Die engele help ons
1 “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.” Hoe aanmoedigend is hierdie woorde tog vir almal wat dié bevel van Jesus gehoorsaam: “Gaan dus en maak dissipels”! (Matt. 28:18-20). Een belangrike manier waarop Jesus met ware Christene is, is deur middel van sy engele (Matt. 13:36-43). Hoe opwindend is dit tog om die “ewige goeie nuus” in eenheid met hierdie getroue geesskepsele te verkondig!—Op. 14:6, 7.
2 In ons bediening: Die Bybel openbaar dat die engele gestuur word “om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf” (Heb. 1:14). In die eerste eeu het die engele ’n rol daarin gespeel om Jesus se volgelinge na verdienstelikes te lei (Hand. 8:26). Vandag sien God se knegte nog steeds bewyse van engeleleiding. Baie huisbewoners het al gesê dat hulle om hulp gebid het toe ’n Getuie aan hulle deur geklop het. Hoe verheug is ons tog, tesame met die engele, wanneer sulke persone op die Koninkryksboodskap reageer!—Luk. 15:10.
3 Tydens teenstand: Daniël, sy drie jong Hebreeuse metgeselle, die apostel Petrus en baie ander wat groot toetse deurgemaak het, het Jehovah se beskerming deur middel van engele, wat “magtig in krag” is, ondervind (Ps. 103:20; Dan. 3:28; 6:21, 22; Hand. 12:11). Hoewel ons soms hulpeloos voel tydens teenstand, kan ons bemoediging put uit die ondervinding van Elisa se dienaar toe hy besef het dat “dié wat by ons is, . . . meer [is] as dié wat by hulle is” (2 Kon. 6:15-17). Selfs as ons met geweld geskei word van ons Christenbroers, hoef ons nie moed te verloor nie. God se Woord verseker ons: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees.”—Ps. 34:7.
4 Engeleleërs gaan binnekort optrek om alle teenstand teen Christus se koningskap te verwyder (Op. 19:11, 14, 15). Terwyl ons op daardie dag wag, moet ons voortgaan om Jehovah moedig te loof met volle vertroue in die kragtige ondersteuning van hemelse leërs onder Christus se bevel.—1 Pet. 3:22.