Teokratiese nuus
Suid-Afrika: In Mei is daar vyf sale toegewy, naamlik Table View (Kaapstad) en Makwane, Makong, Tseseng en Tseki (Qwaqwa). Die vier sale in Qwaqwa is op dieselfde dag toegewy en altesaam 616 het dit bygewoon.
Die Streekboukomitee van die Witwatersrand het ’n baksteenmasjien na Qwaqwa gestuur, en die plaaslike broers het binne slegs vier weke 20 000 stene vir die sale gemaak. In April het die SBK van die Witwatersrand en meer as 200 vrywilligers na Qwaqwa gereis, ’n heen-en-weer-reis van meer as 700 kilometer, om die sale te bou. Deur ’n nuwe boumetode te gebruik waarvolgens stapelstene inmekaar gepas word, is die vier sale in ses dae voltooi met uitstekende ondersteuning van die plaaslike broers. Die mure van die laaste saal is in slegs vier uur tot dakhoogte gebou!
Op Saterdag, 30 Mei 1998, het Bethelverteenwoordigers en lede van die Streekboukomitees van Angola, Malawi, Mosambiek, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe bymekaargekom vir ’n seminaar oor laekostekoninkryksale. Hulle het verskeie praktiese idees uitgeruil met die doel om die bouprogram te versnel sodat bekostigbare sale vir meer gemeentes voorsien kan word.
Nog drie sale is in Junie toegewy, naamlik Ganyesa (Noordwes), Valschfontein (Mpumalanga) en Queenstown. Dit bring die aantal Koninkryksale wat al vanjaar toegewy is op 27 te staan.