Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr22 Mei bl. 1-9
  • Verwysings vir die “Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die “Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek”
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2022
  • Onderhofies
  • 2-8 MEI
  • 9-15 MEI
  • 16-22 MEI
  • 23-29 MEI
  • 30 MEI–5 JUNIE
  • 6-12 JUNIE
  • 13-19 JUNIE
  • 20-26 JUNIE
  • 27 JUNIE–3 JULIE
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2022
mwbr22 Mei bl. 1-9

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

2-8 MEI

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 SAMUEL 27-29

“Dawid se oorlogstrategie”

it-1-E 41

Agis

Toe Dawid van Saul af weggevlug het, het hy twee keer in die gebied van koning Agis beskerming gesoek. Die eerste keer was Dawid daarvan verdink dat hy ’n vyand is, en daarom het hy gemaak asof hy mal is, en Agis het hom toe weggejaag (1Sa 21:10-15; Ps 34:Ops; 56:Ops). Die tweede keer het 600 manne en hulle families saam met Dawid gegaan, en daarom het Agis hulle toegelaat om in Siklag te bly. Gedurende die jaar en vier maande dat hulle daar was, het Agis gedink dat Dawid se manne Judese stede gestroop het, terwyl Dawid eintlik die Gesuriete, die Girsiete en die Amalekiete gestroop het (1Sa 27:1-12). Die misleiding was so suksesvol dat Agis hom as sy persoonlike lyfwag aangestel het toe die Filistyne beplan het om koning Saul aan te val, en eers op die laaste oomblik, toe “die leiers van die Filistyne” daarop aangedring het, is Dawid en sy manne teruggestuur Siklag toe (1Sa 28:2; 29:1-11). Toe Dawid koning geword het en teen Gat oorlog gevoer het, was Agis blykbaar nie doodgemaak nie. Hy het nog gelewe terwyl Salomo regeer het. – 1Kn 2:39-41; sien GATH.

w21.03 4 ¶8

Jong manne – Hoe Kan Julle Ander se Vertroue Wen?

8 Dink aan nog ’n uitdaging wat Dawid gehad het. Nadat Dawid as koning gesalf was, moes hy baie jare wag voordat hy as koning van Juda kon regeer (1 Sam. 16:13; 2 Sam. 2:3, 4). Wat het hom gehelp om in hierdie tyd geduldig te wag? Dawid het nie mismoedig geword nie. Hy het eerder gefokus op wat hy kon doen. Byvoorbeeld, terwyl Dawid as ’n vlugteling in die gebied van die Filistyne gebly het, het hy hierdie geleentheid gebruik om teen Israel se vyande te veg. Deur dit te doen, het hy die grense van die gebied van Juda beskerm. – 1 Sam. 27:1-12.

it-2-E 245 ¶6

Leuen

Die Bybel veroordeel iemand wat opsetlik lieg, maar dit beteken nie dat ’n persoon verplig is om inligting aan iemand te gee wat nie die reg daarop het nie. Jesus Christus het gesê: “Moenie wat heilig is, vir die honde gee nie, en moet ook nie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie onder hulle pote sal vertrap en omdraai en julle verskeur nie” (Mt 7:6). Dit is hoekom Jesus soms nie al die inligting of direkte antwoorde op vrae gegee het as dit onnodige skade kon veroorsaak het nie (Mt 15:1-6; 21:23-27; Joh 7:3-10). Die kere toe Abraham, Isak, Ragab en Elisa inligting en feite weerhou het van mense wat Jehovah nie gedien het nie, moet beslis in dieselfde lig gesien word. – Ge 12:10-19; hfst. 20; 26:1-10; Jos 2:1-6; Jak 2:25; 2Kn 6:11-23.

Geestelike Skatte

w10 1/1 20 ¶5-6

Kan die dooies die lewendes help?

Dink hieraan. Die Bybel sê dat ’n mens met sy dood ‘na sy grond terugkeer’ en dat ‘sy gedagtes vergaan’ (Psalm 146:4). Saul sowel as Samuel het geweet dat God kontak met geestemediums veroordeel. Saul het immers vroeër die leiding daarin geneem om die land van spiritistiese gebruike te reinig!—Levitikus 19:31.

Redeneer oor die saak. Sou die getroue Samuel, as hy nog lewend was as ’n gees, God se wet oortree het en met ’n geestemedium saamgewerk het om Saul te ontmoet? Jehovah het geweier om met Saul te praat. Kon ’n medium God die Almagtige as ’t ware dwing om deur middel van afgestorwe Samuel met Saul te kommunikeer? Nee. Dit is duidelik dat hierdie “Samuel” geensins God se getroue profeet was nie. Dit was ’n gees—’n bose demoon wat voorgegee het dat hy die afgestorwe Samuel is.

9-15 MEI

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 SAMUEL 30-31

“Vertrou op Jehovah Jou God vir Krag”

w06 8/1 28 ¶12

Vrees Jehovah—Wees Gelukkig!

12 Dawid se vrees vir Jehovah het hom nie net daarvan weerhou om te doen wat verkeerd is nie. Dit het hom ook versterk om beslissend en verstandig op te tree onder moeilike omstandighede. Dawid en sy manne het ’n jaar en vier maande lank by Siklag in die Filistynse buitedistrikte vir Saul weggekruip (1 Samuel 27:5-7). Terwyl die mans eenkeer weg was, het Amalekitiese rowerbendes die stad verbrand en al die mans se vrouens, kinders en kuddes weggevoer. Toe hulle terugkeer en sien wat gebeur het, het Dawid en sy manne gehuil. Droefheid het gou in verbittering verander, en Dawid se manne wou hom stenig. Hoewel Dawid benoud was, het hy nie wanhopig geword nie (Spreuke 24:10). Sy vrees vir God het hom beweeg om hom tot Jehovah te wend, en hy het “hom begin versterk deur middel van Jehovah”. Met God se hulp het Dawid en sy manne die Amalekiete ingehaal en alles teruggekry.—1 Samuel 30:1-20.

w12 4/15 30 ¶14

Jehovah Bewaar Ons vir Redding

14 Dawid het talle angswekkende omstandighede in sy lewe verduur (1 Sam. 30:3-6). Sy geïnspireerde woorde openbaar dat Jehovah bewus was van sy gevoelens. (Lees Psalm 34:18; 56:8.) God is ook bewus van ons gevoelens. Wanneer ons ‘gebroke van hart’ of ‘verbryseld van gees’ is, kom hy nader aan ons. Dit op sigself kan ons ’n mate van vertroosting bied, soos vir Dawid, wat gesing het: “Ek sal bly wees en my in u liefderyke goedhartigheid verbly, omdat u my ellende gesien het; u het geweet van die benoudhede van my siel” (Ps. 31:7). Maar Jehovah merk nie net ons benoudheid op nie. Hy onderskraag ons ook deur vertroosting en aanmoediging te voorsien. Een manier waarop hy dit doen, is deur middel van Christelike vergaderinge.

Geestelike Skatte

w05 3/15 24 ¶8

Glanspunte uit die boek Eerste Samuel

30:23, 24. Hierdie besluit, wat op Numeri 31:27 gebaseer is, toon dat Jehovah diegene waardeer wat ondersteunende rolle in die gemeente vervul. Wat ons ook al doen, laat ons dit dan ‘doen met ons hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie’.—Kolossense 3:23.

16-22 MEI

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 1-3

Wat Kan Ons Uit “Die Boog” Leer?

w00 6/15 13 ¶9

Eer Diegene Met Gesag Oor Julle

9 Was Dawid ontsteld terwyl hy sleg behandel is? “Tiranne soek my lewe”, het Dawid tot Jehovah uitgeroep (Psalm 54:5). Hy het sy hart aan Jehovah uitgestort: “Red my van my vyande, o my God! . . . Sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o HERE! Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk!” (Psalm 59:2-5). Het jy al ooit so gevoel—dat jy iemand in ’n gesagsposisie geen onreg aangedoen het nie, en tog het hy voortdurend die lewe vir jou moeilik gemaak? Dawid het nie opgehou om Saul te respekteer nie. Toe Saul gesterf het, het Dawid nie van vreugde gejuig nie, maar hy het ’n klaaglied gekomponeer: ‘Saul en Jonatan, die bemindes en lieflikes in hulle lewe. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus. Dogters van Israel, ween oor Saul’ (2 Samuel 1:23, 24). Wat ’n goeie voorbeeld van opregte respek vir die gesalfde van Jehovah, al het Saul Dawid onreg aangedoen!

w12 4/15 10 ¶8

Verraad—’n Onheilspellende Teken van die Tye!

