LEWENSVERHAAL
Ek het ware sekuriteit gevind deur op Jehovah te vertrou
WANNEER mense my oor my lewe vra, sê ek dikwels vir hulle: “Ek is bagasie in Jehovah se hande!” Wat ek bedoel is dat net soos ek my bagasie neem waar ook al ek kies om te gaan, wil ek hê dat Jehovah en sy organisasie dieselfde met my moet doen – my lei na waar ek moet gaan en wanneer ek moet gaan. Ek het toewysings aanvaar wat vereis het dat ek opofferings moes maak en wat soms gevaarlik was. Maar ek het geleer dat vertroue in Jehovah die sleutel is tot ware sekuriteit.
’N LEWE VAN VERTROUE IN JEHOVAH BEGIN
Ek is in 1948 gebore in ’n klein dorpie in die suidwestelike deel van Nigerië. Gedurende daardie tyd is oom Moustapha, my pa se jonger broer, en toe Wahabi, my oudste broer, as Jehovah se Getuies gedoop. Toe ek nege was, het my pa gesterf. My hart was gebreek. Wahabi het vir my gesê dat ons Pa weer in die opstanding kan sien. Daardie vertroostende gedagte het my gemotiveer om die Bybel te studeer. Ek is in 1963 gedoop. My drie ander broers is ook gedoop.
In 1965 het ek by my ouer broer Wilson in Lagos aangesluit, en ek het dit geniet om saam met die ander gewone pioniers in die Igbobi-gemeente te wees. Hulle vreugde en ywer het my gemotiveer, en in Januarie 1968 het ek ook begin pionier.
’n Broer wat by Bethel gedien het, Albert Olugbebi, het ’n spesiale vergadering met ons jongmense gereël om met ons te praat oor die behoefte aan spesiale pioniers in die noorde van Nigerië. Ek onthou nog broer Olugbebi se entoesiastiese woorde: “Julle is jonk, en julle kan julle tyd en energie vir Jehovah gebruik. Die veld is oop!” Ek was gretig om die profeet Jesaja se gewillige gees na te volg, en daarom het ek ’n aansoekvorm ingevul. – Jes. 6:8.
In Mei 1968 is ek as ’n spesiale pionier na die stad Kano, in die noorde van Nigerië, gestuur. Dit was gedurende die Biafraanse oorlog (1967-1970), wat verskriklike pyn en lyding in die streek veroorsaak het voordat die oorlog na die ooste van Nigerië beweeg het. ’n Broer wat goed bedoel het, het my probeer oortuig om nie te gaan nie. Maar ek het vir hom gesê: “Dankie vir jou besorgdheid. Maar as Jehovah wil hê dat ek hom in hierdie toewysing moet dien, is ek daarvan oortuig dat hy met my sal wees.”
VERTROUE IN JEHOVAH IN ’N OORLOGGETEISTERDE STREEK
Die toestande in Kano was baie hartseer. Die burgeroorlog het verskriklike pyn en lyding in hierdie groot stad veroorsaak. Terwyl ons in die bediening was, het ons partykeer die lyke gesien van dié wat gedurende die oorlog doodgemaak is. Al was daar ’n hele paar gemeentes in Kano, het die meeste van die broers gevlug. Minder as 15 verkondigers het oorgebly, en hulle was bang en mismoedig. Daardie broers en susters was baie bly toe ons ses spesiale pioniers daar aankom. Ons het hulle aangemoedig, en dit het hulle laat beter voel. Ons het hulle gehelp om weer die vergaderinge en die predikingswerk te organiseer en om velddiensrapporte en lektuurbestellings na die tak te begin stuur.
Ons spesiale pioniers het begin om die Hausa-taal te leer. Toe die plaaslike mense die Koninkryksboodskap in hulle eie taal hoor, het baie van hulle na ons geluister. Maar lede van die hoofgodsdiens in Kano het nie van ons boodskap gehou nie, so ons moes baie versigtig wees. By een geleentheid is ek en my velddiensmaat deur ’n man met ’n mes gejaag. Ons het vinniger as hy gehardloop, en hy kon ons nie vang nie. Ten spyte van die gevare het Jehovah ons “in veiligheid [laat] woon”, en die aantal verkondigers het begin groei (Ps. 4:8). Vandag dien daar meer as 500 verkondigers in 11 gemeentes in Kano.
ONS IS VERVOLG IN NIGER
Toe ek ’n spesiale pionier in Niamey, Niger, was
Later in Augustus 1968, nadat ek vir net ’n paar maande in Kano was, is ek saam met twee ander spesiale pioniers gestuur na Niamey, die hoofstad van die Republiek van Niger. Ons het gou besef dat Niger, in Wes-Afrika, een van die warmste streke op aarde is. Ons moes nie net leer hoe om die hitte te hanteer nie, ons moes ook die amptelike taal, Frans, leer. Ten spyte van hierdie uitdagings het ons op Jehovah vertrou en in die hoofstad begin preek saam met ’n handjie vol verkondigers wat daar gebly het. Binne ’n kort tydjie het omtrent almal in Niamey wat kon lees ’n kopie van die Bybelstudieboek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe ontvang. Mense het selfs na ons kom soek om ’n kopie te kry!
Kort voor lank het ons besef dat die owerheid nie van Jehovah se Getuies hou nie. In Julie 1969 het ons bymekaargekom vir die heel eerste kringbyeenkoms in die land, en omtrent 20 mense het dit bygewoon. Ons het uitgesien na die doop van twee nuwe verkondigers. Maar op die eerste dag van die byeenkoms het die polisie daar aangekom en die program gestop. Hulle het die spesiale pioniers en die kringopsiener na die polisiestasie geneem. Nadat hulle ons ondervra het, het hulle ons beveel om die volgende dag terug te kom. Ons het besef dat die owerheid dalk moeilikheid kan veroorsaak, en daarom het ons ’n dooptoespraak in iemand se huis gereël en toe die kandidate in die geheim in ’n rivier gedoop.
’n Paar weke later het die regering my en vyf ander spesiale pioniers beveel om Niger te verlaat. Hulle het ons 48 uur gegee om die land te verlaat, en ons moes ons eie reëlings maak. Ons was gehoorsaam en het reguit na die takkantoor in Nigerië gegaan, waar ons nuwe toewysings ontvang het.
Ek was aangewys na die dorpie Orisunbare in Nigerië, waar ek ’n produktiewe bediening geniet het saam met die klein groepie verkondigers wat daar gebly het. Maar ná ses maande het die takkantoor my genooi om alleen na Niger terug te gaan. Ek was eers verbaas en senuweeagtig, maar toe het ek daarna uitgesien om die broers in Niger weer te sien!
Ek het na Niamey teruggegaan. Die dag nadat ek daar aangekom het, het ’n Nigeriese besigheidsman besef dat ek ’n Getuie is en vrae oor die Bybel begin vra. Ons het saam gestudeer, en nadat hy opgehou het om te rook en om baie te drink, het hy hom laat doop. Daarna was ek bly om deel te neem aan die stadige maar konstante groei in verskillende dele van Niger. Toe ek eers daar aankom, was daar 31 Getuies in die land; toe ek daar weg is, was daar 69.
“ONS WEET NIE BAIE OOR DIE KONINKRYKSWERK IN GUINEE NIE”
Laat in 1977 is ek terug na Nigerië om opleiding te ontvang. Aan die einde van die kursus van drie weke het die Takkomitee-koördineerder, Malcolm Vigo, my ’n brief laat lees van die takkantoor in Sierra Leone. Die broers het ’n gesonde, ongetroude pionierbroer gesoek wat Engels en Frans praat sodat hy as ’n kringopsiener in Guinee kon dien. Broer Vigo het vir my gesê dat ek vir die toewysing opgelei word. Hy het beklemtoon dat dit nie ’n maklike toewysing is nie. Hy het gesê: “Dink mooi daaroor na voordat jy dit aanvaar.” Ek het onmiddellik gesê: “Aangesien dit Jehovah is wat my stuur, sal ek gaan.”
Ek het na Sierra Leone gevlieg en die broers by die takkantoor ontmoet. Een Takkomiteelid het vir my gesê: “Ons weet nie baie oor die Koninkrykswerk in Guinee nie.” Al was die takkantoor verantwoordelik vir die predikingswerk in naburige Guinee, kon hulle nie met die verkondigers kommunikeer nie as gevolg van die gespanne politieke situasie daar. En al het hulle ’n hele paar keer probeer, kon die takkantoor nie ’n verteenwoordiger in die land inkry nie. Daarom is ek gevra om te reis na die hoofstad van Guinee, Conakry, om by die regering toestemming te probeer kry om daar te bly.
“Aangesien dit Jehovah is wat my stuur, sal ek gaan”
Toe ek in Conakry aankom, het ek na die Nigeriese ambassade gegaan en die ambassadeur ontmoet. Ek het vir hom vertel van my begeerte om in Guinee te preek. Hy het my aangemoedig om nie te bly nie omdat ek gearresteer of seergemaak kon word. Hy het gesê: “Gaan terug na Nigerië en preek daar,” en ek het toe gesê: “Ek is vasbeslote om te bly.” Toe het hy ’n brief geskryf om vir die Minister van Binnelandse Sake in Guinee te vra om my te help, en die minister het my toe gehelp.
Kort daarna het ek teruggegaan na die takkantoor in Sierra Leone en die broers laat weet wat die minister besluit het. Die broers het met vreugde uitgeroep toe hulle hoor hoe Jehovah my reis geseën het. Die regering het my toegelaat om in Guinee te bly!
Op die kring in Sierra Leone
Vanaf 1978 tot 1989 het ek op die kring gedien in Guinee, Sierra Leone, en as ’n instaankringopsiener in Liberië. Aan die begin het ek dikwels siek geword. Dit het partykeer in afgesonderde gebiede gebeur. Maar die broers het hulle bes gedoen om my na ’n hospitaal te neem.
By een geleentheid het ek baie siek geword omdat ek malaria gehad het, asook wurms in my ingewande. Toe ek uiteindelik herstel, het ek uitgevind dat die broers bespreek het waar om my te begrawe! Ten spyte van hierdie lewensgevaarlike gebeure het ek nooit daaraan gedink om my toewysings te verlaat nie. En ek bly oortuig dat ware en blywende sekuriteit van die God kom wat ons uit die dood kan opwek.
VERTROUE IN JEHOVAH AS ’N PAARTJIE
Op ons troudag in 1988
In 1988 het ek Dorcas, ’n baie nederige, geestelike pioniersuster, ontmoet. Ons het getrou, en sy het by my aangesluit in my toewysing in die kringwerk. ’n liefdevolle en selfopofferende vrou is. Saam het ons so ver as 25 kilometer tussen gemeentes gestap en ons bagasie gedra. Vir gemeentes wat verder weg was, het ons enige vervoer gebruik wat ons kon vind om op die modderige paaie te ry wat vol slaggate was.
Dorcas is baie moedig. Byvoorbeeld, ons moes partykeer riviere vol krokodille oorsteek. Eenkeer moes ons vir vyf dae reis en ’n rivier met kano’s oorsteek omdat die houtbrûe stukkend was. Terwyl Dorcas opgestaan het om uit die kano te klim, het sy in die diep water geval. Nie een van ons kon swem nie, en daar was krokodille in daardie rivier. Gelukkig het ’n paar jong mans ingeduik en haar gered. Ons albei het ’n ruk lank nagmerries gehad oor wat gebeur het, maar ons het aangehou dien in ons toewysing.
Ons kinders, Jahgift en Eric, is geestelike geskenke vir ons
Vroeg in 1992 was ons baie verbaas om uit te vind dat Dorcas swanger is. Was dit die einde van ons loopbaan in voltydse diens? Ons het gedink: “Jehovah het ons ’n geskenk gegee!” Daarom het ons besluit om ons dogter Jahgift te noem. Vier jaar nadat Jahgift gebore is, is haar broer, Eric, gebore. Albei ons kinders is werklik geskenke van Jehovah. Jahgift het ’n ruk lank by die vertaalkantoor in Conakry gedien, en Eric is ’n bedieningskneg.
Al moes Dorcas later ophou met spesiale pionierdiens, het sy aangehou dien as ’n gewone pionier, selfs terwyl sy ons kinders grootgemaak het. Met Jehovah se hulp het ek aangehou in spesiale voltydse diens. Nadat ons kinders grootgeword het, kon Dorcas weer as ’n spesiale pionier dien. Nou dien albei van ons as veldsendelinge in Conakry.
DIE BRON VAN WARE SEKURITEIT
Ek het nog altyd gegaan waar ook al Jehovah my geneem het. Ek en my vrou het dikwels sy beskerming en seën ondervind. Deur op Jehovah te vertrou in plaas van op materiële dinge het ons baie probleme en angstigheid vermy. Ek en Dorcas het deur persoonlike ondervinding geleer dat die Bron van ware sekuriteit die “God van ons redding”, Jehovah, is (1 Kron. 16:35). Ek is oortuig dat die lewens van al dié wat op hom vertrou, “veilig in die sak van die lewe by Jehovah . . . toegebind [sal] wees”. – 1 Sam. 25:29.