Kinders—Julle is ons vreugde!
1 Jong seuns en meisies, is julle vertroud met Jehovah se bevel dat julle ook aan die bedrywighede van die gemeente moet deelneem? (Deut. 31:12; Ps. 127:3). Dit is ’n vreugde om julle by ons te hê terwyl ons Jehovah saam aanbid! Julle verbly ons harte wanneer julle by die vergaderinge stilsit en aandagtig luister. Dit maak ons veral bly wanneer julle in julle eie woorde probeer antwoord. Die hele gemeente is verheug wanneer julle dele behartig wat op die Teokratiese Bedieningskool aan julle toegewys is, wanneer julle gretig saam met ons in die velddiens uitgaan en wanneer ons hoor dat julle met vrymoedigheid vir julle skoolmaats en onderwysers getuig.—Ps. 148:12, 13.
2 Ons wil hê julle moet weet dat ons trots is op julle wanneer ons julle goeie maniere, julle netjiese voorkoms, julle rein gedrag en julle respek vir volwassenes sien. Ons vreugde is veral groot wanneer julle toon dat julle ‘aan julle Skepper dink’ deur vir julle teokratiese doelwitte te stel.—Pred. 12:1; Ps. 110:3.
3 Vertel ons van julle doelwitte: Een agtjarige seun het vir ’n streekopsiener gesê: ‘Ek wil eers gedoop word, dan wil ek in die gemeente help deur die klank en die mikrofone te behartig,’n saalwagter te wees, met die lektuur te help en by die boekstudie en die Wagtoring-studie te lees. Dan wil ek ’n bedieningskneg word en dan ’n ouer man. Ek wil ook graag ’n pionier wees en pionierskool toe gaan. Dan wil ek graag Bethel toe gaan of ’n kringopsiener of ’n streekopsiener wees.’ Wat ’n diep waardering het hy tog nie getoon vir die voorreg om God te dien nie!
4 Terwyl julle fisies en geestelik vooruitgang maak, is ons verheug om te sien hoe julle julle doelwitte bereik. (Vergelyk Lukas 2:52.) Duisende van julle word elke jaar ongedoopte verkondigers en kwalifiseer dan om as toegewyde knegte van Jehovah gedoop te word. Ons vreugde neem toe wanneer ons later sien hoe julle aan die hulppionierdiens deelneem en selfs die voltydse diens betree. Kinders, julle is waarlik ons vreugde en ’n wonderlike bron van lof aan ons hemelse Vader. Mag Jehovah julle ryklik seën!—Spr. 23:24, 25.