8 Die Bybel praat ook van talle lojale persone. Kom ons bespreek twee van hulle en sien wat ons by hulle kan leer. Ons sal begin met ’n man wat sy lojaliteit aan Dawid bewys het. Jonatan, koning Saul se oudste seun, sou waarskynlik die troonopvolger in Israel gewees het—behalwe vir een feit. Jehovah het Dawid gekies om Israel se volgende koning te wees. Jonatan het God se besluit gerespekteer. Hy was nie jaloers en het Dawid as ’n mededinger beskou nie. Jonatan se siel het eerder “aan die siel van Dawid verkleef geraak” toe hy sy lojaliteit aan hom beloof het. Hy het selfs vir Dawid sy klere, swaard, boog en gordel gegee en sodoende koninklike eer aan hom betoon (1 Sam. 18:1-4). Jonatan het alles in sy vermoë gedoen om ‘Dawid se hand te versterk’ en het selfs sy lewe gewaag om voor Saul vir Dawid op te kom. Jonatan het lojaal vir Dawid gesê: “Jy sal koning oor Israel wees, en ek sal tweede onder jou wees” (1 Sam. 20:30-34; 23:16, 17). Dit is geen wonder dat Dawid ná Jonatan se dood sy droefheid en sy liefde vir hom in ’n treurlied uitgedruk het nie.—2 Sam. 1:17, 26.

Geestelike Skatte

it-1-E 369 ¶2

Broer

“Broer” word ook toegepas op mense wat verenig is in dieselfde doel en wat dieselfde oogmerke het. Byvoorbeeld, koning Hiram van Tirus het koning Salomo sy broer genoem, nie net omdat hulle albei konings was en dieselfde gesag gehad het nie, maar dalk ook omdat hulle albei hout en ander dinge vir die tempel voorsien het (1Kn 9:13; 5:1-12). Dawid het geskryf: “Kyk! Hoe goed en hoe aangenaam is dit as broers in eenheid bymekaar woon!”, en dit wys dat vrede en eenheid tussen vleeslike broers nie net afhang van bloedverwantskap nie (Ps 133:1). Dawid het Jonatan sy broer genoem, nie omdat hulle dieselfde ouers gehad het nie, maar omdat hulle mekaar liefgehad het en dieselfde belangstellings gehad het (2Sa 1:26). Vriende wat dieselfde geaardheid en gesindheid het, al is dit sleg, word met goeie rede broers genoem. – Spr 18:9.

23-29 MEI

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 4-6

“Behou ’n Gesonde Vrees om Ongehoorsaam aan Jehovah te Wees”

w05 5/15 17 ¶7

Glanspunte Uit die Boek Tweede Samuel

6:1-7. Hoewel Dawid goeie bedoelings gehad het, was sy poging om die Ark op ’n wa te vervoer, in stryd met God se gebod en het dit op mislukking uitgeloop (Eksodus 25:13, 14; Numeri 4:15, 19; 7:7-9). Wat gebeur het toe Ussa die Ark gegryp het, toon ook dat goeie bedoelings nie God se vereistes verander nie.

w05 2/1 27 ¶20

Jehovah Doen Altyd Wat Reg Is

20 Hou in gedagte dat Ussa van beter moes geweet het. Die Ark het Jehovah se teenwoordigheid voorgestel. Die Wet het bepaal dat dit nie deur ongemagtigde persone aangeraak mag word nie en het uitdruklik gewaarsku dat oortreders met die dood gestraf sou word (Numeri 4:18-20; 7:89). Die taak om daardie heilige kis te vervoer, moes dus nie lig opgeneem word nie. Ussa was blykbaar ’n Leviet (maar nie ’n priester nie) en was dus veronderstel om die Wet te ken. Wat meer is, jare vroeër is die Ark na die huis van sy vader verskuif sodat dit veilig bewaar kon word (1 Samuel 6:20–7:1). Dit het sowat 70 jaar daar gebly, totdat Dawid besluit het om dit te verskuif. Ussa was dus van kleintyd af waarskynlik bekend met die wette aangaande die Ark.

w05 2/1 27 ¶21

Jehovah Doen Altyd Wat Reg Is

21 Soos vroeër genoem is: Jehovah kan harte lees. Aangesien sy Woord Ussa se handeling ’n “oneerbiedige daad” noem, het Jehovah moontlik ’n selfsugtige beweegrede gesien wat nie spesifiek in die verslag gemeld word nie. Was Ussa miskien ’n vermetele man, wat geneig was om vasgestelde perke te oorskry? (Spreuke 11:2). Het hy ’n oordrewe gevoel van belangrikheid gehad omdat hy die Ark, wat deur sy familie alleen bewaar is, in die openbaar kon lei? (Spreuke 8:13). Het Ussa so min geloof gehad dat hy gedink het Jehovah se hand is te kort om te keer dat die heilige kis, wat Sy teenwoordigheid gesimboliseer het, kantel? Wat die geval ook al was, ons kan seker wees dat Jehovah gedoen het wat reg is. Hy het waarskynlik iets in Ussa se hart gesien wat Hom beweeg het om vinnig oordeel te voltrek.—Spreuke 21:2.

Geestelike Skatte

w96 4/1 29 ¶1

Werp Altyd Jou Sorge op Jehovah

Dawid moes as koning ’n deel van die verantwoordelikheid hiervoor dra. Sy reaksie hierop toon dat selfs diegene wat ’n goeie verhouding met Jehovah het soms sleg op beproewende situasies kan reageer. Dawid het eerstens kwaad geword. Toe het hy bevrees geword (2 Samuel 6:8, 9, NAV). Sy vertrouensverhouding met Jehovah is swaar beproef. Hier was ’n geleentheid waartydens hy blykbaar versuim het om sy sorge op Jehovah te werp en ongehoorsaam was aan sy bevele. Is dit soms met ons die geval? Blameer ons Jehovah ooit vir probleme wat ontstaan omdat ons sy instruksies verontagsaam?—Spreuke 19:3.

30 MEI–5 JUNIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 7-8

“Jehovah Maak ’n Verbond Met Dawid”

w10 4/1 20 ¶3

“Jou Koninkryk Sal Beslis . . . Bestendig Wees”

Jehovah se hart word geraak deur Dawid se hartgrondige begeerte. Weens Dawid se toegewydheid en in ooreenstemming met profesieë sluit God met hom ’n verbond dat Hy iemand in Dawid se koninklike lyn sal verwek wat vir ewig sal heers. Natan dra God se plegtige belofte aan Dawid oor: “Jou huis en jou koninkryk sal beslis tot onbepaalde tyd voor jou bestendig wees; jou troon sal tot onbepaalde tyd stewig gevestig word” (vers 16). Wie is die permanente Erfgenaam van hierdie verbond—die Een wat vir ewig sal heers?—Psalm 89:20, 29, 34-36.

w10 4/1 20 ¶4

“Jou koninkryk sal beslis . . . bestendig wees”

Jesus van Nasaret was ’n nakomeling van Dawid. Toe ’n engel Jesus se geboorte aangekondig het, het hy gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). Die verbond met Dawid word derhalwe in Jesus Christus vervul. Hy heers dus, nie omdat hy deur mense verkies is nie, maar weens ’n plegtige belofte van God wat hom die reg gee om vir ewig te heers. Laat ons onthou dat God se beloftes altyd bewaarheid word.—Jesaja 55:10, 11.

w14 10/15 10 ¶14

Behou Vaste Geloof in die Koninkryk

14 Let op wat Jehovah aan koning Dawid van eertydse Israel deur middel van die Dawidiese verbond belowe het. (Lees 2 Samuel 7:12, 16.) Jehovah het hierdie verbond met Dawid gesluit gedurende Dawid se bewind in Jerusalem en het belowe dat die Messias van hom sal afstam (Luk. 1:30-33). Jehovah het dus die geslagslyn van die nageslag meer spesifiek aangedui en bepaal dat ’n erfgenaam van Dawid “die wetlike reg” tot die troon van die Messiaanse Koninkryk sal hê (Eseg. 21:25-27). Deur Jesus sal Dawid se koningskap “tot onbepaalde tyd stewig gevestig wees”. Ja, Dawid se nageslag “sal tot onbepaalde tyd wees, en sy troon soos die son” (Ps. 89:34-37). Die Messias se heerskappy sal beslis nooit korrup word nie, en dit sal ewige voordele meebring!

Geestelike Skatte

it-2-E 206 ¶2

Laaste Dae

Bileam se Profesie. Voordat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, het die profeet Bileam vir koning Balak van Moab gesê: “Laat ek vir jou vertel wat hierdie volk [Israel] in die toekoms aan jou volk gaan doen. . . . ’n Ster sal uit Jakob kom, en ’n septer sal uit Israel opkom. En hy sal beslis die voorkop van Moab verpletter, en die skedel van al die gewelddadige soldate” (Nu 24:14-17). Toe die profesie die eerste keer waar geword het, was koning Dawid die “ster”, want hy het die Moabiete verslaan (2Sa 8:2). So in daardie vervulling van hierdie spesifieke profesie, het die “einde van die dae” begin toe Dawid koning geword het. Omdat Dawid Jesus as die Messiaanse Koning voorafgeskadu het, sal hierdie profesie ook op Jesus van toepassing wees wanneer hy sy vyande verslaan. – Jes 9:7; Ps 2:8, 9. 

6-12 JUNIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 9-10

“Dawid het lojale liefde betoon”

w06 6/15 14 ¶6

Ja, Jy Kan Geluk Vind

“Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe”, het Dawid geskryf. Hy het verder gesê: “In die dag van rampspoed sal Jehovah aan hom ontkoming verskaf. Jehovah sal hom bewaar en hom in die lewe hou. Hy sal gelukkig genoem word” (Psalm 41:1, 2). Die liefdevolle bedagsaamheid wat Dawid getoon het teenoor Mefiboset, die gebreklike seun van Dawid se geliefde vriend Jonatan, is ’n voorbeeld van die regte gesindheid teenoor geringes.—2 Samuel 9:1-13.

w05 5/15 17 ¶11

Glanspunte Uit die Boek Tweede Samuel

9:1, 6, 7. Dawid het sy belofte nagekom. Ons moet ook daarna strewe om ons woord te hou.

w02 2/15 14 ¶10

Hulle Het Dorings in die Vlees Verduur

10 Jare later het koning Dawid, weens sy groot liefde vir Jonatan, liefderyke goedhartigheid teenoor Mefiboset bewys. Dawid het al Saul se eiendom aan hom gegee en Saul se dienaar Siba as opsigter oor hierdie grond aangestel. Dawid het ook vir Mefiboset gesê: “Jy sal voortdurend aan my tafel brood eet” (2 Samuel 9:6-10). Dawid se liefderyke goedhartigheid was ongetwyfeld ’n vertroosting vir Mefiboset en het gehelp om die pyn van sy gebrek te verlig. Wat ’n goeie les! Ons moet ook goedhartigheid betoon teenoor diegene wat met ’n doring in die vlees worstel.

Geestelike Skatte

it-1-E 266

Baard

Onder baie eertydse volke in die Ooste, insluitende die Israeliete, was ’n baard beskou as ’n bewys van manlike waardigheid. God se wet het die Israeliete verbied om “die hare aan die kant” van hulle kop te skeer, dit wil sê die hare tussen die oor en die oog en die rand van hulle baard (Le 19:27; 21:5). Dit was ongetwyfeld omdat dit onder party heidene ’n godsdiensgebruik was.

13-19 JUNIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 11-12

“Moenie Toelaat dat Verkeerde Begeertes Jou Beheer Nie”

w21.06 17 ¶10

Jy Hoef Nie Deur Satan Gevang te Word Nie!

10 Gierigheid het veroorsaak dat koning Dawid vergeet het wat Jehovah alles vir hom gegee het. Jehovah het byvoorbeeld vir hom rykdom gegee, hom koning gemaak en hom gehelp om baie oorloë te wen. Dawid was baie dankbaar en het gesê dat alles wat God vir hom gedoen het “te veel [sou] wees om op te noem!” (Ps. 40:5). Maar eenkeer het Dawid vergeet wat Jehovah alles vir hom gegee het. Hy was nie meer tevrede nie – hy wou meer gehad het. Al het Dawid ’n hele paar vrouens gehad, het hy toegelaat dat ’n verkeerde begeerte na ’n ander man se vrou in sy hart ontwikkel. Die vrou was Batseba en haar man was Uria die Hetiet. Dawid was selfsugtig en het met Batseba geslaap, en sy het swanger geword. En asof egbreuk nie erg genoeg was nie, het Dawid ook gereël dat Uria doodgemaak word! (2 Sam. 11:2-15). Wat het Dawid gedink? Het hy gedink dat Jehovah nie kon sien wat hy doen nie? Al het Dawid Jehovah jare lank gedien, het hy gierig geword, en hy het toe ’n duur prys betaal. Maar gelukkig het Dawid later erken dat hy gesondig het en was hy regtig jammer daaroor. Dink net hoe dankbaar Dawid moes gewees het dat Jehovah hom vergewe het! – 2 Sam. 12:7-13.

w19.09 17 ¶15

Onderwerp Jou Gewillig Aan Jehovah se Gesag – Hoe en Hoekom?

15 Jehovah het Dawid nie net as die hoof van sy eie gesin aangestel nie, maar ook as die hoof van die hele nasie Israel. Omdat Dawid koning was, het hy baie mag gehad. Soms het hy daardie mag misbruik en ernstige foute gemaak (2 Sam. 11:14, 15). Maar hy het gewys dat hy onderdanig is aan Jehovah deur dissipline te aanvaar. Wanneer hy gebid het, het hy vir Jehovah gesê hoe hy voel. En hy het sy bes probeer om gehoorsaam te wees aan Jehovah se raad (Ps. 51:1-4). Hy was ook nederig genoeg om goeie raad nie net van mans te aanvaar nie, maar ook van vrouens (1 Sam. 19:11, 12; 25:32, 33). Dawid het uit sy foute geleer en het sy diens aan Jehovah die belangrikste ding in sy lewe gemaak.

w18.06 17 ¶7

Laat God se Wette en Beginsels Jou Gewete Oplei

7 Gelukkig is dit nie vir ons nodig om die pynlike gevolge van ongehoorsaamheid aan God se wette self te ervaar nie. Ons kan kosbare lesse leer uit die foute van ander wie se voorbeelde in God se Woord opgeteken is. Spreuke 1:5 sê: “’n Wyse sal luister en meer onderrigting inneem.” Die beste onderrigting kom van God. Hy onderrig ons wanneer ons die verslae in die Bybel lees en daaroor nadink. Dink byvoorbeeld aan die pyn wat koning Dawid deurgemaak het nadat hy ongehoorsaam was aan Jehovah se wet en egbreuk gepleeg het met Batseba (2 Sam. 12:7-14). Wanneer ons hierdie verslag lees en daaroor nadink, kan ons ons afvra: ‘Hoe kon Dawid die pyn en hartseer vermy het wat hy moes deurmaak as gevolg van sy sonde met Batseba? Sal ek die krag hê om weg te kyk as so iets met my gebeur? Sal ek vlug soos Josef, of sal ek doen wat Dawid gedoen het?’ (Gen. 39:11-15). Deur goed na te dink oor die slegte gevolge van sonde, kan ons ons hart versterk om te “haat wat sleg is”.

Geestelike Skatte

it-1-E 590 ¶1

Dawid

Maar Jehovah het die verskriklike ding wat hulle gedoen het, gesien en dit geopenbaar. As Jehovah toegelaat het dat Dawid en Batseba se saak deur menslike regters onder die Wet van Moses hanteer word, sou hulle albei doodgemaak moes word, en die ongebore nageslag sou natuurlik saam met die ma gesterf het (De 5:18; 22:22). Maar Jehovah het die saak self hanteer en was genadig teenoor Dawid as gevolg van die Koninkryksverbond (2Sa 7:11-16), omdat Dawid self genadig was (1Sa 24:4-7; vergelyk Jak 2:13) en omdat God gesien het dat hulle berou getoon het (Ps 51:1-4). Maar hulle het nie straf heeltemal vrygespring nie. Jehovah het deur die profeet Natan gesê: “Ek sal uit jou eie huis rampspoed oor jou bring.” – 2Sa 12:1-12.

20-26 JUNIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 13-14

“Amnon se Selfsugtigheid het Tragiese Gevolge Gehad”

it-1-E 32

Absalom

Amnon word vermoor. Absalom se suster Tamar was so mooi dat sy ouer halfbroer Amnon verlief geraak het op haar. Amnon het gemaak asof hy siek is en het gereël dat Tamar na hom toe kom om vir hom kos te maak, en toe het hy haar verkrag. Amnon se erotiese liefde vir Tamar het in intense haat verander en hy het haar toe weggestuur. Absalom het Tamar gevind nadat sy haar spesiale kleed, wat haar as ’n maagdelike dogter van die koning geïdentifiseer het, geskeur het en as op haar kop gegooi het. Hy het die situasie vinnig opgesom en dadelik gevra of dit Amnon was. En dit het gewys dat hy al voorheen bewus was van sy halfbroer se seksuele begeerte. Maar Absalom het vir sy suster gesê om niks te sê nie en het haar in sy huis laat kom woon. – 2Sa 13:1-20.

w17.09 5 ¶11

Beoefen Selfbeheersing

11 Daar is ook voorbeelde in die Bybel van persone wat nie selfbeheersing gehad het nie en onsedelik was. Dit vertel ook van die tragiese gevolge van ’n gebrek aan selfbeheersing. As jy ooit in Kim se situasie is, kan jy nadink oor wat met die dwase jong man in Spreuke 7 gebeur het. Dink ook aan wat Amnon gedoen het en wat met hom gebeur het (2 Sam. 13:1, 2, 10-15, 28-32). Ouers kan hierdie voorbeelde met hulle kinders bespreek om hulle te help om selfbeheersing te hê en om wys te wees.

it-1-E 33 ¶1

Absalom

Twee jaar het verbygegaan. Die tyd het aangebreek vir skaapskeerdery, ’n feestelike geleentheid, en Absalom het ’n fees gereël by Baäl-Hasor omtrent 22km NNO van Jerusalem af. Hy het die koning se seuns en Dawid genooi. Toe sy pa nie wou kom nie, het Absalom bly aandring dat hy Amnon, sy eersgeborene, in sy plek stuur (Spr 10:18). By die fees, toe Amnon ‘vrolik was van die wyn’, het Absalom sy knegte beveel om hom dood te maak. Die ander seuns het teruggegaan na Jerusalem, en Absalom het saam met sy Siriese oupa gevlug na die koninkryk van Gesur, O van die See van Galilea (2Sa 13:23-38). Die “swaard” wat deur die profeet Natan voorspel is, het nou Dawid se “huis” binnegegaan, en dit sou daar bly vir die res van sy lewe. – 2Sa 12:10.

Geestelike Skatte

g04 12/22 8-9

Die Belangrikste Soort Skoonheid

Beskou in teenstelling hiermee die voorbeeld van Absalom, een van Dawid se seuns. Hy het ’n laakbare persoon geword ten spyte van sy benydenswaardige voorkoms. Die Bybel sê van hom: “En in vergelyking met Absalom was daar in die hele Israel geen man so mooi dat hy soveel geprys is nie. Van die sool van sy voet tot die kroon van sy kop was daar geen gebrek aan hom nie” (2 Samuel 14:25). Maar Absalom se ambisie het hom beweeg om teen sy eie vader te rebelleer en die troon wederregtelik in besit te neem. Hy het selfs sy vader se byvroue verkrag. Gevolglik het Absalom hom God se gramskap op die hals gehaal en ’n pynlike dood gesterf.—2 Samuel 15:10-14; 16:13-22; 17:14; 18:9, 15.

Voel jy aangetrokke tot Absalom? Natuurlik nie. Hy was ’n afstootlike persoon. Die feit dat hy besonder aantreklik was, het nie vergoed vir sy verwaandheid en ontrouheid nie, en dit het ook nie sy ondergang gekeer nie. Aan die ander kant bevat die Bybel baie voorbeelde van verstandige, innemende mense, maar dit sê niks omtrent hulle voorkoms nie. Hulle innerlike skoonheid was klaarblyklik die belangrikste.

27 JUNIE–3 JULIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 15-17

“Absalom het gerebelleer as gevolg van trots”

it-1-E 860

Voorloper

Dit was die gebruik in die Ooste dat hardlopers voor die koninklike strydwa uitgehardloop het. Hulle het voorbereidings gemaak vir die koning se koms, dit aangekondig en hom oor die algemeen gehelp (1Sa 8:11). Absalom en Adonia het 50 hardlopers voor hulle eie strydwaens laat uithardloop om hierdie koninklike waardigheid na te boots en om hulle opstand indrukwekkender en kragtiger te laat lyk. – 2Sa 15:1; 1Kn 1:5; sien RUNNERS.

w12 7/15 13 ¶5

Dien die God van Vryheid

5 Die Bybel bevat baie voorbeelde van mense wat ’n slegte invloed op ander gehad het. Een voorbeeld hiervan is Absalom, ’n seun van koning Dawid. Absalom was ’n buitengewoon aantreklike man. Maar hy het mettertyd, soos Satan, toegelaat dat hebsugtige ambisie sy hart vul, want hy het sy vader se troon begin begeer, waarop hy nie geregtig was nie. In ’n slinkse poging om die koningskap wederregtelik oor te neem, het Absalom diepe besorgdheid oor sy mede-Israeliete geveins terwyl hy listig geïnsinueer het dat die koning se hof nie oor hulle besorg is nie. Ja, net soos die Duiwel in die tuin van Eden, het Absalom voorgegee dat hy ’n weldoener is terwyl hy terselfdertyd sy eie vader wreed beswadder het.—2 Sam. 15:1-5.

it-1-E 1083-1084

Hebron

’n Paar jaar later het Dawid se seun Absalom na Hebron teruggegaan, en daar het hy sy plan begin uitvoer om sy pa se koningskap oor te neem, maar hy was onsuksesvol (2Sa 15:7-10). Absalom het waarskynlik sy plan begin uitvoer in Hebron, wat voorheen die hoofstad van Juda was, omdat hierdie stad uit ’n historiese oogpunt belangrik was en omdat dit sy geboortestad was. Later het Dawid se kleinseun Rehabeam Hebron herbou (2Kr 11:5-10). Nadat Juda deur die Babiloniërs verlate gemaak was en nadat die Joodse gevangenes teruggekeer het, het party van hulle in Hebron (Kirjat-Arba) gaan bly. – Ne 11:25.

Geestelike Skatte

w18.08 6 ¶11

Het Jy Al die Feite?

11 Ons kan miskien ook onregverdig behandel word omdat ’n storie oor ons versprei word wat half waar is of wat nie al die feite bevat nie. Kyk byvoorbeeld wat met koning Dawid en Mefiboset gebeur het. Dawid was vrygewig teenoor Mefiboset en het hom liefdevol behandel deur al die grond terug te gee wat aan Mefiboset se oupa Saul behoort het (2 Sam. 9:6, 7). Maar later het Dawid iets negatiefs oor Mefiboset gehoor. En sonder om eers seker te maak of dit waar is, het Dawid toe besluit om al Mefiboset se eiendom af te vat (2 Sam. 16:1-4). Toe Dawid uiteindelik self met Mefiboset praat, het hy besef dat hy ’n fout gemaak het. Hy het toe ’n deel van Mefiboset se eiendom vir hom teruggegee (2 Sam. 19:24-29). As Dawid nie oorhaastig opgetree het nie, maar eers al die feite gekry het, sou hy Mefiboset nie so onregverdig behandel het nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel