Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
22-28 Augustus
Soek na geestelike skatte
(Psalm 109:8) Laat sy dae min wees; laat iemand anders sy opsienersamp neem.
it-1 857-858
Voorkennis, Voorbeskikking
Het God vooraf bepaal dat Judas Jesus moet verraai om profesieë te vervul?
Die verraderlike optrede van Judas Iskariot het goddelike profesie vervul en het Jehovah se voorkennis sowel as dié van sy Seun getoon (Ps 41:9; 55:12, 13; 109:8; Han 1:16-20). Tog kan ons nie sê dat God vooraf beskik of vooraf bestem het dat Judas hierdie weg sou volg nie. Die profesieë het voorspel dat ’n intieme metgesel van Jesus hom sou verraai, maar dit het nie spesifiek gesê watter een van sy metgeselle dit sou doen nie. Bybelbeginsels toon dus weer eens dat God nie Judas se optrede voorbeskik het nie. Die volgende goddelike standaard word deur die apostel genoem: “Moet nooit iemand haastig die hande oplê nie; moet ook nie deel hê aan die sondes van ander nie; bewaar jouself kuis.” (1Ti 5:22; vergelyk 3:6.) Omdat Jesus besorg was oor die keuse van sy 12 apostels en omdat hy graag die regte keuse wou maak, het hy die hele nag in gebed tot sy Vader deurgebring voordat hy sy keuse bekendgemaak het (Lu 6:12-16). As Judas reeds deur God voorbeskik was om ’n verraaier te wees, sou daar teenstrydighede in God se leiding wees en sou Hy, volgens die reël, deel hê aan die sondes wat Judas gepleeg het.
Dit wil dus voorkom asof daar geen duidelike tekens was dat Judas se hart verraderlik was toe hy as apostel gekies is nie. Hy het toegelaat dat ’n “giftige wortel [in sy hart] opskiet” en hom verontreinig. Dit het daartoe gelei dat hy afvallig geword het en hom nie meer deur God laat lei het nie. Omdat hy die Duiwel se leiding aanvaar het, het hy ’n dief en ’n verraaier geword. (Heb 12:14, 15; Joh 13:2; Han 1:24, 25; Jak 1:14, 15; sien JUDAS Nr. 4.) Toe hierdie afvalligheid ’n sekere punt bereik het, kon Jesus self Judas se hart lees en voorspel dat hy Jesus sou verraai.—Joh 13:10, 11.
In die verslag in Johannes 6:64 het party van Jesus se leringe sommige dissipels laat struikel, maar ons lees dat Jesus “van die begin af geweet [het] wie dié was wat nie geglo het nie en wie die een was wat hom sou verraai”. Hoewel die woorde “van die begin af” (Gr., ar·kheʹ) in 2 Petrus 3:4 op die begin van die skepping toegepas word, kan dit ook na ander tye verwys (Lu 1:2; Joh 15:27). Byvoorbeeld, toe die apostel Petrus gepraat het van die heilige gees wat op heidene geval het “net soos ook op ons in die begin”, het hy natuurlik nie verwys na die begin van sy dissipelskap of apostelskap nie, maar na ’n belangrike tydstip in sy bediening—Pinkster 33 HJ, “die begin” van die uitstorting van die heilige gees vir ’n spesifieke doel (Han 11:15; 2:1-4). Die volgende interessante kommentaar oor Johannes 6:64 is in Lange se Commentary on the Holy Scriptures (bl. 227): “Die begin . . . verwys nie na die bonatuurlike begin van alle dinge nie, . . . ook nie na die begin van Sy [Jesus] se verhouding met elkeen nie, . . . ook nie na die begin van die insameling van sy dissipels nie of na die begin van sy Messiaanse bediening nie, . . . maar na die eerste geheime kieme van ongeloof [wat party dissipels laat struikel het]. Hy het dus ook Sy verraaier van die begin af geken.”—Vertaal en geredigeer deur P. Schaff, 1976; vergelyk 1Jo 3:8, 11, 12.