“Geloof in God se Woord”- streekbyeenkoms vir 1997
1 Die apostel Paulus het Timoteus daaraan herinner dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer” is (2 Tim. 3:16). Aangesien God se Woord geïnspireer is, het ons alle rede om geloof daarin te beoefen. Die tema van hierdie jaar se streekbyeenkoms is “Geloof in God se Woord”. Die program sal ons geloof in die Bybel versterk, hetsy ons die waarheid al jare lank ken of eers onlangs met Jehovah se organisasie in aanraking gekom het. Ons moet almal reëlings tref sodat ons vir die hele program teenwoordig kan wees. Hoe aanmoedigend sal dit tog wees as nuwe belangstellendes, veral diegene met wie ons die Bybel studeer, dit saam met ons kan bywoon!
2 ’n Driedaagse streekbyeenkoms: Daar is vanjaar ’n driedaagse streekbyeenkomsprogram gereël waarby ons baat kan vind. Teen dié tyd het julle reeds gehoor na watter streekbyeenkoms julle gemeente toegewys is en moes julle al definitiewe reëlings getref het om al drie dae van die program by te woon. Het jy al jou werkgewer om die nodige verlof gevra? Het jy, as jy skoolgaande kinders het en julle byeenkoms in die skoolkwartaal val, hulle onderwysers al vriendelik ingelig dat jou kinders nie die Vrydag teenwoordig sal wees nie vanweë hierdie belangrike deel van hulle godsdiensopvoeding?—Deut. 31:12.
3 Op bladsy 9 van hierdie byvoegsel verskyn die datums en terreine vir die komende streekbyeenkomste. Buiten Engels sal daar streekbyeenkomste wees in Afrikaans, Kwanyama, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa en Zulu sowel as Vingertaal by drie streekbyeenkomste. Die program sal al drie dae om 9:30 vm. begin en sal Sondag omstreeks 3:20 nm. ten einde loop.
4 Doen goed deur aandag te skenk: Die apostel Petrus het eerste-eeuse Christene daaraan herinner dat hulle goed sal doen as hulle aandag skenk aan die profetiese woord soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). Dieselfde geld vir ons. Om in hierdie ou wêreld te lewe wat onder Satan se beheer is, is soos om in ’n donker plek te wees. Ons is dankbaar dat ons uit geestelike duisternis geroep is (Kol. 1:13; 1 Pet. 2:9; 1 Joh. 5:19). As ons in die lig wil bly, moet ons ons geloof sterk hou deur aandag te skenk aan die geïnspireerde Woord van Jehovah. Ons streekbyeenkoms hierdie somer sal ons aanspoor om juis dit te doen.
5 Dit verg dalk inspanning van ons kant om op die program te konsentreer, maar ons sal beslis geseën word as ons dit doen. Ons moet probeer om goed uitgerus na die byeenkoms toe te kom sodat ons gedurende die sessies wakker sal wees. Laat genoeg tyd toe om elke dag by die byeenkomsterrein te kom, sodat jy in jou sitplek kan wees voordat die program begin. Neem dan deel aan die openingslied en -gebed aan die begin van elke dag se program. Volwassenes moet die voorbeeld stel, en ouers moet hulle kinders oplei.—Ef. 6:4.
6 As ons die titels van die programdele deurgaan voor die dag se program begin, kan ons aan moontlike punte probeer dink wat gedurende daardie sessie uitgebring sal word. Dit sal ons belangstelling in die materiaal verhoog wanneer dit aangebied word. Ons kan op punte let wat ons sal help om aan ander te verduidelik waarom ons in God en in sy onfeilbare belofte glo om dié wat hom ernstig soek te beloon (Heb. 11:1, 6). Daar is al voorgestel dat ons kort aantekeninge maak om ons die hoofpunte van die program te help onthou. As ons te veel aantekeninge maak, gaan ’n paar sleutelpunte dalk verlore omdat ons te besig is om te skryf.
7 Verlede jaar is daar weer eens opgemerk dat talle volwassenes en jongmense gedurende die program doelloos op die byeenkomsterrein rondloop, buite rondstaan en met ander gesels, pleks van te luister na wat “die getroue en verstandige slaaf” tot voordeel van ons voorsien het. Jesus het belowe om vir ons geestelike voedsel op die regte tyd te gee (Matt. 24:45-47). Daarom moet ons teenwoordig wees om by daardie voedsel baat te vind en nie ’n gebrek aan waardering toon nie (2 Kor. 6:1). Dit wil ook voorkom asof sommige kinders dikwels vra om na die toilet toe te gaan as ’n verskoning om op te staan en rond te loop wanneer hulle rusteloos raak. Behoorlike opleiding tuis sal dit gewoonlik onnodig maak om gereeld na die toilet toe te gaan. Soms sit ouer jongmense eenkant bymekaar en gesels, fluister en stuur vir mekaar briefies. Ons jongmense, wat vandag voor baie druk te staan kom, moet op die materiaal wat aangebied word, konsentreer en nie ander dinge gedurende die program doen nie. Jeugdige begeertes wat nie met Bybelbeginsels ooreenstem nie, moet vermy word. (Vergelyk 2 Timoteus 2:22.) As almal, volwassenes en jongmense, aandag skenk, sal dit Jehovah tot eer strek en hom vreugde verskaf.
8 As dit vir een van die saalwagters nodig word om iemand in hierdie verband raad te gee, moet dit aanvaar word as ’n liefdevolle voorsiening van Jehovah (Gal. 6:1). Almal moet onthou dat ons die moeite doen om die byeenkoms by te woon sodat ons kan ‘luister en kan leer’ (Deut. 31:12, NW). Ook sal “’n wyse . . . luister en meer onderrigting inneem” (Spr. 1:5, NW). In die tyd wat oorbly tot en met die streekbyeenkoms moet julle as ’n gesin die belangrikheid bespreek om saam in die gehoor te sit, gedurende die program in julle sitplekke te bly en aandagtig te luister om sodoende ten volle by die program baat te vind.
9 Versiering wat Jehovah behaag: Jehovah se volk word ten toon gestel sodat die hele wêreld ons kan sien (1 Kor. 4:9). Ons is oor die algemeen bekend vir ons hoë standaard van kleredrag en persoonsversorging. Omdat hulle die skriftuurlike beginsels in 1 Timoteus 2:9, 10 en 1 Petrus 3:3, 4 toegepas het, het baie gevolglik hulle voorkoms grootliks verander van hoe hulle gelyk het toe hulle met die Christengemeente begin omgaan het. Dit vorm ’n skerp teenstelling met die wêreld se standaard van kleredrag en persoonsversorging wat voortdurend agteruitgaan. Ons moet daarteen waak om soos die wêreld te word wat ons voorkoms betref—deur uitheemse klere te dra, wêreldse haarstylgiere te bevorder of onbeskeie aan te trek. Ons voorbeeldige kleredrag en persoonsversorging moet nuwelinge wat die byeenkoms bywoon, help om te sien hoe Christene hulleself behoort te versier.
10 Hoewel verlede jaar se byeenkomste oor die algemeen ’n baie gunstige indruk geskep het, is wêreldse kleredrag en persoonsversorging nog steeds ’n probleem by sommige broers en susters, veral gedurende hulle vrye tyd. Terwyl ons reëlings tref om die byeenkoms by te woon, moet ons ook selfondersoek doen wat ons kleredrag en persoonsversorging betref. Ouers, gee wyslik aandag aan wat julle jong kinders en tieners gaan dra. Maak seker dat wêreldse style en giere nie ’n slegte invloed op ons Christelike voorkoms het nie.
11 Handhaaf voortreflike gedrag: Voortreflike gedrag is ’n kenmerk van ware Christene (1 Pet. 2:12). Ongeag waar ons is—by die byeenkoms, by restaurante en in hotelle, asook wanneer ons reis—ons gedrag kan ’n goeie getuienis gee en ander help om te sien wat geloof in God en in sy Woord vir mense kan doen. Dit kan sommige mense beweeg om Jehovah te leer ken. (Vergelyk 1 Petrus 3:1, 2.) Ons het die voorreg om God deur ons gedrag te verheerlik. Die bestuur van ’n hotel in Alabama, VSA, het gesê dat ons byeenkomsgangers “die aangenaamste en beleefdste groep mense is aan wie hulle verblyf voorsien”. Hulle het bygevoeg: “Dit sal ’n voorreg wees om julle in die toekoms weer by ons te hê.” ’n Kongres- en besoekersburo in die noordweste van die Verenigde State het geskryf: “Ons ganse gemeenskap wag elke jaar gretig op die Wagtoringgenootskap se konferensie. Julle lede is ’n ware vreugde; hulle gedra hulle met die grootste hoflikheid en respek. Ons sakeondernemings besef dit en sien uit na die terugkeer van hulle ‘familie’ van gaste elke jaar.” Sulke berigte is ’n genoeë om te lees, nie waar nie? Dit is egter belangrik dat ons waaksaam bly sodat ons die goeie reputasie van Jehovah se volk kan handhaaf.
12 Hou in gedagte dat dit gepas is om ’n fooitjie te gee wanneer jy ’n persoonlike diens ontvang, veral aangesien baie wat ’n diens aan die publiek lewer, soos kelners, kelnerinne, bediendes en deurwagters, tot ’n groot mate van fooitjies afhanklik is om ’n bestaan te maak. As Getuies van Jehovah wil ons ook in hierdie opsig goeie maniere aan die dag lê.—Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1986, bladsye 24-7.
13 Byeenkomsuitgawes: Ons almal sal uitgawes met betrekking tot die bywoning van die byeenkoms hê. Maar daar is ook ’n ander uitgawe wat ons gerus kan onthou. Die fasiliteite wat vir streekbyeenkomste gebruik word, is duur. Daar is ook ander uitgawes wat gedek moet word. Ons grootmoedige, vrywillige bydraes by die byeenkomste word hoog op prys gestel.—Hand. 20:35; 2 Kor. 9:7, 11, 13.
14 Sitplekke: Die riglyne wat al ’n hele paar jaar gegee word, sal steeds van toepassing wees, naamlik: SITPLEKKE MAG SLEGS GEHOU WORD VIR JOU EIE GESIN EN ENIGIEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Dit is goed om te sien dat meer in onlangse jare hierdie riglyne volg, en dit het bygedra tot die liefdevolle atmosfeer wat by die byeenkomste heers. By die meeste terreine is daar sitplekke wat makliker bereikbaar is as ander. Toon asseblief bedagsaamheid, en laat die geriefliker stoele vir dié wie se omstandighede dit vereis.
15 Kameras, videokameras en bandopnemers: Kameras en opneemapparate mag by die byeenkoms gebruik word. Ons moet egter nie ander in die gehoor se aandag aftrek wanneer ons dit gebruik nie. Ons moenie tydens die sessies rondloop en foto’s neem nie, aangesien dit steurend sal wees vir ander wat op die program probeer konsentreer. Hoegenaamd geen opneemapparaat mag aan die elektriese of klankstelsels gekoppel word nie, en toerusting moet ook nie gange en deurloopareas versper of ander se uitsig belemmer nie.
16 Noodhulp: Die noodhulpafdeling is slegs vir noodgevalle. Dit is nie in staat om na dié wat chronies siek is om te sien nie. Dit is waarom jy jou en jou gesin se gesondheidsbehoeftes voor die tyd in ag moet neem. Bring asseblief jou eie aspirien, spysverteringsmedisyne, verbande, haakspelde en soortgelyke items saam, aangesien sulke dinge nie by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie. Diegene wat weet dat hulle in gevaar verkeer wat aanvalle, insulienskok, hartprobleme, ensovoorts betref, moet so ver moontlik voorbereid wees vir wat hulle nodig sal hê. Hulle moet die nodige medisyne hê, en ’n gesinslid of iemand in die gemeente wat hulle situasie verstaan, moet te alle tye by hulle wees om die nodige hulp te verleen. Probleme het al by byeenkomste ontstaan wanneer persone met chroniese gesondheidsprobleme alleen gelaat is en siek geword het. Die streekbyeenkomsadministrasie moes mediese nooddienste ontbied om hulle na ’n hospitaal toe te neem. As party met spesiale gesondheidsbehoeftes nie gesinslede het wat hulle kan help nie, moet hulle gemeentelike ouer manne kennis neem van die situasie en die nodige reëlings tref om hulle te help. Daar sal geen voorsiening vir spesiale vertrekke by die streekbyeenkoms gemaak word vir diegene wat allergieë het nie.
17 Voedsel by die byeenkoms: Aangesien daar geen voedseldiens by die byeenkomste is nie, is baie meer broers gevolglik vry om gedurende al die sessies op die geestelike voedsel te konsentreer. Woorde van waardering vir hierdie vereenvoudiging is al van ’n hele paar broers ontvang sedert die reëling ingestel is. Almal moet beplan om hulle eie praktiese, voedsame etes vir die middagpouse saam te bring, soos in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1995, paragraaf 26, voorgestel word. Geen glashouers of alkoholiese drank moet by die byeenkomsfasiliteite ingebring word nie. Koelhouers vir voedsel moet klein genoeg wees om onder jou sitplek te pas. Daar is opgemerk dat party in die gehoor gedurende die program eet en drink. Dit is oneerbiedig om dit te doen. Daar is al gesien dat party broers kommersiële voedselverkopers in die omgewing, binne of buite die byeenkomsfasiliteite, gedurende die program ondersteun. So iets is onvanpas.
18 Ons waardeer waarlik ons geestelike fees en die ontspanne, vreedsame atmosfeer van samesyn gedurende ons kort middagpouse. Bring asseblief, in ooreenstemming met hierdie reëling, eerder iets saam met jou as om die fasiliteite gedurende die middagpouse te verlaat om kos te gaan koop. Sodoende sal jy meer tyd hê om die geselskap van jou broers en susters te geniet.
19 Hoe bly is ons tog dat die “Geloof in God se Woord”-streekbyeenkomste binnekort gaan begin! Ons almal wil seker maak dat ons reëlings getref is om die hele program by te woon sodat ons die voortreflike geestelike feesmaal wat Jehovah vir ons deur sy organisasie voorberei het ten volle kan geniet. Sodoende sal ons “ten volle toegerus [word] vir elke goeie werk” in die dae wat voorlê.—2 Tim. 3:17.
[Venster op bladsy 10]
Herinneringe in verband met die streekbyeenkoms
Doop: Doopkandidate moet hulle sitplekke in die aangewese gedeelte inneem vóór die program Saterdagoggend begin. Elkeen wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. In die verlede het sommige klere gedra wat nie gepas was nie en aan die geleentheid afbreuk gedoen het. Ouer manne wat die vrae in die Ons bediening-boek met doopkandidate bespreek, moet seker maak dat elkeen hierdie punte verstaan. Ná die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter ’n lied aankondig. Ná die laaste vers gesing is, sal die saalwagters die doopkandidate na die doopplek lei. Doop as simbool van ’n mens se toewyding is ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah. Dit is dus onvanpas dat kandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word.
Lapelkaarte: Dra asseblief die 1997-lapelkaart te alle tye terwyl julle in die byeenkomsstad is en terwyl julle daarheen en terug reis. Dit skep dikwels geleenthede vir ons om ’n goeie getuienis te gee. Lapelkaarte en -houers moet deur julle gemeente verkry word, aangesien dit nie by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie. Moenie wag tot ’n paar dae voor die streekbyeenkoms voor jy vra vir lapelkaarte vir jou en jou gesin nie. Onthou om julle nuwe “Advance Medical Directive/Release”-kaart by julle te hê.
Huisvesting: Ons wil almal asseblief vra om met die Huisvestingsafdeling saam te werk. Gemeentelike sekretarisse moet seker maak dat Kameraansoekvorms onmiddellik na die betrokke streekbyeenkomsadres gestuur word. As jy huisvesting moet kanselleer wat deur die Huisvestingsafdeling gereël is, moet jy die eienaar of hotel en die streekbyeenkoms se Huisvestingsafdeling onmiddellik daarvan in kennis stel sodat die kamer weer beskikbaar gestel kan word.
Liedere: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere te oefen wat ’n deel van die program sal wees: 155, 46, 138, 183, 43, 180, 156, 130, 13, 98, 164, 160, 195, 144, 77, 4, 191 en 10.
Kinderwaentjies: Die Brandweer stel voor dat dit nie in ’n ouditorium ingeneem word en in deurgange en paadjies of tussen rye sitplekke geplaas word nie. Aangesien groot skares samedromming kan veroorsaak, is kinderwaentjies potensieel gevaarlik vir die baba sowel as vir enigiemand wat daaroor kan struikel. Moet dit dus asseblief nie in die ouditorium inbring nie. Babastoeltjies of reisstoeltjies is toelaatbaar, aangesien dit aan stoele langs die ouers vasgemaak kan word. Julle samewerking is belangrik en word waardeer.
Vrywilligerdiens: Kan jy tyd by die byeenkoms inruim om in een van die afdelings te help? Om ons broers selfs net ’n paar uur te dien, sal baie help en jou groot bevrediging verskaf. As jy kan help, moet jy jou asseblief by die streekbyeenkoms se Vrywilligerafdeling aanmeld. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene te werk.
’n Woordjie van waarskuwing: Ons kan onnodige probleme vermy as ons op potensiële probleme bedag is. Mense wat weg van hulle tuiste af is, word dikwels die prooi van diewe en ander gewetenlose mense. Maak seker dat jou motor te alle tye gesluit is, en moet nooit enigiets oop en bloot in jou motor laat sodat iemand in die versoeking kom om in te breek nie. Diewe en sakkerollers word deur groot byeenkomste gelok. Dit sal onverstandig wees om enige waardevolle artikels by jou sitplek te laat. Jy kan nie seker wees dat almal om jou Christene is nie. Waarom iemand in die versoeking lei? Daar was al berigte dat buitestanders kinders probeer weglok het. HOU TE ALLE TYE JOU OOG OP JOU KINDERS.