Hoe goed is dit tog om altyd teenwoordig te wees!
1 In Oos-Europa is baie van ons dierbare broers dekades lank verbied om in die openbaar te vergader. Stel jou hulle vreugde voor toe die verbod opgehef is en hulle in vryheid saam kon vergader!
2 ’n Kringopsiener het aangaande sy besoek aan een van hierdie gemeentes geskryf: “Dinsdagaand, reg aan die begin van my besoek, het die verwarmingstelsel gebreek. Buite was die temperatuur om en by vriespunt, en binne was dit maar omtrent 40 grade Fahrenheit [5° C]. Die broers het in die vergadering gesit met hulle jasse, serpe, handskoene, musse en stewels aan. Niemand kon in die Bybel volg nie, aangesien dit onmoontlik was om die bladsye om te blaai. Op die verhoog het ek verkluim gestaan in my pak klere, en elke keer as ek gepraat het, kon ek my asem sien. Maar wat my beïndruk het, was die feit dat ek nie ’n enkele klagte gehoor het nie. Al die broers het gesê hoe aangenaam en goed dit was om teenwoordig te wees!” Daardie broers het nie eens daaraan gedink om van hierdie vergadering af weg te bly nie!
3 Is dit hoe ons voel? Waardeer ons die geleentheid om vryelik by ons weeklikse vergaderinge bymekaar te kom? Of aanvaar ons die vergaderinge as vanselfsprekend terwyl die omstandighede gunstig is? Dit is dalk nie maklik om vergaderinge gereeld by te woon nie, en daar is miskien tye wanneer ons ’n geldige rede het waarom ons dit nie kan bywoon nie. Maar moet nooit vergeet nie dat daar persone onder ons is wat ondanks gevorderde ouderdom, ernstige gesondheidsprobleme, liggaamlike gebreke, veeleisende werksroosters en ander ernstige verantwoordelikhede vergaderinge as belangrik beskou en byna altyd teenwoordig is. Watter uitstekende voorbeelde tog vir ons om na te volg!—Vergelyk Lukas 2:37.
4 Kom ons maak dit ons gewoonte om ware aanbidding te ondersteun deur al ons Christelike vergaderinge by te woon, van ’n klein boekstudiegroep tot ’n groot streekbyeenkoms. Waarom moet ons die bywoning van hierdie vergaderinge so ernstig beskou? Want dit is ’n Goddelike opdrag dat ons saam vergader. Maar daar is ander belangrike redes. Ons almal het die voordele van Goddelike onderrigting en die hulp van die heilige gees nodig, wat ons by vergaderinge ontvang (Matt. 18:20). Ons word opgebou deur ’n uitwisseling van aanmoediging wanneer ons met ons broers omgaan.—Heb. 10:24, 25.
5 By die gedaanteverandering het Petrus gesê: “Onderrigter, dit is goed dat ons hier is” (Luk. 9:33). Ons moet dieselfde voel oor al ons Christelike vergaderinge. Waarlik, hoe goed is dit tog om altyd teenwoordig te wees!