Maak goeie gebruik van strooibiljette
1 Gemeentelike strooibiljette is nuttig om mense in die gemeenskap in te lig oor die Koninkryksaal se adres en die regte vergaderingtye. Dit sal goed wees om een te laat by elke persoon met wie jy in aanraking kom. Vir dié doel moet elke gemeente genoeg strooibiljette in voorraad hou. Gemeentes wat hulle vergaderingtye elke jaar, in Januarie, verander, moet elke jaar in Oktober nuwe strooibiljette bestel sodat daar altyd ’n voorraad met die huidige vergaderingtye beskikbaar sal wees. Die Handbill Request-vorm moet hiervoor gebruik word. Hoe kan strooibiljette ten beste benut word wanneer julle dit kry?
2 Baie verkondigers vind dat hulle op doeltreffende wyse hulleself kan voorstel en gesprekke kan begin as hulle vir die persoon een gee. As ons die aandag vestig op die verskillende vergaderinge of die boodskap op die agterkant, kan dit tot ’n gesprek oor ons werk en die doel daarvan lei. Ouers kan hulle jong kinders in die bediening betrek deur vir hulle ’n strooibiljet te gee om by die deur aan te bied. Verkondigers wat onder meer getuig deur briewe te skryf, moet ’n strooibiljet by hulle brief insluit en die persoon uitnooi om die vergaderinge by te woon. Dalk kan strooibiljette by huise gelaat word waar daar niemand tuis is nie, solank dit op so ’n wyse onder deur die deur gesteek word dat dit uit die oog is.
3 Strooibiljette het al daartoe bygedra dat opregtes van hart na die waarheid gerig word. Een ondervinding is van ’n vrou wie se lewenslange begeerte om die Bybel te verstaan danksy ’n strooibiljet vervul is. Nadat sy ’n nag in gebed tot God deurgebring het, het ’n Getuie-egpaar die volgende oggend die deurklokkie gelui. Sy het deur die loergaatjie gekyk en uitgeroep dat sy nie vir hulle kon oopmaak nie. Die Getuies het ’n strooibiljet onder deur die deur gesteek. Dit het gelui: “Ken jou Bybel.” Sy het dit gesien en die deur oopgemaak. ’n Studie is onmiddellik begin, en sy is later gedoop. Ons moet nooit die krag van God se gees onderskat nie en gereeld van strooibiljette gebruik maak om ons bediening ten volle uit te voer.—Sien ook Ons Koninkryksbediening vir Februarie 1994, bladsy 1.