Jongmense—Wat is julle geestelike doelwitte?
1 Jehovah weet hoe belangrik betekenisvolle werk en bereikbare doelwitte is om ons gelukkig te maak. (Sien Genesis 1:28; 2:15, 19.) Jehovah het vandag vir sy volk die toewysing gegee om die predikings- en onderrigtingswerk te doen. Ons het ook die uiteindelike doelwit om die ewige lewe in die Paradys te verkry. Intussen moet ons progressiewe geestelike doelwitte stel as ons wil verhinder dat ons ons energie en middele verkeerd aanwend.—1 Kor. 9:26.
2 Realistiese doelwitte vir jongmense: Jongmense behoort teokratiese doelwitte te hê wat, volgens hulle individuele vermoëns, binne hulle bereik is (1 Tim. 4:15). Sommige wat nog baie jonk is, het selfs voor hulle kon lees die doelwit bereik om die boeke van die Bybel te kan opnoem. Deur middel van die gesinstudie leer kinders hoe om vir die vergaderinge voor te berei sodat hulle doelwitte kan bereik soos om betekenisvolle kommentare te lewer en by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit. Wanneer kinders hulle ouers in die velddiens vergesel, leer hulle om ook ’n getuienis te gee terwyl hulle vooruitgang maak sodat hulle ongedoopte verkondigers kan word. Ouers moet toewyding en doop as ’n doelwit vir hulle jong kinders voorhou.
3 As jy ’n tiener is, wat sluit jou geestelike doelwitte in? “Dink aan jou Skepper” deur jou aandag toe te spits op lewensdoelwitte wat werklik belangrik is (Pred. 12:1; Ps. 71:17). Probeer gerus om gedurende die maande wanneer jy skoolvakansie het aan die hulppionierdiens deel te neem. Het jy dit al oorweeg om die voltydse bediening as ’n gewone pionier te betree? Kan jy ’n nuwe taal aanleer sodat jy in die toekoms ’n anderstalige groep of gemeente in jou eie gebied of elders kan help? Baie wat tans by Bethel dien of wat reisende opsieners of sendelinge is, het spesiale voltydse diens hulle doelwit gemaak toe hulle nog op skool was. Jy kan dit ook doen.
4 Streef daarna om Jesus se voorbeeld na te volg terwyl jy nog jonk is. Toe hy maar 12 was, het hy openlik oor geestelike dinge gepraat (Luk. 2:42-49, 52). As jy vir jou heilsame doelwitte stel om persoonlike studie te doen, die Bybel daagliks te lees en by die vergaderinge en in die bediening gereeld met ryp Christene om te gaan, sal dit jou help om bekwaam te word om ander van God se Koninkryk te leer soos Jesus dit gedoen het.