Lees jy die tydskrifte?
1 ’n Sendelingegpaar in Afrika het oor ons tydskrifte gesê: “Die Wagtoring help ons om geestelik wakker te bly in ons toewysing. Ons put bemoediging en krag uit elke nommer.” Het jy dieselfde diepe waardering vir ons tydskrifte? En is jy net so gretig om hulle te lees?
2 Dit neem heelwat tyd om tydskrifartikels voor te berei wat in net ’n paar minute gelees kan word. Sal jy die artikels dus net vlugtig deurblaai, na die prente kyk of soms ’n artikel lees wat jou oog tref? Ons is verstandig as ons meer as dit doen. Ons moet tyd neem om al die artikels in elke nommer van ons tydskrifte te lees en te ontleed. Die Wagtoring is ons hooftydskrif vir tydige geestelike voedsel. Die Ontwaak! bevat interessante en insiggewende artikels oor ’n verskeidenheid onderwerpe. Dit wat ons leer deur hierdie tydskrifte te lees, versterk ons nie net geestelik nie, maar berei ons ook voor vir ’n doeltreffender deelname aan die bediening. As ons self pligsgetroue lesers is, sal ons graag die tydskrifte vir ander wil aanbied.
3 Hoe om leesgewoontes te verbeter: Kan jy verbeter wat die lees van die tydskrifte betref? Hier is twee wenke wat vir baie werk. (1) Sit gereeld tyd opsy om te lees. Jy sal verbaas wees oor hoeveel jy binne ’n week kan lees deur elke dag net 10 of 15 minute opsy te sit. (2) Gebruik ’n stelsel waarvolgens jy kan tred hou met wat jy al gelees het. Jy kan miskien ’n regmerkie maak aan die begin van elke artikel wat jy lees. Daarsonder kan jy ’n paar artikels of selfs ’n hele tydskrif oorslaan. Dit is belangrik om in ’n leesroetine te kom wat vir jou werk en om daarby te bly.—Vergelyk Filippense 3:16.
4 “Die getroue en verstandige slaaf” het verstandig op veranderende tye gereageer deur artikels te publiseer wat die ware behoeftes van mense aanspreek (Matt. 24:45). Die tydskrifte het waarlik ons lewe geraak. Ons geestelike vordering word tot ’n groot mate bepaal deur die gehalte van ons teokratiese leesgewoontes. ’n Ryk geestelike seën wag op diegene wat tyd inruim om al die tydskrifte te lees.