Glanspunte van die afgelope jaar
DIT is opwindend om te sien wat Jehovah regoor die aarde deur middel van sy volk vermag. Hierdie Jaarboek lewer verslag oor verwikkelinge in die gebaretaalveld en verduidelik hoe ons Skryfafdeling navorsing doen. Lees oor ons internasionale byeenkomste en oor interessante besonderhede in verband met ons nuwe liedereboek uitvind. Kom op hoogte met wetlike verwikkelinge regoor die wêreld, nuus uit Haïti en takkantore wat onlangs toegewy is. Ons is seker dat jy sal geniet wat jy lees en daardeur aangemoedig sal word.
‘GOD WIL HÊ DAT DIE DOWES HOM MOET KEN’
Kyk na wat in die gebaretaalveld gebeur. Salvatore, in die Verenigde State, is ’n dowe man wie se vrou een van Jehovah se Getuies is. Hoewel hy jare lank kontak met Bybelwaarheid gehad het, het hy geen geestelike vordering gemaak nie. Sy vrou het voorgestel dat hy die Bybel ’n jaar lank elke dag lees. Maar nadat hy sonder welslae gesukkel het om te verstaan wat hy lees, was hy ontmoedig. “Ek sal nooit leer om Jehovah lief te hê nie”, het hy gesê.
Maar Salvatore se lewe het begin verander toe daar vir hom gesê is dat ’n deel van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Amerikaanse Gebaretaal op DVD beskikbaar is. Nadat hy God se Woord in gebaretaal leer ken het, het hy gesê: “Ek is seker dat God wil hê dat ek hom moet ken!” Salvatore het die Bybel bestudeer en dien Jehovah nou vreugdevol as ’n gedoopte Getuie.
Soos Salvatore het ander dowes dwarsoor die wêreld Jehovah se innige liefde en opregte besorgdheid ervaar deur middel van Bybels en ander publikasies wat in gebaretaal op DVD en op die Internet beskikbaar gestel is. Daar is reeds publikasies in 46 gebaretale, en publikasies in nog 13 gebaretale sal later beskikbaar gestel word. Die Wagtoring is beskikbaar in nege van hierdie tale, en dele van die Nuwe Wêreld-vertaling is vrygestel in Amerikaanse, Brasiliaanse, Colombiaanse, Italiaanse, Mexikaanse en Russiese gebaretaal.
Dit is altyd hartroerend om te sien hoe publikasies in gebaretaal die harte van nuwes raak. “Ek het in 1981 begin studeer met behulp van geskrewe Japannese publikasies”, vertel Natsoei, ’n dowe vrou in Japan. “Toe ek dit nie kon verstaan nie en my gesin my studie begin teëstaan het, het ek opgehou.”
“In April 2007 het ’n verkondiger my You Can Be God’s Friend!—On DVD in Japannese Gebaretaal gewys. Dit was 26 jaar ná my eerste Bybelstudie. Ek het my studie onmiddellik hervat en kon voel dat my geestelike behoefte bevredig word. Ek is in November 2008 gedoop.”
Vandag is daar meer as 16 000 dowe verkondigers in die wêreld. Hulle loof Jehovah in gebaretaal met hulle hande en gesigsuitdrukkings. Die ondersteuning wat hulle ontvang deur middel van die 30 boeke, brosjures, video’s en Bybeldramas wat in verskeie gebaretale vertaal is, verseker hulle van Jehovah se liefde en sy waardering vir hulle getroue diens.
Die 54 takkantore wat publikasies in gebaretaal vertaal, ontvang baie dankbetuigings van broers, susters en belangstellendes in die veld. Hulle briewe toon hoe verheug die dowes is om dieper geestelike waarhede in hulle gebaretaal te ontdek. Kyk byvoorbeeld na die woorde van Emi, van Japan, wie se ouers doof is.
“My ouers is baie jare voor my gedoop”, sê Emi, “maar hulle het gesukkel om geskrewe Japannese publikasies te verstaan. Wanneer hulle iets nie kon verstaan nie, het hulle my gevra om dit aan hulle te verduidelik. Nou kan hulle met vertroue oor die waarheid praat. My ma het gesê: ‘Dit was eers nadat gebaretaalpublikasies beskikbaar geword het dat ek ’n dieper begrip van die Bybel verkry het.’ Gevolglik het hulle nader aan Jehovah gekom en is ons gesinsbande sterker as ooit tevore.”
‘ALLES WORD NOUKEURIG NAGESPEUR’
Jesus het gesê dat die getroue slaaf verstandig sou wees deur die huisknegte “hulle voedsel op die regte tyd” te gee. Christus het sodoende aangedui dat dié wat hierdie “voedsel” gee, pligsgetrou, wys en oordeelkundig sou wees wanneer hulle geestelike voedsel aan die huishouding van gelowiges voorsien.—Matt. 24:45-47.
In ons tyd gebruik Christus se gesalfde broers die Skryfafdeling in Brooklyn, New York, om geestelike inligting in die vorm van tydskrifte, brosjures, boeke en ander gedrukte en elektroniese materiaal te voorsien. Soos fisiese voedsel, moet hierdie geestelike voedsel goed voorberei word. Selfs Bybelskrywers, wat deur die heilige gees gerig is, het seker gemaak dat hulle behoorlik nagevorste en akkurate inligting opteken. Lukas het byvoorbeeld met baie ooggetuies gepraat en “alles van die begin af noukeurig nagespeur”.—Luk. 1:1-4.
Die Skryfafdeling volg hierdie voorbeeld deur ‘alles noukeurig na te speur’. Maar waar kan betroubare inligting gevind word? Hoewel die Internet ’n gerieflike en toeganklike bron van ’n ontsaglike hoeveelheid inligting is, maak ons navorsers nie staat op blogs (webjoernale) of webwerwe met inskrywings wat swak gedokumenteer en deur anonieme of onbekwame persone geskryf is nie. ’n Aanlyn ensiklopedie, Wikipedia, waarsku byvoorbeeld dat party artikels daarop “inligting bevat wat verkeerd, nie-ensiklopedies of opsetlik verdraai is” en voeg by dat “gebruikers hiervan bewus moet wees”. Die Skryfafdeling gebruik dus standaardnaslaanwerke, artikels wat deur erkende deskundiges geskryf is en boeke wat deur gerespekteerde uitgewers uitgegee is.
Die Skryfafdeling het ’n biblioteek met duisende boeke oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe. Daarbenewens maak ons navorsers gebruik van nabygeleë openbare en akademiese biblioteke. Hulle kan ook gespesialiseerde materiaal van ander bronne verkry deur middel van interbiblioteek-leendienste. Een van die groot universiteitsbiblioteke wat ons navorsers gebruik, het sowat vyfmiljoen boeke, 58 000 tydskrifte, 5,4 miljoen mikrovorms en duisende elektroniese databasisse. Die Skryfafdeling het ook ’n groot argief met uitknipsels, ondervindinge en geskiedkundige inligting wat voortdurend aangevul word met materiaal uit plaaslike bronne sowel as ons takkantore regoor die wêreld.
Dit is natuurlik soos Prediker 12:12 ons herinner: “Aan die maak van baie boeke kom geen einde nie.” Selfs hoogaangeskrewe bronne kan verkeerde inligting bevat. Hoe verseker maak ons dus seker dat inligting van ’n hoë gehalte, akkuraat en betroubaar is?
Kyk byvoorbeeld na die volgende stelling in die brosjure Is lewe geskep? wat sê dat spinnekopsy een van die sterkste materiale op aarde is: “As ’n web van ankerdraadsy tot die grootte van ’n sokkerveld vergroot sou word, met drade wat een sentimeter dik en vier sentimeter uitmekaar is, sou dit ’n makrostraler in vlug kon stop!” Hoewel die bron van hierdie stelling ’n gerespekteerde wetenskaplike tydskrif was, was dit nie die oorspronklike bron nie, en die inligting in die oorspronklike bron was dubbelsinnig. Dit was dus nodig om in aanraking te kom met die navorser wat die oorspronklike stelling gemaak het en uit te vind hoe hy tot hierdie gevolgtrekking gekom het. Ons navorsers moes ook die formule en die nodige inligting vind sodat hulle self kon uitwerk watter impak ’n makrostraler sou hê op ’n spinnerak wat so groot soos ’n sokkerveld is. Baie ure se navorsing en noukeurige berekeninge het uiteindelik die akkuraatheid van hierdie verstommende feit bevestig.
Maar soms is die besonderhede in selfs ’n oënskynlik betroubare bron nie voldoende gestaaf nie. Beskou hierdie voorbeeld: Daar is al gesê dat Gandhi by sy ashram (godsdienssentrum) die volgende woorde aan lord Irwin gesê het: “Wanneer u land en myne die leerstellings toepas wat deur Christus in hierdie Bergpredikasie gemeld is, sal ons nie alleen die probleme van óns lande nie, maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.” Maar ’n deeglike ondersoek van hierdie stelling het aan die lig gebring dat daar geen bewyse is dat lord Irwin ooit Gandhi by sy ashram besoek het nie, wat onbeantwoorde vrae geopper het oor waar en wanneer Gandhi hierdie stelling gemaak het en of hy dit wel gemaak het. Om dié rede gebruik ons publikasies nie meer hierdie spesifieke aanhaling nie.
Of jy het dalk gelees oor die voorval van sir Isaac Newton en ’n model van die sonnestelsel. ’n Ateïs wat hom besoek het, het na bewering gevra: “Wie het dit gemaak?” Toe Newton antwoord: “Niemand nie!” het die ateïs gesê: “Jy dink seker ek is ’n gek!” Toe het Newton glo vir die ateïs gesê dat sy swak namaaksel van die veel groter sonnestelsel bewys dat daar ’n ontwerper of maker moet wees. Al is hierdie verslag hoe treffend, kan geskiedkundige bronne sowel as geleerdes en biograwe wat ’n studie van Newton se lewe gemaak het, nie bewyse voorsien dat hierdie gesprek werklik plaasgevind het nie. Interessant genoeg, die vroegste verwysings na hierdie voorval het in die vroeë 1800’s verskyn, nie in verband met Newton nie, maar in verband met ’n Duitse geleerde met die naam Athanasius Kircher. Gevolglik gebruik ons Skryfafdeling nie meer hierdie verslag in ons publikasies nie.
Soms moet selfs geringe besonderhede verder nagevors word om die akkuraatheid daarvan te bevestig. Byvoorbeeld, ’n broer sê dalk in sy lewensverhaal dat hy in 1915 in Tsjeggo-Slowakye gebore is. Maar Tsjeggo-Slowakye het eers in 1918 in aansyn gekom. Waar is hy dus gebore? Om die vraag te beantwoord, moet ou kaarte of geskiedkundige verslae dalk geraadpleeg word.
Of ’n broer sê in sy ondervinding dat hy op ’n sekere datum in San Francisco gedoop is. Maar deeglike navorsing toon moontlik dat daar op daardie datum geen byeenkoms in die stad was nie. Hoe kan so ’n teenstrydigheid opgelos word? ’n Mens se geheue is nie altyd betroubaar nie. Hoewel die broer waarskynlik nie deurmekaar sou raak oor waar hy gedoop is nie, kan hy dalk nie reg onthou wanneer hy gedoop is nie. Dit is gewoonlik moontlik om die akkuraatheid van besonderhede na te gaan deur verskeie bronne van inligting met mekaar te vergelyk.
Ter opsomming: Die Skryfafdeling maak seker dat hulle slegs inligting gebruik wat akkuraat en waar is, selfs wanneer dit by besonderhede kom wat onbenullig lyk. As gevolg daarvan kan “die getroue en verstandige slaaf” voortdurend geestelike voedsel voorsien wat “die God van waarheid”, Jehovah, tot eer strek.—Ps. 31:5.
GEHELP OM ‘AAN TE HOU WAAK’
Miljoene Getuies van Jehovah in alle wêrelddele het die praktiese en tydige program waardeer wat gedurende 2009 by die “Hou aan waak!”-streekbyeenkomste aangebied is. Onder dié wat teenwoordig was, was daar meer as 200 000 afgevaardigdes wat uit 136 lande genooi is om een van die 37 internasionale byeenkomste by te woon. Die byeenkomste is gehou in Chili, Duitsland, Frankryk, Ghana, Italië, die Ivoorkus, Kenia, Korea, Mexiko, Mianmar, Oostenryk, Peru, Pole, Suid-Afrika, Trinidad en Tobago sowel as die Verenigde State. Die gesamentlike opkoms vir die internasionale byeenkomste het ’n hoogtepunt van 1 495 045 bereik, en 15 730 is gedoop.
Wat is die doel van internasionale byeenkomste? Die Bestuursliggaam reël dat hierdie samekomste elke paar jaar in strategies geleë stede gehou word—soms in lande waar Jehovah se Getuies voorheen verban is. Sulke byeenkomste help om die broers te versterk en om die verkondiging van die goeie nuus in daardie lande ’n hupstoot te gee.
Hierdie byeenkomste bied ons broers ook die unieke geleentheid om die spesiale “band van eenheid” wat ons internasionale broederskap geniet, eerstehands te ondervind (Kol. 3:14). Wat ’n vreugde is dit tog om by sulke byeenkomste liefde, vrede en eenheid te sien wat nasionale, kulturele en taalgrense oorbrug! Ware liefde word geopenbaar deur verskeie etniese groepe wanneer hulle tussen sessies vryelik met mekaar assosieer—wanneer hulle saam eet, eenvoudige geskenke en kontakbesonderhede uitruil, baie foto’s neem en mekaar in broederlike geneentheid omhels. Baie van die afgevaardigdes en plaaslike Getuies dra hulle tradisionele kleredrag.
’n Spesiale kenmerk van die program by internasionale byeenkomste is “Verslae uit ander lande”, wat op al vier dae aangebied word. Een reisende opsiener uit Italië het gesê dat die verslae almal teenwoordig gehelp het om “te voel dat hulle deel is van ’n ware internasionale broederskap wat een doelwit nastreef—naamlik om die Koninkrykspredikingswerk te doen”. Hoe hartverblydend was dit tog om te luister na aanmoedigende ondervindinge van sendelinge en ander voltydse knegte wat hulle toewysings in ander lande tydelik verlaat het om hulle tuisland te besoek! Hulle uitstekende voorbeeld is steeds ’n groot bron van aanmoediging vir jonk sowel as oud!
En hoe wonderlik was dit tog om lede van die Bestuursliggaam by die internasionale byeenkomste te hê, waar hulle tydige geestelike onderrigting en liefdevolle aanmoediging gegee het! Toesprake deur lede van die Bestuursliggaam sowel as “Verslae uit ander lande” is gelyktydig getolk sodat al die taalgroepe wat na die program geluister het, daarby kon baat vind. Byvoorbeeld, by die tweede internasionale byeenkoms in Honolulu, Hawaii, het Stephen Lett vier toesprake in Engels gehou, wat gelyktydig in Chuukees, Iloko, Japannees, Mandaryns, Marshallees en Samoaans getolk is.
Wanneer die Bestuursliggaam internasionale byeenkomste beplan, neem hulle in ag hoe groot die beskikbare byeenkomsterrein is, hoeveel plaaslike en buitelandse Getuies dit gaan bywoon en hoeveel verblyf vir die afgevaardigdes beskikbaar is. Dan kry verantwoordelike broers in elke byeenkomsstad toestemming van die plaaslike owerheid en stel hulle kontrakte op met die bestuurders van die byeenkomsterreine.
Omdat groot sportstadions dikwels vir hierdie byeenkomste gebruik word, word ’n ontsaglike hoeveelheid beplanning en werk gedoen om seker te maak dat die terreine waardige plekke vir die aanbidding van Jehovah is. Byvoorbeeld, in Peru het ’n sokkerwedstryd voor die byeenkoms plaasgevind, en daarom kon die broers eers op die aand voordat die sessies sou begin in die stadion ingaan om dit skoon te maak en voorbereidings te tref. Hoewel sowat 3 000 vrywilligers gevra is om te help, het meer as 7 000 broers en susters om sesuur die aand opgedaag en onvermoeid deur die nag gewerk om die werk gedoen te kry.
Aan die einde van die internasionale byeenkoms in Long Beach, Kalifornië, VSA, het drie instandhoudingswerkers by die stadion gesê: “Ons het al talle ander godsdienste gesien wat hier bymekaargekom het, maar niemand kan doen wat julle doen nie. Dit is te wonderlik vir woorde.” Een van die mans het erken dat hy, elke keer wanneer Jehovah se Getuies aan sy deur geklop het, vir homself gesê het: “Klop maar soveel jy wil, want ek gaan nie die deur oopmaak nie.” Maar hy het gesê dat hy nou die deur sal oopmaak en sal luister wanneer die broers weer kom klop. Een van die mans is selfs beweeg om te sê: “Ek het nog nooit aan enige godsdiens behoort nie, maar dít is die godsdiens waaraan ek wil behoort.”
Wat ’n kragtige getuienis is in al die stede tot die eer van Jehovah gegee! En hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah dat hy hierdie geloofversterkende byeenkomste voorsien het sodat ons almal kan ‘aanhou waak’!—Matt. 24:42.
LIEDERE TOT LOF VAN JEHOVAH
Om liedere tot lof van Jehovah te sing, is ’n onafskeidelike deel van ons aanbidding. God se knegte was dus verheug toe hulle by die byeenkomste in 2009 gehoor het van ’n nuwe liedereboek, Sing vir Jehovah. Maar waarom was ’n nuwe liedereboek nodig?
Ons werk ons liedereboeke van tyd tot tyd by sodat dit met toenemende geestelike lig kan ooreenstem (Spr. 4:18). Die voorbereiding van ’n nuwe liedereboek bied dus die geleentheid om die nodige aanpassings tot die lirieke van ons liedere te maak. Die bewoording wat gekies is, maak dit makliker om die betekenis van die lied te verstaan terwyl dit gesing word en om die woorde te onthou. Om ons verder te help om die woorde te onthou, is baie van die liedere verkort. Waar gepas, is refreine bygevoeg sodat sleutelgedagtes op ’n betekenisvolle wyse herhaal word. Daarbenewens is ’n poging aangewend om elke lettergreep van elke woord by een noot te laat pas en nie meer as een lettergreep aan ’n noot toe te ken nie.
’n Noukeurige ontleding van ons vorige liedereboek, Sing lofliedere voor Jehovah, het getoon dat party melodieë aangepas moes word om dit makliker te maak om dit te sing. Gevolglik is party van die liedere na ’n laer toonhoogte verander sodat die hoër note makliker is om te sing. Daarbenewens het die broers nie al die liedere gesing presies soos dit in die liedereboek geskryf was nie. In party gevalle is die melodie dus aangepas om ooreen te stem met die natuurliker manier waarop ons broers regoor die wêreld die liedere gesing het.
Daar is noukeurig aandag gegee aan fyn besonderhede, soos hoe die musiek op die bladsy gedruk is. Hoewel langer liedere oor twee bladsye strek om plek te maak vir die langer teks van vertaalde tale, is liedere só gerangskik dat dit nie nodig is om gedurende enige lied om te blaai nie. Geen lied is langer as drie verse nie.
Hoe is die enorme taak om ’n nuwe liedereboek saam te stel, uitgevoer? In Augustus 2007 is ’n span ervare komponiste en liedjieskrywers genooi om die Bestuursliggaam met die projek te help. Al die liedere in die vorige liedereboek is uiters noukeurig ondersoek om probleme met die leerstellige inhoud, woordklemme en melodieë te identifiseer. Dit was duidelik dat party van die ouer melodieë goed was, maar nuwe lirieke nodig gehad het. By ander liedere was dit nie nodig om die lirieke baie te verander nie, maar die melodieë moes aansienlik verander word. Daarna het die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam ’n lys onderwerpe goedgekeur vir die liedere wat gedurende Christelike vergaderinge, byeenkomste en toewydingsprogramme gesing sou word.
Die komponiste het ook tyd geneem om opnuut te kyk na die styl van die musiek wat ons broers by die vergaderinge gebruik. Om liedere te skryf wat mooi sowel as eerbiedig is, het hulle musiek vermy wat soos die Christendom se kerkgesange klink. Terselfdertyd wou hulle nie hê dat lofliedere tot Jehovah klink soos die style wat in talle charismatiese kerke gewild geword het nie.
Die Bestuursliggaam het deur die loop van die projek sorgvuldig ’n oog gehou oor die komposisie en woorde van elke lied. Groepe nuwe liedere waarmee die Bestuursliggaam nie vertroud was nie, is deur sangers opgeneem sodat die Bestuursliggaam daarna kon luister en dit kon hersien. Toe hierdie nuwe liedere goedgekeur is, is dit sonder versuim na takkantore gestuur sodat die lirieke vertaal kon word en die plaaslike liedereboeke op dieselfde tyd as die Engelse liedereboek vrygestel kon word.
In 2007 het die Bestuursliggaam ook gereël dat ’n koor opnames van die liedere doen wat die gemeentes sou help om dit te leer. ’n Orkes van vrywilligers uit 14 takkantore kom al jare lank sowat twee keer per jaar in Patterson, New York, bymekaar om liedere op te neem vir die onderrigtingsprogramme van Jehovah se Getuies, insluitende dramas, video’s en musikale begeleiding vir byeenkomste. Hierdie toegewyde broers en susters, waarvan baie voltydse knegte is, gebruik hulle tyd en middele om te reis en musiek tot voordeel van die internasionale broederskap op te neem. Almal is bedrewe musikante. Die orkesopnames word dan na takkantore regoor die wêreld gestuur om agtergrondmusiek vir byeenkomste te voorsien en om kooropnames in tientalle plaaslike tale te doen. Baie van die kooropnames wat by die takkantore vervaardig is, is nou beskikbaar op ons webwerf www.pr2711.com.
Wat was die reaksie op die nuwe liedereboek, Sing vir Jehovah? Hierdie brief van ’n suster is een van honderde briewe van waardering wat ontvang is: “Ek wil graag my brief begin deur dankie te sê vir die pragtige nuwe liedere in ons nuwe liedereboek. Dit is hartroerend, geloofversterkend en vertroostend—’n wonderlike gawe van Jehovah.”
Dit is ons wens dat die liedereboek Sing vir Jehovah ’n bron van vertroosting en aanmoediging vir ons wêreldwye broederskap sal wees. Hetsy ons alleen is of saam met ons medeaanbidders vergader, mag ons dit gebruik om uiting te gee aan ons liefde vir ons hemelse Vader, Jehovah!
“VOOR GOEWERNEURS EN KONINGS GESLEEP . . . AS ’N GETUIENIS”
Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle voor “plaaslike geregshowe” en voor “goewerneurs en konings” gebring sou word. Maar hy het gesê dat dit “as ’n getuienis vir hulle en die nasies” sou dien (Matt. 10:17, 18). Oor die afgelope jaar het Jehovah se Getuies presies wat Jesus voorspel het, ondervind. En, soos hulle Heer gesê het, het die slegte behandeling wat hulle ontvang het, hulle uitstekende geleenthede gebied om ’n getuienis te gee.
Armenië
Vahan Bayatyan, een van Jehovah se Getuies, is tot twee en ’n half jaar tronkstraf gevonnis weens sy gewetensbeswaar teen militêre diens. Nadat hy sy saak verloor het en onsuksesvol by die howe in Armenië geappelleer het, het hy in 2003 ’n aansoek by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien. Uiteindelik, op 27 Oktober 2009, het die EHMR ten gunste van Armenië beslis in ooreenstemming met die regspresedent wat hulle meer as 50 jaar lank gevolg het. Maar ’n regter wat nie met die beslissing saamgestem het nie, het gevoel dat hierdie beslissing “nie verenig kan word met huidige Europese standaarde in verband met die kwessie van gewetensbeswaar nie”.
Aangesien hierdie kwessie so belangrik is, het die Europese Hof ingestem om hierdie saak na die Groot Kamer te verwys. Die verhoor is gereël vir 24 November 2010 in Straatsburg, Frankryk. Die Groot Kamer se beslissing was nog nie bekend teen die tyd dat hierdie verslag gedruk is nie.
Azerbeidjan
Jehovah se Getuies ondervind nog steeds probleme met die invoer van godsdienslektuur. Die owerheid keur die invoer van party godsdienspublikasies goed, maar verbied die invoer van ander publikasies omdat hulle beweer dat die “inhoud die eksklusiwiteit van die geloof van Jehovah se Getuies bevorder en beledigend teenoor ander Christelike godsdienste is”. Klopjagte is gevolglik op die huise van party broers en susters uitgevoer, en hulle persoonlike Bybellektuur is gekonfiskeer.
Op 25 April 2010, in die stad Kazach, was sowat 250 Getuies van Jehovah in vyf groot busse en een kleiner bus op pad terug van ’n byeenkoms in Georgië. Die polisie by die grenspos het hulle persoonlike Bybellektuur, insluitende 33 Bybels, gekonfiskeer. Baie van die Getuies, selfs die bejaardes en verswaktes, moes tot agt uur lank by die grens wag voordat hulle toegelaat is om verder te reis. Om sulke voorvalle te voorkom en te verseker dat die broers in Azerbeidjan steeds hulle geestelike voedsel ontvang, is hierdie saak nou aan die Europese Hof van Menseregte voorgelê.
Belarus
Op 6 November 2009 is Dmitri Smik, een van Jehovah se Getuies, met 3 500 000 roebel (R7 835) beboet omdat hy geweier het om militêre diens te doen. “Ek probeer om die beginsels in die Bybel in elke aspek van my lewe getrou toe te pas”, het broer Smik gesê, “en ek volg die leringe daarin. Vir my sluit dit in dat ’n persoon nie in oorlogvoering opgelei moet word of daaraan moet deelneem nie.”—Jes. 2:1-4.
Hoewel die Grondwet van Belarus die reg waarborg om alternatiewe burgerlike diens te kies, maak die wet in werklikheid geen voorsiening daarvoor nie. “Op papier wil dit voorkom asof ek die reg tot alternatiewe burgerlike diens het”, het broer Smik verduidelik, “maar in werklikheid kan ek daardie reg nie uitoefen nie.”
Om hierdie fout in die wetgewing reg te stel, het die president van Belarus op 18 Februarie 2010 ’n kommissie saamgestel om ’n wet oor alternatiewe diens op te stel. Kort daarna het die hof broer Smik onskuldig bevind en sy groot boete gekanselleer. Omdat ander jong Getuies in Belarus voor dieselfde geskil te staan kom en nie wil leer om oorlog te voer nie, sal die regering hopelik binnekort voorsiening maak vir alternatiewe burgerlike diens.
België
Die Bethel-eiendom in Brussel, België, is tot 1993 van belasting vrygestel, soos die geval is met alle ander godsdiensgeboue in België. Maar in 1993 het die belastingowerheid van standpunt verander en geweier om volle vrystelling toe te staan. Dit het beweer dat Bethel nie uitsluitlik vir godsdiensdoeleindes gebruik word nie, dat wins een van die oogmerke daarvan is en dat Betheliete nie voltyds met hulle godsdiensbedrywighede besig is nie. Die saak is uiteindelik in 2008 in ’n laer hof verhoor, maar die regter het ten gunste van die belastingowerheid beslis. Appèl is aangeteken teen die besluit, en op 4 Mei 2010 het die appèlhof die laer hof se beslissing herroep. Die drie regters het in hulle geskrewe beslissing verklaar: “Die lewe by Bethel, vir die Getuies wat daar woon, hou verband met ’n diepe godsdiensoortuiging wat vereis dat ’n mens jou geheel en al aan God se diens oorgee. . . . Al hierdie bedienaars is lede van die Wêreldwye Orde van Spesiale Voltydse Dienaars, en hulle woon, bid, sing en studeer die Bybel saam. Hulle neem ook deel aan die plaaslike georganiseerde oggendaanbidding.”
Eritrea
Jehovah se Getuies in Eritrea verduur steeds baie beproewinge omdat hulle God getrou probeer dien. Daar is tans 58 Getuies in die gevangenis, insluitende vroue en jong kinders. Weens onderdrukkende regeringsbeperkings en die voortdurende bedreiging van inhegtenisname is dit moeilik om inligting te verkry oor dié wat opgesluit is. Jehovah se Getuies probeer al jare lank om die lyding van hulle medeaanbidders in Eritrea deur middel van diplomatiese kanale te verlig. Getuies het ’n beroep gedoen op amptenare by die Verenigde State se Departement van Buitelandse Sake, die Europese Unie en verskeie ambassades. Hulle het ook al met talle amptenare in die Horing van Afrika vergader, soos byvoorbeeld met verteenwoordigers van die Afrika-unie. Jehovah se Getuies het onlangs ’n brief en ’n lys van gevangenes wat nie van ’n dienspligtige ouderdom is nie, by 18 Eritrese ambassades regoor die wêreld ingedien. Die brief het ’n beroep gedoen op president Afewerki om al die gevangenes wat nie van ’n dienspligtige ouderdom is nie, vry te laat, insluitende die kinders en die bejaardes. Maar tot op hede het die regering nog nie daarop gereageer nie.
Griekeland
Op 15 Januarie 2010 het die hoogste hof in Griekeland, die Staatsraad, bevind dat Evangelos Delis, een van Jehovah se Getuies, die reg het om te weier om as ’n militêre reservis te dien. Broer Delis het in die weermag gedien voordat hy een van Jehovah se Getuies geword het, maar toe hy vir opleiding as ’n reservis opgeroep is, is hy deur sy Bybelopgeleide gewete beweeg om nie die opleiding te aanvaar nie. Hoewel die Administrasie sy versoek geweier het om as ’n gewetensbeswaarde beskou te word, het die Staatsraad artikels van die Europese Konvensie van Menseregte aangehaal wat sê dat ’n persoon die reg het om van godsdiens te verander selfs nadat hy militêre diens gedoen het en om weens sy nuwe godsdiensoortuigings as ’n gewetensbeswaarde erken te word. Hierdie positiewe beslissing in Griekeland se hoogste hof sal gewetensbeswaardes in Griekeland en in ander lande, soos Armenië, Azerbeidjan, Suid-Korea en Turkye, ongetwyfeld tot voordeel strek.
Portugal
Op 25 September 2009 het die Departement van Justisie verklaar dat die Vereniging van Jehovah se Getuies eenstemmig goedgekeur is as ’n Gevestigde Godsdiensgemeenskap. Jehovah se Getuies in Portugal geniet nou die hoogste moontlike regterlike en godsdienstige klassifisering, wat hulle sal help om hulle bediening uit te voer. Hulle nuwe wetlike status hou talle voordele in vir Jehovah se volk. Dit sluit in dat hulle gemagtigde bedienaars kan hê wat wetlik erkende huwelike by Koninkryksale kan voltrek en dat hulle magtiging het om by hospitale en gevangenisse in te gaan om geestelike hulp te verleen aan dié wat daarvoor vra.
Puerto Rico
’n Mylpaalbeslissing is op 27 Januarie 2010 in die Hooggeregshof van Puerto Rico bereik toe ’n volwasse pasiënt se reg om sekere mediese behandeling te weier, gehandhaaf is. Die Hof het ook erken dat ’n pasiënt die reg het om ’n vooraf opgestelde wilsverklaring te gebruik en om ’n gesondheidsorgverteenwoordiger aan te stel om sy belange te verteenwoordig indien hy bewusteloos is. Victor Hernandez, een van Jehovah se Getuies, het ’n wilsverklaring voorberei voordat hy in die hospitaal opgeneem is. ’n Geregshof het voorheen geweier om broer Hernandez se mediese besluit te handhaaf wat in sy wilsverklaring uiteengesit en deur sy gesondheidsorgverteenwoordiger ondersteun is. Toe die Hooggeregshof die geregshof se beslissing nietig verklaar het, het dit “die fundamentele reg [erken] wat bepaal dat die onskendbaarheid van die menseliggaam ’n onvervreembare mensereg is”. Hierdie oorwinning strek nie net die meer as 25 000 Getuies van Jehovah op Puerto Rico tot voordeel nie, maar ook al die ander pasiënte op die eiland.
Rusland
In onlangse maande het die geesgerigte bedrywighede van Jehovah se volk in die grootste gevaar verkeer sedert die Sowjetunie ineengestort het. Op 8 Desember 2009 het die Russiese Hooggeregshof ’n beslissing van ’n laer hof in Rostof gehandhaaf, wat daartoe gelei het dat die plaaslike godsdiensorganisasie in Taganrog ontbind is, die Koninkryksaal gekonfiskeer is en 34 van ons publikasies as ekstremisties geklassifiseer is, onder andere wydverspreide publikasies soos Wat leer die Bybel werklik?, My boek met Bybelverhale en “Kom word my volgeling”.
’n Paar weke later het die Hooggeregshof in die Republiek Altai, in die suide van Rusland, ’n soortgelyke besluit in verband met die plaaslike godsdiensorganisasie in die stad Gorno-Altaisk geneem, wat tot gevolg gehad het dat ’n verdere 18 publikasies as ekstremisties geklassifiseer is. Hierdie hofbeslissings het dit vir tyd en wyl onmoontlik gemaak om enige van hierdie publikasies in Rusland in te voer. Daarbenewens het die hofbeslissings Christus se vyande die vrymoedigheid gegee om sy vreedsame volgelinge in verskeie stede te dreig en aan te val. Sedert die beslissing van 8 Desember is daar meer as 300 gevalle van klopjagte, inhegtenisnames en ander ontwrigtings van aanbidding opgeteken.
In reaksie op hierdie toenemende bedreiging het die Bestuursliggaam die verspreiding goedgekeur van 12 miljoen eksemplare van ’n spesiale traktaat met die titel Could It Happen Again? A Question for the Citizens of Russia. Die traktaat het duidelike parallelle getrek tussen die teistering wat Jehovah se Getuies onder Kommunisme ondervind het en die probleme waarmee hulle vandag te kampe het. Jehovah se Getuies het hierdie spesiale traktaat van 26 tot 28 Februarie 2010 regoor Rusland versprei. Ten spyte van die ysige koue van tot minus 40 grade Celsius het baie gemeentes al hulle traktate in slegs twee dae versprei.
In ’n teenaanval het die Federale Diens vir die Toesig oor Kommunikasie, Inligtingstegnologie en Massakommunikasie (Roskomnadzor) op 26 April 2010 ons lisensie opgeskort om enige verdere nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! in te voer.
Maar “die hand van Jehovah het nie te kort geword om te red nie” (Jes. 59:1). Op 10 Junie 2010 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ’n mylpaalbeslissing teen Rusland en ten gunste van Koninkryksbelange gegee. Die beslissing in hierdie saak, wat Jehovah se Getuies van Moskou v. Rusland genoem is, het verklaar dat die verbod op die bedrywighede en die ontbinding van die Moskouse Gemeenskap van Jehovah se Getuies onwettig was en in stryd was met die fundamentele menseregte in verband met vryheid van denke, gewete en geloof. Die ontbinding en die verbod is sedert 26 Maart 2004 in Moskou van krag en het meer teistering en mishandeling tot gevolg gehad. Hierdie oordeel sê spesifiek dat die Russiese regering “wetlik verplig is . . . om ’n einde te maak aan die skending wat deur die Hof geïdentifiseer is en om hierdie onregte sover moontlik reg te stel”.
Hierdie verreikende besluit maak gunstige verwysing na nege hooggeregshof-oorwinnings van Jehovah se Getuies in Japan, Kanada, Rusland, Spanje, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State, sowel as na agt vroeëre beslissings wat deur die EHMR ten gunste van Jehovah se Getuies gelewer is. Die hof het sodoende bevestig dat die EHMR nog steeds meen dat die vroeëre sake korrek beoordeel is. Die hof het na die Europese Konvensie oor Menseregte en vroeëre beslissings verwys en gesê dat Jehovah se Getuies nie skuldig is aan enige van die aanklagte wat die Russiese owerheid teen hulle gebring het nie.
“Die gemeenskap van Jehovah se Getuies wat aansoek gedoen het”, het die hof gesê, “het al meer as twaalf jaar, van 1992 tot 2004, in Moskou bestaan en wetlik gefunksioneer. Gedurende die hele tydperk van wettige bestaan is hierdie gemeenskap, hulle ouer manne en individuele lede nog nooit skuldig bevind aan enige kriminele of administratiewe oortreding of siviele misdryf nie.” Die hof het dus beslis dat die regte van Jehovah se Getuies geskend is en dat, soos dit verder gesê het, “die Staat wat voor die hof gedaag is, ’n wetlike verpligting het . . . om maatreëls in te stel wat deel van hulle binnelandse regsorde moet vorm om ’n einde te maak aan die skending wat deur die Hof bevind is”.
Op 9 September 2010 het die Russiese regering gevra dat die geskil na die hof se Groot Kamer verwys word, ongetwyfeld as ’n sloertaktiek sodat hulle nie onmiddellik aan die beslissing hoef te voldoen nie. Hetsy dit Jehovah se wil is dat die Groot Kamer die saak hersien of nie, ons kan seker wees dat ’n groot getuienis gegee sal word.
Serwië
Ná ’n regstryd van byna vier jaar het die Serwiese Departement van Godsdienssake “Jehovah se Getuies—Christelike Godsdiensgemeenskap” uiteindelik by die Register van Kerke en Godsdiensgemeenskappe in Serwië gevoeg. Die departement het voorheen drie aansoeke om registrasie van die hand gewys, hoewel groepe Internasionale Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies vroeër bekend gestaan het, al sedert die 1920’s in die gebied teenwoordig is. Maar nadat die Serwiese Hooggeregshof twee besluite in ons guns geneem het, het die Departement van Godsdienssake die versoek om registrasie toegestaan.
In die verlede het teenstanders—met behulp van die media—Jehovah se Getuies dikwels as ’n gevaarlike sekte probeer uitbeeld. Registrasie as ’n godsdiensgemeenskap sal opregtes in Serwië ongetwyfeld help sien dat Jehovah se Getuies goeie burgers is wat die wet respekteer en geen bedreiging vir die gemeenskap of vir individue inhou nie. Die eerste positiewe resultaat van hierdie registrasie is dat Bybellektuur en ander items wat in verband met vergaderinge en die predikingswerk gebruik word, sonder enige tol of belasting ingevoer kan word.
Slowenië
Op 27 November 2009 is “Jehovah se Getuies—Christelike Godsdiensgemeenskap” by die Republiek van Slowenië se register van kerke en ander godsdiensgemeenskappe gevoeg. Die direkteur van die regering se Kantoor vir Godsdiensgemeenskappe het ons verteenwoordigers in kennis gestel dat “Jehovah se Getuies —Christelike Godsdiensgemeenskap” die agtste uit 40 godsdiensorganisasies en -groepe in Slowenië is om suksesvol onder die nuwe Wet op Godsdiensvryheid te herregistreer. Hierdie registrasie sal voltydse bedienaars in staat stel om sekere voordele te ontvang wat die regering toestaan aan al dié wat voltyds aan godsdiensbedrywighede deelneem.
Turkye
Jehovah se Getuies in Mersin het hulle Koninkryksaal al sowat 20 jaar lank gebruik. Toe, in Augustus 2003, is dit deur die owerheid gesluit omdat dit na bewering nie aan ’n soneringswet voldoen het nie. Ten spyte van die broers se pogings om die saak op te los deur hulle op die howe te beroep, het Turkye se hoogste hof die appèl op 30 Desember 2009 verwerp ten gunste van Mersin se goewerneurskantoor. ’n Aansoek is nou by die EHMR ingedien.
BROEDERLIKE LIEFDE IN AKSIE IN HAÏTI
Op 12 Januarie 2010 het ’n kragtige aardbewing Haïti se hoofstad, Port-au-Prince, en die omliggende gebiede vernietig. Honderdduisende het gesterf, en baie meer is ontwortel. Etlike duisende Getuies van Jehovah het hulle huise verloor, en 154 het hulle lewe verloor. Baie ander is ernstig beseer of het ’n noue ontkoming gehad.
Acloque was by die huis toe die aardbewing plaasgevind het. Mure het verbrokkel, boublokke het soos domino’s geval, en hy is vasgepen tussen die vloer en die plafon wat ineengestort het. Hy was egter nie ernstig beseer nie en het in die donkerte begin rondtas. “Ek het die buitekant van ’n wateremmer gevoel”, vertel Acloque. “Ek kon dit nie beweeg nie, maar ek kon my vingers in die water steek en ’n paar druppels water na my lippe bring. Ek het ook ’n los klip gevind waarmee ek teen iets gekap het in die hoop dat iemand my sou hoor en kom help.” Hy het om hulp begin bid en aangehou om met die klip te kap en te wag.
“Ek was sonder ’n horlosie en het geen idee gehad hoe laat dit is nie”, sê Acloque. “Aan die begin het ek gehuil en Jehovah gesmeek om my te red. Maar met verloop van tyd het my gebede verander. ‘Ek weet dat u my sal opwek’, ek het gebid. ‘Maar ek is nog ’n jong man! As ek nie doodgaan nie, kan ek aanhou om u te dien.’”
Mettertyd het Acloque gevoel dat die dood begin nader kom, en uiteindelik het hy nie eers die krag gehad om met die klip te kap nie. Toe het hy bewusteloos geraak.
Toe Acloque bykom, was ’n reddingspan van Getuies besig om by hom te probeer uitkom. “Skielik het die beton by my been weggeval”, vertel hy. “Ek het besef dat die volgende slag my knie sou tref, en daarom het ek deur die opening in die donkerte gestrek en die reddingswerker se arm gegryp.” Kort voor lank was Acloque vry. Hy was vier dae lank onder die puin.
ONMIDDELLIKE NOODLENIGINGSPOGINGS
Binne 24 uur van die aardbewing het die eerste Getuiedokter vanaf die takkantoor in die Dominikaanse Republiek daar aangekom. Hy is gevolg deur ’n bestendige stroom mediese en noodlenigingswerkers wat Getuies is, en baie geskenkte materiaal is ook gestuur. ’n Veldhospitaal is gou op die takkantoor se eiendom opgerig, en meer as 1 000 Getuies en nie-Getuies is daar behandel.
Onder die pasiënte was daar twee jong vrouens wat albei hulle regterarm verloor het. “Soos al die ander ongetroude pasiënte wat ledemate verloor het”, vertel Mylène, ’n vrywilliger by die takkantoor, “was hulle bang dat hulle nooit sou kon trou of ’n gesin sou kon hê nie.” Mylène het dus in verbinding getree met ’n suster in Frankryk wat sy ken en wat as kind ’n arm in ’n motorongeluk verloor het, en het haar gevra om die twee vroue aan te moedig. Die suster in Frankryk het foto’s van haar saam met haar man en twee pragtige kinders via e-pos gestuur. Dit was vir die twee jong pasiënte baie vertroostend om dit te sien, en nou pas die susters goed by hulle nuwe omstandighede aan.
Benewens kos, klere en medisyne het oorlewendes ook behuising dringend nodig gehad. Getuievrywilligers uit Haïti en ander lande het meer as 1 700 tydelike blyplekke ontwerp en opgerig om skuiling teen die reën en ’n mate van veiligheid te voorsien aan Getuiegesinne wie se huise vernietig is. Teen Junie het die noodlenigingspanne tydelike Koninkryksale begin oprig, en in Julie het die owerheid die eerste boupermitte vir die bou van permanente Koninkryksale uitgereik.
FISIESE, EMOSIONELE EN GEESTELIKE GENESING
In Maart het ’n Getuiedokter wat in die behandeling van posttraumatiese stresversteuring spesialiseer, vergader met die ouer manne van die 115 gemeentes wat deur die aardbewing geraak is. Die dokter het die ouer manne praktiese raad gegee oor hoe hulle geestelike ondersteuning aan emosioneel getraumatiseerde gemeentelede kan verleen. Daarna het die dokter individuele hulp verleen aan meer as 100 broers en susters wat gespesialiseerde behandeling nodig gehad het.
Kort ná die aardbewing het David Splane van die Bestuursliggaam na Haïti gereis om vertroosting en aanmoediging te voorsien. Broer Splane, wat Frans kan praat, het die broers by ’n kringbyeenkoms toegespreek en het ook die Bethelgesin, sendelinge en kringopsieners besoek. Almal het sy liefdevolle belangstelling en die tere sorg van die Bestuursliggaam baie waardeer.
Ten spyte van skynbaar onoorkombare struikelblokke is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Haïtiaanse Kreools voltooi, gedruk en na die takkantoor gestuur. Die nuwe Bybels het slegs ure voordat dit by die streekbyeenkoms in Julie vrygestel sou word, daar aangekom. Gedurende die gebeure van 2010, van die aanvanklike noodlenigingspogings tot nou toe, het al die betrokkenes Jehovah se volgehoue leiding en ondersteuning in groot sowel as klein dinge gesien. Keer op keer het die nodige voorrade, vervoer en werkers beskikbaar geword op net die regte tyd en op maniere wat net te ideaal was om blote toeval te wees. Om dit te stel in die woorde van ’n sendeling wat al lank dien: “Jy moes eenvoudig daar gewees het om te sien hoe duidelik dit is dat Jehovah se hand dinge rig.”
TAKKANTOORTOEWYDINGS STREK GOD TOT EER
Vir Jehovah se Getuies op die Salomonseilande was 13 Februarie 2010 ’n onvergeetlike dag. Stephen Lett, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die toewydingstoespraak by die nuwe takkantoor gehou. Die eerste plaaslike Getuie, Clement Fa’abasua, was onder die 368 teenwoordig. ’n Maand tevore is daar ’n ope dag gehou vir diegene wat in die omgewing van die nuwe takkantoor woon, en 273 mense het op toer gekom. Een van die besoekers, ’n argitek, het in die vernaamste nasionale koerant geskryf: “Alles in ag geneem, verdien die hele [takkantoor se] fasiliteit die hoogste lof. Dit dien as ’n voorbeeld om die gemeenskap op die Salomonseilande te wys wat hier gedoen kan word, ongeag vir wie die gebou bedoel is. Die ontwerper, die gesamentlike werksmag en die huidige bestuurders het as ’t ware ’n juweel in ’n paradys geskep.”
’n Onvergeetlike toewydingsprogram is op Saterdag 3 April 2010 by die takkantoor in Estland gehou. Die 438 teenwoordig het die program baie geniet, insluitende die toewydingstoespraak deur Christian Muntean, van die Griekse takkantoor. ’n Dubbelverdiepinggebou op ’n eiendom langs die takkantoor is by ’n plaaslike watermaatskappy gekoop. Noudat dit omgebou is, bevat dit klank- en videostudio’s sowel as ’n klaskamer vir skole, soos die Bybelskool vir Ongetroude Broers.
Die toewydingsprogram van die takkantoor in die naburige Letland is op 10 April 2010 gehou. Nadat die goeie nuus die eerste keer in 1918 in Letland verkondig is, is ons werk dekades lank hewig teëgestaan. Maar nou floreer die predikingswerk in Letland, en 248 afgevaardigdes uit nege lande het met die plaaslike broers en susters bymekaargekom om na Christian Muntean se toewydingstoespraak te luister.
Op Saterdag 8 Mei 2010 het meer as 2 200 die toewydingstoespraak geniet wat deur Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam by die takkantoor in Paraguay gehou is. ’n Woongebou met 32 kamers en ’n nuwe kantoorkompleks is opgerig, en die huidige woongebou is herstel en omgebou. Daarbenewens is ’n ondergrondse watertenk van 40 000 liter gebou. Plaaslike owerhede was van die begin af baie tevrede met die gehalte van die werk wat deur internasionale en plaaslike vrywilligers gedoen is. Een amptenaar het gesê dat hulle baie probleme ondervind het met ander godsdiensgeboue, maar dat Jehovah se Getuies daarvoor bekend staan dat hulle alles reg doen. Gevolglik was dit nooit moeilik om die boupermitte vir die takkantoor te verkry nie.
Byna 500 broers en susters uit 12 lande het op Saterdag 29 Mei 2010 by die takkantoor in Papoea-Nieu-Guinee vergader om te luister na die toewydingstoespraak wat deur Winston Payne, van die Australiese takkantoor, gehou is. Die uitgebreide takfasiliteite sluit ’n vierverdiepinggebou in met slaapkamers, ’n eetsaal, ’n kombuis en ’n wassery, asook ’n dienstegebou met ’n Koninkryksaal en ’n ruim vertaalkantoor. In die gehoor was ’n groep Getuies wat ses dae lank oor ruwe berge gestap het om die geleentheid by te woon. Die groep het tradisionele Orokaiva-kleredrag gedra en ander besoekers hartlik verwelkom deur te dans en te sing. Een suster wat al jare getrou dien, het met trane in haar oë die gevoelens van baie opgesom toe sy gesê het: “Vandag voel dit asof ek reeds in die Paradys is!”
‘BLY VEEL VRUG DRA’
Dit ly geen twyfel nie dat die verenigde pogings van Jehovah se Getuies God steeds tot eer strek. “My Vader word hierin verheerlik”, het Jesus gesê, “dat julle veel vrug bly dra en toon dat julle my dissipels is” (Joh. 15:8). Met Jehovah se seën en liefdevolle leiding sal hulle daarna streef om te “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl [hulle] voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk en toe te neem in die juiste kennis van God, en om na die mate van sy glorieryke mag kragtig gemaak te word met alle krag om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde”.—Kol. 1:10, 11.
[Prent op bladsy 8]
Natsoei het die Bybel weer begin studeer
[Prente op bladsy 11]
Navorsers gaan inligting noukeurig na
[Prent op bladsy 13]
Korea
[Prent op bladsy 14]
Mexiko
[Prente op bladsy 14]
Suid-Afrika
[Prent op bladsy 15]
Stephen Lett by een van die internasionale byeenkomste in Hawaii
[Prent op bladsy 22]
Dmitri Smik
[Prent op bladsy 25]
Evangelos Delis
[Prent op bladsy 25]
Die sertifikaat wat deur die Departement van Justisie uitgereik is
[Prent op bladsy 33]
Mediese personeel wat Getuies is, het kort ná die aardbewing op Haïti aangekom
[Prent op bladsy 33]
Getuievrywilligers van Haïti en oorsee het meer as 1 700 tydelike blyplekke ontwerp en opgerig
[Prent op bladsy 34]
Die “Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte” is in Haïtiaanse Kreools vrygestel
[Prent op bladsy 36]
Uitbreiding by die Estiese takkantoor
[Prent op bladsy 37]
Die takkantoor in Paraguay
[Prente op bladsy 37]
Winston Payne het die toewydingstoespraak vir die takkantoor in Papoea-Nieu-Guinee gehou