Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/91 bl. 3-6
  • Plant en natmaak—Stappe om dissipels te maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Plant en natmaak—Stappe om dissipels te maak
  • Ons Koninkryksbediening—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HERKEN POTENSIAAL EN BEHOEFTE
  • HULPMIDDELS OM BYBELSTUDIES TE BEGIN
  • TREE VERANTWOORDELIK OP TEENOOR BELANGSTELLENDES
  • HOE OM ’N BYBELSTUDIE TE BEGIN
  • Op soek na meer Bybelstudies
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • ‘Gaan maak dissipels!’—Doen jy dit?
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Bied jy Bybelstudies aan?
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Ons behoort onderrigters te wees, nie net verkondigers nie
    Ons Koninkryksbediening—1997
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1991
km 8/91 bl. 3-6

Plant en natmaak—Stappe om dissipels te maak

1 “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei” (1 Kor. 3:6). Die apostel Paulus het met hierdie woorde drie basiese stappe geïdentifiseer om dissipels van Christus te maak. Die eerste twee stappe, om te plant en nat te maak, behels ’n voorreg en verantwoordelikheid wat op toegewyde, gedoopte knegte van God rus.

2 Dit vereis dat ’n mens die predikingswerk in die openbaar en van huis tot huis, informeel en op ander maniere doen. Dit verg ook dat jy mense progressief leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het (Matt. 28:19). Hierdie laaste stap kan net gedoen word deur herbesoeke te doen by diegene wat belangstelling toon, hulle by Bybelbesprekings te betrek en Bybelstudies met hulle te hou. Is jy ’n lojale medewerker wat saam met Jehovah werk deur waarheidsade te plant en volg jy dit dan op deur die nodige natmaakwerk en bewerking te doen?—1 Kor. 3:9.

HERKEN POTENSIAAL EN BEHOEFTE

3 Ons het gedurende die 1990-diensjaar in Suid-Afrika amper 837 000 boeke en boekies en meer as 5,5 miljoen tydskrifte versprei! (In Botswana is 18 148 boeke en boekies en 65 690 tydskrifte versprei; in Lesotho 12 812 en 79 729; in Namibië 29 137 en 83 097; in St. Helena 409 en 11 188 en in Swaziland 14 961 en 82654.) Ons het ook ’n Gedenkmaalopkoms van meer as 130 000 gehad, wat baie meer is as die gemiddelde verkondigersyfer van 46 595 vir die jaar. Die verspreiding van lektuur is ’n integrerende deel van ons plantwerk. Die waarheidsade wat as gevolg daarvan gesaai word, hou ontsaglike potensiaal in om nuwe dissipels te maak, maar word ons, as God se medewerkers, beweeg om herbesoeke te doen by hierdie mense en hulle belangstelling in Bybelonderwerpe wakker te hou? Gemeentelike verkondigers in Suid-Afrika hou nou gemiddeld 0,6 Bybelstudies. (In Botswana het hulle gemiddeld 0,8 Bybelstudies gehou; in Lesotho 1; in Namibië 0,7; in St. Helena 0,5 en in Swaziland 0,9.) Ons is oortuig dat hierdie gemiddelde sal verbeter as elke verkondiger tot ’n groter besef sal kom van sy persoonlike verantwoordelikheid om verder te gaan as die eerste stap om net waarheidsade te plant en daarna sal strewe om progressiewe tuisbybelstudies te hou. Hoewel sommige moontlik vanweë verskeie beperkinge nie een of meer tuisbybelstudies kan hou nie, is dit goed dat elkeen van ons sy persoonlike omstandighede ondersoek.

4 Dit is interessant om te sien wat in sommige gebiede gebeur. Gemeentes het vrugbare gebied en hulle rapporteer gemiddeld een tot twee Bybelstudies per verkondiger. Die toename van nuwe dissipels is eweredig aan die getal Bybelstudies wat gehou word. Dit kan gesien word as ons die gemiddelde aantal verkondigers met die getal Bybelstudies in verskeie lande vergelyk, soos die jaarboek vir 1991 aantoon.

5 Ons beweegrede om Bybelstudies te hou, moet ons liefde wees vir mense wat reageer op die Koninkryksboodskap wat ons verkondig. Ons moet, soos Jehovah, opreg liefdevolle besorgdheid teenoor mense toon en besef dat hulle redding verband hou met geestelike groei (1 Pet. 2:2). Soos plante wat water nodig het om te kan groei, sal mense wat aanvanklik belangstelling in die Koninkryksboodskap toon gewoonlik nie vergaderinge begin bywoon nie tensy hulle gereeld deur tuisbybelstudies na God se organisasie gerig word.

6 Ons gehoorsaamheid is ook van belang. Jesus het vir diegene wat aan die kant van die waarheid staan, gesê om na sy stem te luister (Joh. 18:37). Hy het sy dissipels beveel om te preek en te onderrig en hy het hulle toegerus om daardie werk te doen. Deur sy uitstekende voorbeeld as leermeester en sy diepe besorgdheid oor mense het Jesus die voorbeeld vir ons gestel om ander te help (Luk. 6:40, NAV; Joh. 13:13, NAV; 14:12). Ons pogings kan tot ons redding lei en tot die redding van dié wat deur ons onderrig word.—1 Tim. 4:16.

HULPMIDDELS OM BYBELSTUDIES TE BEGIN

7 Om sy werk te vervolmaak, kies ’n bedrewe ambagsman sy gereedskap uit ’n verskeidenheid wat hy tot sy beskikking het. As onderrigters het ons baie publikasies tot ons beskikking, onder andere brosjures en traktate, wat instrumente is om ons te help om die harte van mense met verskillende agtergronde en standpunte te bereik.

8 Sommige verkondigers het goeie resultate behaal deur traktate en brosjures te gebruik om Bybelbesprekings in te lei. Byvoorbeeld: Die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld bevat meer as 20 verskillende teksverwysings of aanhalings wanneer dit hierdie wonderlike hoop skets. Hierdie tekste kan gebruik word om etlike stimulerende Bybelbesprekings te ontwikkel. Ons brosjures, met hulle mooi illustrasies en duidelik verstaanbare taal, kan mense ook bekend maak met basiese Bybelwaarhede en hulle aanspoor om dit verder te ondersoek.

9 Ken jy iemand met min skoolopleiding of wat nie goed kan sien nie? Het jy al probeer om die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! te gebruik om ’n progressiewe Bybelbespreking met so iemand te begin? Die “Kyk”-brosjure is nog ’n goeie instrument waarvan die inleidende paragrawe die huisbewoner op doeltreffende wyse help om van God se beloftes vir die toekoms te leer. En die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 vrygestel is, was beslis doeltreffend om ’n groot persentasie van die meer as 1700-000 wat sedertdien gedoop is, te help.

TREE VERANTWOORDELIK OP TEENOOR BELANGSTELLENDES

10 Dit kan vir jou nuttig wees om na jou gemeentelike verkondigerverslagkaart te kyk en te sien hoeveel boeke, boekies (brosjures inkluis) en tydskrifte jy gedurende die afgelope 12 maande versprei het. Was dit die einde van die saak? Of het jy verder gegaan as die stap om te plant? Hoeveel van die mense wat genoeg belanggestel het om van ons lektuur te neem, het jy sonder versuim weer gaan sien? Het jy teruggegaan om te sien of die saad wat jy geplant het, ontkiem het? Het jy die nodige opvolgwerk gedoen deur die saad nat te maak en toe tot Jehovah gebid om dit te laat groei?—Vergelyk Handelinge 16:14 en 2 Thessalonicense 3:1.

11 Moontlik doen jy nie herbesoeke of hou jy nie ’n Bybelstudie nie omdat jy voel dat jy nie daarvoor opgewasse is nie. Dit kan waarskynlik eerder toegeskryf word aan jou gesindheid as aan onvermoë. Jehovah het nie sy volk uitgestuur om ’n werk te doen sonder om hulle ten volle toe te rus en bekwaam te maak nie. Deur sy heilige Woord en organisasie berei hy ons voor “vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:16, 17; 2 Kor. 3:5, 6). Hy gee ons wat ons nodig het deur middel van die heilige gees, publikasies en mondelinge onderrigting en demonstrasies van die verhoog af, om nie eers te praat van die lewende voorbeelde van bedrewe en toegewyde knegte wat ons te eniger tyd sal help nie. Ons het nie die hoër onderwys van die wêreld nodig om ’n Bybelstudie te kan hou nie. Ons moet reageer op die hoër geestelike onderrig wat deur Jehovah se organisasie gegee word.—Vergelyk Handelinge 4:13.

12 Ons moet die dinge wat in Ons Koninkryksbediening, die Teokratiese Bedieningskool, Diensvergaderinge en ander onderrigtingskanale voorsien word persoonlik toepas. Die apostel Paulus het reguit vir die Hebreeuse Christene gesê: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ’n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer” (Hebr. 5:12). Iemand wat etlike jare as ambagsman werk, moet al baie bedrewe in die gebruik van sy gereedskap wees. Dit sal duidelik wees dat ons vooruitgang maak in ons vermoë om Bybelbesprekings te hou as ons opregte belangstelling toon en ywerig pogings aanwend.—Spr. 12:24; 22:29.

13 Dit verg tyd en inspanning om terug te gaan en verdere besprekings oor Bybelonderwerpe te hou met diegene wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon. Maar ons moet besef dat die feit dat ons in die waarheid is ’n blyk van Jehovah se liefde en onverdiende goedhartigheid is. Dit is weerspieël deur iemand wat baie ure lank geduldig die waarheid aan ons geleer het. Liefde moet ons eweneens verplig om die nodige tyd uit te koop en dit te wy aan hierdie belangriker werk om dissipels te maak.—2 Kor. 5:14, 15; Ef. 5:15, 16.

14 Talle gemeentes het die Genootskap se wenk gevolg om reëlings vir aandgetuieniswerk te tref. Die vroeë aandure is gewoonlik ’n goeie tyd om herbesoeke te doen by diegene wat belangstelling getoon het. ’n Huis-tot-huisverslag, wat pertinente inligting bevat oor die mense vir wie jy getuig het, is noodsaaklik as jy doeltreffende herbesoeke wil doen en Bybelbesprekings wil begin. Moenie sulke verslae in ’n boek of in ’n Bybel sit en daarvan vergeet nie. As jy vergeet om ’n herbesoek te doen totdat jy weke later toevallig weer in die buurt is, laat dit die persoon oop sodat Satan se werktuie hom kan besoek, wat genot daaruit put om die dinge wat in die persoon se hart gesaai is daaruit weg te ruk (Luk. 8:12). Sal jy Satan se planne dwarsboom deur sonder versuim terug te gaan? As jy bewus is van jou verantwoordelikheid en jou voorreg waardeer, sal jy, indien dit enigsins moontlik is, so gou moontlik teruggaan.—1 Kor. 9:16, 23.

HOE OM ’N BYBELSTUDIE TE BEGIN

15 Dit behels nie die een of ander moeilike, ingewikkelde metode om ’n Bybelstudie te begin nie. Party mense sal jou regstreekse aanbod om ’n tuisbybelstudie met hulle te hou geredelik aanvaar. Maar baie verkondigers verkies dit om nie ’n studie te meld nie, maar om net die Bybelbespreking in daardie rigting te stuur.

16 Liefde vir mense en ’n opregte begeerte om hulle te help, is nodig. Goeie voorbereiding is ook nodig. Dit beteken onder andere dat jy na aantekeninge moet kyk wat jy gemaak het oor wat jy al met die persoon bespreek het en om te besluit watter benadering jy gaan gebruik om die Bybelbespreking verder te voer. Hou die breë strekking van jou kommentare in gedagte. Sal jy ’n paar ekstra tekste kies oor die onderwerp wat jy voorheen bespreek het? Of kan jy die traktaat of boek oopmaak wat die persoon het en ’n paar van die inleidende paragrawe met hom bespreek? Jy kan ’n onderwerp kies waarin hy belangstelling getoon het. Neem aan die begin net 10 of 15 minute. Jy kan die tyd geleidelik vermeerder na gelang van hoe groot die belangstelling is. Jou goeie oordeel moet jou help om te onderskei hoe om te werk te gaan en hoe lank om te bly.

17 Oor die jare is ’n oorvloed nuttige wenke gegee om jou te help om progressiewe stappe te doen om dissipels te maak. As deel van ’n reeks het Ons Koninkryksbediening vir Oktober en November 1990 nuttige artikels bevat, naamlik: “Bereik harte deur doeltreffende Bybelstudies” en “Rig Bybelstudente na Jehovah se organisasie.” Ons Koninkryksbediening vir Februarie 1987 het die artikel bevat: “Hoe om vir ’n tuisbybelstudie voor te berei en dit te hou.” ’n Vinnige kykie na die Index onder “Bible Studies” kan jou wys waar jy ekstra nuttige inligting kan kry.

18 Let op wat by die Gemeentelike Boekstudie gedoen word as voorbeeld van hoe ’n studie gehou kan word. By ’n tuisbybelstudie het jy natuurlik nie ’n vooraf vasgestelde hoeveelheid materiaal om te dek nie. Jy moet dus jou materiaal dek na gelang van die student se vermoë en behoeftes. Daarbenewens sal die diensopsiener en ander ervare verkondigers en pioniers baie bly wees om saam met jou te gaan om praktiese wenke te gee oor hoe om doeltreffende Bybelstudies te hou.

19 Die besef dat Jehovah die sleutelrol speel in ons pogings om mense te help, moet ons laat bid nie net om iemand te vind met wie ons kan studeer nie, maar ook dat belangstellendes wat ons gevind het vooruitgang sal maak. Ons gesindheid en gevoel moet wees soos dié van die apostel Paulus toe hy vir koning Agrippa getuig het: “Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is” (Hand. 26:29). Paulus wou hê dat sy hoorders ware dissipels van Christus moes word, of dit nou ’n kort tydperk of ’n langer tydperk van persoonlike hulp sou vereis.

20 As ons Bybelstudies hou, stel dit ons in staat “om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God” (Hand. 20:24). Tallose mense kan nog van die duisternis tot die lig bekeer word en van die mag van Satan tot God (Hand. 26:18). Jy, die individuele, toegewyde, gedoopte kneg van Jehovah moet jou deel doen deur waarheidsade te plant en dit dan op te volg met die nodige natmaakwerk deur middel van Bybelbesprekings en gereelde tuisbybelstudies. Jy kan sodoende groot vreugde ervaar as jy sien hoe mense dissipels word en by jou aansluit om nog ander te help om dissipels van Jesus Christus te word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel