Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
© 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
1-7 JANUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 32-33
Vertroos dié wat met angstigheid sukkel
it-1-E 710
Elihu
Elihu was onpartydig en het nie titels gebruik om enige iemand te vlei nie. Hy het erken dat hy, net soos Job, van klei gemaak is en dat die Almagtige sy Skepper is. Elihu wou Job glad nie bang praat nie, hy het eerder met hom as ’n ware vriend gepraat. Hy het selfs Job se naam gebruik toe hy met hom gepraat het, iets wat Elifas, Bildad, of Sofar, nie gedoen het nie. – Job 32:21, 22; 33:1, 6.
Beskou jy menslike swakheid soos Jehovah dit beskou?
8 Ons sal waarskynlik meer empatie hê as ons onthou dat party van ons dierbare broers en susters verswak is deur moeilike omstandighede, soos swak gesondheid, ’n verdeelde huisgesin of depressie. Ons kan ons eendag in ’n soortgelyke situasie bevind. Voordat die Israeliete, wat arm en swak in Egipte was, die Beloofde Land binnegegaan het, is hulle vermaan om nie hulle ‘hart te verhard’ teenoor hulle geteisterde broers nie. Jehovah het van hulle verwag om hulle arm broers te help.—Deut. 15:7, 11; Lev. 25:35-38
9 Eerder as om diegene met moeilike omstandighede te oordeel of agterdogtig teenoor hulle te wees, moet ons geestelike vertroosting aan hulle bied (Job 33:6, 7; Matt. 7:1). Ter toeligting: Sê nou iemand is in ’n motorfietsongeluk beseer en word na die ongevalleafdeling geneem. Sal die mediese span eers probeer vasstel of hy die ongeluk veroorsaak het? Nee, hulle voorsien onmiddellik die nodige mediese bystand. Net so moet ons eerstens geestelike hulp voorsien as ’n medegelowige weens persoonlike probleme swak geword het.—Lees 1 Tessalonisense 5:14.
10 As ons ’n oomblik neem om oor ons broers se omstandighede na te dink, kan ons hulle skynbare swakheid in ’n ander lig beskou. Dink aan susters wat al jare lank gesinsteenstand verduur. Party van hulle het dalk ’n nederige voorkoms en lyk broos, en tog openbaar hulle uitsonderlike geloof en innerlike krag. Wanneer jy ’n enkelmoeder sien wat vergaderinge gereeld met haar kind of kinders bywoon, is jy sekerlik beïndruk deur haar geloof en vasbeslotenheid. En dan is daar tieners wat die waarheid aankleef ondanks die slegte invloede by die skool. Ons erken in alle beskeidenheid dat sulke persone, wat swakker lyk, dalk net so “ryk in geloof” is soos diegene onder ons wat gunstige omstandighede het.—Jak. 2:5.
Wanneer is die regte tyd om te praat?
17 Die vierde man wat Job besoek het, was Elihu, ’n familielid van Abraham. Hy het geluister terwyl Job en die ander drie manne gepraat het. Dit is duidelik dat hy mooi geluister het na wat hulle gesê het, want hy kon liefdevolle maar eerlike raad gee wat Job gehelp het om sy denke reg te stel (Job 33:1, 6, 17). Om Jehovah te eer was vir Elihu belangriker as om homself of enige ander mens te eer (Job 32:21, 22; 37:23, 24). Ons leer uit Elihu se voorbeeld dat daar ’n tyd is om stil te bly en te luister (Jak. 1:19). Ons leer ook dat wanneer ons wel raad gee, dit belangriker is om Jehovah te eer en nie onsself nie.
18 Ons kan wys dat ons dankbaar is vir die geskenk om te praat deur die Bybel se raad te volg oor wanneer en hoe om te praat. Wyse koning Salomo was geïnspireer om te skryf: “ ’n Woord op die regte tyd is soos goue appels in silwerhouers” (Spr. 25:11). Wanneer ons mooi luister na wat ander sê en eers dink voordat ons praat, kan ons woorde soos daardie goue appels wees – waardevol en pragtig. Dan sal wat ons sê, ander opbou en Jehovah trots maak, maak nie saak of ons baie of min praat nie (Spr. 23:15; Ef. 4:29). Dit is die beste manier om te wys dat ons dankbaar is vir hierdie geskenk wat God ons gegee het!
Geestelike skatte
Hou aan om nader aan Jehovah te kom
10 Dit is ook gepas om besorg te wees oor ons voorkoms. Maar ons hoef nie te hard te probeer om elke spoor van veroudering te verwyder nie. Hierdie tekens kan bewys lewer van volwassenheid, waardigheid en innerlike skoonheid. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spr. 16:31). Dit is hoe Jehovah ons sien, en ons moet ons deur sy oë probeer sien. (Lees 1 Petrus 3:3, 4.) Sal dit dan verstandig wees om onnodige en moontlik gevaarlike chirurgiese prosedures of mediese behandeling te ondergaan bloot om ons aantrekliker te maak? “Die vreugde van Jehovah” is ’n bron van ware skoonheid wat van binne af uitstraal, ongeag ons ouderdom of gesondheid (Neh. 8:10). Slegs in die nuwe wêreld sal ons heeltemal gesond wees en ons jeugdige skoonheid terugkry (Job 33:25; Jes. 33:24). Tot dan sal praktiese wysheid en geloof ons help om na aan Jehovah te bly terwyl ons die beste maak van ons huidige omstandighede.—1 Tim. 4:8.
8-14 JANUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 34-35
Wanneer die lewe onregverdig voel
Watter soort persoon is God?
God doen altyd wat reg is. Die Bybel sê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel!” (Job 34:10). Hy oordeel altyd op ’n regverdige manier, net soos die psalmskrywer gesê het toe hy met Jehovah gepraat het: “U sal die volke in geregtigheid oordeel” (Psalm 67:4). Jehovah “sien wat die hart is”. Daarom kan iemand wat skynheilig is hom nie bedrieg nie, want hy het die vermoë om altyd te weet wat die waarheid is en om regverdig te oordeel (1 Samuel 16:7). God is ook bewus van al die onregverdigheid en korrupsie op die aarde, en hy het belowe dat die goddeloses binnekort “van die aarde af uitgeroei [sal] word”. – Spreuke 2:22
Wat sal tot ’n einde kom wanneer God se Koninkryk kom?
5 Wat sal Jehovah doen? Jehovah gee goddelose mense nou die geleentheid om te verander (Jes. 55:7). Dit is die goddelose wêreld wat veroordeel is, nie die mense nie. Maar wat van dié wat weier om te verander en wat aanhou om die goddelose wêreld te ondersteun? Jehovah belowe om al die goddelose mense te vernietig. (Lees Psalm 37:10.) Die goddeloses dink dalk dat niks met hulle sal gebeur nie. Baie steek weg wat hulle doen, en dit lyk dalk of hulle daarmee wegkom (Job 21:7, 9). Maar die Bybel sê vir ons: “[God se] oë is op die weë van die mens, en hy sien al sy voetstappe. Daar is geen duisternis of diep skaduwee waarin dié wat skadelike dinge beoefen, hulle kan versteek nie” (Job 34:21, 22). Ons kan nie vir Jehovah wegkruip nie. Niemand kan Jehovah mislei nie. Hy kan alles sien wat slegte mense doen. Ná Armageddon sal ons dalk na die goddeloses soek, maar ons sal hulle nie kry nie. Hulle sal weg wees—vir ewig!—Ps. 37:12-15.
Sal jy struikel as gevolg van Jesus?
19 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. Vandag aanvaar baie mense nie ons boodskap nie omdat ons nie by die politiek betrokke raak nie. Hulle verwag dat ons tydens verkiesings moet stem. Maar as ons ’n menslike leier kies om oor ons te regeer, dan verwerp ons Jehovah (1 Sam. 8:4-7). Mense verwag miskien ook dat ons skole en hospitale moet bou en ander liefdadigheidswerk moet doen. Hulle aanvaar nie ons boodskap nie omdat ons op die predikingswerk fokus in plaas daarvan om die wêreld se probleme nou te probeer oplos.
20 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? (Lees Matteus 7:21-23) Die werk wat Jesus ons gegee het om te doen, moet die belangrikste ding in ons lewe wees (Matt. 28:19, 20). Ons moenie toelaat dat ons ons fokus verloor deur die wêreld se probleme nou te probeer oplos nie. Ons is lief vir mense en ons is besorg oor hulle, maar ons besef dat die beste manier om hulle te help, is deur vir hulle te leer oor God se Koninkryk en deur vir hulle te help om ’n vriendskap met Jehovah op te bou.
Geestelike skatte
Bied jou vrywillig aan, en loof Jehovah!
3 Aan die einde van die gesprek tussen Job en sy drie vriende het Elihu vir Job gevra: “As u werklik reg is, wat gee u hom [God], of wat ontvang hy uit u hand?” (Job 35:7). Het Elihu probeer sê dat ons diens aan God niks beteken nie? Nee. Hy het bedoel dat Jehovah nie ons aanbidding nodig het nie. Jehovah het niks nodig nie. Ons kan hom nie ryker of sterker maak nie. Enige goeie eienskappe of talent wat ons het, kom van God af en hy stel belang wat ons daarmee doen.
15-21 JANUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 36-37
Hoekom jy God se belofte van die ewige lewe kan vertrou
Kan ons God werklik vind?
DIE FEIT DAT GOD VIR EWIG BESTAAN: Die Bybel leer dat God “van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd” bestaan (Psalm 90:2). Met ander woorde, God het nie ’n begin gehad nie en sal ook nie ’n einde hê nie. Vanuit ’n menslike oogpunt is “die getal van sy jare . . . onnaspeurlik”.—Job 36:26.
Hoe jy baat vind: God belowe dat jy vir ewig kan lewe as jy hom werklik leer ken (Johannes 17:3). Hoe betroubaar sou so ’n belofte gewees het as God self nie vir ewig gelewe het nie? Net “die Koning van die ewigheid” kan so ’n belofte nakom.—1 Timoteus 1:17.
Waardeer jy die goeie dinge wat God vir jou gegee het?
6 Water kan as ’n vloeistof op die aarde bestaan omdat die aarde die regte afstand van die son af is. As die aarde net ’n klein bietjie nader aan die son was, sou al die water verdamp en sou die aarde ’n warm, lewelose rots wees. As die aarde net ’n klein bietjie verder van die son af was, sou al die water vries en die hele aarde sou bedek wees met sneeu en ys. Omdat Jehovah die aarde op hierdie perfekte plek gesit het, kan die aarde se waterkringloop lewe onderhou. Die son verhit die water in die oseane en op die aarde se oppervlak. Dit veroorsaak dat die water verdamp en wolke vorm. Elke jaar word amper 500 000 kubieke kilometer water deur die son verdamp. Hierdie water bly omtrent tien dae lank in die atmosfeer voordat dit na die aarde as reën of sneeu val. Die water vloei uiteindelik terug in die oseane of ander waterbronne, en dan word die kringloop herhaal. Jehovah het die waterkringloop ontwerp sodat die aarde altyd water sal hê. Dit bewys dat Jehovah wys en magtig is. – Job 36:27, 28; Pred. 1:7.
Hou jou Christelike hoop sterk
16 Ons hoop om vir ewig te lewe is ’n kosbare geskenk van God. Ons sien uit na ’n wonderlike toekoms – een wat ons seker kan wees sal gebeur. Dit is soos ons anker – dit stabiliseer ons sodat ons in moeilike tye kan volhard, vervolging kan verduur en selfs die dood in die gesig kan staar. Dit is soos ons helm – dit beskerm ons denke sodat ons die dinge wat verkeerd is, kan verwerp en kan vashou aan wat reg is. Ons Bybelse hoop bring ons nader aan God, en dit wys hoe lief hy vir ons is. Dit help ons baie as ons ons hoop helder en sterk hou.
Geestelike skatte
it-1-E 492
Kommunikasie
In die ou tyd was inligting en idees in Bybellande op verskillende maniere van persoon tot persoon oorgedra. Gewone plaaslike en buitelandse nuus was meeste van die tyd mondelings oorgedra (2Sa 3:17, 19; Job 37:20). Mense wat gereeld met karavane gereis het, het nuus van afgeleë plekke oorgedra wanneer hulle by stede en karavaanroetes gestop het vir kos, water en ander benodighede. As gevolg van waar die land Palestina geleë was, was daar baie mense wat met karavane van afgeleë plekke daardeur gereis het. So die mense wat daar gebly het, kon maklik inligting kry oor belangrike gebeure in ander lande. Plaaslike en buitelandse nuus kon baie keer in die markpleine gevind word.
22-28 JANUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 38-39
Neem jy die tyd om na die skepping te kyk?
Sal jy op Jehovah wag?
7 Wanneer die Bybel beskryf hoe Jehovah die aarde gemaak het, praat dit van hoe hy “sy afmetings” bepaal het, hoe hy “sy voetstukke” gemaak het en hoe hy “sy hoeksteen” gelê het (Job 38:5, 6). Hy het selfs die tyd geneem om te kyk na wat hy gemaak het (Gen. 1:10, 12). Dink net hoe opwindend dit vir die engele moes gewees het om te sien hoe Jehovah se skeppingswerke geleidelik bymekaarkom! Hulle het selfs op een stadium “begin juig” (Job 38:7). Wat is die les vir ons? Dit het Jehovah duisende jare geneem om die aarde, die sterre en alles wat lewe, te maak. Maar toe Jehovah na alles gekyk het wat hy gemaak het, het hy gesê dat dit “baie goed” was. – Gen. 1:31.
Die opstanding leer ons van God se liefde, wysheid en geduld
2 Jehovah het eers ’n medewerker gemaak. Toe het hy deur middel van sy eerste Seun “alle ander dinge . . . geskep,” insluitende miljoene engele (Kol. 1:16). Jesus was baie bly om saam met sy Vader te werk (Spr. 8:30). En die engeleseuns van God het ook rede gehad om bly te wees. Hulle was daar toe Jehovah en sy Meesterwerker, Jesus, die hemel en die aarde gemaak het. Hoe het die engele gereageer? Hulle het “begin juig” toe die aarde gemaak was en hulle het sekerlik aangehou om te juig toe hulle alles gesien het wat Jehovah gemaak het, insluitende die hoogtepunt van sy skeppingswerke, die mensdom (Job 38:7; Spr. 8:31, vtn.). Elkeen van hierdie skeppingswerke het gewys hoe liefdevol en wys Jehovah is. – Ps. 104:24; Rom. 1:20.
Leer meer oor Jehovah deur sy skepping
8 Jehovah verdien ons vertroue. Jehovah het Job gehelp om sy vertroue in Hom te versterk (Job 32:2; 40:6-8). In Sy gesprek met Job het God na baie van die dinge verwys wat Hy gemaak het, insluitende die sterre, die wolke en die weerligstrale. Jehovah het ook gepraat van die diere, soos die wilde bul en die perd (Job 38:32-35; 39:9, 19, 20). Al hierdie dinge is nie net ’n bewys van God se wonderlike krag nie, maar ook van sy liefde en groot wysheid. Hierdie gesprek het Job gehelp om meer as ooit op Jehovah te vertrou (Job 42:1-6). Net so, wanneer ons die skepping bestudeer, word ons daaraan herinner dat Jehovah baie wyser en kragtiger as ons is. Hy kan ook en sal ook ’n einde aan al ons probleme maak. Hierdie feit kan ons help om ons vertroue in hom te versterk.
Geestelike skatte
it-2-E 222
Wetgewer
Jehovah as die Wetgewer. Jehovah is die een ware Wetgewer in die heelal. Hy het die fisiese wette van alle lewelose dinge (Job 38:4-38; Ps 104:5-19) en dierelewe in plek gestel (Job 39:1-30). Die mens, as deel is van Jehovah se skepping, moet gehoorsaam wees aan Jehovah se fisiese wette, en aangesien hy die vermoë het om te redeneer en om geestelik te wees, moet hy net so gehoorsaam wees aan God se sedelike wette (Ro 12:1; 1Kor 2:14-16). Geesskepsele, engele, moet ook gehoorsaam wees aan Jehovah se wette. – Ps 103:20; 2Pe 2:4, 11.
Jehovah se fisiese wette kan nie gebreek word nie (Jer 33:20, 21). Regdeur die sigbare heelal is sy wette so stabiel en betroubaar dat wetenskaplikes, in gebiede waar hulle kennis van hierdie wette het, die bewegings van die maan, planete en sterre akkuraat kan bereken. Enige een wat teen hierdie fisiese wette gaan, ondervind onmiddellik die gevolge daarvan. Net so is God se sedelike wette onveranderlik, en kan dit nie verbreek word sonder om gestraf te word nie. Net soos ons die uitwerking van God se natuurwette voel, sal ons die gevolge van God se sedelike wette ondervind, al is dit nie onmiddellik nie. “God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.” – Ga 6:7; 1Ti 5:24.
29 JANUARIE–4 FEBRUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOB 40-42
Wat ons kan leer uit Job se ondervinding
“Wie het die denke van Jehovah leer ken?”
4 Terwyl ons oor Jehovah se bedrywighede peins, moet ons die neiging vermy om God volgens menslike standaarde te oordeel. Daar word op hierdie neiging gesinspeel in Jehovah se woorde in Psalm 50:21: “Jy het gedink dat ek gewis soos jy sou word.” Dit is soos ’n Bybelgeleerde meer as 175 jaar gelede gesê het: “Mense is geneig om God volgens hulle eie standaarde te oordeel en aan te neem dat hy beperk word deur dieselfde wette as wat hulle moet nakom.”
5 Ons moet versigtig wees dat ons nie ons begrip van Jehovah vorm in ooreenstemming met ons eie standaarde en begeertes nie. Waarom is dit belangrik? Wel, terwyl ons die Skrif bestudeer, sal party van Jehovah se dade dalk nie heeltemal reg lyk vanuit ons beperkte, onvolmaakte standpunt nie. Die eertydse Israeliete het hierdie denkwyse aangeneem en tot die verkeerde gevolgtrekking gekom in verband met Jehovah se handelinge met hulle. Let op wat Jehovah vir hulle gesê het: “Julle sal beslis sê: ‘Die weg van Jehovah is nie regverdig nie.’ Hoor asseblief, o huis van Israel. Is my weg nie regverdig nie? Is dit nie julle weë wat nie regverdig is nie?”—Eseg. 18:25.
6 Iets wat ons sal help om nie in die strik te trap om Jehovah volgens ons eie standaarde te oordeel nie, is die besef dat ons beskouing beperk en soms baie verkeerd is. Job moes hierdie les leer. Terwyl Job gely het, moes hy teen wanhoop stry en het hy ietwat selfsugtig geword. Hy het die groter kwessies uit die oog verloor. Maar Jehovah het hom liefdevol gehelp om sy beskouing te verbreed. Deur Job meer as 70 verskillende vrae te vra, waarvan Job nie een kon beantwoord nie, het Jehovah die aandag gevestig op hoe beperk Job se begrip is. Job het nederig gereageer en sy beskouing verander.—Lees Job 42:1-6.
Moenie die groot geskil vergeet nie
12 Was Jehovah ongevoelig om sulke reguit raad te gee nadat Job so gely het? Nee, en Job het ook nie so gedink nie. Job het Jehovah se raad aanvaar. Hy het gesê: “Daarom herroep ek my woorde, en ek het berou in stof en as” (Job 42:1-6). Job het vroeër ook raad van die jong Elihu gekry (Job 32:5-10). Nadat Job God se raad aanvaar het en sy beskouing verander het, het Jehovah vir ander gesê hoe bly hy was dat Job getrou gebly het.—Job 42:7, 8.
“Hoop op Jehovah”
17 Job is maar net een van Jehovah se knegte wat gedurende baie moeilike tye moedig en sterk gebly het. In sy brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus van baie ander gepraat, en hy noem hulle “ ’n groot wolk van getuies” (Heb. 12:1). Hulle het almal deur baie moeilike tye gegaan, maar hulle het ’n uitstekende rekord van getrouheid aan Jehovah opgebou (Heb. 11:36-40). Was hulle volharding en harde werk verniet? Beslis nie! Al het hulle nie in hulle leeftyd gesien hoe al God se beloftes waar word nie, het hulle aangehou om op Jehovah te hoop. En omdat hulle seker was dat hulle Jehovah se goedkeuring het, was hulle oortuig dat hulle sou sien dat hierdie beloftes waar word (Heb. 11:4, 5). Hulle voorbeeld kan ons meer vasbeslote maak om aan te hou om op Jehovah te hoop.
18 Vandag lewe ons in ’n wêreld wat al hoe slegter word (2 Tim. 3:13). Satan is nog nie klaar met God se volk nie. Maak nie saak watter moeilike tye nog voorlê nie, mag ons vasbeslote wees om hard te werk vir Jehovah, met die volle vertroue dat ons “ons hoop gestel [het] op ’n lewende God” (1 Tim. 4:10). Onthou, die manier hoe dinge vir Job uitgedraai het, wys “dat Jehovah baie liefdevol en genadig is” (Jak. 5:11). Mag ons ook lojaal bly aan Jehovah met die volle vertroue dat hy “dié wat hom ernstig soek”, sal beloon. – Lees Hebreërs 11:6.
Geestelike skatte
it-2-E 808
Bespotting
Job was ’n man wat sy integriteit op ’n regverdige manier behou het, al was hy bespot. Maar hy het die verkeerde beskouing ontwikkel en ’n fout gemaak, waarvoor hy raad gekry het. Elihu het van hom gesê: “Is daar nog ’n man soos Job, wat beledigings drink asof dit water is?” (Job 34:7). Job was meer bekommerd oor sy eie regverdiging, en hy het sy eie regverdiging bo dié van God verheerlik (Job 35:2; 36:24). Toe Job deur sy drie “vriende” erg bespot was, het hy dit persoonlik opgeneem. Op hierdie manier het hy hom aan belediging en bespotting oorgegee en vreugde daarin gevind, asof hy dit geniet het om dit te drink soos water. God het later aan Job verduidelik dat hierdie spotters eintlik (op die ou end) onwaarhede teen God gepraat het (Job 42:7). Toe die Israeliete ’n koning wou hê, het Jehovah ook vir die profeet Samuel gesê: “Hulle het jou nie verwerp nie, maar hulle het my as hulle koning verwerp” (1Sa 8:7). En Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal deur al die nasies gehaat word [nie as gevolg van julle nie, maar] as gevolg van my naam” (Mt 24:9). As ’n Christen hierdie dinge in gedagte hou, sal dit hom help om bespotting met die regte gesindheid te verduur en sal hy beloon word vir sy volharding. – Lu 6:22, 23.
5-11 FEBRUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | PSALMS 1-4
Kies kant vir God se Koninkryk
“Ek sal al die nasies skud”
8 Hoe het mense op hierdie boodskap gereageer? Die meeste het negatief gereageer. (Lees Psalm 2:1-3.) Die nasies het onrustig geraak. Hulle het geweier om Jehovah se aangestelde Heerser te aanvaar. Hulle dink nie dat die Koninkryksboodskap wat ons verkondig, “goeie nuus” is nie. Om die waarheid te sê, party regerings het die predikingswerk selfs verbied! Al sê baie van die heersers van hierdie nasies dat hulle God dien, wil hulle nie hulle mag en gesag opgee nie. Net soos die heersers in Jesus se dag staan die heersers vandag Jehovah se Gesalfde teë deur sy lojale volgelinge aan te val. – Hand. 4:25-28.
Bly neutraal in ’n verdeelde wêreld
11 Materialisme. As geld en besittings vir ons baie belangrik is, kan dit vir ons moeilik wees om neutraal te bly. In die 1970’s moes baie Getuies in Malawi hulle besittings prysgee omdat hulle geweier het om by ’n politieke party aan te sluit. Ongelukkig wou party nie hulle gemaklike lewe opgee nie. ’n Suster met die naam Ruth vertel: “Party wat saam met ons uit die land gevlug het, het later by die politieke party aangesluit en teruggekeer huis toe omdat hulle nie kans gesien het vir die moeilike lewe in die vlugtelingkamp nie.” Maar die meeste van God se knegte tree nie so op nie. Hulle bly neutraal, al sou dit beteken dat hulle minder geld sal hê of al hulle besittings sal verloor.—Hebreërs 10:34.
Geestelike skatte
it-1-E 425
Kaf
Die dun omhulsel of dop wat die graankorrels van graan soos gars en koring bedek. Alhoewel die Bybel na kaf op ’n figuurlike manier verwys, weerspieël dit die dorswerk wat oor die algemeen in die ou tyd gedoen was. Ná die oes was hierdie oneetbare omhulsel of dop van die waardevolle graan nikswerd, en daarom was dit ’n gepaste simbool van iets wat lig, waardeloos en onbegeerlik is. Iets wat van die goeie geskei word en dan weggegooi word.
Eerstens word die kaf van die graankorrel deur die dorswerk geskei. Dan word dit gesif en die ligte kafdeeltjies word soos stof deur die wind weggewaai. Dit wys hoe Jehovah God die afvalliges onder sy volk verwyder en ook ontslae raak van goddelose mense en nasies wat hom teëstaan (Job 21:18; Ps 1:4; 35:5; Jes 17:13; 29:5; 41:15; Ho 13:3). God se Koninkryk sal sy vyande in sulke klein deeltjies verpletter dat hulle soos kaf maklik weggewaai sal word. – Da 2:35.
Die waardelose kaf was gewoonlik bymekaargemaak en verbrand om te keer dat dit nie na die hope graan toe terug waai nie. Net so het Johannes die doper die vernietiging van die goddelose valse aanbidders voorspel – die Dorser, Jesus Christus, sal die koring bymekaarmaak en “die kaf verbrand met vuur wat nie geblus kan word nie”. – Mt 3:7-12; Lu 3:17.
12-18 FEBRUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | PSALM 5-7
Bly lojaal ten spyte van wat ander doen
Hoe die Bybel jou kan help om probleme te hanteer
7 Het ’n vriend of ’n familielid jou al seergemaak? As dit met jou gebeur het, hoe kan die verhaal van koning Dawid se seun Absalom, wat sy pa seergemaak het en probeer het om die koninkryk van hom af weg te vat, jou help? – 2 Sam. 15:5-14, 31; 18:6-14.
8 (1)Bid. Met die verhaal in gedagte, sê vir Jehovah hoe jy voel oor die slegte manier hoe jy behandel was (Ps. 6:6-9). Wees spesifiek. Vra dan vir Jehovah om jou te help om beginsels raak te sien wat jou kan help om te weet wat om in hierdie moeilike situasie te doen.
Wees oortuig dat jy die waarheid het
3 Ons moet ons geloof op meer as net die Christelike liefde van God se volk baseer. Hoekom? Sê nou iemand in die gemeente – selfs ’n ouerman of ’n pionier – pleeg ’n ernstige sonde. Of wat as ’n broer of ’n suster jou op die een of ander manier seermaak? Of dalk word iemand afvallig en sê dat wat ons glo, nie waar is nie. As sulke dinge gebeur, sal jy toelaat dat dit jou laat struikel en sal jy Jehovah ophou dien? Wat is die les vir ons? As jy net jou geloof in God opbou as gevolg van wat ander mense doen en nie omdat jy ’n persoonlike verhouding met Jehovah het nie, sal jou geloof nie sterk wees nie. In jou huis van geloof moet jy nie net sagte materiaal soos gevoelens en emosies gebruik nie, maar jy moet ook harde feite en vaste redenasies gebruik. Jy moet daarvan oortuig wees dat die Bybel die waarheid oor Jehovah leer. – Rom. 12:2.
4 Jesus het gesê dat party die waarheid “met vreugde” sou aanvaar, maar dat hulle geloof swak sou word wanneer hulle getoets word. (Lees Matteus 13:3-6, 20, 21.) Dalk het hulle nie besef dat persone wat Jesus volg, probleme sou hê nie (Matt. 16:24). Of miskien het hulle gedink dat om ’n Christen te wees, beteken dat hulle lewe sonder probleme sou wees – net seëninge, geen uitdagings nie. Maar in hierdie onvolmaakte wêreld sal daar probleme wees. Omstandighede kan verander en dit kan veroorsaak dat ons ons vreugde vir ’n tydjie verloor. – Ps. 6:6; Pred. 9:11.
Geestelike skatte
it-1-E 995
Graf
In Romeine 3:13 het die apostel Paulus Psalm 5:9 aangehaal deur die keel van die goddeloses met “ ’n oop graf” te vergelyk. Soos ’n graf gevul word met die dood en slegte dinge, maak hulle hulle keel oop vir spraak wat dodelik en sleg is. – Vergelyk Matt. 15:18-20.
19-25 FEBRUARIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | PSALMS 8-10
“Ek sal u loof, o Jehovah”!
Waardeer jou plek in Jehovah se familie
6 Jehovah het vir ons ’n spesiale tuiste gemaak. Lank voordat Jehovah die eerste man gemaak het, het hy die aarde vir mense voorberei (Job 38:4-6; Jer. 10:12). Omdat Jehovah liefdevol en vrygewig is, het hy vir ons ’n oorvloed goeie dinge gegee wat ons kan geniet (Ps. 104:14, 15, 24). Hy het elke nou en dan na die dinge gekyk wat hy geskep het en “gesien dat dit goed is” (Gen. 1:10, 12, 31). Hy het gewys dat mense vir hom belangrik is deur vir hulle te laat regeer oor alles wat hy op die aarde gemaak het (Ps. 8:6). God se wil is dat volmaakte mense dit vir ewig moet geniet om na sy pragtige skeppingswerke om te sien. Sê jy gereeld vir Jehovah dankie vir daardie wonderlike hoop?
Waardeer jy die goeie dinge wat God vir jou gegee het?
10 Een manier hoe ons kan wys dat ons die vermoë om te kan praat, waardeer, is deur vir mense wat in evolusie glo te verduidelik hoekom ons glo dat God alles gemaak het (Ps. 9:1; 1 Pet. 3:15). Die mense wat hierdie leerstelling bevorder wil hê dat ons moet glo dat die aarde en alle lewe daarop nie geskep is nie, maar vanself ontstaan het. Ons kan die Bybel en ’n paar van die dinge wat in hierdie artikel bespreek is, gebruik om ons hemelse Vader te verdedig en om aan mense wat wil luister te verduidelik hoekom ons oortuig is dat Jehovah die Skepper van die hemel en aarde is. – Ps. 102:25; Jes. 40:25, 26.
Stel jy ’n goeie voorbeeld wanneer dit kom by jou spraak?
13 Sing uit die hart. Wanneer ons by die vergaderinge sing, moet ons doelwit wees om Jehovah te prys. ’n Suster met die naam Sara dink nie dat sy baie goed kan sing nie. Maar sy wil Jehovah prys wanneer sy by die vergaderinge sing. Daarom berei sy die liedjies ook voor wanneer sy vir die vergaderinge voorberei. Sy oefen die liedjies en sy probeer kyk hoe die woorde van die liedjies inpas by die dinge wat by die vergadering bespreek gaan word. Sy sê: “Dit help my om meer te fokus op die woorde eerder as op hoe ek klink wanneer ek sing.”
Geestelike skatte
it-1-E 832
Vinger
Daar word op ’n figuurlike manier van God gepraat as iemand wat sy werk met sy “vinger(s)” doen, soos toe hy die Tien Gebooie op kliptablette geskryf het, (Eks 31:18; De 9:10) wonderwerke verrig het (Eks 8:18, 19) en die hemele geskep het (Ps 8:3). Die Christelike Griekse Geskrifte help ons om hierdie simboliese gebruik duidelik te verstaan. Matteus se verslag sê dat Jesus die demone deur “God se gees” uitgedryf het en Lukas sê dat dit deur “God se vinger” gedoen is. – Mt 12:28; Lu 11:20.
26 FEBRUARIE–3 MAART
SKATTE UIT GOD SE WOORD | PSALM 11-15
Sien jouself in God se rustige nuwe wêreld
Glanspunte uit die Eerste Boek van Psalms
11:3—Watter fondamente word afgebreek? Dit is die fondamente waarop die mensegemeenskap rus—wet, orde en geregtigheid. Wanneer dit ontwrig word, heers daar maatskaplike wanorde en is daar geen geregtigheid nie. Onder sulke omstandighede moet “die regverdige” ten volle op God vertrou.—Psalm 11:4-7.
Is ’n wêreld sonder geweld moontlik?
Die Bybel belowe dat God binnekort alle geweld van hierdie aarde sal verwyder. Vandag se gewelddadige wêreld stuur af op die “dag van [God se] oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:5-7). Gewelddadige mense sal nie meer lyding vir ander veroorsaak nie. Hoe kan ons seker wees dat God iets wil doen en geweld wil uitroei?
God “haat beslis elkeen wat geweld liefhet”, sê die Bybel (Psalm 11:5). Die Skepper het vrede en geregtigheid lief (Psalm 33:5; 37:28). Daarom sal hy gewelddadige mense nie vir ewig duld nie.
Is jy bereid om geduldig te wag?
15 Waarom was Dawid bereid om geduldig te wag? Hy gee die antwoord in dieselfde psalm waarin hy vier keer vra: “Hoe lank?” Hy sê: “Wat my betref, op u liefderyke goedhartigheid het ek vertrou; laat my hart bly wees in u redding. Ek wil sing tot Jehovah, want hy het aan my goed gedoen” (Ps. 13:5, 6). Dawid het geweet dat Jehovah hom liefhet en dat Jehovah lojaal aan hom sal wees. Hy het nagedink oor hoe Jehovah hom in die verlede gehelp het, en het met vreugde na sy verlossing uitgesien. Dawid het geweet dat dit die moeite werd is om op Jehovah se seëninge te wag.
Die Koninkryk voer God se wil op die aarde uit
16 Veiligheid. Uiteindelik sal die hartverblydende beskrywing in Jesaja 11:6-9 selfs in letterlike sin ten volle vervul word. Mans, vroue en kinders sal veilig wees ongeag waar hulle op die aarde gaan. Geen skepsel, hetsy mens of dier, sal enige gevaar inhou nie. Stel jou ’n tyd voor wanneer jy hierdie hele planeet sal beskou as jou tuiste, waar jy in algehele veiligheid in die riviere, mere en seë kan swem, oor die berge kan trek en die graslande kan deurkruis. En wanneer dit nag word, sal jy jou nie hoef te bekommer nie. Die woorde van Esegiël 34:25 sal bewaarheid word, sodat dit vir God se volk selfs moontlik sal wees om ‘in veiligheid in die wildernis te woon en in die woude te slaap’.
Geestelike skatte
Word verander
12 Ongelukkig word ons in die wêreld omring deur mense wat by Paulus se beskrywing pas. Hulle dink waarskynlik dat dit outyds of onverdraagsaam is om op standaarde en beginsels aan te dring. Baie onderwysers en ouers het ’n permissiewe benadering en bevorder ’n “liberale” denkwyse. Vir hulle is alles relatief; niks is absoluut nie. Selfs baie wat beweer dat hulle godsdienstig is, dink dat hulle vry is om te doen wat hulle dink reg is en dat hulle nie verplig is om God en sy gebooie te gehoorsaam nie (Ps. 14:1). Hierdie gesindheid hou werklik vir ware Christene ’n gevaar in. Onbehoedsames kan dieselfde beskouing van teokratiese reëlings begin aanneem. Hulle sal miskien nie bereid wees om gemeentelike reëlings te volg nie en sal dalk selfs kla oor enigiets waarvan hulle nie hou nie. Of moontlik stem hulle nie heeltemal saam met Bybelraad in verband met vermaak, die gebruik van die Internet en hoër onderwys nie.