“Jehovah is my helper”
1 Toe Jesus sy eerste dissipels uitgestuur het, het hy vir hulle gesê: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder wolwe uit” (Matt. 10:16). Het dit veroorsaak dat hulle bevrees geraak en teruggedeins het? Nee. Hulle het die gesindheid aangeneem wat later deur die apostel Paulus uitgedruk is toe hy vir mede-Christene gesê het: “Hou goeie moed en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’” (Heb. 13:6). Hulle het hulle verheug omdat hulle waardig geag is om ter wille van Jesus se naam oneer te ly, en hulle het sonder ophou voortgegaan om ander te leer en die goeie nuus bekend te maak.—Hand. 5:41, 42.
2 Die wêreldwye predikingswerk nader vandag voltooiing. Net soos Jesus voorspel het, het ons vir al die nasies voorwerpe van haat geword (Matt. 24:9). Ons predikingswerk is al teëgestaan en bespot, en in sommige dele van die aarde is daar selfs ’n verbod daarop geplaas. As ons ’n gebrek aan geloof het, kan ons geïntimideer voel. Maar die wete dat Jehovah ons Helper is, verkwik ons en versterk ons om te volhard.
3 Iemand wat moedig is, is sterk, dapper en onverskrokke. Dit is die teenoorgestelde van vrees, skugterheid en lafhartigheid. Jesus se dissipels het nog altyd moed nodig gehad om te volhard. Dit is noodsaaklik as ons nie ontmoedig wil word deur die gesindhede en dade van ’n wêreld wat in vyandskap met God verkeer nie. Hoe bemoedigend is dit tog vir ons om aan die uitmuntende voorbeeld van Jesus, ’n wêreldoorwinnaar, te dink! (Joh. 16:33). Onthou ook die apostels wat ondanks hewige vervolging met vrymoedigheid verklaar het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Hand. 5:29.
4 Ons is nie die soort wat terugdeins nie: Ons moet daarna streef om ’n positiewe gesindheid ten opsigte van ons werk te behou (Heb. 10:39). Hou altyd in gedagte dat ons deur Jehovah gestuur word as ’n blyk van sy liefde en barmhartigheid teenoor die hele mensdom. Hy vra nooit sy knegte om enigiets te doen wat geen nut het nie. Alles wat ons toegewys word om te doen, sal uiteindelik tot die voordeel wees van dié wat God liefhet.—Rom. 8:28.
5 ’n Optimistiese uitkyk sal ons help om na die skaapgeaardes in ons gebied te bly soek. Ons kan die onverskilligheid wat mense openbaar as ’n blyk van hulle frustrasie en wanhoop beskou. Laat ons liefde ons beweeg om simpatiek en geduldig te wees. Elke keer as ons lektuur by iemand laat of andersins ’n greintjie belangstelling bespeur, moet ons ons dit ten doel stel om so gou moontlik ’n herbesoek te doen en die belangstelling verder aan te wakker. Ons hoef nooit in ons vermoë te twyfel om ’n Bybelstudie te begin of dit op doeltreffende wyse te hou nie. Ons moet eerder Jehovah se hulp en leiding voortdurend en biddend soek, vol vertroue dat hy ons sal help.
6 Ons het die vaste vertroue dat Jehovah die werk tot voltooiing sal bring. (Vergelyk Filippense 1:6.) Ons volkome vertroue in hom as ons Helper versterk ons, sodat ons “nie ophou om te doen wat voortreflik is nie”.—Gal. 6:9.