Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
5-11 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JEREMIA 51-52
“Alles wat Jehovah sê, gebeur presies so”
(Jeremia 51:11) Maak skerp die pyle. Vul die ronde skilde. Jehovah het die gees van die konings van die Mede opgewek, want sy idee is teen Babilon, om hom te verwoes. Want dit is die wraak van Jehovah, die wraak vir sy tempel.
(Jeremia 51:28) Heilig die nasies teen hom, die konings van Medië, die goewerneurs en al die onderheersers daarvan en die hele land waaroor elkeen heerskappy voer.
it-2-E 360 ¶2-3
Mede, Medië
Vernietig Babilon saam met die Perse. In die agtste eeu VHJ het die profeet Jesaja voorspel dat Jehovah “die Mede” sou opwek teen Babilon “wat silwer as niks ag nie en wat in goud geen behae skep nie. En hulle boë sal selfs jong manne verpletter” (Jes 13:17-19; 21:2). Die woord “Mede” hier kan die Perse insluit, aangesien die klassieke Griekse geskiedkundiges dikwels die woord gebruik het wanneer hulle van beide die Mede en Perse gepraat het. Die feit dat hulle silwer en goud as niks geag het nie, wys dat Babilon hoofsaaklik eerder in verowering belanggestel het as in buit, en daarom sou geen omkoopgeskenk of skatting hulle van hulle doel laat afsien het nie. Die Mede en Perse het die boog as hulle vernaamste wapen gebruik. Die houtboë, wat dikwels ’n brons- of koperlaag gehad het (vergelyk Ps 18:34), het waarskynlik die ‘jong manne van Babilon verpletter’ omdat die pyle wat op hulle neergereën het elkeen afsonderlik skerpgemaak is om selfs dieper te kon binnedring.—Jer 51:11.
Dit is noemenswaardig dat Jeremia (51:11, 28) sê dat “die konings van die Mede” onder diegene was wat Babilon aangeval het, en die meervoud wys moontlik dat ’n ondergeskikte koning of konings van die Mede selfs onder Kores bly regeer het, iets wat dikwels in die ou tyd gebeur het. (Vergelyk ook Jer 25:25.) Daarom vind ons ook dat ’n Meder genaamd Darius “koning gemaak is oor die koninkryk van die Galdeërs”, toe Babilon deur die gesamentlike magte van die Mede, Perse, Elamiete en ander buurstamme oorgeneem is, en hy was klaarblyklik deur koning Kores, die Pers, aangestel.—Da 5:31; 9:1; sien DARIUS nr. 1.
(Jeremia 51:30) Die sterk manne van Babilon het opgehou veg. Hulle het in die versterkte plekke bly sit. Hulle mag het opgedroog. Hulle het vroue geword. Sy woonplekke is aan die brand gesteek. Sy grendels is gebreek.
it-2-E 459 ¶4
Nabonidus
Dit is interessant dat die Kroniek die volgende oor die nag van Babilon se val sê: “Die leër van Kores het Babilon binnegegaan sonder om te veg.” Dit beteken waarskynlik dat dit sonder veel teenstand gebeur het en stem ooreen met Jeremia se profesie dat ‘die sterk manne van Babilon sou ophou veg’.—Jer 51:30.
(Jeremia 51:37) En Babilon sal kliphope word, die lêplek van jakkalse, ’n voorwerp van verbasing en iets om oor te fluit, sonder inwoner.
(Jeremia 51:62) En jy moet sê: ‘O Jehovah, u het teen hierdie plek gespreek, om dit te verwoes sodat geen inwoner daarin sal wees nie, hetsy mens of mak dier, maar dat dit tot onbepaalde tyd net verlate woestenye sal word.’
it-1-E 237 ¶1
Babilon
Vanaf daardie geskiedkundige datum, 539 VHJ, het Babilon sy glorie begin verloor toe die stad vervalle geraak het. Hulle het twee keer teen die Persiese keiser Darius I (Hystaspis) in opstand gekom, en die tweede keer is die stad gesloop. ’n Gedeeltelik gerestoureerde stad het teen Xerxes I in opstand gekom en die stad is geplunder. Aleksander die Grote wou Babilon sy hoofstad maak, maar hy is skielik dood in 323 VHJ. Nikator het die stad in 312 VHJ ingeneem en baie van die boumateriaal daar na die oewer van die Tigris geneem om sy nuwe hoofstad Seleukië te bou. Maar die stad en ’n Joodse nedersetting het tot in die vroeë Christelike tye bly bestaan, en daarom kon Petrus na Babilon gaan, soos dit in sy brief sê (1Pe 5:13). Inskrywings wat daar gevind is, wys dat Babilon se tempel van Bel in 75 HJ nog bestaan het. Teen die vierde eeu HJ was die stad ’n ruïne, en dit het eindelik ophou bestaan. Dit het niks meer as “kliphope” geword nie.—Jer 51:37.
Soek na geestelike skatte
(Jeremia 51:25) “Kyk, ek is teen jou, o verwoestende berg”, is die woord van Jehovah, “jy wat die hele aarde verwoes; en ek sal my hand teen jou uitsteek en jou van die kranse af wegrol en jou ’n uitgebrande berg maak.”
it-2-E 444 ¶9
Berg
Stel regerings voor. In die simboliese taal van die Bybel kan berge koninkryke of heersende regerings voorstel. (Da 2:35, 44, 45; vergelyk Jes 41:15; Op 17:9-11, 18.) Babilon het ander lande verwoes toe hy teen hulle oorlog gevoer het, en daarom word hy ’n “verwoestende berg” genoem (Jer 51:24, 25). ’n Psalm oor Jehovah se optrede teen strydende nasies stel hom voor as “met lig omhul, majestueuser as die roofberge” (Ps 76:4). “Die roofberge” verwys moontlik na aggressiewe koninkryke. (Vergelyk Na 2:11-13.) Dawid het oor Jehovah gesê: ‘U het my berg in sterkte laat staan’, wat moontlik beteken dat Jehovah Dawid se koninkryk verhef en dit stewig gevestig het. (Ps 30:7; vergelyk 2Sa 5:12.) Omdat berge koninkryke kan voorstel, help dit ’n mens om die belangrikheid te verstaan van wat Openbaring 8:8 beskryf as “iets soos ’n groot berg wat met vuur brand”. Die feit dat dit soos ’n brandende berg lyk, gee te kenne dat dit verband hou met ’n vorm van heerskappy wat net soos ’n vuur vernietiging saai.
(Jeremia 51:42) Die see het oor Babilon opgekom. Deur die veelheid van sy golwe is hy bedek.
it-2-E 882 ¶3
See
Oorstromende leërmagte. Jeremia het gesê die klank van die aanvallers van Babilon is “soos die see wat onstuimig is” (Jer 50:42). Toe hy dus voorspel het dat “die see” oor Babilon sou opkom, het hy klaarblyklik die troepe onder die Mede en Perse bedoel wat Babilon sou oorwin.—Jer 51:42; vergelyk Da 9:26.
19-25 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | ESEGIËL 1-5
“Esegiël was bly dat hy God se boodskap kon verkondig”
(Esegiël 2:9–3:2) En ek het toe gesien, en kyk! ’n hand is na my toe uitgesteek, en kyk! daarin was ’n boekrol. 10 En hy het dit geleidelik voor my uitgesprei, en daar was op die voorkant en op die agterkant daarvan geskryf; en daarin was klaagliedere en ’n gekerm en ’n geweeklaag geskryf. 3 En hy het vir my gesê: “Mensekind, eet wat jy vind. Eet hierdie rol en gaan, praat met die huis van Israel.” 2 Toe het ek my mond oopgemaak, en hy het my geleidelik dié rol laat eet.
it-1-E 1214
Ingewande
Fisiese kos word deur die ingewande opgeneem en verteer. Hierdie feit is metafories gebruik om verstandelike of geestelike vertering voor te stel toe Esegiël in ’n visioen aangesê is om ’n boekrol te eet wat sy ingewande (Heb., me·ʽimʹ) sou vul. Esegiël sou geestelike krag verkry deur oor die woorde wat in die boekrol staan te peins en dit in sy geheue te bewaar. So is hy geestelik gevoed en het hy ’n boodskap ontvang wat hy moes verkondig.—Ese 3:1-6; vergelyk Op 10:8-10.