Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr18 Januarie bl. 1-7
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
  • Onderhofies
  • 1-7 JANUARIE
  • 8-14 JANUARIE
  • 15-21 JANUARIE
  • 22-28 JANUARIE
  • 29 JANUARIE–4 FEBRUARIE
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek (2018)
mwbr18 Januarie bl. 1-7

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

1-7 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 1-3

“Die koninkryk van die hemele het naby gekom”

(Matteus 3:1, 2) In daardie dae het Johannes die Doper gekom en in die wildernis van Judea gepreek 2 en gesê: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”

Studienotas oor Mt 3:1, 2 in nwtsty

gepreek: Die Griekse woord beteken basies “om iets te verkondig as ’n openbare verkondiger”. Dit beklemtoon die manier waarop daar verkondig word: gewoonlik ’n openbare verklaring eerder as ’n preek voor ’n groep mense.

koninkryk: Dit is die eerste keer dat die Griekse woord ba·si·leiʹa voorkom, en dit verwys na ’n koninklike regering asook die gebied en die mense waaroor ’n koning regeer. Hierdie Griekse woord kom 162 keer in die Christelike Griekse Geskrifte voor, waarvan 55 in Matteus se verslag verskyn, en die meeste hiervan verwys na God se hemelse regering. Matteus gebruik hierdie woord so dikwels dat sy Evangelie die Koninkryksevangelie genoem kan word.

koninkryk van die hemele: Hierdie uitdrukking word net in die Evangelie van Matteus gebruik en kom sowat 30 keer voor. Markus en Lukas gebruik ’n ooreenstemmende uitdrukking “die koninkryk van God” in hulle Evangelies, wat wys dat “die koninkryk van God” in die geestelike hemel is en daarvandaan regeer. — Mt 21:43; Mr 1:15; Lu 4:43; Da 2:44; 2Ti 4:18.

het naby gekom: In die sin dat die toekomstige Heerser van die hemelse Koninkryk binnekort sou verskyn.

(Matteus 3:4) Maar hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra en ’n leergordel om sy lendene; ook was sy voedsel sprinkane en wilde heuning.

Media in nwtsty

Johannes die Doper se klere en voorkoms

Johannes het ’n kledingstuk van geweefde kameelhaar gedra met ’n leerbelt, of gordel, om sy middel waarin hy klein items kon dra. Die profeet Elia het ook sulke klere gedra (2Kn 1:8). Materiaal van kameelhaar was grof en is gewoonlik deur die armes gedra. In teenstelling hiermee, het die rykes sagte kledingstukke van sy of linne gedra (Mt 11:7-9). Omdat Johannes van geboorte af ’n Nasireër was, is dit moontlik dat sy hare nooit gesny is nie. ’n Mens kon moontlik dadelik aan sy klere en voorkoms sien dat hy ’n eenvoudige lewe gelei het, en dat sy hele lewe daarom gedraai het om God se wil te doen.

Sprinkane

Die woord “sprinkane”, soos dit in die Bybel gebruik word, kan verwys na verskeie sprinkaansoorte met kort antennas, of voelers, veral dié wat in groot swerms beweeg. Navorsing in Jerusalem het gewys dat woestynsprinkane uit 75 persent proteïen bestaan. Wanneer mense dit vandag eet, word die kop, bene, vlerke en maag verwyder. Die oorblywende deel, die borsstuk, word rou of gaar geëet. Hierdie insekte proe glo amper soos garnale of krappe en is ryk aan proteïen.

Wilde heuning

In hierdie prentjie sien ons ’n byekorf wat deur wilde heuningbye gebou is (1) en ’n vol heuningkoek (2). Die heuning wat Johannes geëet het, is moontlik deur ’n soort inheemse wilde by gemaak, bekend as Apis mellifera syriaca. Hierdie aggressiewe bye is goed aangepas by die warm, droë klimaat van die Judese wildernis. Hulle is egter nie geskik vir byeboerdery nie. Tog het mense wat in Israel gewoon het so vroeg as die negende eeu VHJ met bye in silindriese kleipotte geboer. Baie oorblyfsels van hierdie byekorwe is ontdek in die middel van ’n stadsgebied (nou bekend as Tel Rehov), wat in die Jordaanvallei geleë was. Heuning uit hierdie korwe is gemaak deur ’n soort by wat blykbaar ingevoer is uit ’n plek wat vandag as Turkye bekend staan.

