Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
1-7 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | KOLOSSENSE 1-4
Soek na geestelike skatte
(Kolossense 1:13, 14) Hy het ons verlos van die gesag van die duisternis en ons oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde, 14 deur middel van wie ons ons bevryding deur ’n losprys het, die vergifnis van ons sondes.
it-2-E 169 ¶3-5
Koninkryk van God
“Die koninkryk van die Seun van sy liefde.” Tien dae nadat Jesus na die hemel opgevaar het, op Pinkster 33 HJ, het sy dissipels bewyse gehad dat hy “tot die regterhand van God verhef is” toe Jesus heilige gees op hulle uitgestort het (Han 1:8, 9; 2:1-4, 29-33). Op hierdie manier het die “nuwe verbond” ten opsigte van hulle in werking getree, en hulle het die kern van ’n nuwe “heilige nasie,” geestelike Israel, geword. – Heb 12:22-24; 1Pe 2:9, 10; Ga 6:16.
Christus het nou aan die regterhand van sy Vader gesit en was die Hoof van hierdie gemeente (Ef 5:23; Heb 1:3; Flp 2:9-11). Die Skrif toon dat ’n geestelike koninkryk oor sy dissipels opgerig is vanaf Pinkster 33 HJ. Toe die apostel Paulus aan die eerste-eeuse Christene in Kolosse geskryf het, het hy genoem dat Jesus Christus alreeds ’n koninkryk gehad het: “[God] het ons verlos van die gesag van die duisternis en ons oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” – Kol 1:13; vergelyk Han 17:6, 7.
Christus se koninkryk vanaf Pinkster 33 HJ is ’n geestelike koninkryk wat heers oor geestelike Israel – Christene wat deur God se gees verwek is om die geestelike kinders van God te word (Joh 3:3, 5, 6). Wanneer sulke geesverwekte Christene hulle hemelse beloning ontvang, sal hulle nie meer aardse onderdane van die geestelike koninkryk van Christus wees nie, maar hulle sal konings saam met Christus in die hemel wees. – Op 5:9, 10.
8-14 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 TESSALONISENSE 1-5
Soek na geestelike skatte
(1 Tessalonisense 4:3-6) Want dít is die wil van God: julle heiliging, dat julle julle onthou van hoerery; 4 dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, 5 nie in hebsugtige geslagsdrif soos ook dié nasies het wat God nie ken nie; 6 dat niemand so ver gaan dat hy sy broer skade berokken of inbreuk maak op sy regte in hierdie saak nie, want Jehovah is iemand wat straf toedien vir al hierdie dinge, soos ons julle vooraf gesê en julle ook ’n deeglike getuienis gegee het.
it-1-E 863-864
Hoerery
Hoerery is ’n oortreding waarvoor ’n persoon dalk uit die Christengemeente uitgesit kan word (1Kor 5:9-13; Heb 12:15, 16). Die apostel verduidelik dat ’n Christen wat hoerery pleeg teen sy eie liggaam sondig deur sy geslagsorgane op ’n verdorwe manier te gebruik. Hy veroorsaak vir homself groot geestelike skade en bring onreinheid in God se gemeente en stel homself bloot aan die gevaar om dodelike seksueel oordraagbare siektes op te doen (1Kor 6:18, 19). Hy maak inbreuk op die regte van sy Christenbroers (1Te 4:3-7) deur (1) onreinheid en skandelike dwaasheid in die gemeente te bring, sodat die gemeente oneer aangedoen word (Heb 12:15, 16). (2) Hy beroof die een met wie hy hoerery pleeg van ’n skoon sedelike reputasie, en as daardie persoon ongetroud is, ontneem hy die persoon die kans om sedelik rein te wees wanneer hy of sy trou. (3) Hy beroof sy eie gesin van ’n skoon sedelike reputasie, en (4) hy doen onreg aan die ouers, huweliksmaat of verloofde van die persoon met wie hy hoerery gepleeg het. Hy verontagsaam nie mense, wie se wette dalk of dalk nie hoerery toelaat nie, maar God, wat hom vir sy sonde sal straf. – 1Te 4:8.
15-21 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 TESSALONISENSE 1-3
“Die wettelose word geopenbaar”
(2 Tessalonisense 2:6-8) En julle weet dan nou wat as ’n teëhouer dien, met die oog daarop dat hy op sy eie bestemde tyd geopenbaar sal word. 7 Die verborgenheid van hierdie wetteloosheid is weliswaar reeds aan die werk; maar net totdat hy wat op die oomblik as ’n teëhouer dien, nie meer in die weg staan nie. 8 Dan sal die wettelose inderdaad geopenbaar word, met wie die Here Jesus sal wegdoen deur die gees van sy mond en wat hy tot niet sal maak deur die openbaarwording van sy teenwoordigheid.
it-1-E 972-973
Toegewydheid aan God
Hier gaan dit oor ’n ander verborgenheid, of geheim, wat lynreg in stryd is met Jehovah se “heilige geheim”. Dit is “die verborgenheid van hierdie wetteloosheid”. Dit was ’n verborgenheid vir ware Christene omdat “die mens van wetteloosheid” nog nie in die dae van die apostel Paulus duidelik gevestig was of geïdentifiseer is nie. Selfs nadat daardie “mens” vorm aangeneem het, sou sy identiteit vir die meeste mense ’n verborgenheid bly omdat sy goddeloosheid onder die dekmantel en in die naam van toegewydheid aan God beoefen sou word. Dit sou in werklikheid afvalligheid van ware toegewydheid aan God wees. Paulus het gesê dat “die verborgenheid van hierdie wetteloosheid” alreeds in sy dag aan die werk was omdat daar ’n wettelose invloed in die Christengemeente was wat uiteindelik tot die vorming van hierdie afvallige klas sou lei. Uiteindelik sou Jesus Christus hierdie klas vernietig by die openbaarwording van sy teenwoordigheid. Hierdie afvallige, die “mens” wat deur Satan gelei word, sou homself verhef “bo elkeen wat ‘god’ of ’n voorwerp van verering [Gr., seʹba·sma] genoem word”. Hierdie groot teenstander van God sou dus as ’n Sataniese instrument verskriklik bedrieglik wees en sou vernietiging bring oor dié wat sy gebruike beoefen. Die sukses van “die mens van wetteloosheid” sou toegeskryf word aan die feit dat sy goddeloosheid onder die dekmantel van skynheilige toegewydheid aan God gedoen is. – 2Te 2:3-12; vergelyk Mt 7:15, 21-23.
(2 Tessalonisense 2:9-12) Maar die wettelose se teenwoordigheid is volgens die werking van Satan met allerhande kragtige werke en leuenagtige tekens en voortekens 10 en met allerhande onregverdige bedrog vir dié wat vergaan, as ’n vergelding omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aangeneem het sodat hulle gered kan word nie. 11 Dit is dan waarom God ’n werking van dwaling na hulle laat gaan, dat hulle die leuen sal glo, 12 sodat hulle almal geoordeel kan word omdat hulle nie die waarheid geglo het nie, maar behae geskep het in onregverdigheid.
it-2-E 245 ¶7
Leuen
Jehovah God laat “’n werking van dwaling” na persone gaan wat onwaarheid verkies, sodat “hulle die leuen sal glo,” eerder as die goeie nuus oor Jesus Christus (2Te 2:9-12). Hierdie beginsel word geïllustreer deur wat eeue vroeër in die geval van die Israelitiese koning Agab gebeur het. Profete wat leuens vertel het, het Agab verseker dat hy sukses sou hê in die oorlog teen Ramot-Gilead, terwyl Jehovah se profeet Migaja rampspoed voorspel het. Jehovah het aan Migaja in ’n visioen geopenbaar dat Hy sou toelaat dat ’n geesskepsel “’n bedrieglike gees” in die mond van Agab se profete word. Dit beteken dat hierdie geesskepsel mag oor hulle uitgeoefen het, sodat hulle nie die waarheid gepraat het nie, maar eerder wat hulle self wou sê en wat Agab van hulle wou hoor. Al is Agab vooraf gewaarsku, het hy verkies om deur hulle leuens mislei te word, en dit het hom sy lewe gekos. – 1Kn 22:1-38; 2Kr 18.
Soek na geestelike skatte
(2 Tessalonisense 1:7, 8) maar aan julle wat verdrukking ly, verligting saam met ons by die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele 8 in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.
it-1-E 834 ¶5
Vuur
Petrus het geskryf dat “die hemele en die aarde wat nou is, vir die vuur weggelê [is]”. Uit die konteks en in die lig van ander tekste, is dit duidelik dat dit nie ’n letterlike vuur is nie, maar ’n simbool van ewige vernietiging. Net soos die Vloed van Noag se dag nie die letterlike hemele en aarde vernietig het nie, maar net die goddelose mense, so sal die openbaring van Jesus Christus met sy kragtige engele in ’n vlammende vuur net permanente vernietiging beteken vir goddelose mense en die goddelose stelsel van dinge waarvan hulle deel is. – 2Pe 3:5-7, 10-13; 2Te 1:6-10; vergelyk Jes 66:15, 16, 22, 24.
(2 Tessalonisense 2:2) om nie gou van julle denke afgebring of opgewonde gemaak te word nie, hetsy deur ’n geïnspireerde uiting of deur ’n mondelinge boodskap of deur ’n brief wat glo van ons afkomstig sou wees, wat te kenne gee dat die dag van Jehovah hier is.
it-1-E 1206 ¶4
Inspirasie
Ware en valse “geïnspireerde uitinge”. Die Griekse woord pneuʹma (gees) word op ’n spesiale manier gebruik in party apostoliese geskrifte. In 2 Tessalonisense 2:2 het die apostel Paulus byvoorbeeld sy broers in Tessalonika aangemoedig om nie opgewonde te raak of gou van hulle denke afgebring te word, “hetsy deur ’n geïnspireerde uiting [letterlik, “gees”] of deur ’n mondelinge boodskap of deur ’n brief wat glo van ons afkomstig sou wees, wat te kenne gee dat die dag van Jehovah hier is” nie. Dit is duidelik dat Paulus die woord pneuʹma (gees) gebruik in verband met kommunikasiemiddele, soos ’n “mondelinge boodskap” of ’n “brief”. Daarom sê Lange’s Commentary on the Holy Scriptures (bl. 126) die volgende oor hierdie teks: “Hiermee bedoel die Apostel ’n geestelike inspirasie, sogenaamde voorspelling, uiting van ’n profeet.” (Vertaal en geredigeer deur P. Schaff, 1976). Vincent’s Word Studies in the New Testament sê: “Deur gees. Deur profetiese uitinge van persone in Christelike byeenkomste, wat beweer dat hulle die gesag het van goddelike openbarings.” (1957, Deel IV, bl. 63) Terwyl party vertalings pneuʹma in hierdie en soortgelyke gevalle eenvoudig as “gees” vertaal, sê ander vertalings “boodskap van die Gees” (AT), “voorspelling” (JB), “inspirasie” (D’Ostervald; Segond [Frans]), “geïnspireerde uiting” (NW).
22-28 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 TIMOTEUS 1-3
“Streef ’n voortreflike werk na”
(1 Timoteus 3:13) Want die manne wat goed dien, verwerf vir hulleself ’n goeie reputasie en groot vrymoedigheid van spraak in die geloof in verband met Christus Jesus.
km 10/78 7 ¶7
Diegene wat ‘’n eervolle plek verkry’
7 Dit is dus maklik om te sien waarom Paulus gesê het dat sulke manne ‘’n eervolle plek verkry’. Dit is nie bevordering in ’n kerkhiërargie nie. Bedieningsknegte wat ‘goed dien’, is eerder verseker van Jehovah en Jesus se seën, en hulle geniet die respek en steun van die hele gemeente. Hulle verkry tereg “veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus”. Indien hulle hulle posisie getrou beklee, word hulle waardeer weens hulle puik diens; hulle het ferm geloof en kan hulle geloof moedig en sonder vrees vir smaad verkondig.
Soek na geestelike skatte
(1 Timoteus 1:4) en om ook nie aandag te skenk aan valse stories en aan geslagsregisters, wat op niks uitloop nie, maar wat eerder vrae vir navorsing lewer as enigiets in verband met geloof wat deur God uitgedeel word.
it-1-E 914-915
Geslagsregister
Om sulke kwessies te studeer en te bespreek was sinloos, veral in die tyd toe Paulus aan Timoteus geskryf het. Dit was nie meer belangrik om die geslagsregisters in stand te hou om ’n persoon se afstamming te bewys nie, aangesien God nie meer ’n onderskeid getref het tussen Jode en nie-Jode in die Christengemeente nie (Ga 3:28). En die geslagsregisters het alreeds vasgestel dat Christus deur Dawid se geslagslyn sou kom. Wat meer is, Jerusalem sou kort nadat Paulus hierdie waarskuwing neergeskryf het, saam met die Joodse geslagsregisters vernietig word. God het dit nie bewaar nie. Daarom wou Paulus nie hê dat Timoteus en die gemeentes tyd moes mors om navorsing te doen oor hulle eie stamboom of om daaroor te stry nie, want dit het niks tot die Christelike geloof bygedra nie. Die geslagsregister in die Bybel is genoeg om te bewys dat Christus die Messias is, ’n kwessie wat vir Christene van die grootste belang is. Die ander Bybelse geslagsregisters getuig van die betroubaarheid van die Bybelse verslag en wys duidelik dat dit ’n ware geskiedkundige verslag is.
29 JULIE – 4 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 TIMOTEUS 4-6
Soek na geestelike skatte
(1 Timoteus 4:13) Totdat ek kom, moet jy voortgaan om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting.
it-2-E 714 ¶1-2
Openbare voorlesing
In die Christengemeente. In die eerste eeu het min mense afskrifte van die baie boekrolle van die Bybel besit, en daarom was openbare voorlesing noodsaaklik. Die apostel Paulus het opdrag gegee dat sy briewe by die vergaderinge van die Christengemeentes voorgelees moet word en dat die briewe uitgeruil moes word met sy briewe aan ander gemeentes sodat dit ook gelees kon word (Kol 4:16; 1Te 5:27). Die apostel Paulus het die jong Christenopsiener Timoteus die raad gegee om hom toe te lê op “openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting”. – 1Ti 4:13.
Openbare voorlesing moet vlot gedoen word (Hab 2:2). Omdat openbare voorlesing bedoel is om ander te onderrig, moet ’n openbare leser presies weet wat hy lees en duidelik verstaan wat die skrywer bedoel. Hy moet versigtig lees sodat hy nie die verkeerde gedagte of indruk aan die gehoor oordra nie. Volgens Openbaring 1:3 sal dié wat daardie profesie hardop lees en dié wat die woorde hoor en dit gehoorsaam, gelukkig wees.