Verdedig jy God se Woord?
1 In ’n wêreld waar die geloofwaardigheid van die Bybel dikwels in twyfel getrek word, verdedig ware Christene God se Woord ywerig. Ons is daarvan oortuig dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer [is]” en skaar ons aan die kant van Jesus Christus, wat in gebed tot Jehovah gesê het: “U woord is die waarheid” (2 Tim. 3:16; Joh. 17:17). Hoe kan ons God se Woord met sukses verdedig?
2 Leer tekste: Jesus het hom ongetwyfeld daarop toegelê om God se Woord te leer ken. Dit het hom in staat gestel om gedurende sy hele bediening uit die Skrif te onderrig (Luk. 4:16-21; 24:44-46). Hoe kan ons ’n nuttige versameling tekste in ons geheue opbou? Ons doen dit deur die Bybel elke dag te lees en dan oor ’n vers te peins wat ons besonder aanmoedigend of nuttig vir die bediening gevind het. Wanneer ons vir vergaderinge voorberei, moet ons die teksverwysings in die Bybel self naslaan en lees, en dalk kan ons ’n kommentaar daaroor voorberei. Wanneer ons vergaderinge bywoon, moet ons in ons Bybel volg terwyl die spreker tekste lees. Deur Bybeltekste te leer, word ons voorberei om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer”.—2 Tim. 2:15.
3 Laat die Bybel praat: Wanneer ons aan die bediening deelneem, moet ons die Bybel laat praat. Byvoorbeeld, indien omstandighede dit toelaat, moet ons vir die huisbewoner ’n teks probeer lees. As hy ’n vraag vra of ’n beswaar opper, sal dit die beste wees om die Bybel te gebruik om ’n antwoord te gee. As die huisbewoner besig is, kan ons dalk nog steeds die aandag op ’n gedagte uit die Bybel vestig, deur te sê: “Voor ek gaan, wil ek graag net hierdie teks lees.” Wanneer dit ook al moontlik is, moet jy direk uit die Bybel lees en die huisbewoner toelaat om te volg terwyl jy lees.
4 Toe tekste wat die Drie-eenheid weerlê, vir een huisbewoner gewys is, het hy uitgeroep: “Ek gaan al my hele lewe lank kerk toe en ek het glad nie geweet dat die Bybel dít sê nie!” Hy het ’n Bybelstudie geredelik aanvaar. Jesus het gesê dat sy skape na sy stem sal luister (Joh. 10:16, 27). Die beste manier waarop opregtes van hart die waarheid kan herken, is as hulle dit self in die Skrif sien. Laat ons dus God se Woord van waarheid verdedig!