Spesiale kampanje met die Nuwe Wêreld-vertaling
1 Hierdie maand het ons ’n spesiale kampanje waartydens ons die Nuwe Wêreld-vertaling en die Kennis-boek gaan aanbied. Ons wil alle verkondigers vra om hulle veral daarop toe te lê om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Afrikaans, Zulu, Suid-Sotho, Xhosa en Tsonga te versprei. As elke verkondiger net een van hierdie Bybels gedurende Desember by iemand laat, sal ons ons groot voorraad aansienlik verminder het. Ons wil dit graag doen voordat die volledige Bybel in party van hierdie tale beskikbaar gestel word.
2 Is dit moeilik om hierdie uitgawes van die Griekse Geskrifte in die verskillende plaaslike tale in die hande van mense te laat? Glad nie! Verkondigers wat gereeld van hierdie Bybels in hulle tasse het, vind dat hulle elke week ’n paar kan versprei. Een broer het ’n hele karton Afrikaanse Bybels geneem en in een oggend alles op straat versprei! As julle gemeente nie daarvan in voorraad het nie, kan julle gerus dadelik bestel. Jy kan nog voorraad by die byeenkomste aan die einde van die jaar kry.
3 Watter inleiding gaan jy gebruik? Nadat jy gegroet het, kan jy sê: “Ons neem deel aan die verspreiding van ’n nuwe vertaling van die Nuwe Testament in [meld die taal]. Ons bied dit vir mense aan teen ’n klein bydrae van net R4,00.” Dit sal die persoon dadelik gerusstel, aangesien dit hom nie ’n klomp geld uit die sak sal jaag nie. Jy kan dan byvoeg: “Kan ek vir jou ’n paar kenmerke van hierdie vertaling wys?” Wys dan vir hom van die akkurate vertalings in die Nuwe Wêreld-vertaling, soos Matteus 5:3, of die Indeks van Bybelwoorde of die Bybelonderwerpe vir bespreking en hoe dit gebruik kan word. Jy kan die huisbewoner byvoorbeeld vra: “Gestel jy wil meer leer oor wat met iemand gebeur wanneer hy sterf, waar sal jy Bybeltekste vind wat dit verduidelik?” Blaai na die Bybelonderwerpe vir bespreking agter in die Bybel en wys vir hom al die tekste wat hy kan naslaan onder die opskrif “Dood”, en bied dan die Bybel aan. Baie mense sal graag die Christelike Griekse Geskrifte saam met die Kennis-boek teen R9,00 vir die hardebandboek en R7,75 vir die sagtebandboek neem. As hulle nie albei kan bekostig nie, kan jy die Christelike Griekse Geskrifte teen R4,00 aanbied. As jy met ’n Tswanasprekende persoon praat en julle gemeente nie Tswana-Bybels in voorraad het nie, of met iemand wat Sepedi of Venda praat, kan jy net die Kennis-boek aanbied. In Engels is die aanbod die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif saam met die Kennis-boek.
4 Of jy nou van huis tot huis werk of straatwerk, herbesoeke of informele getuieniswerk doen, hou altyd eksemplare van die Christelike Griekse Geskrifte by jou en moet nie huiwer om dit aan te bied nie. Watter beter geskenk kan jy vir mense bring as ’n verstaanbare Bybelvertaling soos die Nuwe Wêreld-vertaling? Kyk ook na hoe jou Bybel lyk. As dit dalk nie meer in ’n goeie toestand is nie omdat dit baie gebruik word, moet jy dalk vir jou ’n nuwe een kry. En wat van jou kinders? Het hulle hulle eie eksemplaar van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in hulle eie taal? Kom ons maak hierdie Desember van elke geleentheid gebruik om hierdie wonderlike Bybel in ons veld te versprei.