Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 3/00 bl. 3-6
  • Kan ons April 2000 ons beste maand tot nog toe maak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan ons April 2000 ons beste maand tot nog toe maak?
  • Ons Koninkryksbediening—2000
  • Soortgelyke materiaal
  • Gaan April ’n spesiale maand vir jou wees?
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • ‘Verkondig die woord van God ten volle’
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • April—’n Tyd om ‘hard te werk en ons in te span’
    Ons Koninkryksbediening—2001
  • Wat is jou planne vir April?
    Ons Koninkryksbediening—1988
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2000
km 3/00 bl. 3-6

Kan ons April 2000 ons beste maand tot nog toe maak?

1 Woensdagaand, 19 April, sal die hoogtepunt van ons diensjaar wees. Op daardie dag, namate die son geleidelik oor die aarde sak, sal die herdenking van Christus se dood wêreldwyd deur elke gemeente en groep van Jehovah se Getuies gevier word. Die herdenking van Jesus Christus se offerande sal die hoogtepunt van die jaar wees, ongeag in watter tydsone ons woon. Die datum van die Gedenkmaal word duidelik aangegee op die bygaande “Teokratiese kalender vir April 2000”, wat op bladsy 6 van hierdie byvoegsel verskyn.

2 Ons het gedurende die hele April ’n wonderlike geleentheid om heelhartig ons waardering te toon vir Jehovah se onverdiende goedhartigheid wat hy deur die offerande van sy Seun aan ons bewys het. Hoe so? Die apostel Paulus het geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; almal het dus gesterf; en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Kor. 5:14, 15). Ja, gedurende April kan ons toon dat ons nie vir onsself lewe nie, maar vir hom wat vir ons gesterf het, deur April ons beste maand tot nog toe te maak as bedienaars van die Koninkryk!

3 Doen aansoek om in April hulppionierdiens te doen: Die apostel Paulus het vir ons ’n aanmoedigende voorbeeld gestel toe hy gesê het: “Ek [heg] geen waarde aan my siel asof dit vir my dierbaar is nie, as ek maar net my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God te getuig” (Hand. 20:24). Ons het dieselfde voorreg om deeglik van Jehovah God te getuig. Met dié doel wil ons April ons beste maand tot nog toe maak wat die hulppionierdiens betref!

4 Met vyf volle naweke sal April 2000 vir baie ’n uitstekende maand wees om pionierdiens te doen. In April 1990, toe Suid-Afrika ’n hoogtepunt in hulppioniers bereik het, het die 9 562 wat daaraan deelgeneem het 19 persent van al die verkondigers verteenwoordig. Nege jaar later het die totale aantal verkondigers wat in April 1999 gerapporteer het met bykans 32 persent vermeerder. Dit beteken dat ons ons vorige hoogtepunt in hulppioniers beslis kan oortref. Boonop is die uurvereiste intussen verminder, wat hierdie aspek van die bediening binne bereik van baie meer in die gemeente maak. Elke gedoopte verkondiger behoort biddend te oorweeg of hy hierdie April aan die hulppionierdiens kan deelneem.

5 Gebruik die “Teokratiese kalender vir April 2000” in hierdie byvoegsel en beplan nou jou rooster vir volgende maand. Besluit watter dae jy aan die velddiens sal kan deelneem en tel al die ure bymekaar wat jy dink jy gedurende die maand aan die predikingswerk kan wy. Sluit die tyd in wat jy in formele en informele getuieniswerk kan deurbring. Kom die totaal naby die vereiste 50 uur vir hulppioniers? Kan jy, as jy nog tyd kort, enige ander aanpassings in jou rooster maak om tyd vir hulppionierdiens uit te koop? Jy sal gemiddeld net een uur en 40 minute per dag hoef te werk om 50 uur vir die maand te bereik.

6 Het jy dit al oorweeg om die voltydse diens te betree, noudat die uurvereiste ook vir gewone pioniers verminder is? Waarom nog langer wag? April sal ’n goeie maand wees om te begin! As jy onseker is of jy die uurvereiste van 70 uur vir gewone pioniers kan bereik, kan jy miskien in April hulppionierdiens doen en probeer om 70 uur te werk. Wanneer jy sien dat jy dit kan doen, sal dit jou moontlik aanspoor om so gou as moontlik aansoek te doen om by die geledere van die gewone pioniers aan te sluit.—Sien Ons bediening, bladsye 113-14.

7 ’n Volle deelname as verkondigers van die goeie nuus: Almal van ons, hetsy ons verkondigers of pioniers is, word deur ons opregte liefde vir God en ons naaste beweeg om na gelang van ons persoonlike omstandighede heelhartig ons bes in Jehovah se diens te doen (Luk. 10:27). Ons toon dus dat “ons hard [werk] en [ons inspan], omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, veral van getroues” (1 Tim. 4:10). Daarom behoort ons in April ’n deelname van 100 persent te sien as almal ’n volle deelname aan die Koninkrykswerk het.

8 Laat ons nie Jesus se vermaning vergeet nie: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.” Onmiddellik nadat hy dit gesê het, het Jesus sy 12 apostels na hom toe geroep en hulle in die predikingswerk uit gestuur (Matt. 9:37, 38; 10:1, 5, 7). Ongeveer ’n jaar daarna, nadat die 12 deeglik in die predikingswerk opgelei is, het Jesus “sewentig ander aangewys en hulle . . . uit gestuur” en hulle dieselfde instruksies gegee: “Die oes is werklik groot . . . Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Luk. 10:1, 2). Die Bybelboek Handelinge vertel hoe Jehovah daardie gebede verhoor het. Teen Pinkster 33 G.J. het die aantal dissipels tot ongeveer 120 gegroei. Toe is opeenvolgende hoogtepunte van 3 000 en 5 000 dissipels bereik (Hand. 1:15; 2:41; 4:4). Daarna het “die aantal dissipels . . . bly toeneem” (Hand. 6:7). Net so moet ons vandag aanhou om die Heer te smeek vir nog meer Koninkryksverkondigers! In ooreenstemming met ons gebede moet elke gemeentelike verkondiger definitiewe reëlings tref om elke maand aan die bediening deel te neem.

9 Kyk asseblief weer na die bygaande “Teokratiese kalender vir April 2000”. Kan ons reël om die eerste twee dae van die maand aan die velddiens deel te neem, aangesien dit ’n Saterdag en ’n Sondag is, en sodoende die maand goed begin? Saterdag, 1 April, is ons spesiale tydskrifdag. Almal moet probeer om daardie dag aan tydskrifwerk deel te neem. Kan jy moontlik elke “Tydskrifdag” gedurende die res van die maand saam met jou Gemeentelike Boekstudiegroep ondersteun? Kan jy dalk ’n uur of meer elke Sondag in die bediening deurbring? Kan jy reël om aan aandgetuieniswerk deel te neem? En moenie vergeet om al die geleenthede te benut om informeel te getuig by die werk, die skool of terwyl jy met ander daaglikse bedrywighede besig is nie. Dui aan op watter dae jy aan die bediening kan deelneem en gebruik die kalender om elke keer jou velddienstyd vir die maand neer te skryf.

10 April sal ’n goeie tyd wees vir almal wat aan die vereistes voldoen en wat deur die ouer manne goedgekeur is om as ongedoopte verkondigers te begin dien. Indien jy die Bybel met iemand studeer, het daardie persoon genoegsaam gevorder om die presiderende opsiener te nader en te vra of hy as ’n verkondiger van die goeie nuus kan dien? As jy ongedoopte kinders het, het jy hulle geestelike vooruitgang al met die ouer manne bespreek? Sal dit nie vir hulle ’n goeie tyd wees om verkondigers te word nie?—Sien Ons bediening, bladsye 97-100.

11 As ons April 2000 ons beste maand tot nog toe wil maak, moet ons almal aan die bediening deelneem en dan ons velddiensrapport aan die einde van die maand ingee. (Vergelyk Markus 6:30.) Die nuwe ongedoopte verkondigers wat die eerste keer aan die velddiens deelneem, moet aangemoedig word om stiptelik te rapporteer. As ons ons deel doen, kan ons ’n goeie bydrae lewer tot April se rapport en tot die groot lofbetuiging aan Jehovah deur ons getuieniswerk.

12 Bring ander saam met jou na die Gedenkmaal: Sal dit ons nie verheug om ’n nuwe bywoningshoogtepunt by die herdenking van Christus se dood vir 2000 te hê nie? Ja! Dit sal beteken dat dit die meeste mense is wat tot nog toe saamgekom het om hulle waardering te toon vir die grootste liefdesblyk van Jehovah God en Jesus Christus teenoor ons! (Joh. 3:16; 15:13). Tref al die nodige reëlings sodat niks jou en jou gesin sal verhinder om die Gedenkmaal by te woon nie.

13 Dit is ook nou die tyd om ander na die Gedenkmaal te begin nooi. Maak ’n lys van almal wat jy graag daar wil sien. Sluit enigeen in wat die Bybel in die verlede bestudeer het en wat tans studeer. Sluit ook al jou herbesoeke in. Voeg by jou lys jou kennisse by die werk, die skool en in die buurt, asook enigeen met wie jy sake doen. Moenie vergeet om ander kennisse en jou familie in te sluit nie. Nadat jy die lys saamgestel het, moet jy begin om ’n opregte, persoonlike uitnodiging aan elkeen te rig. Sê vir hulle presies wanneer en waar die Gedenkmaal gehou gaan word. Namate 19 April nader kom, moet jy diegene op jou lys persoonlik of per telefoon daaraan herinner. Bied aan om hulle daardie aand na die Gedenkmaal te vergesel.

14 In ooreenstemming met vorige riglyne van die Genootskap sal die liggaam van ouer manne ’n spesiale poging aanwend om alle onbedrywige verkondigers in die gebied aan te moedig om die Gedenkmaal by te woon (Matt. 18:12-14). Die ouer manne moet die Genootskap se brief van 2 Februarie 1999 hersien. Die gemeentelike sekretaris moet ’n lys van alle onbedrywige verkondigers maak, en die diensopsiener sal ouer manne toewys om hulle te besoek en na die Gedenkmaal te nooi. As hierdie onbedrywiges dalk so gou moontlik ’n bemoedigende herdersbesoek ontvang, kan hulle selfs gedurende April gehelp word om weer in die veldbediening bedrywig te word. Dit sal vir hulle opbouend wees as ’n ervare verkondiger hulle nooi om saam met hom aan die velddiens deel te neem.

15 Moedig goeie ondersteuning vir April aan! Dit sal goeie samewerking van alle ouer manne, bedieningsknegte en gesinshoofde verg om April 2000 ons beste maand tot nog toe te maak. Die ouer manne sal sorg dat alles goed georganiseer is en sal ywerig die leiding neem (Heb. 13:7). Praktiese reëlings moet getref word vir velddiensvergaderinge op weeksdae en oor naweke. Bykomende velddiensvergaderinge kan vir die laatmiddag en vroegaand gereël word. ’n Volledige rooster van alles wat vir April beplan word, moet op die kennisgewingbord aangebring word. Iemand sal toegewys moet word om by elke velddiensvergadering op die rooster die leiding te neem. Genoeg gebied moet vir die behoeftes van elke groep voorsien word.

16 Gedurende April sal ons Die Wagtoring en Ontwaak! aanbied. In ’n poging om tuisbybelstudies te begin, moet die Vereis-brosjure aangebied word aan almal wat belangstelling toon. Genoeg tydskrifte en brosjures moet dus voorsien word.

17 Aan die einde van die maand moet alle boekstudiehouers en hulle assistente elkeen in hulle groep aanmoedig om ’n velddiensrapport in te gee onmiddellik ná die maand geëindig het. Dit kan selfs op Sondag, 30 April, gedoen word. Wanneer die sekretaris die gemeentelike rapport opstel en sien dat sommige verkondigers nie hulle rapporte ingegee het nie, kan hy hulle dan vriendelik daaraan herinner om dit voor 6 Mei te doen, wanneer hy die gemeentelike rapport aan die Genootskap moet stuur. Hy kan die boekstudiehouers vra om hom te help om individuele verkondigers hieroor te nader.

18 Die Gedenkmaalseisoen is vir God se volk die belangrikste tyd van die jaar. Dit behoort vir ons almal in Jehovah se diens ’n baie besige tyd te wees. Dit sál ook wees as alle verkondigers van die goeie nuus soveel as moontlik doen, as diegene wat kan, aansoek doen om as hulppioniers te dien en as ons ’n ywerige poging aanwend om ander saam met ons na die herdenking van Christus se dood te bring. Laat ons ernstig bid vir Jehovah se ryk seën terwyl ons probeer om April 2000 ons beste maand tot nog toe te maak, tot die eer en verheerliking van God!—Heb. 13:15.

[Venster op bladsy 3]

Ons hoogtepunte in hulppioniers:

Suid-Afrika: 9 562 (April 1990)

Botswana: 160 (April 1993)

Lesotho: 326 (April 1990)

Namibië: 127 (April 1992)

St. Helena: 18 (Mei 1987)

Swaziland: 213 (April 1992)

[Venster op bladsy 4]

Ons verkondigerhoogtepunte:

Suid-Afrika: 67 069 (Augustus 1999)

Botswana: 1 153 (Augustus 1998)

Lesotho: 2 573 (Augustus 1999)

Namibië: 995 (Augustus 1998)

St. Helena: 160 (November 1997)

Swaziland: 2 029 (Augustus 1999)

[Venster op bladsy 5]

Ons hoogtepunte in Gedenkmaalbywoning:

Suid-Afrika: 168 903 (1997)

Botswana: 3 535 (1997)

Lesotho: 7 056 (1995)

Namibië: 2 681 (1997)

St. Helena: 354 (1997)

Swaziland: 5 976 (1997)

Teokratiese kalender vir April 2000

Sondag Maandag Dinsdag Woensdag Donderdag Vrydag Saterdag

1

2 3 4 5 6 7 8

SPESIALE

TYDSKRIFDAG

9 10 11 12 13 14 15

Tydskrifdag

16 17 18 19 20 21 22

SPESIALE GEDENKMAAL Tydskrifdag

TOESPRAAK NÁ SONONDER

23 24 25 26 27 28 29

Tydskrifdag

30

Gee jou

velddiens-

rapport in

Dui aan watter dae jy tyd in die bediening kan bestee. Gebruik hierdie kalender om jou velddiensure vir die maand neer te skryf.

Markus 14:3-9; 11:1-11

Markus 11:12-19

Markus 11:20–12:27, 41-44

Markus 14:1, 2, 10, 11; Matteus 26:1-5, 14-16

Markus 14:12-16; Matteus 26:17-19

Markus 14:17–15:1

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel