Jehovah het ’n blymoedige gewer lief
1. (a) Waarom word Jehovah gepas ’n blymoedige gewer genoem? (b) Waarom moet dit ons begeerte wees om Jehovah as ’n blymoedige gewer na te volg?
1 Jehovah word as “die gelukkige God” beskryf (1 Tim. 1:11). Wat maak Jehovah gelukkig? Hy is onder andere gelukkig omdat hy so vrygewig is en sy ‘hand oopmaak en die begeerte bevredig van alles wat lewe’ (Ps. 145:16). Sy grootste gawe is sy Seun wat hy as ’n losprys vir ons gegee het (Joh. 3:16). Dink ook aan al die geestelike en materiële seëninge wat ons elke dag uit sy hand ontvang! Ja, Jehovah is die voortreflikste voorbeeld van “’n blymoedige gewer” (2 Kor. 9:7). Die Bybel vermaan ons: “Word . . . navolgers van God” (Ef. 5:1). Kom ons kyk na maniere waarop ons Jehovah kan navolg en die geluk kan smaak wat dit verskaf om te gee.—Hand. 20:35.
2. Op watter manier gee ons, en hoe vind ons daarby baat?
2 Ons geniet dit om te gee wanneer ons die goeie nuus van die Koninkryk aan mense in ons gebied verkondig en wanneer ons informeel getuig. Hoe meer ons aan hierdie predikings- en onderrigtingswerk deelneem, hoe groter is ons vreugde. Jehovah se volk bestee elke jaar meer as ’n miljard uur daaraan om op hierdie manier te gee. In ons predikingswerk versprei ons honderdmiljoene tydskrifte, brosjures en boeke kosteloos.
3. (a) Hoe het Jehovah se organisasie al gegee in lande met beperkte middele? (b) Wat word van gemeentes verwag wat sulke plekke van aanbidding ontvang?
3 Jehovah se organisasie het ook al baie gemeentes gehelp om Koninkryksale in lande met beperkte middele te bou. Dit stel ons broers in armer lande in staat om gepaste vergaderplekke te hê. Tot nou toe is daar in Afrika alleen meer as 6 000 Koninkryksale in lande met beperkte middele gebou. Daar word van hierdie gemeentes verwag om die sale in stand te hou en om na hulle vermoë bydraes vir die boukoste te gee. Hierdie bydraes stel weer ander gemeentes in staat om mettertyd ’n nuwe saal te kry.
4. Beskryf wat Jehovah in meer as 100 takkantore gedoen het om die predikingswerk te bevorder.
4 Die Bestuursliggaam rig die wêreldwye Koninkrykswerk deur middel van meer as 100 takkantore. Meer as 20 000 broers en susters dien by hierdie takkantore. Party van die takkantore doen drukwerk en het rotasieperse en boekbinderye om in die behoeftes van die veld te voorsien. Die organisasie het onlangs sewe groot MAN-hoëspoedrotasieperse aangeskaf wat elkeen 90 000 tydskrifte per uur kan druk. Dink net ’n bietjie aan wat hierdie ontsaglike drukwerk behels. Groot geboue is vir hierdie yslike drukperse nodig. Baie papier en ander duur benodigdhede word vereis om al die tydskrifte en lektuur te druk. Rekenaars en ander toerusting is nodig vir al die vertaal- en kantoorwerk. Die Betheliete moet ook gehuisves word. Dit word alles gedoen om die predikingswerk te bevorder.
5. Watter ander uitgawes het die organisasie om Koninkryksbelange te bevorder?
5 Ander uitgawes van die organisasie sluit onderhoud in vir die tienduisende sendelinge en spesiale pioniers wat na gebiede gestuur word waar meer verkondigers nodig is. Dan is daar die duisende reisende opsieners wat gemeentes besoek om die broers se geloof op te bou en hulle in die predikingswerk aan te moedig. Ons kan nog baie dinge opnoem wat Jehovah sy knegte, ondanks groot uitgawes, in staat stel om te doen.
6. Waar kom die geld vir die wêreldwye predikingswerk vandaan?
6 Wanneer ’n mens dus na die ontsaglike wêreldwye werk kyk, wonder jy dalk waar die geld vandaan kom om al hierdie uitgawes te dek. Bydraes kom nie van ’n paar ryk broers of ’n paar ryk lande nie. Dit kom van miljoene broers en belangstellendes wat besef hoe belangrik die werk is wat Jesus ons beveel het om te doen (Matt. 24:14; 28:19, 20). Al hierdie bydraes is soos reëndruppeltjies wat uiteindelik ’n stroompie water word en in ’n rivier invloei. Hierdie rivier vloei in ’n groter rivier in en word uiteindelik ’n sterk stroom. Jehovah se Getuies stuur nie kollekteborde by hulle vergaderinge om nie en bedel ook nie vir geld nie. Almal wat hierdie groot werk geldelik ondersteun, doen dit omdat hulle Jehovah liefhet.
7. Gee voorbeelde van knegte van Jehovah in die verlede wat die aanbidding van Jehovah ruimhartig deur hulle gawes ondersteun het.
7 Dit was nog altyd ’n kenmerk van Jehovah se ware aanbidders om materiële gawes vir sy rein aanbidding te gee. Nadat Abraham die vyande verslaan het wat sy neef Lot weggevoer het, het hy ’n materiële gawe aan die priester Melgisedek gegee (Gen. 14:18-20). Koning Dawid het ontsaglike hoeveelhede goud, silwer, koper, timmerhout en ander kosbare voorwerpe gegee vir die tempel wat sy seun Salomo later gebou het (1 Kron. 29:1-5). Toe Jehovah Moses beveel het om die tabernakel in die wildernis te bou, het die volk ruimhartig gegee. Die verslag in Eksodus 35:21 sê: “Daarna het hulle gekom, elkeen wie se hart hom gedring het, en hulle het, elkeen wie se gees hom aangedryf het, Jehovah se bydrae vir die werk . . . gebring.” Ja, hulle ‘hart het hulle gedring’ en hulle ‘gees het hulle aangedryf’ om vrywillige gawes van duur juweliersware en ander stowwe te gee wat hulle glad nie gou sou kon vervang nie. Dit was hulle hartsbegeerte om ware aanbidding te ondersteun.
8. Hoe volg baie van Jehovah se knegte vandag die voorbeeld van die arm weduwee wat Jesus in Lukas 21 gemeld het, en wat beweeg hulle om dit te doen?
8 Dit is vandag dieselfde. Die wêreldwye Koninkrykswerk word ondersteun deur diegene wie se hart hulle dring om bydraes te gee. Baie van hulle is arm, maar soos die arm weduwee in Jesus se dag ondersteun hulle die predikingswerk geldelik, al is dit dikwels vir hulle ’n groot opoffering. Die verslag in Lukas 21 vertel dat Jesus en sy dissipels gekyk het hoe mense hulle bydraes in die skatkiste by die tempel gooi. ’n Arm weduwee het toe gekom en twee muntstukkies van baie min waarde ingegooi. Toe Jesus dit sien, het hy vir sy apostels gesê: “Ek sê vir julle die waarheid: Hierdie weduwee het, hoewel sy arm is, meer as hulle almal ingegooi. Want hulle almal het uit hulle oorvloed gawes ingegooi, maar hierdie vrou het in haar gebrek al die middele vir lewensonderhoud ingegooi wat sy gehad het” (Luk. 21:2-4). Sy het lof ontvang omdat sy ’n groter opoffering gemaak het om te gee. Hierdie verslag toon dat selfs klein bydraes van arm broers belangrik is en Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, behaag.
9. (a) Wat het gebeur toe die Israeliete hulle waardering vir ware aanbidding verloor het? (b) Wat moet ons hart ons dring om te doen?
9 Bydraes vir die ware aanbidding van Jehovah moet met ’n dankbare hart gegee word. Toe die Israeliete hulle waardering vir Jehovah se tempel verloor het, het hulle nie die beste van hulle kuddes as offerandes gebring nie, maar eerder dié wat nie vir hulle ’n materiële verlies sou wees nie, naamlik die siek, blinde en kreupel diere. Was Jehovah tevrede met sulke offerandes? Natuurlik nie! Hy het gesê dat hulle hom verag deur sulke offerandes te bring (Lev. 1:10; Mal. 1:13). Ons bydraes vir ware aanbidding moet dus nie bloot vormdiens wees nie. Ons begeerte om rein aanbidding te bevorder, moet ons aanspoor; ja, ons hart moet ons dring om ’n ware opoffering te maak soos die arm weduwee. Jehovah sal ons seën, soos hy belowe het om Israel te seën as hulle sy aanbidding werklik ondersteun.—Mal. 3:10.
10. (a) Hoe werk die bydraereëling wanneer dit by verkondigers kom? (b) Wat sal dit gepas wees om te noem wanneer lede van die publiek ons lektuur neem, hoewel ons nie geld vra vir die lektuur wat ons versprei nie?
10 Party verkondigers is miskien nog nie heeltemal seker hoe die bydraereëling werk vir die lektuur en tydskrifte wat ons versprei nie. Wanneer ons lektuur of tydskrifte by die Koninkryksaal neem, is dit ons voorreg om ’n bydrae te gee vir wat ons neem. Sodoende probeer ons ’n deel van die uitgawes dek wat aangegaan word om hierdie lektuur te druk. Wanneer ons vir mense in die veldbediening publikasies aanbied, verduidelik ons dat ons ons lektuur kosteloos versprei. Maar dit is gepas om te noem dat hulle ’n bydrae vir ons wêreldwye werk kan gee as hulle wil en dat sulke bydraes waardeer word. Dan kan ons hulle die koevert wys met die woorde “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14”. Baie mense gee met graagte ’n bydrae deur geld in die koevert te sit wanneer hulle besef dat ons werk wêreldwyd gedoen word. Ons maak ons bydraekoevert by die Koninkryksaal leeg in die gepaste bussie waarop “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14” staan sodat hierdie bydraes na die takkantoor gestuur kan word.
11. (a) Hoe moet ons ons bydraes vir Jehovah se diens beskou? (b) Wat word elkeen van ons aangespoor om te doen?
11 Wanneer ons realisties oor ons toewyding aan Jehovah dink, besef ons dat ons onsself en alles wat ons het, aan Jehovah gegee het. Die aarde en alles wat dit vul, behoort aan Jehovah (Ps. 24:1). Wanneer ons dus ’n bydrae vir die wêreldwye werk gee, gee ons eintlik net aan Jehovah terug wat hy reeds aan ons gegee het. Koning Dawid het hierdie gedagte pragtig gestel toe hy en die nasie Israel milddadige bydraes gegee het om die tempel te bou. Hy het in gebed vir Jehovah gesê: “Wie is ek . . . en wie is my volk, dat ons krag sou behou om sulke vrywillige gawes te gee? Want alles kom van u, en uit u hand het ons aan u gegee” (1 Kron. 29:14). Elkeen moet natuurlik in sy eie hart, volgens sy vermoë, besluit wat hy wil gee. Wanneer hy dit blymoedig met ’n dankbare hart doen, sal Jehovah hom seën. Dit sal goed wees as elkeen van ons ons hart ondersoek wanneer dit kom by ons ondersteuning van die Koninkrykswerk.
12. Hoe kan elkeen van ons Paulus se raad in 1 Korintiërs 16:2 volg?
12 Die apostel Paulus het praktiese raad gegee aan almal wat Jehovah liefhet en die Koninkrykswerk geldelik wil ondersteun. Hy het gesê: “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle by sy eie huis iets opsysit en opspaar na gelang van sy voorspoed” (1 Kor. 16:2). Party word dalk nie weekliks of maandeliks betaal nie. Hulle is dalk boere en kan nie elke week of maand iets opsysit nie. Maar die punt wat Paulus duidelik stel, is dat ons gereeld iets vir Jehovah se diens moet probeer opsysit.
13. Hoe moet daar met die geld in die bydraebussies gewerk word, en waarheen moet dit gestuur word?
13 Hierdie bydraes kan regstreeks na die takkantoor in julle land gestuur word of by die Koninkryksaal in ’n bydraebussie vir die wêreldwye werk gegooi word. Ná elke vergadering moet daar altyd twee broers, ouer manne of bedieningsknegte, wees wat die bydraes tel en ’n kwitansie uitskryf vir die bedrag wat ontvang is. Wanneer die ouer manne getrou en behoorlik na hierdie bydraes omsien, sal die broers nie huiwer om hulle bydraes in die bydraebussies by die Koninkryksaal te gooi nie (1 Kor. 4:2). Al die bydraes vir die wêreldwye werk moet aan die einde van elke maand na die takkantoor gestuur word.
14. Wat sal die gevolg wees as ons blymoedig bydraes vir ware aanbidding gee?
14 Jehovah het die nasie Israel belowe dat hy hulle sou seën as hulle sy ware aanbidding getrou met hulle materiële middele ondersteun (Mal. 3:10). Ons kan seker wees dat hy ons ook sal seën as ons getrou die Koninkrykspredikingswerk ondersteun en ‘Jehovah met ons waardevolle dinge eer’.—Spr. 3:9.
[Prent op bladsy 6]
MAN-pers
[Prent op bladsy 6]
Nuwe uitbreiding van drukkery
[Prent op bladsy 6]
Versamelpunte van sagteband-boekbindery
[Prent op bladsy 6]
Eerste sagtebandbybels word gebind