Jy word gemis!
1 Van tyd tot tyd slaan ons dalk een of meer gemeentelike vergaderinge oor en dink dan: ‘Niemand sal my mis nie; hulle sal nie eens agterkom dat ek nie daar is nie.’ Dit is nie waar nie! Soos enige ledemaat van ons fisiese liggaam speel elkeen van ons ’n noodsaaklike rol in die werking van die gemeente (1 Kor. 12:12). As ons van ’n weeklikse vergadering af wegbly, kan dit die geestelike welsyn beïnvloed van ander wat dit bywoon. As jy nie daar is nie, kan jy daarvan seker wees—jy word gemis!
2 Die noodsaaklike rol wat jy speel: Paulus het daarna verlang om met sy broers om te gaan. Romeine 1:11, 12 verduidelik waarom: “Om julle die een of ander geestelike gawe te kan meedeel . . . dat daar ’n uitwisseling van aanmoediging onder julle kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof, julle s’n sowel as myne.” Deur ons kommentare, ons dele op die vergadering en ons blote teenwoordigheid doen ons eweneens baie om mekaar op te bou om ons getroue lewenswandel voort te sit.—1 Tess. 5:11.
3 Sien jy nie daarna uit om ander by gemeentelike vergaderinge te sien nie? Jy luister aandagtig na hulle kommentare en waardeer hulle betuigings van geloof. Hulle geestelike gawes dra daartoe by dat jy opgebou word. Jy sal voel dat iets belangriks ontbreek as hulle nie by die vergadering was nie. Jou broers en susters voel dieselfde oor jou as jy nie teenwoordig is nie.
4 Die noodsaaklike rol wat vergaderinge speel: Die Wagtoring het eenkeer kommentaar gelewer oor hoe belangrik die vergaderinge vir ons geestelike behoud is en gesê: “In hierdie onsedelike wêreld met sy tweedrag is die Christelike gemeente waarlik ’n geestelike toevlugsoord . . . van vrede en liefde. Daarom moet jy al die vergaderinge gereeld bywoon” (w93-AF 8/15 11). Ons kom elke dag voor situasies te staan wat ons geestelik uitput. As ons nie versigtig is nie, kan ons so betrokke raak by ons eie bekommernisse dat ons die belangriker geestelike belange uit die oog kan verloor. Ons almal is van mekaar afhanklik vir die aanmoediging wat ons nodig het om verenig en ywerig in God se diens te bly.—Heb. 10:24, 25.
5 Dit is noodsaaklik dat ons vergaderinge bywoon. Siekte of onvoorsiene omstandighede kan ons soms van die vergaderinge af weghou. Laat ons andersins vasbeslote wees om altyd onder die versamelde menigtes te wees wat Jehovah loof!—Ps. 26:12, NW.