Soek na geestelike skatte

(Matteus 1:3) Juda het die vader geword van Peres en van Serag by Tamar; Peres het die vader geword van Hesron; Hesron het die vader geword van Ram;

Studienota oor Mt 1:3 in nwtsty

Tamar: Die eerste uit vyf vrouens in Matteus se geslagslys van die Messias. Die ander vier is Ragab en Rut, albei nie-Israelitiese vrouens (v. 5); Batseba, “die vrou van Uria” (v. 6) en Maria (v. 16). Hierdie vrouens word waarskynlik tussen al die mans in die geslagslys genoem omdat hulle elkeen op ’n spesiale manier een van Jesus se voorouers geword het.

(Matteus 3:11) Ek doop julle wel met water weens julle berou; maar die een wat ná my kom, is sterker as ek, wie se sandale ek nie werd is om uit te trek nie. Hy sal julle met heilige gees en met vuur doop.

Studienota oor Mt 3:11 in nwtsty

doop julle: Of “onderdompel julle”. Die Griekse woord ba·ptiʹzo beteken “indompel; onderdompel”. Ander Bybelverwysings wys dat doop algehele onderdompeling beteken. Eenkeer het Johannes mense by ’n plek in die Jordaanvallei naby Salim gedoop “want daar was baie water” (Joh 3:23). Toe Filippus die Etiopiese eunug gedoop het, het hulle “albei in die water afgeklim” (Han 8:38). Dieselfde Griekse woord word in die Septuagint gebruik in 2Kn 5:14 waar dit sê dat Naäman “sewe keer in die Jordaan gedompel” is.

8-14 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 4-5

“Lesse uit Jesus se Bergpredikasie”

(Matteus 5:3) “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle.

Studienota oor Mt 3:5 in nwtsty

Gelukkig: Nie net ’n vrolike gevoel soos wanneer iemand pret het nie. Wanneer dit van mense gesê word, beteken dit eerder iemand wat God se seën en guns geniet. Die woord word ook gebruik om God te beskryf, en Jesus in sy hemelse heerlikheid. — 1Ti 1:11; 6:15.

dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte: Die Griekse uitdrukking wat vertaal word as “dié wat bewus is”, letterlik “diegene wat arm (behoeftig, sonder heenkome, bedelaars) is”, word in hierdie konteks gesê van diegene wat iets nodig het en deeglik bewus is daarvan. Dieselfde woord word in Lu 16:20, 22 vir die “bedelaar” Lasarus gebruik. In party Bybels is hierdie Griekse uitdrukking vertaal as “arm van gees” en dit gee die idee van mense wat pynlik bewus is van hulle geestelike armoede en dat hulle God nodig het.

(Matteus 5:7) “Gelukkig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Studienota oor Mt 5:7 in nwtsty

barmhartiges: Wanneer die Bybel die woorde “barmhartiges” en “barmhartigheid” gebruik, beteken dit nie net dat die persoon vergewe word of dat sy omstandighede in ag geneem word nie. In die meeste gevalle beteken dit dat iemand meegevoel het of dat hy jammer voel vir diegene wat behoeftig is en dan die inisiatief neem om hulle te help.

(Matteus 5:9) “Gelukkig is die vredeliewendes, want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word.

Studienota oor Mt 5:9 in nwtsty

vredeliewendes: Vredemakers wat die vrede bewaar en ook die vrede herstel waar daar nie vrede is nie.

Soek na geestelike skatte

(Matteus 4:9) En hy het vir hom gesê: “Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig.”

Studienota oor Mt 4:9 in nwtsty

’n daad van aanbidding: Die Griekse werkwoord wat met “om te aanbid” vertaal kan word, is hier in die onbepaalde verlede tyd. Dit wys dat hierdie daad van korte duur sou wees. Die feit dat dit as “daad van aanbidding” vertaal word, wys dat die Duiwel nie vir Jesus gevra het om hom vir altyd of aanhoudend te aanbid nie; dit was ’n enkele “daad van aanbidding”.

(Matteus 4:23) Toe het hy deur die hele Galile’a rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal en elke soort gebrek onder die volk genees.

Studienota oor Mt 4:23 in nwtsty

geleer . . . verkondig: Leer en verkondig verskil van mekaar. Die een wat iemand anders leer, doen meer as om net te verkondig. Hy onderrig, verduidelik, gebruik oortuigende redenasies en gee bewyse.

15-21 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 6-7

“Hou aan om eers die Koninkryk te soek”

(Matteus 6:24) “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.

Studienota oor Mt 6:24 in nwtsty

slaaf: Die Griekse werkwoord verwys na iemand wat as ’n slaaf werk, dit wil sê iemand wat deur slegs een heer besit word. Jesus het hier gesê dat ’n Christen nie vir God die uitsluitlike toegewydheid kan gee wat Hy verdien as hy hom terselfdertyd daaraan toewy om materiële dinge bymekaar te maak nie.

(Matteus 6:33) “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.

Studienota oor Mt 6:33 in nwtsty

Hou dan aan . . . soek: Die Griekse vorm van die werkwoord dui aanhoudende optrede aan, en kan vertaal word as “soek voortdurend”. Jesus se ware volgelinge sal die Koninkryk nie net ’n tyd lank soek en dit dan vir iets anders los nie. Dit sal altyd die belangrikste ding in hulle lewe wees.

die koninkryk: Party eertydse Griekse manuskripte gebruik “God se koninkryk”.

sy: Verwys na God, die “hemelse Vader” wat in Mt 6:32 genoem word.

regverdigheid: Diegene wat God se regverdigheid soek, doen graag sy wil en verander hulle lewens volgens sy standaarde van wat reg en verkeerd is. Dit is in sterk teenstelling met wat die Fariseërs geleer het, wat hulle eie regverdigheid wou bewys. — Mt 5:20.

Soek na geestelike skatte

(Matteus 7:28, 29) En toe Jesus klaar was met hierdie woorde, was die uitwerking dat die skare verstom was oor die manier waarop hy geleer het; 29 want hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het, en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

Studienotas oor Mt 7:28, 29 in nwtsty

verstom was: Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word, kan beteken “om so vol verwondering te wees dat dit jou oorweldig”. Hierdie vorm van die werkwoord wys dat sy woorde ’n blywende uitwerking op die skares gehad het.

die manier waarop hy geleer het: Hierdie uitdrukking verwys na hoe Jesus mense geleer het, met ander woorde sy onderrigmetodes; dit het die dinge ingesluit wat hy geleer het, die hele konteks van die Bergpredikasie.

nie soos hulle skrifgeleerdes nie: Dit was die skrifgeleerdes se gewoonte om die vereerde rabbi’s aan te haal wanneer hulle ’n punt wou bewys. Maar Jesus praat as Jehovah se verteenwoordiger, soos iemand wat gesag het, en baseer sy leringe op God se Woord. — Joh 7:16.

22-28 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 8-9

“Jesus was lief vir mense”

(Matteus 8:1-3) Nadat hy van die berg afgekom het, het ’n groot menigte hom gevolg. 2 En kyk! ’n melaatse man het nader gekom en aan hom hulde begin bewys en gesê: “Here, as u net wil, kan u my rein maak.” 3 En hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil. Word gereinig.” En onmiddellik is hy van sy melaatsheid gereinig.

Studienota oor Mt 8:3 in nwtsty

hy het . . . hom aangeraak: Die Mosaïese Wet het vereis dat melaatse mense in afsondering woon om te keer dat hulle ander aansteek (Le 13:45, 46; Nu 5:1-4). Maar die Joodse godsdiensleiers het ekstra reëls gemaak. Byvoorbeeld, niemand mag nader as vier el (omtrent 1,8 meter) van ’n melaatse gekom het nie. Maar op winderige dae, was hierdie afstand 100 el (omtrent 45 meter). Sulke reëls het veroorsaak dat melaatses baie sleg behandel is. Een rabbi het glo vir melaatses weggekruip en ’n ander een het hulle met klippe gegooi om hulle van hom af weg te hou, en niemand het gedink dit is verkeerd om hulle so te behandel nie. Maar Jesus was nie so nie. Hy het so jammer gevoel vir die melaatse man dat hy iets gedoen het wat vir die Jode ondenkbaar was — hy het aan die man geraak, al sou die woorde “word gereinig” genoeg gewees het om hom te genees. — Mt 8:5-12.

Ek wil: Jesus het nie net na hom geluister nie, maar het gewys dat hy ’n sterk begeerte het om hom te help. Jesus het dit dus nie net gedoen omdat hy gevoel het dat dit sy plig is nie.

(Matteus 9:9-13) Toe Jesus daarvandaan verder gaan, het hy ’n man met die naam Matteus by die belastingkantoor sien sit, en hy het vir hom gesê: “Word my volgeling.” Daarop het hy opgestaan en hom gevolg. 10 Terwyl hy later in die huis aan tafel was, kyk! toe het baie belastinggaarders en sondaars gekom en saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan. 11 Maar toe die Fariseërs dit sien, het hulle vir sy dissipels begin sê: “Waarom eet julle leermeester saam met belastinggaarders en sondaars?” 12 Hy het hulle gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel. 13 Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie.’ Want ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”

Studienota oor Mt 9:10 in nwtsty

aan tafel gegaan: Of “om saam om ’n tafel te eet”. Om saam met iemand om ’n tafel te sit, het beteken dat jy noue assosiasie met die persoon het. Jode in Jesus se dag sou dus normaalweg nooit saam met nie-Jode om ’n tafel gesit of saam met hulle geëet het nie.

belastinggaarders: Baie Jode het vir die Romeinse owerheid belasting ingevorder. Mense het hierdie Jode gehaat, nie net omdat hulle hierdie vreemde land ondersteun het nie, maar ook omdat hulle op ’n oneerlike manier meer belasting geëis het as wat nodig was. Ander Jode het gewoonlik op belastinggaarders neergesien, en het hulle dieselfde as sondaars en prostitute beskou. — Mt 11:19; 21:32.

(Matteus 9:35-38) En Jesus het op ’n reis deur al die stede en dorpies vertrek en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal en elke soort gebrek genees. 36 Toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder. 37 Toe het hy vir sy dissipels gesê: “Ja, die oes is groot, maar die werkers is min. 38 Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.”

Studienota oor Mt 9:36 in nwtsty

innig jammer gevoel: Die Griekse werkwoord splag·khniʹzo·mai wat vir hierdie uitdrukking gebruik word, hou verband met die woord vir “binnegoed” (splagʹkhna), wat dui op ’n gevoel wat diep in die liggaam ervaar word, ’n sterk emosie. Dit is een van die sterkste woorde in Grieks om meegevoel te beskryf.

Soek na geestelike skatte

(Matteus 9:16, 17) Niemand werk ’n stuk ongekrimpte materiaal op ’n ou bokleed vas nie; want die volle sterkte daarvan sal van die bokleed wegtrek en die skeur sal erger word. 17 Mense gooi ook nie nuwe wyn in ou wynsakke nie; maar as hulle dit doen, dan bars die wynsakke, en die wyn loop uit en die wynsakke word bederf. Maar mense gooi nuwe wyn in nuwe wynsakke, en al twee bly behoue.”

jy-E 70 ¶6

Waarom vas Jesus se dissipels nie?

Jesus help die dissipels van Johannes die Doper om te besef dat dit nie vir Jesus se volgelinge nodig is om die ou gebruike van Judaïsme te volg nie. Een van hierdie gebruike is om sekere tye te vas of glad nie te eet nie. Hy het nie gekom om ’n ou manier van aanbidding aan die gang te hou nie. Die tyd van hierdie ou manier van aanbidding was verby. Die soort aanbidding wat Jesus graag wil hê, is nie soos die Judaïsme van daardie tyd met sy mensetradisies nie. Nee, hy probeer nie om ’n nuwe stuk lap op ou klere vas te werk nie of om nuwe wyn in harde ou wynsakke te gooi nie.

29 JANUARIE–4 FEBRUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | MATTEUS 10-11

“Jesus het verkwikking gebied”

(Matteus 10:29, 30) Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. 30 Maar selfs die hare op julle kop is almal getel.

Studienotas oor Mt 10:29, 30 in nwtsty

mossies: Die Griekse woord strou·thiʹon is ’n verkleiningsvorm vir enige klein voëltjie, maar die woord is dikwels gebruik vir mossies, die goedkoopste van al die voëls wat as kos verkoop is.

vir ’n muntstuk van geringe waarde: Lett., “vir ’n as”, die betaling wat ’n man gekry het vir 45 minute se werk. (Sien sgd, deel 18, bl. 62.) Dit was gedurende hierdie derde reis van Jesus deur Galilea toe hy gesê het dat twee mossies vir een as verkoop word. Op ’n ander keer, omtrent ’n jaar later gedurende sy bediening in Judea, sê Jesus dat vyf mossies vir dubbel hierdie prys gekoop kan word (Lu 12:6). As ons na hierdie twee verslae kyk, kan ons sien dat handelaars die vyfde een verniet ingesluit het, omdat mossies so min werd was.

selfs die hare op julle kop is almal getel: Daar is blykbaar gemiddeld meer as 100 000 hare op ’n mens se kop. Die feit dat Jehovah sulke klein details oor ons weet, wys dat hy regtig in elke volgeling van Christus belangstel.

Media in nwtsty

Mossie

Mossies was die goedkoopste van al die voëls wat as kos verkoop is. Twee van hulle kon gekoop word met die geld wat ’n man verdien het vir 45 minute se werk. Die Griekse woord is vir allerhande klein voëltjies gebruik, soos die gewone huismossie (Passer domesticus biblicus) en die Spaanse mossie (Passer hispaniolensis). Hierdie voëltjies is steeds volop in Israel.

(Matteus 11:28) Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.

Studienota oor Mt 11:28 in nwtsty

swaar belaai: Jesus roep diegene wat “swoeg en swaar belaai is”. Mensgemaakte tradisies is by die Wet van Moses gevoeg en dit het veroorsaak dat hulle aanbidding van Jehovah vir hulle ’n swaar las geword het (Mt 23:4). Selfs die Sabbat, ’n dag wat vir hulle nuwe krag moes gee, het ’n las geword. — Eks 23:12; Mr 2:23-28; Lu 6:1-11.

ek sal julle verkwik: Die Griekse woord vir “verkwik” kan beteken om te rus (Mt 26:45; Mr 6:31). Dit kan ook beteken dat ’n mens verligting van harde werk kry om te herstel en weer krag te kry (2Ko 7:13; Flm 7). As ons na die konteks kyk, sien ons dat ons nie gaan rus nie, maar dat ons gaan werk as ons Jesus se “juk” op ons neem (Mt 11:29). Die Griekse werkwoord word hier in die aktiewe vorm gebruik. Dit dra die gedagte oor dat Jesus dié wat moeg is, verkwik en nuwe energie gee. Hulle wil dus graag hierdie sagte en ligte juk dra.

(Matteus 11:29, 30) Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. 30 Want my juk is sag en my vrag is lig.”

Studienota oor Mt 11:29 in nwtsty

Neem my juk op julle: Jesus het die woord “juk” figuurlik gebruik. Dit beteken onderdanigheid aan gesag en leiding. As hy ’n dubbele juk in gedagte gehad het, die een wat God op Jesus gesit het, sou hy sy dissipels genooi het om saam met hom onder die juk in te kom en sou hy hulle help. In daardie geval, sou dit gesê het: “Kom saam met my onder my juk.” Maar as dit ’n juk is wat Jesus self op ander sit, beteken dit dat ’n mens jou as ’n dissipel aan Christus se gesag en leiding onderwerp.

Soek na geestelike skatte

(Matteus 11:2, 3) Maar Johannes, wat in die tronk gehoor het van die Christus se werke, het deur middel van sy dissipels gestuur 3 en vir hom gesê: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”

jy-E 96 ¶2-3

Johannes wil Jesus se antwoord hê

Klink dit soos ’n vreemde vraag? Johannes is ’n gelowige man wat Jesus amper twee jaar tevore gedoop het. Op daardie dag het hy gesien hoe God se gees op Jesus neerdaal en gehoor hoe God sê dat hy Jesus goedkeur. Ons het geen rede om te dink dat Johannes se geloof swak geword het nie. Anders sou Jesus nie sulke goeie dinge van Johannes gesê het nie. Maar as Johannes nie twyfel nie, hoekom vra hy dan vir Jesus hierdie vraag?

Johannes wil dalk net seker maak en by Jesus self hoor dat hy die Messias is. Dit sou Johannes krag gee terwyl hy in die tronk sit. Maar Johannes se vraag wys dat daar nog iets is wat hy wil weet. Hy ken die profesieë in die Bybel goed wat wys dat die Gesalfde van God ’n koning en ’n verlosser sal wees. Maar Johannes is nou in die tronk en Jesus is al maande lank gedoop. Daarom vra Johannes of daar iemand anders gaan kom. Iemand wat Jesus gaan opvolg en alles gaan doen wat oor die Messias voorspel is.

(Matteus 11:16-19) “Met wie sal ek hierdie geslag vergelyk? Dit is soos jong kinders wat op die markpleine sit en hulle speelmaats toeroep 17 en sê: ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, maar julle het nie gedans nie; ons het geweeklaag, maar julle het julle nie in droefheid geslaan nie.’ 18 Net so het Johannes gekom en nie geëet of gedrink nie, en tog sê mense: ‘Hy het ’n demoon’; 19 die Seun van die mens het gekom en wel geëet en gedrink, en tog sê mense: ‘Kyk! ’n Mens wat vraatsugtig en aan wyn verslaaf is, ’n vriend van belastinggaarders en sondaars.’ Nietemin, die wysheid word deur sy werke geregverdig.”

jy-E 98 ¶1-2

Wee die geslag wat nie luister nie

Jesus het groot respek vir Johannes die Doper. Maar hoe beskou die meeste mense Johannes? Jesus sê: “Hierdie geslag . . . is soos jong kinders wat op die markpleine sit en hulle speelmaats toeroep en sê: ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, maar julle het nie gedans nie; ons het geweeklaag, maar julle het julle nie in droefheid geslaan nie.’ ” — Matteus 11:16, 17.

Wat bedoel Jesus? Hy verduidelik: “Johannes [het] gekom en nie geëet of gedrink nie, en tog sê mense: ‘Hy het ’n demoon’; die Seun van die mens het gekom en wel geëet en gedrink, en tog sê mense: ‘Kyk! ’n Mens wat vraatsugtig en aan wyn verslaaf is, ’n vriend van belastinggaarders en sondaars’ ” (Matteus 11:18,19). Aan die een kant was Johannes se lewe as ’n Nasireër eenvoudig, en hy het nie eers wyn gedrink nie, maar hierdie geslag sê dat hy demoonbesete is (Numeri 6:2, 3; Lukas 1:15). Aan die ander kant lewe Jesus soos gewone mense. Hy eet en drink op ’n gebalanseerde manier, maar hy word daarvan beskuldig dat hy oorboord gaan. Dit lyk asof dit onmoontlik is om die mense tevrede te hou.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel