het al dieselfde gevoel. Laat ons die Woord ywerig bly verkondig en sodoende ’n aandeel hê aan die vreugde om ander te hoor sê: “Dít is die waarheid.”