Ons behoort onderrigters te wees, nie net verkondigers nie
1 Daar is al opgemerk dat ‘Jehovah se Getuies letterlik die aarde met hulle getuieniswerk oordek het’. Hoe is dit gedoen? Nie deur menslike mag of krag nie, maar deur God se gees wat op sy knegte inwerk terwyl hulle van verskeie voorsienings gebruik maak om hulle opdrag om te preek en te onderrig uit te voer.—Sag. 4:6; Hand. 1:8.
2 Die gedrukte woord is ’n doeltreffende middel om ons predikingswerk mee uit te voer. Deur die jare heen is miljarde boeke, boekies, brosjures, tydskrifte en traktate deur Jehovah se Getuies gedruk en versprei om te help om die goeie nuus van die Koninkryk bekend te maak. Verslae in die 1997 Yearbook toon dat lektuurproduksie rekordvlakke bereik het. Tot op hede is meer as 91 miljoen eksemplare van die New World Translation gedruk. In een jaar het die getal eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! wat in die Verenigde State gedruk is met 7,1 persent gestyg. In Duitsland het tydskrifproduksie met 35 persent gestyg. Meer as ’n derde van die tydskrifte wat daar gedruk is, was vir die Russiese veld.
3 Waarom is soveel lektuur nodig? Daar was wêreldwyd ’n uitstekende reaksie op die aansporing wat ons gekry het om te getuig waar ons ook al mense vind. Aangesien meer van ons ons predikingswerk uitbrei—in openbare plekke, op straat en in sakegebied—word meer lektuur versprei onder mense wat ’n mate van belangstelling toon. Baie van hulle het selde, indien ooit, die geleentheid gehad om die Koninkryksboodskap te hoor. Om in hierdie behoefte te voorsien, hou gemeentes ’n verskeidenheid publikasies in voorraad wat in alle fasette van die bediening gebruik kan word.
4 Wat is ons doelwit wat die verspreiding van lektuur betref? Dit is nie ons doelwit om net lektuur te versprei nie. Die opdrag om dissipels te maak, behels twee dinge—verkondiging en onderrigting. Ons het in die eerste plek die voorreg om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en mense bewus te maak van die feit dat dit die enigste hoop vir die mensdom is (Matt. 10:7; 24:14). Ons Bybellektuur is ’n beproefde en doeltreffende middel om belangstelling aan te wakker en kennis aangaande die Koninkryk aan ander oor te dra.
5 As ons dissipels wil maak, moet ons in die tweede plek hulle al die dinge leer wat Jesus beveel het (Matt. 11:1; 28:19, 20). Die lektuur speel weer eens ’n belangrike rol as ons die waarheid in ons studente se hart wil inprent en hulle wil help om dissipels te word.
6 Diegene wat lektuur neem, is dalk ‘hoorders van die woord’, maar dit is onwaarskynlik dat hulle daders daarvan sal word as ons hulle op hulle eie laat (Jak. 1:22-25). Min sal ooit dissipels word tensy iemand hulle lei (Hand. 8:30, 31). Hulle het ’n onderrigter nodig om hulle te help om hulleself deur bewyse te oortuig van die waarheid wat in die Skrif gevind word (Hand. 17:2, 3). Ons doelwit is om hulle te help om tot toewyding en doop te vorder en hulle op te lei sodat hulle voldoende bekwaam sal wees om ander te leer.—2 Tim. 2:2.
7 Meer onderrigters—ons grootste behoefte: Wanneer ons die predikingswerk doen, verkondig ons die goeie nuus in die openbaar. Maar onderrigting behels dat ons iemand progressief leer. Terwyl die predikingswerk ander van die Koninkryksboodskap bewus maak, help onderrigting individue om die goeie nuus aan te neem en daarop te reageer (Luk. 8:15). ’n Onderrigter doen meer as om iets te verkondig; hy verduidelik, redeneer met goeie argumente, lewer bewyse en oortuig.
8 Soveel van ons as moontlik behoort leermeesters, oftewel onderrigters, te wees, nie net verkondigers nie (Heb. 5:12a). Die verspreiding van lektuur is ’n noodsaaklike deel van ons werk, maar om die tweede oogmerk van ons bediening te bereik, hang uiteindelik af van wat ons as onderrigters doen. Hoewel ons bly kan wees wanneer dit vir ons moontlik is om lektuur te versprei, moet ons, om ons bediening ten volle uit te voer, nie die verspreiding daarvan as ons einddoel beskou nie (2 Tim. 4:5). Om lektuur by mense te laat, is ’n doeltreffende manier om die weg te baan tot geleenthede om ander die waarheid te leer.
9 Doen herbesoeke om Bybelstudies te begin: Ons het almal waarskynlik al ’n hele aantal boeke, brosjures en tydskrifte versprei en sodoende ’n hele paar herbesoeke gekry. Ons moet tyd opsy sit om gereeld terug te gaan en belangstelling verder te kweek. Die hoofrede waarom ons teruggaan, is nie bloot om meer lektuur by mense te laat nie, maar om mense aan te moedig om dit wat hulle reeds het te lees en daarby baat te vind. Hoeveel geestelike vooruitgang sou óns gemaak het as iemand nie keer op keer teruggekom het om ons te help om juiste kennis in te neem nie?—Joh. 17:3.
10 Kweek alle belangstelling verder met die doel om ’n Bybelstudie te begin in die brosjure Wat vereis God van ons? of in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Hierdie twee publikasies bied die Koninkryksboodskap aan in ’n vorm wat maklik verstaanbaar is. Die Vereis-brosjure bevat ’n deeglike studiekursus, wat die basiese leringe van die Bybel dek. Die Kennis-boek maak dit moontlik om die waarheid in groter besonderhede, maar tog eenvoudig, duidelik en bondig, aan ander te leer.
11 Die vereenvoudigde onderrigtingsprogram, soos uiteengesit in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Junie 1996, maak dit maklik vir die onderrigter om te onderrig en vir die student om te leer. Hou ’n afskrif van daardie byvoegsel byderhand om hierdie doeltreffende onderrigmetodes en -tegnieke te hersien. Van die wenke daarin behels hoe om opregte belangstelling in die student te toon, hoeveel materiaal in een sessie gedek moet word, hoe om vrae te hanteer wat nie op die onderwerp betrekking het nie, hoe beide die studiehouer en student voor die tyd vir die studie kan voorberei en hoe om die student na Jehovah se organisasie te rig. As ons die wenke toepas, sal meer van ons, ook nuwelinge, progressiewe studies kan hou.
12 Verslae van sukses uit die veld: Die Vereis-brosjure en die Kennis-boek is waardevolle hulpmiddels om die dissipelmaakwerk te bespoedig. Toe ’n broer in Bolivia die Vereis-brosjure ontvang het, het hy dit onmiddellik gebruik om ’n studie met ’n man te begin. Vier maande later was hierdie student onder die vreugdevolle doopkandidate by die streekbyeenkoms!
13 Baie mense word beweeg om hulle lewe aan Jehovah toe te wy nadat hulle hulle studie van die Kennis-boek voltooi het. In een gemeente in Angola het die getal Bybelstudies wat deur die verkondigers gehou is van 190 tot 260 gestyg en vergaderingbywoning het van 180 tot 360 verdubbel in slegs vier maande nadat hulle begin het om die Kennis-boek in daardie gebied te gebruik. Kort daarna was dit nodig om nog ’n gemeente te stig.
14 Nadat een broer sy eerste studie in die Kennis-boek begin het, het hy gesê dat dit “maklik is as die studiehouer net die vrae vra, ’n paar toepaslike tekste lees en seker maak dat die student verstaan”. Hoewel hy altyd gedink het dat slegs baie bekwame verkondigers progressiewe Bybelstudies kan hou en dat hy dit nooit sal kan doen nie, het hy besef dat hy dit wel kan doen en gesê: “As ek dit kan doen, kan enigeen dit doen.”
15 Dit is deur Bybelstudies te hou as ’n deel van ons bediening dat ons die oogmerk bereik om dissipels te maak. Diegene wat die vermoë ontwikkel het om aan hierdie aspek van die bediening deel te neem, vind dat dit waarlik bevredigend en ryklik lonend is. Mag daar van ons gesê word dat ook ons “die koninkryk van God . . . verkondig en die dinge aangaande die Here Jesus Christus geleer [het] met die grootste vrymoedigheid van spraak”.—Hand. 28:31.