Gebruik die Bybel in die velddiens
1 Die geïnspireerde woorde van die Bybel kan ’n kragtige uitwerking op mense hê. Daarom het eerste-eeuse Christene die Skrif goed gebruik wanneer hulle die goeie nuus verkondig het. Paulus het ‘uit die Skrif geredeneer’ en sy gedagtes deur verwysings verklaar en gestaaf (Hand. 17:2, 3, NW). Apollos het, toe hy vir die Jode getuig het, “deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is”.—Hand. 18:24-28.
2 Jehovah se Getuies volg vandag hierdie voorbeeld na. Soos Die Wagtoring van 1 Maart 1986, bladsy 26, sê: “Wanneer hulle aan die openbare bediening deelneem, wil hulle hê mense moet besef dat die boodskap wat hulle verkondig nie by hulle ontstaan het nie maar uit God se eie Woord kom. Daarom maak hulle regstreeks van die Bybel gebruik deur vir ander daaruit te lees, waar moontlik.” Gebruik jy die Bybel ten volle in jou bediening?
WAAROM DOELTREFFEND?
3 Waarom is die Bybel so doeltreffend? Omdat dit die Woord van God is en “’n beoordelaar [is] van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebr. 4:12). Mense se ware beweegredes kom aan die lig wanneer die skriftuurlike waarheid aan hulle verkondig word. Dit trek opregtes van hart aan. Byvoorbeeld, een jong egpaar wat vinnig vordering gemaak het in Jehovah se diens is gevra waarom hulle so gou op die goeie nuus gereageer het. Hulle antwoord? “Dit was die Bybel.” Toe die verkondigers wat hulle besoek het hulle aandag op die Bybel gevestig het, het hulle besef dat dit die stem van “die goeie herder” is.—Joh. 10:14; wAF78 8/15 bl. 15-16.
4 Voel jy soms onbekwaam wanneer jy jou Bybel in die velddiens gebruik? ’n Goeie persoonlike studieprogram, sowel as voorbereiding vir en bywoning van alle gemeentelike vergaderinge sal jou toerus vir elke goeie werk en jou meer selfvertroue gee (2 Tim. 3:16, 17). Velddiensmaats en gesinslede kan die Onderwerp vir gesprekke saam met mekaar oefen. Die meeste van die inleidings op bladsye 9-15 van die Redenering-boek vereis ook dat jy ’n teks vroeg tydens die gesprek lees. Jy kan gerus ’n paar van hulle oefen. Gebruik praktiese gedagtes wat die mense in jou gebied se belangstelling wek.
LÊ GOEIE OORDEEL AAN DIE DAG
5 Daar is tye wanneer ons die huisbewoner sal nooi om sy eie Bybel te gaan haal en ’n teks saam met ons na te slaan. Lê goeie oordeel onder sulke omstandighede aan die dag. (Sien Redenering-boek, bladsy 84, paragraaf 1 en bladsy 307 paragraaf 3.) Wanneer ons saaklik moet wees, kan ons besluit om net een van die tekste in ons Onderwerp vir gesprekke te lees. Of as dit duidelik is dat die huisbewoner besig is, kan ons net ’n gepaste frase aanhaal en vir die huisbewoner sê dat dit in die Bybel staan. Jesus en die apostels het nie hulle eie eksemplare van die Hebreeuse Geskrifte gehad om saam met hulle te dra wanneer hulle gepreek het nie. Tog het hulle baie daaruit aangehaal. Ons moet ook ’n poging aanwend om tekste te memoriseer sodat ons hulle in ons bediening kan gebruik.
6 Paulus het Timotheüs aangespoor om ‘die woord van die waarheid reg te sny’ (2 Tim. 2:15). Dieselfde vermaning geld vir ons vandag. Ons moet Jesus en die apostels navolg deur die Bybel gereeld in ons veldbediening te gebruik. Lees wanneer moontlik daaruit voor, maar indien nodig moet jy uit die hoof daaruit aanhaal. As ons dit doeltreffend doen, sal dit duidelik blyk dat ons God se bedienaars is en dat ons boodskap streng op sy Woord gegrond is.