Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb12 bl. 56-86
  • Aardwye predikings- en onderrigtingswerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aardwye predikings- en onderrigtingswerk
  • 2012 Jaarboek van Jehovah se Getuies
2012 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb12 bl. 56-86

Aardwye predikings- en onderrigtingswerk

DIE apostel Johannes het lank gelede ’n groot en ontelbare menigte “uit alle nasies en stamme en volke en tale” in ’n profetiese visioen gesien. Hierdie mense is geïdentifiseer as oorlewendes van “die groot verdrukking”, wat in God se nuwe wêreld ingaan (Op. 7:9, 14). Die syfers en ondervindinge op die volgende bladsye toon nie net dat die groot menigte ingesamel word nie, maar ook dat hulle al hoe talryker word. Versterk dit nie jou geloof in die sekerheid van Jehovah se beloftes nie?

AFRIKA

LANDE 57

BEVOLKING 949 533 064

VERKONDIGERS 1 267 314

BYBELSTUDIES 2 819 310

HAAR BRIEF HET HOM VERTROOS. Iris, wat in Suid-Afrika woon, skryf briewe van meegevoel aan mense wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Sy sluit die traktate Alle lyding sal binnekort eindig! en Watter hoop vir afgestorwe dierbares? by haar briewe in. Sy het onlangs ’n antwoord ontvang van ’n man met die naam Sidney, wie se vrou ná ’n gelukkige huwelik van 38 jaar gesterf het. “Hoewel die dokters my op die uiteindelike dood van my liewe vrou voorberei het”, het hy geskryf, “het haar dood my ietwat verbitterd, verward, onseker en diep bedroef gelaat. Ek moet die Here dank vir mense soos jy. Dit is werklik baie edelmoedig van jou om die tyd te neem en die moeite te doen om volslae vreemdelinge van God se beloftes te vertel, en ek sal jou woorde van geloof as ’n skat in my hart bewaar in die moeilike tyd wat voorlê. Toe ek jou brief en traktate gelees het, het dit my vir die eerste keer ’n mate van kalmte en begrip gebied.”

’N ABORSIE IS VOORKOM. Gloria, ’n jong suster in Benin, het vir Arnaud, ’n universiteitstudent, getuig toe sy selfoon lui. Arnaud het gevra om verskoon te word en gesê dat hy ’n vriend moet gaan help. Gloria het gou haar hand in haar velddienssak gesteek, die eerste tydskrif wat sy gevind het, uitgehaal en dit vir hom gegee. Arnaud het dit gevat sonder om daarna te kyk en is daar weg.

Arnaud se vriend het gebel om te sê dat sy meisie swanger is en dat hy daaraan dink om haar te dwing om ’n aborsie te ondergaan. Op pad na hom toe het Arnaud vir die eerste keer na die tydskrif gekyk. “Ek kon my oë nie glo toe ek die woord ‘aborsie’ op die voorblad sien nie”, het hy later gesê. Gloria het vir hom die Ontwaak! van Junie 2009 gegee, met die voorbladreeks “Aborsie—Waarom is dit so ’n geskilpunt?” Nadat Arnaud se vriend dit gelees het, het hy besluit dat ’n aborsie buite die kwessie is. Sy meisie het later geboorte gegee aan ’n pragtige babadogtertjie.

DIT WAS NIE NODIG OM DIE TOORDOKTER TE VREES NIE. King, ’n gewone pionier, het na ’n gebied in Zimbabwe getrek waar hulp nodig is. Terwyl hy saam met ’n paar susters velddiens gedoen het, het hulle by die huis van ’n bekende toordokter gekom. Hoewel die susters gehuiwer het om met hierdie vrou te praat, het King besluit om vir haar ’n tuisbybelstudie aan te bied. Toe die toordokter die verkondigers sien nader kom het, het sy aangeneem dat hulle kliënte is en gevra wat hulle wil hê. King het vir haar die boek Wat leer die Bybel werklik? gewys en vir haar ’n tuisbybelstudie aangebied. Sy het dit aanvaar. “Ons was verbaas oor al die vrae wat sy gehad het”, het King gesê. “Ons het dus gereël om ’n herbesoek te doen en die studie te hou.” Drie weke later het hulle haar na ’n gemeentelike vergadering genooi, en sy het gekom. Sy het al haar spiritistiese voorwerpe vernietig en het vinnig geestelike vooruitgang gemaak. Sy is ’n paar maande later gedoop.

“BID ASSEBLIEF DAT HULLE MY KOM BESOEK!” Tien jaar gelede het Patrick besluit om van Angola na die Verenigde State te trek. Hy het sy ma, Felicidade, egter gereeld gebel. Maar onlangs kon hulle mekaar sien danksy ’n video-oproep oor die Internet. Terwyl hy met haar gesels het, het hy iemand anders in die vertrek gesien en gevra wie dit is. Felicidade, wat een van Jehovah se Getuies is, het gesê: “Dit is ’n suster in my gemeente wat vir my kom kuier het.”

Patrick het gesê: “Waarom besoek die Getuies my nie? Ek is al tien jaar hier, en hulle was nog nie een keer by my nie. Bid asseblief dat hulle my kom besoek!”

Felicidade en die suster by haar was effens verbaas en het gesê: “Goed, ons sal vir jou bid.”

Slegs drie dae later het een van Jehovah se Getuies aan Patrick se deur geklop. Patrick was so verbaas dat hy vir sy ma gevra het of sy gereël het dat iemand in die Verenigde State hom besoek. Sy het nie. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die besoek ’n antwoord van God is en het ’n Bybelstudie aanvaar. Hy het onmiddellik al die vergaderinge begin bywoon. Die volgende keer toe hy sy ma deur middel van ’n video-oproep sien, het hy haar met trots die hoofstuk in die Leer Bybel-boek gewys wat hy studeer. Hy het ook vir haar gesê dat hy ’n pak gekoop het om na die vergaderinge te dra.

’N VREEMDE DOOPVERSOEK. Aan die begin van die streekbyeenkoms in 2010 in Brazzaville, die Republiek van die Kongo, het ’n jong man, Edvard, gesê dat hy gedoop wil word. Toe hy gevra is in watter gemeente hy is, het hy geantwoord: “Mossaka.” Aangesien daar geen Getuies in hierdie afgeleë dorpie was nie, het die broers gewonder hoe hy die punt bereik het dat hy gedoop wil word.

Edvard het aan die ouer manne verduidelik dat sy oupa in 2007 die Vereis-brosjure asook 14 hoofstukke van die Leer Bybel-boek in Brazzaville met hom gestudeer het. Toe het Edvard na Mossaka getrek om by sy ouers te woon. Aangesien daar geen bedrywige Getuies daar was nie, het Edvard sy pa gevra om hom te help om die res van die Leer Bybel-boek te studeer. Sy pa het die vrae gevra, en Edvard het die antwoorde gegee. Op dié manier het Edvard die boek voltooi. Hy het toe gevoel dat hy ander moet leer wat hy van die waarheid weet. In Oktober 2009 het hy dus alleen in die Mossaka-omgewing begin preek deur die Vereis-brosjure te gebruik. Hy het die tyd neergeskryf wat hy in die bediening deurgebring het en gereeld sy rapport aan sy oupa in Brazzaville gestuur. Maar die oupa het dit nooit vir die gemeente gegee nie.

Later het die takkantoor, sonder dat hulle van Edvard geweet het, tydelike spesiale pioniers vir drie maande na Mossaka gestuur. Net twee dae voordat hulle daarvandaan sou terugkeer, het Daniel, een van die tydelike spesiale pioniers, Edvard ’n Bybelstudie uit die brosjure Wat vereis God van ons? sien hou. Daniel het dus na Edvard toe gegaan en met hom gepraat. Edvard het vir hom gesê: “Ek preek. Ek is ’n verkondiger. Jy kan my pa vra.” Daniel is na Edvard se pa toe, en hy het bevestig wat Edvard gesê het. Die tydelike spesiale pioniers het die bietjie tyd wat hulle oorgehad het, gebruik om Edvard in die bediening op te lei. Nadat hulle daar weg is, het Edvard voortgegaan om met hernieude ywer te preek, en hy het meer as tien Bybelstudies gehou. Hy het ook sy lewe aan Jehovah toegewy.

In die lig van hierdie agtergrondinligting het twee ouer manne op die Vrydag van die voorgemelde streekbyeenkoms met Edvard vergader en die vrae vir diegene wat ongedoopte verkondigers wil word, met hom deurgegaan. Sy uitstekende antwoorde het hulle verstom. Die ouer manne het by die spesiale pioniers verneem dat Edvard se gedrag voorbeeldig is en dat hy alreeds nege maande lank nie-amptelik preek. Gevolglik is hy as ’n ongedoopte verkondiger goedgekeur. Omdat daar die volgende naweek ’n Lingala-streekbyeenkoms sou wees, het die ouer manne gereël dat Edvard die doopvrae gedurende die week tussenin deurgaan. Hy het getoon dat hy ’n goeie begrip van die waarheid het en is in Julie 2010 by die Lingala-streekbyeenkoms gedoop. Toe, presies een week nadat hy as ’n ongedoopte verkondiger goedgekeur is, het die ouer manne die aankondiging gemaak dat Edvard ’n gedoopte broer is.

Ná sy doop het hy twee maande lank in Brazzaville as ’n hulppionier gedien. Die ouer manne het reëlings getref sodat hy die boek ‘Hou julle in God se liefde’ kon studeer, en toe het hy na Mossaka teruggekeer. ’n Spesiale pionier is onlangs aangestel om in hierdie gebied te dien. In April het Edvard—wat toe ’n hulppionier was—en die spesiale pionier 182 belangstellendes by die Gedenkmaal verwelkom. Edvard het 16 studies. Sewe van hulle woon die vergaderinge by, wat deur die twee broers gehou word. In 2011 was Edvard 15 jaar oud.

DIE AMERIKAS

LANDE 55

BEVOLKING 941 265 091

VERKONDIGERS 3 780 288

BYBELSTUDIES 4 139 793

‘EK HET NIE TOEVALLIG JOU NOMMER GESKAKEL NIE.’ Sundie, ’n suster in die Verenigde State, was tuis toe die telefoon lui en ’n vrou vra om met iemand te praat wat Sundie nie ken nie. Sy het vir die vrou gesê dat sy seker die verkeerde nommer geskakel het. Die vrou het gesê dat sy feitlik blind is en soms foute maak. Hulle het begin gesels, en die vrou het verduidelik dat sy haar seun probeer bereik met ontstellende nuus. Die dokters het ontdek dat sy kanker het. Die vrou was verpletter en het gesê dat sy gefrustreerd is met God omdat hy toegelaat het dat dit met haar gebeur. Sundie het besef dat sy die vrou van die Bybel se boodskap moet vertel. Nadat sy gou vir moed gebid het, het Sundie ’n paar aanmoedigende tekste bespreek wat vir die vrou vertroosting en hoop sou gee. Sy het verduidelik dat God ’n naam het en het die vrou aangemoedig om sy naam te gebruik wanneer sy bid en om spesifiek te wees in haar gebede tot hom. Die vrou het Sundie bedank dat sy geluister het, asook vir die aanmoediging. “Ek dink nie dis toevallig dat ek jou nommer geskakel het nie”, het sy gesê.

Nadat hulle adresse uitgeruil het, het Sundie ’n oudio-opname van die Leer Bybel-boek aan haar gepos en gereël dat ’n pioniersuster in die vrou se gebied haar besoek. Sundie het gesê: “Ek is dankbaar dat Jehovah ons uit liefde soveel opleiding gee om mense in allerhande situasies te vertroos.”

DIE TRAKTAAT HET HULLE VRAAG BEANTWOORD. Party susters doen gereeld straatwerk by ’n groot mediese sentrum in Puerto Rico. Een van hulle het twee mans genader wat vinnig na een van die hospitale gestap het. Omdat sy kon sien dat hulle haastig is, het sy vir hulle die traktaat Het jy ’n gees wat na die dood voortleef? aangebied. Sy bied nie gewoonlik hierdie traktaat aan terwyl sy straatwerk doen nie, maar dit was die enigste een wat sy by haar gehad het. Later het die twee mans ’n ander suster genader en verduidelik dat hulle die traktaat ontvang het toe hulle op pad was om ’n familielid te besoek wat ernstig siek was. Hulle het juis die vraag bespreek of die gees ná die dood voortleef, en die traktaat het dit beantwoord. Hulle het gesê dat dit hulle baie gehelp het.

’N BRIEF AAN JEHOVAH. Die sewejarige Joshua gaan in die Verenigde State skool. In Desember is hy en sy klasmaats deur hulle onderwyseres gevra om ’n brief aan Kersvader te skryf. Toe Joshua beleefd weier om dit te doen, het sy onderwyseres gesê: “Skryf aan enigiemand.” Hy het besluit om ’n brief aan Jehovah te skryf. “Dankie dat u ’n paradys belowe het”, het Joshua geskryf. “Dankie dat u ’n Seun het, wie se naam Jesus is, wat sy lewe opgeoffer het. Dankie dat u dinge geskep het wat ons kan geniet. Ek is lief vir u, Jehovah God.” Hierdie brief, sowel as die briewe van die ander leerlinge, is in ’n plaaslike koerant gepubliseer.

FAMILIELEDE HET GUNSTIG GEREAGEER. Alejandro, ’n broer in Colombia, wou vir sy familielede preek. Omdat hulle ver van hom af gewoon het, het hy aan hulle geskryf en vir hulle ’n paar eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! gestuur. Toe sy familielid Pablo die tydskrifte gelees en die Bybeltekste nageslaan het, het hy besef dat die leringe van die Katolieke Kerk vals is. Hy het ander in die familie met groot opgewondenheid vertel wat hy geleer het; hulle het ook besef dat dit die waarheid is en het die Katolieke Kerk verlaat.

Dit was nie lank nie of 15 familielede het elke aand bymekaargekom om die Bybel met behulp van die tydskrifte te bestudeer. Omdat hulle meer wou leer, het hulle in nabygeleë dorpies na Getuies gesoek, maar tevergeefs. Intussen het hulle hulle bure begin vertel van die dinge wat hulle geleer het. Uiteindelik het hulle uitgevind dat daar ’n Koninkryksaal is in ’n dorpie ongeveer ’n uur se ry van hulle af. Hulle is onmiddellik soontoe en het hulp gevra.

’n Gewone pionier besoek hulle nou een keer per week en hou een Bybelstudie met 26 mense—Alejandro se familielede en 11 ander belangstellendes. Hulle huur ’n voertuig sodat die meeste van hulle die openbare toespraak en die Wagtoring-studie kan bywoon.

WAS DIT WERKLIK DIE VERKEERDE HUIS? Eendag was ’n suster siek en het sy ander Getuies gevra om vir haar ’n Bybelstudie in ’n Quechuasprekende gebied op die platteland in Ecuador te gaan hou. Die broers was nie seker waar die gesin woon nie en het by ’n sekere huis omtrent die Bybelstudie gaan vra. Die gesin daar het die broers hartlik verwelkom asof hulle hulle verwag het. Die broers het eers ná die studie besef dat hierdie gesin nog nooit tevore gestudeer het nie! Wat gebeur het, is dat hierdie gesin so verheug was oor die vooruitsig om ’n gesinsbybelstudie te hê dat hulle voorgegee het dat hulle reeds studeer. Daar word dus nou ’n nuwe Bybelstudie gehou, en die suster se Bybelstudente wat daardie dag nie gevind kon word nie, studeer ook nog.

’N KOLWYNTJIE LEI TOT ’N GETUIENIS. Caleb is ses jaar oud. Op die eerste skooldag in Kanada was dit een van sy klasmaats se verjaarsdag en het die seuntjie se ma, Natalie, kolwyntjies vir die klas gebring. Caleb het beleefd geweier. Natalie het toe vir Caleb kom vra of hy aan voedselallergieë ly. “Nee”, het Caleb geantwoord, “ek dien Jehovah.”

Ná skool het Natalie na Caleb se ma toe gegaan en gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Toe sy ja sê, het Natalie opgewonde geraak. Sy het as tiener met die Getuies gestudeer, maar het opgehou weens hewige gesinsteenstand. Toe Natalie gevra is of sy weer die Bybel wil studeer, het sy ingestem.

DIT WAS NIE GOD SE WIL NIE. Laly, wat in Peru woon, is doof gebore. Toe sy haar ma gevra het waarom sy doof is, het sy vir haar gesê dat dit God se wil is. Dit het Laly hartseer gemaak en haar gegriefd teenoor God laat voel. ‘Waarom het hy my sleg behandel?’ het sy gewonder.

Jare het verloop, en Laly het met ’n jong dowe man getrou. Hulle eerste kind is met Downsindroom gebore. Sy was bekommerd en ontsteld en het haar ma weer om hulp genader en gevra: “Waarom is my seuntjie so gebore?” Haar ma het haar na ’n priester toe gestuur. Die priester het haar dieselfde antwoord gegee as haar ma: “Dit is God se wil.”

Laly was radeloos en het gesê: “Waarom is God so wreed? Ek aanvaar dat ek doof is en dat God my so gestraf het, maar waarom straf hy my seuntjie? Hy is maar net ’n baba. Watter sonde het hy gepleeg?” Van toe af wou sy niks van God hoor nie en het sy die kerk verlaat.

’n Paar jaar later het een van Jehovah se Getuies wat gebaretaal ken, aan Laly se deur geklop en aangebied om haar die Bybel te leer. Sy het die aanbod van die hand gewys en gesê dat sy nie in God glo nie. Die suster het geduldig aan haar verduidelik dat die naam van die God wat sy nie wil leer ken nie, Jehovah is en dat hy bereid is om haar die geleentheid te bied om haar gehoor en spraak te herwin. Laly het dit betwyfel en het haar gevra om dit te bewys. Die suster het die Bybel by Jesaja 35:5 oopgemaak en gelees: “Die oë van die blindes [sal] geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word.” Dit het Laly verbaas. Sy het ’n Bybelstudie aanvaar en tot doop gevorder. Haar seun gaan saam met haar na al die vergaderinge, en hy het gebaretaal geleer. Haar waardering vir die Bybel se beloftes neem steeds toe, en sy dien nou as ’n gewone pionier.

ASIË EN DIE MIDDE-OOSTE

LANDE 47

BEVOLKING 4 194 127 075

VERKONDIGERS 664 650

BYBELSTUDIES 629 729

TWEE VRAE WAT HULLE NIE KON BEANTWOORD NIE. In ’n Asiatiese land waar daar beperkings op ons werk is, het ’n 24-jarige man ’n Bybelstudie aanvaar om te bewys dat die Getuies se leringe verkeerd is en dat sy Katolieke opvattings reg is. Hy het egter gou besef dat Jehovah se Getuies die waarheid leer.

Toe sy familie uitvind dat hy die Bybel bestudeer, het hulle hom na ’n familiebespreking ontbied en druk op hom geplaas om na die Katolieke Kerk terug te keer. Omdat die jong man geweier het, het sy familie al hulle familielede in die dorpie bymekaargeroep om hom te dwing om sy nuwe opvattings te laat vaar. Al het hulle die man geslaan, het hy nie ingegee nie. Sy familie het hom toe by die priester gaan aankla, wat hom voor die kerkraad gebring het. Die man het vir die raad gesê dat hy na die kerk sal terugkeer as die priester twee vrae kan beantwoord: Wat is God se naam? Waarom laat die kerk toe dat sy lidmate bloed eet al verbied die Bybel dit? Omdat die priester nie een van die twee vrae kon beantwoord nie, het hy die jong man in die gesig geklap om, soos hy dit gestel het, “die demoon in hom uit te dryf”. Die vergadering het toe geëindig.

Daarna het die man se familie al hulle vriende bymekaargeroep om hom te dwing om voor ’n beeld van Maria te kniel. Hoewel hulle hom weer geslaan het, het hy geweier om dit te doen. Toe het die familie gereël dat ’n aantreklike meisie vir hom sê dat sy met hom sal trou as hy na die kerk terugkeer. Die jong man het vir haar gesê dat hy sal terugkeer as sy die twee vrae kan beantwoord wat hy die priester gevra het. Die meisie is daar weg en het nooit teruggekom nie. Uiteindelik het die man, nadat hy sewe maande lank teen sy sin aangehou is, uit die dorpie ontsnap en na die stad teruggekeer, waar hy met die broers in aanraking gekom het. ’n Maand later het hy ’n ongedoopte verkondiger geword. Hy is in Maart 2011 by ’n kringbyeenkoms gedoop.

GEVANGENISBEAMPTE VERDEDIG ’N SUSTER. ’n Suster wat ’n gewone pionier is, het haar seun besoek wat weens sy Christelike neutraliteit in Suid-Korea opgesluit is. Terwyl sy in die wagkamer gesit het, het sy ’n traktaat vir ’n man langs haar gegee. Die man het toe op haar geskreeu en gesê: “Waarom preek julle mense van hierdie valse godsdiens selfs in hierdie plek?” Die man se geskreeu het die aandag getrek van die 30 of 40 besoekers in die vertrek. Toe het ’n gevangenisbeampte die man berispe en gesê: “Hulle is mense van die ware godsdiens. Al die ander godsdienste is vals. Ek hou hierdie mense al jare lank dop terwyl ek by hierdie tronk werk, en ek het besef dat hulle die enigstes is wat werklik beoefen wat hulle geleer word.” Die onbeskofte man is op sy plek gesit.

SKRIF TEEN DIE MUUR. Toe Harindra die Bybel begin studeer het, het hy reeds tien jaar op sy eie gewoon omdat hy in ’n groot stad in Nepal gaan werk het om sy gesin in sy tuisdorpie te onderhou. Omdat die man ongeletterd was, het ’n Getuie die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! gebruik om die Bybel met hom te studeer. Aangesien hierdie brosjure toe nog nie in Nepalees beskikbaar was nie, het hulle ’n Engelse een gebruik. Eendag het die man se vrou uit die dorpie vir hom kom kuier. Sy was verbaas om haar man ’n Engelse brosjure te sien studeer. Hy het ook opgehou drink en het haar nie meer geslaan nie. Toe sy uitvind dat al hierdie veranderinge die gevolg is van Harindra se Bybelstudie, het sy ook die Bybel begin studeer en die vergaderinge in haar dorpie bygewoon. Harindra wou meer van Jehovah leer en het dus besluit om te leer lees en skryf. Hy het sy Bybelstudiehouer gevra om Nepalese letters op stukke papier te skryf, wat hy op sy kamermure geplak het totdat daar niks meer plek was nie. Hy het toe al die nuwe woorde en letters geoefen totdat hy uiteindelik kon lees. Later het hy gereël dat sy gesin by hom in die stad kom woon sodat hulle Jehovah almal saam kan aanbid. Hy is binne twee jaar gedoop. Nou woon Harindra en sy gesin saam die vergaderinge by, en hy behartig Bybelleesgedeeltes op die Teokratiese Bedieningskool. Hy sê: “Ons lewe het geweldig verbeter danksy Jehovah se onderrigting.”

NIE VIR R1 500 000 NIE. Zarhanoem, wat in Azerbeidjan woon, was diep betrokke by spiritisme. Daar is 15 jaar lank gemeen dat sy buitesintuiglike waarnemingsvermoëns het en die toekoms kan voorspel. Mense het ook geglo dat sy die vermoë het om towerspreuke ongedaan te maak en om mense te genees. Zarhanoem was beroemd, en baie van haar kliënte—hooggeplaaste amptenare en hulle vrouens—het R15 000 tot R30 000 vir ’n séance betaal. Gevolglik het sy ryk geword. Hoewel sy spiritistiese vermoëns gehad het, het sy self geestelik arm gevoel, en baie vrae het haar gekwel. Haar huwelik het verbrokkel, en sy het geen doel in die lewe gehad nie. Terwyl sy eendag haar probleme wanhopig voor God uitgestort het, het sy ’n klop aan die deur gehoor. Sy het die deur oopgemaak, en twee susters het vir haar begin getuig. Dit het Zarhanoem diep getref toe hulle meld dat ’n mens God nie net in woord nie, maar ook in daad moet behaag. Sy het talle godsdienstige mense geken wie se dade glad nie godvrugtig is nie. Sy was ook daarvan bewus dat die spiritisme wat sy beoefen, ’n sonde is. Sy het ’n Bybelstudie aanvaar. Ná ’n ruk het sy Jehovah se naam in haar gebede begin gebruik en gesien hoe hy haar gebede verhoor. Dit was egter vir haar moeilik om haar gebruike te laat vaar—die demone het haar voortdurend gepla en haar selfs geslaan. Uiteindelik het sy, met Jehovah se hulp, van demoniese invloed losgebreek en al die voorwerpe wat haar met spiritisme en valse godsdiens verbind het, vernietig.

Zarhanoem het kort voor lank ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus geword, en sy is in Mei 2011 gedoop. Onmiddellik ná haar doop het sy aansoek gedoen om as ’n hulppionier te dien. Dit was glad nie vir haar moeilik om aan die uurvereiste te voldoen nie omdat sy reeds voor haar doop, ondanks swak gesondheid, meer as 70 uur per maand gepreek het. Twee maande voor haar doop het ’n regeringsamptenaar se vrou haar R1 500 000 aangebied om ’n towerspreuk ongedaan te maak. Die vrou het geglo dat die towerspreuk die oorsaak is van die siekte wat daartoe gelei het dat haar been afgesit is. Zarhanoem het geweier en het eerder twee Getuies na die hospitaal gestuur om hierdie vrou van die goeie nuus te vertel. Ons ywerige suster preek gereeld vir haar voormalige kliënte en sê vir hulle dat wat sy voorheen gedoen het, verkeerd is in God se oë. Gevolglik het een van hulle, dieselfde vrou wat haar aan die regeringsamptenaar se vrou voorgestel het, ’n Bybelstudie aanvaar en die vergaderinge begin bywoon.

GETUIENISWERK IN DIE TRONK. In Indië is twee van ons susters in hegtenis geneem omdat hulle aan die bediening deelgeneem het, en hulle is tot vyf dae tronkstraf gevonnis. Een van hulle vertel: “Kort nadat ons opgesluit is, het polisiebeamptes gevra waarom ons gevange gehou word, en dit het ons ’n goeie geleentheid gebied om vir hulle te getuig. Aangesien ons reguit van die veldbediening na die polisiestasie geneem is, het ons baie tydskrifte en traktate by ons gehad. Ons het vir almal getuig en heelwat lektuur versprei. Ons het mekaar aangemoedig, gebid en die publikasies wat ons by ons gehad het, gelees.

“Later is ons na ’n ander tronk in die stad verskuif. Van die gevangenes het ons onmiddellik gevra waarom ons daar is. Dit het ons die geleentheid gebied om hulle te vertel waaroor ons gepreek het en om ons as Jehovah se Getuies te identifiseer. ’n Tronkbewaarderes het ons hoor praat en gesê: ‘Julle is tronk toe gestuur omdat julle buite gepreek het, en nou preek julle binne-in die tronk!’” Ons susters beplan nou om terug te gaan en die gevangenes te besoek wat belangstelling in die waarheid getoon het.

DIE POLISIEMAN HET DIE LIEFDE OPGEMERK. Twee susters het op die punt gestaan om in ’n paar winkeltjies in Betlehem, Israel, te gaan getuig. Skielik het twee vroue hulle opgewonde genader en hulle in Spaans gevra of hulle Jehovah se Getuies is. Die vroue was Getuies uit Mexiko wat saam met ’n toergroep in Israel was, en hulle het die lektuur herken wat die susters in hulle hande gehad het. Die vier het mekaar omhels, gesoen, foto’s geneem en adresse uitgeruil. Daarna het die Mexikaanse susters weer by die toergroep aangesluit, en die twee plaaslike susters het die winkels toe gaan besoek.

’n Paar uur later het ’n polisieman na die plaaslike susters toe gekom en gevra of hulle Spaans is. Die susters het nee gesê. Die polisieman het gesê dat hy die vier se ontmoeting gesien het en dat hy gedink het dat hulle almal sekerlik ou vriende of familielede is. Die susters het verduidelik dat hulle almal Jehovah se Getuies is en dat Jehovah se Getuies, al is hulle van verskillende lande of het hulle mekaar nog nooit tevore ontmoet nie, soos familie voel omdat hulle liefde onder mekaar het. Die polisieman was so beïndruk dat hy lektuur geneem het en gevra het waar hy meer inligting oor hierdie godsdiens kan kry. ’n Herbesoek is gereël.

“DALK SAL DAAR IEMAND WEES.” Joesoeke is ’n jong pionier wat in ’n Engelse groep in Japan dien. Eendag het hy uitgevind dat ’n plesierboot met passasiers vanuit baie lande die volgende oggend in die hawe sou vasmeer. Hy het dus vroeg opgestaan en ondanks swaar reën twee uur lank na die hawe van Nagasaki gery. Terwyl hy in die reën alleen op die kaai gestaan het, het baie van die passasiers wat aan land gegaan het, gedink dat hy ’n toergids is en na hom toe geloop. Hierdie misverstand het Joesoeke in staat gestel om binne ’n halfuur 70 tydskrifte en 50 brosjures in verskeie tale te versprei.

Hy het teruggegaan na sy motor om nog lektuur te kry, en toe hy terugkom, het hy ’n jong passasier alleen sien staan. Toe Joesoeke by hom kom, het die jong man in Engels gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Joesoeke het ja gesê, en die man het begin huil. Joesoeke het hom na ’n restaurant geneem waar hulle kon gesels.

Die jong man, Jason, was 21 jaar oud. Hy het verduidelik dat sy ouers bedrywig is in die waarheid en dat hy tot in sy laat tienerjare ’n ongedoopte verkondiger was. Ongeveer ses maande vroeër het hy opgehou om met Jehovah se Getuies te assosieer en besluit om op ’n bootreis na ’n aantal Asiatiese lande te gaan, aangesien hy gedink het dat hy hulle nie in Asië sou teëkom nie. Weens ’n omgekrapte maag kon hy egter nie in Thailand, Viëtnam of Taiwan aan land gaan nie. Die eerste plek waar hy die boot verlaat het, was Japan, en die eerste persoon wat met hom gepraat het, was een van Jehovah se Getuies! Jason het onmiddellik gedink: ‘Ek kan nooit van Jehovah af weghardloop nie’, en daarom het hy begin huil.

In die restaurant het Joesoeke ’n paar paragrawe uit die ‘God se liefde’-boek met Jason bespreek om hom te verseker dat Jehovah hom nog steeds liefhet. Joesoeke het Jason gesmeek om nie die organisasie te verlaat nie. Hulle het ongelukkig baie min tyd saam gehad. Jason se boot het daardie selfde aand vertrek na Intsjon, Suid-Korea, waar Jason beplan het om ’n paar dae lank die besienswaardighede te besigtig.

Joesoeke het gewonder of daar nog iets is wat hy kan doen om Jason te help en het toe aan ’n broer gedink wat hy by ’n internasionale byeenkoms in Suid-Korea ontmoet het. Die broer het Engels gepraat en het in Intsjon gewoon. Daardie aand het Joesoeke hom dus gebel. Jason het natuurlik niks van hierdie verbintenis geweet nie. Toe Jason die volgende oggend van die boot afstap, het hy ’n groot teken gesien: “Welkom in Korea, Jason!” Vyf glimlaggende Getuies het dit in die lug gehou. Jason het sy besigtigingstoer gekanselleer en tyd saam met die broers deurgebring. Hy is diep geroer deur die ondervindinge wat hy gehoor het van jong broers van sy ouderdom wat weens hulle geloof opgesluit is. Hy het ook die Gedenkmaal daar bygewoon.

Jason het na die Verenigde State teruggekeer, weer ’n bedrywige verkondiger geword en die ouer manne gevra om vier keer per week met hom te studeer. Hy het sy studie van die Leer Bybel- en die ‘God se liefde’-boek voltooi en aan die vereistes vir doop voldoen. Hy is 107 dae ná sy gesprek met Joesoeke gedoop. Die volgende maand het hy hulppionierdiens gedoen.

Joesoeke vertel dat hy daardie koue, nat oggend ’n sterk begeerte gehad het om die hele pad Nagasaki toe te ry, al was daar niemand om saam met hom te gaan nie. Hy het geredeneer: “Dalk sal daar iemand wees wat luister.”

EUROPA

LANDE 47

BEVOLKING 736 505 919

VERKONDIGERS 1 589 052

BYBELSTUDIES 843 405

HULLE HET IETS BAIE SPESIAALS GEVIND. Ani het van Bulgarye na Holland gegaan om ’n paar maande daar te werk. Eendag het sy so mismoedig gevoel dat sy op die sypaadjie gaan stilstaan het en tot God gebid het om iemand van haar kerk na haar toe te stuur. Terwyl sy gebid het, het twee van ons susters gestop en vir haar getuig. Ani het dit as ’n antwoord op haar gebed beskou; sy het dus na hulle geluister en vergaderinge begin bywoon. Hoewel Ani nie die vergaderinge kon verstaan nie, kon sy die liefde van die Getuies duidelik sien. Dit was anders as die verdeeldheid in haar kerk in Bulgarye, en sy was oortuig dat sy iets baie spesiaals gevind het. Toe sy na Bulgarye terugkeer, het die suster wat met haar in Holland gestudeer het, besluit om saam met haar te gaan sodat sy haar kon help om met die Getuies in Sofia in aanraking te kom. Dit het Ani verder beïndruk, en sy het geglo dat sy die ware godsdiens gevind het.

Kort daarna het Ani en haar man, Iwo, saam begin studeer en vergaderinge bygewoon. Namate die studie gevorder het, het ander hulle studie kom bywoon. Een man, Assen, was die leier van ’n godsdiensgroep. Hy het Ani en Iwo besoek om te bewys dat Jehovah se Getuies verkeerd is, maar hy het gou ontdek dat dit nie die geval is nie. Hy het diep Bybelvrae gevra. Gevolglik is hy ’n studie aangebied, wat hy ook namens sy gesin aanvaar het. Assen het ’n ruk lank voortgegaan om godsdiensvergaderinge met sy groep te hou, hoewel hy nou vir hulle gepreek het oor die waarhede wat hy uit die Leer Bybel-boek geleer het. Kort voor lank wou Dentjo, die groep se diaken, ’n Bybelstudie hê. Dit was nie lank nie of drie gesinne uit die groep het ook die Bybel gestudeer. Aangesien so baie uit die kerkgroep nou die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het hulle besluit om hulle vergaderinge te staak en die gemeentelike vergaderinge by te woon. Dentjo het ’n verkondiger geword en Bybelstudies met ’n hele paar van sy vriende gehou. Danksy die getuienis wat Ani in Holland ontvang het, het ongeveer 30 mense nou al die Bybel begin studeer en woon hulle die vergaderinge by.

HY HET TOE MAAR NET TEKSTE OOR DIE HUWELIK GELEES. ’n Broer en sy vrou in die Tsjeggiese Republiek het ’n Bybelstudie in die Koninkryksaal gehou met ’n jong egpaar uit Mongolië. Hoewel die Getuie-egpaar hard probeer het om Mongools te leer, was taal ’n groot hindernis. Nietemin het die jong Mongoolse egpaar blykbaar die waarheid met nederigheid en geduld aanvaar. Een aand het die jong vrou sonder haar man by die vergadering opgedaag. Sy het gesê dat sy van plan is om haar man te verlaat omdat hulle mekaar nie verstaan nie. ’n Paar minute later het die man opgedaag, maar hy het glad nie na sy vrou gekyk nie. Dit was duidelik dat die situasie ernstig was. Die broer het die man na die Koninkryksaalbiblioteek geneem om die saak te bespreek. Maar omdat hy skaars Mongools kon praat, kon hy nie verstaan wat tussen die egpaar gebeur het nie en kon hy nie spesifieke raad gee nie. Hy het toe besluit om maar net vir die man uit die Bybel te lees. Hy het dus al die tekste oor die huwelik en kommunikasie waaraan hy kon dink, gelees. Dit het gelyk of elke teks die jong man diep raak. Skielik het hy uit die biblioteek na sy vrou toe gehardloop en haar gesoen. Toe hulle die saal verlaat, het die man daarop aangedring om sy vrou se handsak te dra, aangesien hy geleer het dat hy haar moet help.

Die volgende dag het hulle soos pasgetroudes gelyk en met vreugde gepraat oor hulle diep waardering vir Jehovah en vir die wyse skriftuurlike raad oor die huwelik. Later het hulle na Mongolië teruggekeer om vir hulle twee kinders te sorg. Die gesin woon in ’n dorp waar daar nie ’n gemeente is nie. Die vrou is in Oktober gedoop, en die man maak steeds vordering met die oogmerk om gedoop te word.

‘WAAROM HET SY DIT GEDOEN?’ Olha, ’n pioniersuster in die Oekraïne, het getuig vir ’n vragmotorbestuurder wat plaaslik voedsel aflewer. Sy het hom gevra: “Is daar enigiemand wat ons kan vertrou?”

“Nee”, het die bestuurder geantwoord. “My vrou het my verlaat en ons tweejarige seuntjie saam met haar geneem. Wat wou sy nog gehad het? Ek het elke dag hard gewerk—alles wat ek gedoen het, was vir haar. Sy wou ’n ring hê—ek het vir haar een gekoop! Sy wou stewels hê—sy het dit gekry. ’n Halssnoer?—ek het vir haar een gegee. Alles was vir haar. Waarom het sy dit dan gedoen?”

Die suster het hom vriendelik gevra hoeveel tyd hy saam met sy vrou en seuntjie deurgebring het. Hy het gesê: “Hoe kon ek tyd saam met hulle deurbring as ek tot middernag moet werk? Ek gaan soggens vieruur weer werk toe. Ek werk selfs naweke.”

Olha het vir hom die Ontwaak! van Oktober 2009 gewys met die spesiale reeks artikels “Sleutels tot ’n suksesvolle gesinslewe”. Sy het sy aandag gevestig op die eerste sleutel: “Die regte prioriteite.” Nadat hulle die inligting oor hierdie onderwerp bespreek het, is die man blykbaar diep geraak en het hy gesê: “Ek het gedink dat geld die sleutel tot gesinsgeluk is en dat niks anders belangrik is nie. Nou sien ek dat dit nie geld is nie. Nou sien ek wat kortkom en wat my vrou nodig het.”

’n Week later het Olha dieselfde bestuurder teëgekom, wat gesê het dat hy die tydskrif gelees het, diep daaroor gedink het en baie dinge heroorweeg het. Hy het sy vrou gebel, en hulle is weer bymekaar. Olha het toe vir hom die Gesinsgeluk-boek gegee. Toe Olha die volgende week dieselfde vragmotor sien, was daar ’n ander bestuurder. Die nuwe bestuurder het verduidelik dat die vorige bestuurder sy werk opgegee het en dat hy met sy gesin na ’n ander gebied verhuis het. Hy het egter vir Olha hierdie boodskap gelos: “Olha, ek wil vir jou en vir jou God, Jehovah, dankie sê omdat julle my gehelp het om my gesin te red. As ek Jehovah se Getuies weer teëkom, sal ek beslis met hulle in aanraking bly.”

HY WOU ’N TEKEN VAN GOD HÊ. ’n Jong man in Letland het sowat 15 jaar gelede in die Bybel se boodskap begin belangstel toe Getuies vir hom gepreek het. Hy het die Bybel van tyd tot tyd bestudeer, maar hy kon nie glo dat die Bybel—’n “blote” boek—hom kan help om God te vind nie. Hy het verwag dat God Hom persoonlik moet openbaar, miskien op die een of ander bonatuurlike of mistieke wyse. Hy het dus die Bybelstudie gestaak en later alle kontak met die Getuies verloor. ’n Aantal jare later het hy al hoe meer probleme ondervind, en hy het dus tot God gebid om hulp. Daar was nog steeds geen wonderwerk nie, maar toe hy by die venster uitkyk, het hy twee susters in die bediening gesien. Nadat hy ’n paar weke later weer gebid het, het hy dieselfde susters weer eens by sy venster sien verbygaan. Toe hy ’n week later bid, het hy vir die derde keer die susters sien verbygaan terwyl hulle die predikingswerk doen. Dít, het hy gedink, moet ’n teken van God wees! Hy het uitgehardloop en vir die verbaasde susters gesê dat hy die Bybelstudie wil hervat wat hy jare tevore gestaak het. Hy het uiteindelik die krag gevind om sy probleme te bowe te kom en om nader aan God te kom. Hoe? Met behulp van die Bybel! Hy is in 2010 by ’n streekbyeenkoms gedoop.

SELFS KLEIN POTJIES HET ORE. In Denemarke beteken hierdie spreekwoord dat kinders meer inneem van volwassenes se gesprekke as wat ons dink. Ongeveer 16 jaar gelede het ’n Deense suster ’n Bybelstudie gehou met ’n vrou wat drie seuns het. Hulle almal het dikwels vir die studie gekom, wat by die suster en haar man se huis gehou is. Die vrou het besluit om die studie te staak toe haar jongste seun, Ronnie, agt jaar oud was. Terwyl Ronnie grootgeword het, het hy baie probleme ondervind. In 2008, toe hy 22 jaar oud was, het hy egter ons tydskrifte in sy ma se huis gesien en skielik ’n sterk begeerte gehad om die Getuies te gaan besoek wat met hom gestudeer het toe hy ’n kind was. Vyftien minute later het hy die deurklokkie van die Getuie-egpaar gelui, en toe die broer die deur oopmaak, het Ronnie sommer ingestap. Dit het ’n rukkie geneem voordat die broer hom herken het, maar dit was ’n vreugdevolle herontmoeting. Ronnie het die Leer Bybel-boek geneem en ’n Bybelstudie aanvaar. Dit het goed verloop. Omdat Ronnie baie betrokke was by die fantasiewêreld van rekenaarspeletjies, waarvan party op die okkulte gebaseer en vol geweld is, het hy dikwels oor hierdie dinge gepraat. Maar die Getuies het hom geleer dat ons begrip van geestelike sake nie deur speletjies gevorm moet word nie. Ronnie het die punt gesnap en gesê: “Keer my asseblief wanneer ek oor hierdie onsin begin praat!” Sedertdien het hy goeie vordering gemaak. Hierdie jong man, wat die waarheid vir die eerste keer gedurende sy ma se Bybelstudie gehoor het toe hy ’n ‘klein potjie met ore’ was, is nou ’n ongedoopte verkondiger.

VERTROOSTING UIT DIE SKRIF. In ’n begraafplaas in Brittanje het ’n broer ’n man huilend by ’n graf sien kniel. Die broer het gevra of hy by hom kan sit. Die man, Alf, het ja gesê. Alf het verduidelik: “My dogter is onlangs oorlede. Sy was maar net 42. Nou is my vrou sowel as my dogter hier begrawe.” Hy het die staat om berading gevra, maar daar is vir hom gesê dat hy drie maande moet wag. “Ek is ’n ryk sakeman met baie sakebelange”, het Alf gesê, “maar dit beteken niks sonder my gesin nie. Ek sal dit alles weggee om hulle terug te kry.” Alf het gesê dat hy geloof in God het, die Bybel respekteer en kerk toe gaan, maar dat hy geen bevredigende antwoorde het nie. Toe hy by die kerk vertroosting gevra het, is daar vir hom gesê om ’n kers aan te steek of om ’n boodskap op ’n stukkie papier te skryf en dit aan ’n boom te hang. “Daar sal nie genoeg plek op ’n stukkie papier wees vir alles wat ek wil sê nie”, het hy geantwoord. Die broer het Alf met die Skrif vertroos. Alf studeer nou die Bybel.

OSEANIË

LANDE 29

BEVOLKING 38 162 658

VERKONDIGERS 94 309

BYBELSTUDIES 58 465

HULLE HET HAAR MAN GENOOI. ’n Broer in Nieu-Seeland vertel dat hy en sy vrou, toe hy haar aflaai vir ’n studie met ’n jong ma, opgemerk het dat die vrou se man tuis is; gevolglik het hulle besluit om hom te nooi om by die studie aan te sluit. Die man het die uitnodiging aanvaar, en toekomstige studies is gereël vir ’n tyd wanneer hy tuis sou wees. Hy en sy vrou het ingestem om na die Sondagvergadering te kom, waar hulle hartlik verwelkom is en die geestelike voedsel geniet het. By die volgende vergadering het die man gedurende die Wagtoring-studie geantwoord. Die studieartikel het gesinsaanbidding aanbeveel, en hy het gevra hoe hy ’n studie met sy vrou en vierjarige seuntjie kan hou. Hy het ook gesê dat hy graag ander dinge wil toepas wat hy by die vergadering geleer het. Die belangstellende egpaar studeer nog steeds, woon vergaderinge by en maak geestelike vooruitgang. “Hoe dankbaar is ons tog”, sê die broer, “dat ons besluit het om die man te nooi om by die studie aan te sluit!”

DIE GEDENKMAAL OP ’N AFGELEË EILAND. Die eiland Reao, wat net 362 bewoners het, is toegewys aan die Vaiete-gemeente, een van die 18 gemeentes op Tahiti. Reao is ongeveer 1 350 kilometer oos van Tahiti. Die Gedenkmaal is nooit tevore op hierdie afgeleë eiland gehou nie, en die Getuies het die eiland 30 jaar laas besoek. Manoah, die diensopsiener van die Vaiete-gemeente, wou reël dat ’n groepie gedurende die week van die Gedenkmaal op hierdie eiland gaan preek en dan die Gedenkmaal daar hou. Maar die vliegkaartjies vir hom en sy vrou na Reao het omtrent 65 000 frank (R5 700) gekos, baie meer as wat hulle kon bekostig. Later het hy egter ’n bonus van 65 000 frank by die werk ontvang! Hulle het dadelik tot die slotsom gekom dat Jehovah hierdie projek seën. Op die ou end het sewe verkondigers na Reao gegaan, en 47 mense het die Gedenkmaal bygewoon. Verkondigers op Tahiti hou nou Bybelstudies per telefoon met belangstellendes op Reao.

GEEN TYD VIR ONTBYT NIE. ’n Soortgelyke ondervinding kom van Vanuatu, waar ’n gemeente ’n groep van 11 verkondigers op die afgeleë eiland Ambrym help. Die ouer manne van die gemeente het ervare verkondigers genooi om vir ’n paar dae na Ambrym te gaan om voor die Gedenkmaal saam met die groep te werk. Marinette, ’n ervare gewone pionier en afgetrede onderwyseres, het die geleentheid aangegryp. Sy en ’n paar ander het besluit om te gaan met die doel om nuwe Bybelstudies te begin. Nadat sy net ’n kort rukkie in die veldbediening deurgebring het, was sy verbaas om te vind dat dit byna onmoontlik was om die huis te verlaat waar sy gebly het. Marinette vertel: “Ek het soggens skaars tyd gehad om te was of ontbyt te eet omdat mense reeds buite gewag het en tougestaan het vir Bybelstudies. Ek het die hele dag gepreek sonder om uit te gaan! Ek het 31 Bybelstudies gedurende die week gehou.” Die groep het ’n week lank op Ambrym gebly en die goeie nuus ywerig verkondig, en 158 het die Gedenkmaal bygewoon. Die groep was hartseer om huis toe te gaan. “Hoe kan ’n mens hierdie plek verlaat wanneer daar soveel mense is wat na Bybelwaarheid dors?” het Marinette gesê. Die takkantoor het gereël om tydelike spesiale pioniers te stuur om na die belangstelling in hierdie gebied om te sien.

’N SKOOLHOOF REAGEER GUNSTIG. By ’n gemeenskapshoërskool op die Salomonseilande moet leerlinge staan en die gesange van die Suidsee- Evangeliese Kerk sing. Twee jong susters het die skoolhoof gevra of hulle hiervan verskoon kan word, aangesien dit hulle gewete sal skend. Die skoolhoof het hulle bedank omdat hulle haar op respekvolle wyse genader het en het gesê dat hulle nie hoef te sing nie, maar dat hulle en die ander Getuiekinders kan bly sit.

Toe het sy gevra of hulle kan reël dat iemand van die gemeente met haar kom praat oor Jehovah se Getuies en opvoeding. ’n Sendeling het die besoek gedoen, en hulle het ongeveer ’n uur en ’n half lank gepraat oor ons opvattings asook die probleme waarvoor jongmense te staan kom. Die skoolhoof het gesê dat sy dit geniet om die Ontwaak! te lees en dat sy eksemplare in die personeelkamer laat. Toe die sendeling vir haar die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, aanbied, het sy gevra of sy 16 vir die onderwysers en 367 vir die leerlinge kan kry. Vierhonderd boeke is afgelewer en uitgedeel.

As gevolg van die moed van daardie twee jong susters wat met die skoolhoof gaan praat het, is ’n goeie getuienis gegee, en baie het vir hulle gesê hoe nuttig die boek is. ’n Jong meisie, wie se ouers kort tevore uitmekaar gegaan het, het gesê dat die boek presies is wat sy nodig het om haar met haar probleme te help. Die twee susters dien as gereelde hulppioniers, en die skoolhoof kry gereeld die tydskrifte by hulle.

ONKREUKBAARHEID ONDANKS TEENSTAND. Elders op die Salomonseilande het ’n sendeling die Bybel gestudeer met ’n vrou wat ons Lisa sal noem. Sy het goeie vordering gemaak, al moes sy meer as twee uur na die Koninkryksaal loop terwyl sy haar tweelingseuntjies dra en haar twee dogtertjies agter haar loop. Sy moes ook hewige teenstand van haar man verduur. Hy het haar fisies mishandel en haar vergaderingklere, Bybel en teokratiese boeke verbrand. Hy het ook ’n owerspelige verhouding met ’n ander vrou gehad. Maar ondanks dit alles is Lisa gedoop en het sy voortgegaan om Jehovah standvastig te dien.

Verlede jaar het Lisa se man, diep geraak deur die manier waarop sy hom behandel het ten spyte van alles wat hy aan haar gedoen het, sy minnares weggestuur en gevra of hy sy eie Bybelstudie kan hê. Soos jy jou kan voorstel, is ons suster Lisa in vervoering oor hierdie verandering. En toe ’n afgesonderde groep naby haar huis gevorm is, het dit haar lewe nog verder verbeter; nou neem dit haar net minder as ’n uur om na die vergaderinge te loop. Met haar man se ondersteuning kon sy ook hulppionierdiens doen.

[Lokteks op bladsy 66]

“Waarom is God so wreed? . . . Waarom straf hy my seuntjie? Hy is maar net ’n baba. Watter sonde het hy gepleeg?”

[Lokteks op bladsy 68]

Die man het vir die raad gesê dat hy na die kerk sal terugkeer as die priester twee vrae kan beantwoord

[Lokteks op bladsy 72]

“Julle is tronk toe gestuur omdat julle buite gepreek het, en nou preek julle binne-in die tronk!”

[Diagram/Kaart op bladsy 84]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Tahiti → → → 1 350 kilometer → → → Reao

[Prent op bladsy 56]

Bo: ’n Bybelstudie word in die Republiek van die Kongo gehou. (Sien bladsy 59)

[Prent op bladsy 61]

Edvard (regs) saam met Daniel by ’n mark

[Prent op bladsy 64]

Samaniego, Nariño, Colombia

[Prent op bladsy 67]

Gebaretaalpublikasies is nou beskikbaar in 59 tale

São Paulo, Brasilië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel