Wêreldwye kampanje om die “Verlossing is op Hande!”-streekbyeenkoms te adverteer
Verkondigers in elke gemeente gaan ’n spesiale strooibiljet versprei
1 Vanaf die noordelike lente van 2006 tot die einde van die reeks streekbyeenkomste wat regoor die wêreld gehou word, sal daar ’n wêreldwye kampanje wees om die streekbyeenkomste in sowat 155 lande met ’n spesiale strooibiljet te adverteer. Hierdie kampanje sal die spesiale streekbyeenkomste insluit wat gedurende Julie en die eerste week van Augustus 2006 in Duitsland, die Tsjeggiese Republiek en Pole gehou sal word.
2 Met die oog op die feit dat ons diep in die tyd van die einde lewe, behoort die streekbyeenkomste, wat God se beloofde verlossing uit hierdie goddelose stelsel beklemtoon, sterk byval te vind by mense met die regte gesindheid. Die boodskap behoort hulle te beweeg om na te dink oor wat voorlê. Om miljoene die geleentheid te gee om ’n boodskap van vertroosting en hoop te hoor, word meer as 98 000 gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld aangespoor om die streekbyeenkoms waarheen hulle genooi is, geesdriftig te adverteer.
3 Gemeentes sal genoeg strooibiljette ontvang sodat elke verkondiger tot 30 strooibiljette kan hê. Enige ekstra voorraad kan deur die pioniers in die gemeente gebruik word. In elke gemeente sal die kampanje drie weke voor die streekbyeenkoms begin waar die gemeente toegewys is. Dit behoort die gemeente genoeg tyd te gee om die meeste van, indien nie al hulle gebied nie, te dek.
4 Waar moontlik moet ’n strooibiljet verkieslik persoonlik aan elke huisbewoner gegee word. Maar as mense nie tuis is nie, kan ’n strooibiljet op ’n onopsigtelike plek by daardie huis gelaat word. ’n Ywerige poging moet aangewend word om al die strooibiljette gedurende die drie weke te versprei.
5 Ons vertrou dat ’n groot getuienis gegee sal word danksy hierdie gesamentlike, wêreldwye poging om die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkoms te adverteer, wat hierin uiteengesit word. Ons bid dat Jehovah jou persoonlike pogings ryklik sal seën terwyl jy aan hierdie wêreldwye kampanje deelneem.