Almal kan ’n aandeel daaraan hê om nuwe dissipels te maak
1 ’n Nuwe dissipel is nie die gevolg van net een persoon se pogings nie. Jehovah kan al sy “medewerkers” gebruik om Bybelstudente te help om geestelik te groei (1 Kor. 3:6-9). Ons help nuwelinge nie net deur ons opregte antwoorde by Christelike vergaderinge nie, maar ook deur ons goeie gedrag, wat treffende bewys lewer van God se gees wat in ons lewe aan die werk is (Joh. 13:35; Gal. 5:22, 23; Ef. 4:22, 23). Wat kan nog gedoen word om nuwelinge te help?
2 As ’n gemeente: Ons kan almal belangstelling toon in diegene wat vergaderinge begin bywoon, deur die inisiatief te neem om hulle hartlik te groet en om voor en ná die vergadering met hulle te gesels. ’n Man het vertel van die eerste keer toe hy saam met die gemeente was en gesê: “Ek het in een dag meer waarlik liefdevolle mense, volslae vreemdelinge, ontmoet as wat ek ooit ontmoet het in die kerk waarin ek grootgeword het. Dit was duidelik dat ek die waarheid gevind het.” Hy is sewe maande nadat hy sy eerste vergadering bygewoon het, gedoop.
3 Prys ’n Bybelstudent opreg wanneer hy geestelike vooruitgang maak. Verduur hy teenstand? Woon hy vergaderinge gereeld by? Het hy die moed bymekaargeskraap om te antwoord? Het hy by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit of aan die bediening begin deelneem? Prys hom vir die vooruitgang wat hy gemaak het. Dit sal hom verkwik en aanmoedig.—Spr. 25:11.
4 As ’n Bybelstudiehouer: Party verkondigers het hulle Bybelstudente gehelp om verskillende gemeentelede te leer ken deur ander verkondigers te vra om saam met hulle na die studie toe te gaan. Nooi die student so gou moontlik na gemeentelike vergaderinge. Wanneer hy vergaderinge begin bywoon, moet jy sorg dat jy hom aan ander voorstel. Sukkel hy om ’n slegte gewoonte, soos rook, te oorkom? Maak iemand in sy gesin beswaar daarteen dat hy studeer? Hy sal moontlik daarby baat vind om met ’n verkondiger te praat wat ’n soortgelyke uitdaging die hoof gebied het.—1 Pet. 5:9.
5 Nuwelinge het die geestelike ondersteuning van die gemeente nodig. Almal kan hulle help om vooruitgang te maak deur opregte persoonlike belangstelling te toon.