Glanspunte van die afgelope jaar
ONDANKS angswekkende wêreldtoestande het Jehovah se Getuies weer ’n produktiewe jaar in hulle heilige diens geniet. Die waarheid van die goeie nuus ‘dra vrug en neem toe in die hele wêreld’ danksy God se seën (Kol. 1:5, 6). Ons is seker dat jy vanjaar se verslag aanmoedigend sowel as geloofversterkend sal vind.
NUWE REËLING VIR HULPPIONIERDIENS
Daar was groot opgewondenheid toe hulppioniers die keuse gegee is om gedurende April 30 uur of 50 uur te werk. Baie wat gewoonlik nie aan hierdie aspek van diens kon deelneem nie, het hierdie geleentheid gretig aangegryp. Duisende verkondigers het vir die eerste keer hulppionierdiens gedoen, en baie wat in die verlede gepionier het, was verheug om dit weer te doen. Daarbenewens het baie verkondigers wat nie as hulppioniers kon dien nie, ’n poging aangewend om meer in die predikingswerk te doen. Wat was die resultaat?
Die meeste takkantore het vermeerderings gerapporteer wat vorige hoogtepunte ver oortref het. Wêreldwyd het 2 657 377 verkondigers as hulppioniers gedien—omtrent vyf keer meer as die hoogtepunt van die vorige jaar! Tagtig persent van die wêreldwye Bethelgesin—16 292 uit 20 290 broers en susters—het hierdie diensvoorreg geniet. Is dit nie opwindend om te weet dat Jehovah se knegte in April meer in die predikingswerk gedoen het as in enige ander maand in die geskiedenis nie?
Net meer as ’n jaar nadat die verwoestende aardbewing sowat 300 000 lewens geëis het, het Haïti in April hoogtepunte in die predikingswerk gerapporteer. Altesaam 6 185 van die 17 009 verkondigers daar het as hulppioniers gedien. Die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, wat kort tevore in Haïtiaanse Kreools vrygestel is, is in ’n spesiale kampanje versprei, en dit het broodnodige vertroosting en hoop aan die treurende bevolking gebied.
Ons broers en susters in Nigerië het gedurende April voor ’n unieke uitdaging te staan gekom. Op vier dae wat vir ’n verkiesing opsygesit is (waarvan drie Saterdae was), het die regering mense verbied om tussen seweuur in die oggend en vyfuur in die middag vryelik rond te beweeg, behalwe vir verkiesingsdoeleindes. Maar dit het nie die pioniergees gedemp nie. “Ons skryf aan julle met groot vreugde en harte vol waardering vir die wonderlike tyd wat ons hierdie maand gehad het”, het een gemeente geskryf. In ’n ander gemeente het 92 uit 127 gedoopte verkondigers as hulppioniers gedien, insluitende al die ouer manne en bedieningsknegte. By Bethel het 555 uit 688 Betheliete as hulppioniers gedien.
Hulle het die uitdaging aanvaar. Jeannette, wat in Burundi in die berge woon, het nog altyd die begeerte gehad om te pionier, maar sy ly aan ’n chroniese hartkwaal wat haar verhinder om ver te loop of om teen steil heuwels op te loop. Jeannette was baie bly toe sy hoor dat die uurvereiste vir hulppioniers in April verminder is. Om dit vir haar moontlik te maak om haar begeerte te vervul, het die ouer manne gereël dat sy in gebied naby haar huis preek. Daarbenewens het pioniers en verkondigers hulle Bybelstudente na haar huis geneem vir hulle studies. Teen die einde van die maand was Jeannette verheug dat sy vier Bybelstudies begin het. “Ek sal baie graag weer wil pionier”, sê sy, “en ek is seker dat Jehovah my sal help.”
Op die eiland Grenada het ’n jong dowe suster gepionier ten spyte van ’n gebrek wat dit vir haar moeilik maak om te loop. “Dit was ’n groot uitdaging om so ver na die bushalte te loop sodat ek in velddiens kon uitgaan”, het sy gesê. Boonop was hierdie suster werkloos, en sy het vurig tot Jehovah gebid om haar te help. In ooreenstemming met haar gebede het sy haar finansieel onderhou deur hekelwerk en handgemaakte juweliersware te verkoop. “Ek het ’n volle aandeel aan die predikingswerk gehad”, het sy later gesê, “en die broers het my ondersteun en aangemoedig. Dit het my baie gelukkig gemaak!”
Tosji, ’n 101-jarige suster in Japan, het gretig aansoek gedoen vir hulppionierdiens in April. Aangesien sy nie die verpleeginrigting kan verlaat waar sy woon nie, preek sy deur briewe te skryf en deur vir helpers te getuig wat na haar kamer toe kom. “Omdat ek hardhorend is”, verduidelik Tosji, “praat ek baie hard. Gevolglik kan ander mense in die nabyheid my ook hoor.”
Felix, ’n kwadrupleeg in Costa Rica, het besluit om hulppionierdiens te doen. Maar hoe kon hy dit doen? ’n Tafel met lektuur is buite sy huis gesit sodat hy vir verbygangers kon preek. Teen die einde van die maand was Felix fisies moeg, maar hy het geestelik verkwik gevoel en was verheug dat hy vier Bybelstudies begin het.
Talle jong verkondigers was ook gretig om by die spesiale bedrywighede in April ingesluit te word. Byvoorbeeld, in Spanje wou die 11-jarige Sandra en haar 7-jarige boetie, Alejandro, meer in die predikingswerk doen. Aangevuur deur hulle gemeente se ywerige gees en hulle ouers se geesdriftige voorbeeld, het Sandra en Alejandro gewens dat hulle as hulppioniers kon dien. Maar hoe kon hulle, aangesien hulle nie gedoop is nie? Albei kinders het ’n rooster opgestel om net soveel tyd as hulle ouers in velddiens deur te bring en het toe vir die bediening voorberei deur aanbiedings op hulle aand vir Gesinsaanbidding te oefen. Hulle ouers het gedink dat die kinders deur die loop van die maand sou moeg word. Maar die twee jong verkondigers het nooit verslap nie. Teen 30 April het almal in die gesin hulle persoonlike doelwit van 30 uur bereik, behalwe die jong Alejandro, wat nog drie uur nodig gehad het. Hy het dus nog op die laaste dag saam met sy pa uitgegaan om sy doelwit vir die maand te bereik. Hoe bly was hulle tog dat hulle ’n besige en bevredigende tyd as ’n verenigde gesin kon geniet!
“Ek het elke dag gebid”, vertel Jean, “dat ek en my man, Philip, 30 uur sou kon preek.” Maar Philip, wat as ’n streekopsiener gedien het totdat hy deur ’n serebrale aneurisme verlam is, het bewegingloos in ’n hospitaalbed in Spanje gelê en kon nie eens praat nie. Hy kon slegs met sy oë kommunikeer deur hulle een keer vir ja en twee keer vir nee te knip.
“Toe ek hom van die hulppionierdiens vertel”, sê Jean verder, “het hy aangedui dat hy ook wil pionier.” Maar hoe kon hy sy doelwit bereik?
Gedurende die vorige maande het Jean en Philip vir pasiënte, besoekende familielede en hospitaalpersoneel gepreek. “Ons was van plan om in April daar in ons hospitaalsaal omtrent een uur per dag te preek terwyl Philip wakker is en aan die bespreking kan deelneem deur sy oë te knip.”
Maar in Maart is Philip na ’n afsonderingsaal geskuif. Nietemin kon hy en Jean nog steeds by hulle rooster bly deur etlike kere gedurende die dag ’n paar minute met hospitaalpersoneellede te praat. ’n Verpleegster wat die boek Wat leer die Bybel werklik? geneem het, het Philip in die oë gekyk en belowe om die volgende dag te kom om tekste te lees. Toe die verpleegster teruggekom het, het Jean haar genooi om Johannes 17:3 te lees en haar gevra om te verduidelik hoe sy dit verstaan. Terwyl hulle hulle bespreking voortgesit het, het Philip sy oë geknip om aan te dui of die verpleegster reg is of nie. Selfs toe die verpleegster nie in Philip se saal aan diens was nie, het sy hom kom verseker dat sy Jehovah vra om haar te help om nader aan Hom te kom.
Vir Jehovah se knegte is hierdie groter bedrywigheid ’n manier om hulle liefde vir hulle naaste, hulle dankbaarheid vir Jesus Christus se offerande en hulle toegewydheid aan hulle hemelse Vader te openbaar. Hulle sien gretig uit na Maart 2012, wanneer hulle weer eens die keuse sal hê om 30 uur of 50 uur gedurende die maand te werk.
SKOLE WAT MENSE JEHOVAH SE WEË LEER
Jehovah se organisasie het die profesie in Jesaja 2:3 baie ernstig opgeneem: “Laat ons opgaan na die berg van Jehovah, na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig.” Byvoorbeeld, terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog gewoed het, het “die getroue en verstandige slaaf”-klas besef dat mense uit alle nasies voor die einde van Satan se stelsel van dinge nog deur Jehovah onderrig moet word. Reëlings is dus getref om skole soos die Wagtoring-Bybelskool Gilead en die Teokratiese Bedieningskool te organiseer. In onlangser tye het die Bestuursliggaam verdere aanpassings gemaak aan die verskeie skole wat gespesialiseerde opleiding voorsien.
In Oktober 2010 is die Bedieningsopleidingskool tot die Bybelskool vir Ongetroude Broers vernoem. Ongetroude broers wat as ouer manne of bedieningsknegte dien, sal nog steeds hierdie twee maand lange skool bywoon. Tot dusver het 37 445 regoor die wêreld by hierdie leerplan baat gevind, van wie baie as pioniers, reisende opsieners, sendelinge en Betheliete dien.
Die nuwe, twee maand lange Bybelskool vir Christenegpare het in Julie 2011 begin en word aanvanklik by Patterson, New York, gehou. Engelssprekende egpare kan aansoek doen as hulle tussen die ouderdomme van 25 en 50 is, goeie gesondheid geniet, ten minste twee jaar lank getroud is, ten minste die afgelope twee jaar in die voltydse diens is en as die man al twee opeenvolgende jare as ’n ouer man of ’n bedieningskneg dien. Vanaf 2012 sal klasse van die Bybelskool vir Christenegpare aangebied word op plekke waar die Bybelskool vir Ongetroude Broers tans gehou word.
Die doel van die Bybelskool vir Christenegpare is om gespesialiseerde opleiding aan egpare te voorsien sodat hulle in groter mate deur Jehovah en sy organisasie gebruik kan word. Die meeste gegradueerdes sal as gewone pioniers dien waar hulp in hulle tuisland nodig is. Party sal egter as tydelike spesiale pioniers aangestel word, en sommige sal selfs vir kringwerk opgelei word. ’n Paar sal moontlik ’n toewysing in ’n ander land ontvang as hulle daarvoor kwalifiseer en beskikbaar is.
Dié wat vir hierdie skool aansoek doen, moet geestelik volwasse en selfopofferend wees. Dieselfde instrukteurs wat die Bybelskool vir Ongetroude Broers behartig, sal hierdie nuwe skool waarneem en basies dieselfde leerplan volg. ’n Paar afdelings sal slegs met die broers bespreek word terwyl hulle vrouens in velddiens uitgaan. Verdere besonderhede en vereistes vir dié wat daarin belangstel om aansoek te doen, sal voorsien word by vergaderinge wat tydens streekbyeenkomste gehou sal word.
Die Bestuursliggaam het aanpassings aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead uiteengesit. Vanaf die 132ste klas, wat op 24 Oktober 2011 begin het, word opleiding slegs voorsien aan egpare wat reeds in spesiale voltydse diens is, soos veldsendelinge wat Gilead nog nie bygewoon het nie, spesiale pioniers, reisende opsieners en Betheliete. As ’n egpaar Engels vlot praat en skryf, kan hulle Takkomitee aanbeveel dat hulle hierdie skool bywoon.
Gileadgegradueerdes sal toewysings ontvang wat veld- en takkantoororganisasie sal verbeter en stabiliseer, hetsy as veldsendelinge, reisende opsieners of Betheliete. Diegene wat toewysings in die veld ontvang, sal in dig bevolkte gebiede gebruik word waar hulle die grootste uitwerking op die predikingswerk en gemeentelike bedrywighede kan hê. Takkomitees kan nog steeds Gileadgegradueerdes aanvra as daar ’n spesifieke behoefte in hulle gebied is. Hulle kan ook aanbeveel dat hoogs bekwame spesiale voltydse dienaars uit hulle takkantoor se gebied die Gileadskool bywoon. In party gevalle kan Takkomitees versoek dat die gegradueerdes na die land terugkeer nadat hulle gegradueer het.
Die Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens sal twee keer per jaar in Engels by Patterson gehou word. In ’n paar gevalle sal Landskomiteelede ook genooi word. Takkomiteelede wat die skool in die verlede bygewoon het, sal genooi word om dit vir ’n tweede keer by te woon saam met broers wat die skool vir die eerste keer bywoon. Die vrouens van Takkomiteelede sal die meeste klasse saam met hulle mans bywoon. Sekere afdelings van ’n organisatoriese aard sal egter net met die broers bespreek word terwyl hulle vrouens na verskillende Betheltoewysings omsien.
Daarbenewens sal daar elke jaar twee klasse van die Skool vir Reisende Opsieners en hulle Vrouens by Patterson gehou word. Klasse wat in die Verenigde State gehou word, sluit nou broers in wat dit voorheen bygewoon het; hulle maak sowat die helfte van die klas uit. Reisende opsieners se vrouens sal genooi word om die meeste klassessies by te woon.
Is God se volk nie verheug om die onderrig wat Jehovah voorsien, te benut nie? Jesus het self gesê: “Daar staan in die Profete geskrywe: ‘En hulle sal almal deur Jehovah geleer word’” (Joh. 6:45; Jes. 54:13). Ons het die vertroue dat hierdie aanpassings groter stukrag sal gee aan die dringende werk om die goeie nuus in die hele bewoonde aarde te verkondig voordat die einde kom.
’N GROOT AARDBEWING IN JAPAN
Nuusberigte van regoor die wêreld het verslag gelewer oor ’n vlaag natuurrampe, met inbegrip van aardbewings, tsoenami’s, tornado’s, orkane, oorstromings, brande en vulkaniese uitbarstings. Hoewel daar nie genoeg ruimte is vir ’n verslag oor al die onlangse rampe nie, word die innerlike krag waarmee Jehovah se Getuies hierdie ontberinge die hoof bied, goed toegelig deur ons medeaanbidders in Japan.
Op Vrydag 11 Maart 2011, om 14:46, het ’n aardbewing van 9,0 op die Richterskaal Japan getref. Die gevolglike tsoenami’s het baie dorpe, groot sowel as klein, langs die Pasifiese kuslyn verwoes. Sowat 20 000 mense het gesterf of is nooit gevind nie. In die geteisterde gebied is vier Koninkryksale vernietig en was nog vier onbruikbaar. Tot 235 huise van ons broers en susters is weggespoel of erg beskadig, en meer as duisend huise moes herstel word.
Die aardbewing en tsoenami’s het ’n kernaanleg so erg beskadig dat radioaktiewe deeltjies vrygestel is. Die regering het ’n ontruimingsbevel aan plaaslike inwoners uitgevaardig, en baie plekke het oornag spookdorpe geword. Broers en susters in die omgewing moes ook padgee, en twee gemeentes het “verdwyn”.
Van die meer as 14 000 Getuies van Jehovah in die gebiede wat die swaarste getref is, het 12 hulle lewe verloor en is 5 ernstig beseer; 2 word nog vermis. Baie wat hierdie traumatiese ondervinding oorleef het, het hulle huis, besittings en, in baie gevalle, geliefdes verloor.
“Ek het daarin geslaag om my ma, wat gestremd is, in die motor te kry en het na die aangewese skuiling begin ry”, verduidelik Kijoko van Ofoenato. “Toe het ek rook geruik. Ek het uit die motor geklim en gesien hoe ’n ontsaglike muur van water ons huis verswelg. Die water het na ons toe aangerol gekom! Ek het my ma gehelp om teen ’n wal langs ’n spoorlyn op te klouter. Ons motor is voor ons oë weggespoel.”
Ná die aardbewing het ’n jong broer, Koitsji, sy ouers se huis, vyf kilometer van die see af, in Isjinomaki probeer bereik. Maar toe hy daar naby kom, het hy gesien dat die hele gebied onder water is. “Ek kon nie verder gaan sonder ’n boot nie.” Drie weke ná die aardbewing het hy sy pa in ’n lykshuis gevind, en drie weke later, sy ma.
Net ná die aardbewing het Masaaki in Sjitsjigahama besluit om sy motor by die Koninkryksaal, wat ’n kilometer van die see af is, te parkeer. Masaaki vertel: “Ek het ’n suster gevind wat ook daarheen gevlug het. Ek het gedink dat tsoenami’s nooit so ver sou kom nie. Maar kort voor lank het swart water die grond bedek! Ons motors het begin dryf. Ek het die venster oopgemaak, uit my motor geklim en op die dak gestaan, maar die suster se motor is weggespoel en het verdwyn! Ek het tot Jehovah gebid om haar te help.
“Dit het gesneeu, en ek was papnat en het gebibber van die koue. Toe het dit opgehou sneeu, maar die lug was ysig. Kort daarna het die son gesak en het dit donker geword. Die sterre was helder en pragtig. Ek het op die dak van my motor gestaan, ’n eiland in die yskoue water. Daar was ander wat, soos ek, op hope puin of op die dak van geboue vasgekeer was. Ek het gewonder of ek die nag sou oorleef. Om my op te beur, het ek besluit om ’n openbare toespraak wat ek net twee weke vroeër gehou het, uit my geheue vir myself te hou. Dit was ’n gepaste onderwerp: ‘Waar kan jy hulp vind in tye van benoudheid?’ Daarna het ek die enigste lied gesing waarvan ek al die woorde geken het: ‘My Vader, my God en Vriend.’ Ek het dit oor en oor gesing. Terwyl ek gesing het, het ek teruggekyk op my diens aan Jehovah, en die trane het gerol.
“Toe het iemand van die huis oorkant die straat uitgeroep: ‘Het jy hulp nodig? Ek is nou daar!’” Die man wat uitgeroep het, het ’n vlot van drywende balke gemaak en het mense in die omgewing gered. Met sy hulp kon Masaaki ’n huis deur die venster op die tweede verdieping binnegaan. Hy was verlig toe hy later verneem het dat die suster in die ander motor ook gered is.
Daar is met vreugde uitgesien na Kohei en Joeko se troue, wat op Saterdag 12 Maart by die Koninkryksaal in Rikoezentakata gehou sou word. Nadat hulle Vrydag hulle huwelik wetlik geregistreer het, het die aardbewing plaasgevind. Kohei het ’n tsoenamiwaarskuwing gehoor wat deur die stadsowerheid uitgesaai is en het hom na hoër terrein gehaas. “Die hele stad was in ’n waas gehul”, vertel hy. “Niks het oorgebly behalwe ’n paar groot geboue nie. Tot op daardie stadium het ek my bekommer oor ons reëlings vir later daardie dag, maar ek het gou besef dat iets ontsagliks gebeur het.”
Kohei en Joeko het heeldag Saterdag die broers en susters in die gemeente gehelp. “Ons het noodleniging van omliggende gemeentes ontvang”, het hy gesê. “Ek was verheug om my vrou te hoor sê dat sy bly is dat ons ons tyd en energie ten behoewe van ons broers kan gebruik. Ek het Jehovah gedank vir hierdie wonderlike maat. Die tsoenami het ons nuwe huis, ons motor en al ons besittings weggespoel. Maar ek is baie dankbaar vir die broederliefde wat aan ons betoon is.”
Fisiese, geestelike en emosionele noodleniging. Die takkantoor in Japan het gou drie Noodlenigingskomitees georganiseer en herhaaldelik takverteenwoordigers na die geteisterde gebied gestuur. Toe die sone-opsieners Geoffrey Jackson en Izak Marais van die wêreldhoofkwartier in Mei na Japan gekom het, het hulle ook vergader met die broers en susters in een van die gebiede wat die swaarste getref is. ’n Spesiale vergadering vir die gemeentes in die geteisterde gebied is gereël, en sowat 2 800 broers by 21 Koninkryksale is deur middel van telefoonverbinding verseker van die liefde en besorgdheid van die wêreldwye broederskap.
Die Noodlenigingskomitees en ander vrywilligers was druk besig met die voorsiening van noodleniging. Die onmiddellike behoeftes was kos, water en brandstof. Die Noodlenigingskomitees het ook gereël om klere in ’n verskeidenheid groottes na die gemeentes in die rampgebied te stuur. Klerestaanders en spieëls is by vergaderplekke opgestel om dit in tydelike “boetieks” te omskep.
Hoe dankbaar was die geteisterde broers en susters tog om te sien hoe Jehovah in hulle fisiese en emosionele behoeftes voorsien! Hulle is veral by Christelike vergaderinge versterk. “Ek verkry gemoedsrus by die vergaderinge”, het ’n suster in die rampgebied geskryf. “Dit is vir my ’n geestelike reddingstou.”
’n Boodskap van hoop. Die Japannese broers het nie op hulle laat wag om hulle ontstelde bure met behulp van God se Woord te vertroos nie. ’n Groep verkondigers in ’n stad wat nie deur die ramp geraak is nie, het besluit om straatwerk te doen met ’n groot bord wat sê: “Waarom die tragedie? Die antwoord is in die Bybel.” Baie het belangstelling getoon, en die broers het 177 Leer Bybel-boeke in net een en ’n half dae versprei.
In die rampgebied het die Getuies eers Bybelstudente en herbesoeke en daarna bure gaan besoek om hulle te vertroos. “Toe ek Matteus 6:34 vir ’n huisbewoner gelees het”, sê Akiko, “het sy begin huil. Sy het blykbaar baie sorge gehad. Toe ek verduidelik het hoe die Bybel ons help om gemoedsrus te behou, het sy geredelik saamgestem en my bedank. Dit het my nuwe waardering gegee vir die krag wat die Skrif het om mense se harte te raak.”
“Daar is baie godsdienste”, het ’n man gesê, “maar julle is die enigstes wat na ons toe kom, selfs in hierdie abnormale tyd.” ’n Ander man het met respek gesê: “Dit is verstommend dat julle gedurende hierdie krisis met julle werk voortgaan soos gewoonlik.” ’n Ouer man het gesê: “Baie mense het ons besoeke verwelkom. Hulle het gesê: ‘Julle is die eerstes wat sedert die ramp na ons huis toe kom. Kom asseblief weer.’”
DIE NUWE WÊRELD-VERTALING IN 106 TALE!
Vrydag 15 Julie 2011 was ’n onvergeetlike dag in Letland en Litaue en was ’n mylpaal in die geskiedenis van God se volk in hierdie lande. In ’n toespraak wat danksy telefoonverbinding in albei lande gehoor is, het Stephen Lett van die Bestuursliggaam die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Letties en Litaus vrygestel, die 99ste en 100ste taal waarin hierdie vertaling beskikbaar is. Die Bestuursliggaam gee die afgelope sewe jaar hoë prioriteit aan Bybelvertaling. Gevolglik word die Nuwe Wêreld-vertaling nou in twee keer soveel tale uitgegee as in 2004, en vertalers regoor die wêreld werk nog steeds hard om die Bybel in selfs meer tale te vertaal.
Soos jy jou kan voorstel, ontvang die broers die Bybel in hulle eie taal met groot geesdrif. “Om ’n Bybel te besit, is een ding”, het ’n broer in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gesê, “maar om dit in jou moedertaal te verstaan, is een van die beste dinge in die wêreld. Die Nuwe Wêreld-vertaling in Sango spreek tot die hart. Wanneer ek die Evangelies lees, kan ek nou die Bybelkarakters in my geestesoog sien en hulle gevoelens verstaan.” Die woorde van ’n jong Etiopiese suster het opgesom hoe talle gevoel het: “Die woord ‘dankie’ kan skaars die gevoelens in my hart weergee. Ek het altyd tot Jehovah gebid om vir ons die Nuwe Wêreld-vertaling in ons taal te gee. Vandag het hy dit vir my gegee!”
NUUS VAN REGOOR DIE WÊRELD
’n Bullebak in Rusland word die swye opgelê. Vera, ’n bejaarde suster, het etlike jare lank probleme gehad met een van haar bure wat nie van Jehovah se Getuies hou nie. Die man het haar gedreig en vuil taal voor haar kleinkinders gebruik, wat dikwels by haar kuier. Vera het die woorde van Romeine 12:18 in gedagte gehou en dus altyd kalm gebly en nie met hom gestry nie. In Januarie 2011 het die buurman besonder aggressief geword. Omdat Vera vir haar lewe gevrees het, het sy in aanraking gekom met die plaaslike polisieman, wat haar, interessant genoeg, in Maart 2010 saam met ’n stadsamptenaar besoek het. Hulle het kom kyk of sy en die ander Getuies wat in haar huis vergader, by ekstremistiese bedrywighede betrokke is. Maar hierdie keer het die polisieman gesien waar die werklike probleem lê. Hy het die buurman uitgetrap en hom 3 000 roebel (ongeveer R800) vir sy dreigemente beboet. Daarna het sy geen verdere probleme met die buurman gehad nie. As ’n blyk van haar waardering het Vera ’n dankbrief aan die polisiedepartement geskryf. Tot haar verbasing het sy ’n antwoord van die polisiehoof ontvang. Hy het haar bedank vir haar vriendelike woorde oor die polisieman wat haar gehelp het. Hy het ook geskryf: “Jou hartlike woorde, ondanks die huidige negatiewe beskouing van die polisie in die algemeen, lewer bewys van jou vertroue.” Vera sê dat die plaaslike polisieman nou gereeld by haar inloer om seker te maak dat alles in orde is.
Die “vullisman” in Turkye. Twee mans wat kort tevore die Bybel begin studeer het, het die streekbyeenkoms bygewoon. Hulle het geskryf: “Dit was vir ons soos ’n sprokieswêreld. Almal het geglimlag en was baie vriendelik en beleefd. Gedurende die middagpouse het ons rondgeloop en nie soos buitestanders gevoel nie. Toe het die broer wat die Bybel met ons begin studeer het, aangeloop gekom. Hy het ’n vullissak in sy hand gehad. Ons het hom probeer vermy omdat ons gedink het dat hy ’n vullisman is, en ons wou nie hê dat mense moet dink dat ons vriende is met ’n nederige vullisman nie. Ons het dus weggedraai en in die skare probeer verdwyn. Ons het gedink: ‘Waarom studeer ons die Bybel saam met ’n vullisman in plaas van iemand wat toesprake op die verhoog hou?’
“Maar nadat ons ’n ruk gestudeer het, het ons uitgevind dat die ‘vullisman’ wat ons studie hou, ’n lid van die Takkomitee is en by die takkantoor van Jehovah se Getuies dien. Ons het voortgegaan om vordering te maak en het ons lewe aan Jehovah toegewy. Ons het besef dat ons broer hom nederig as ‘’n mindere’ gedra het (Luk. 9:48). Hoe waardeer ons tog die waardevolle les wat ons geleer het by die eerste groot vergadering wat ons bygewoon het!”
Leuens in Armenië. ’n Wydverspreide smeerveldtog teen Jehovah se Getuies is in die media geloods nadat daar valslik gesê is dat ’n jong man wat sy ouers in die stad Sevan vermoor het, een van Jehovah se Getuies is. ’n Verklaring wat die bewering weerlê, is onmiddellik aan die media gestuur. Die smeerveldtog het nietemin voortgeduur, en ’n spesiale berig is op die televisie uitgesaai waarin daar nadruklik beweer is dat die jong man een van Jehovah se Getuies is. Aanstootlike en minagtende taal is gebruik met verwysing na Jehovah se Getuies, en ’n opskrif gedurende die program het gelui: “Jehovah se wrede en ruggraatlose moordenaars.” Dit het kykers selfs aangespoor om geweld teen die Getuies te gebruik wanneer hulle deur hulle besoek word. Gevolglik was daar ’n merkbare toename in vyandigheid teenoor Jehovah se Getuies in die land. ’n Eis is teen die televisiestasie ingestel dat hulle die valse verklarings herroep, verskoning aanteken en vergoeding doen vir die skending van ons goeie naam en reputasie. Teen die tyd dat die Jaarboek vir 2012 gedruk is, het die televisiestasie nog nie die verklarings herroep nie, hoewel onderhandelinge vir ’n vriendelike skikking gevoer word.
Die toekomstige ingenieurs van Venezuela. ’n Groep kinders het elke oggend op pad kleuterskool toe by ’n Koninkryksaalbouterrein in die dorp San José de Guaribe verbygeloop. Hulle het gewoonlik gaan staan om vir ’n rukkie na die bedrywighede te kyk, gefassineer deur alles wat aangaan. Eendag het hulle onderwyseres hulle in die klas gevra wat hulle wil word wanneer hulle groot is. Tot haar verbasing het nie net een nie, maar ’n hele paar geantwoord dat hulle “ingenieurs soos Jehovah se Getuies” wil wees! Uit nuuskierigheid het sy en ’n ander onderwyseres besluit om die hele klas op ’n uitstappie na die bouterrein te neem. Toe hulle daar aankom, het die bouspan hulle besoekers rondgewys. Die kinders het dit baie geniet, veral omdat hulle die kleurvolle veiligheidshelms kon dra. Die onderwyseresse het baie vrae gehad, en ’n goeie getuienis is gelewer.
Kanada druk meer tydskrifte. Om toegewyde middele ten beste te benut, het die Bestuursliggaam die takkantoor in Kanada gevra om Die Wagtoring en Ontwaak! te voorsien aan al die gemeentes in Bermuda, Guyana, Kanada, die Verenigde State en op die meeste Karibiese eilande. Gevolglik het die takkantoor in Kanada aan die begin van die 2011-diensjaar twaalf keer soveel tydskrifte as voorheen begin druk. Kanada druk nou tydskrifte in 30 tale—byna ’n kwart van al die tydskrifte wat wêreldwyd gedruk word.
Ope dag in Finland. Met die toestemming van die Bestuursliggaam is ’n spesiale kampanje georganiseer wat die aandag gevestig het op Jehovah se Getuies en die boodskap wat hulle al ’n eeu lank in Finland verkondig. Die broers het die Ontwaak! van Augustus 2010 met die voorbladreeks “Jehovah se Getuies—Wie is hulle?” ywerig versprei. Dit het tot talle goeie gesprekke oor ons werk gelei. Toe het die broers aan die einde van Augustus ’n ope dag by die takkantoor gereël. Die hele Bethelgesin het gehelp om die werk daar te verduidelik. Uitstallings is opgestel om besoekers omtrent ons werk in te lig. Party Betheliete het historiese drag aangetrek en gewys hoe reklameborde gebruik is om openbare toesprake te adverteer wat in die 1940’s en 1950’s gehou is. Etlike afdelings het klein aandenkings vir die besoekers gemaak. Omtrent 1 500 besoekers het die ope dag bygewoon. Daarna het koerante, die radio en die TV gunstige berigte oor ons bedrywighede gelewer.
Onrus in die Ivoorkus. Die 2011-diensjaar het op ’n optimistiese noot en met die belofte van verdere groei begin, soos geblyk het uit die 23 019 Bybelstudies wat deur die 8 656 verkondigers gehou is. Maar teen laat November 2010 het onenigheid oor ’n verkiesing die land in chaos en burgerlike onrus gedompel. Die daaropvolgende gevegte het die handelshoofstad Abidjan teen Maart bereik en tot in April 2011 voortgeduur, en dit het ’n massa-uittog van burgers uit die stad en selfs uit die land veroorsaak. Onder hulle was baie van ons broers, wat te voet gevlug het en huis en besittings agtergelaat het.
Gedurende hierdie moeilike tydperk het ons broers se neutrale standpunt dikwels as ’n beskerming gedien. By een geleentheid het soldate ’n laerskool binnegegaan waar onderwysers en voorligters ’n seminaar gehou het. Almal is beveel om op die grond te lê en al hulle waardevolle artikels te oorhandig. Toe ’n broer vir hulle sy velddienssak met ons publikasies daarin gee, het die soldate onmiddellik besef dat hy een van Jehovah se Getuies is. Hulle het die sak sowel as sy geld en selfoon vir hom teruggegee en gesê: “Jy is nie vir ons ’n bedreiging nie.”
TAKKANTOOR- TOEWYDINGS STREK GOD TOT EER
Op 18 Desember 2006 het bouwerk aan die takkantoor in Chili begin om dit te vergroot om ’n nuwe kantoorgebou met twee verdiepings en ’n nuwe woongebou met drie verdiepings in te sluit en om aansienlik meer pakhuisruimte te voorsien. Op 16 Oktober 2010 het 5 501 die toewydingsprogram bygewoon, waartydens David Splane van die Bestuursliggaam die toespraak in Spaans gehou het.
Op 19 Februarie 2011 was 210 teenwoordig by die toewyding van die vergrote landskantoor in Burkina Faso. Die toewydingstoespraak is gehou deur John Kikot, van die wêreldhoofkwartier. Die predikingswerk hier was tot Mei 2011 onder die toesig van die takkantoor in die Ivoorkus, waarna Burkina Faso onder die toesig van die takkantoor in Benin gekom het. Die goeie gedrag op die bouterrein het Jehovah se naam tot groot eer gestrek. “Daar was geen geskreeu nie”, het ’n werknemer van ’n groot maatskappy gesê. “Ons het nog nooit tevore op ’n bouprojek saam met sulke kalm en gelukkige mense gewerk nie.”
Daar was groot blydskap toe die nuwe fasiliteite van die takkantoor in Hongkong op 27 Augustus 2011 toegewy is. Hierdie nuwe fasiliteite is op die 19de verdieping van ’n 37-verdiepinggebou met ’n uitsig op die Victoria-hawe. (Sien pyltjie hieronder.) Stephen Lett van die Bestuursliggaam het die toewydingstoespraak gehou voor ’n geesdriftige skare van 290 wat in die eetsaal, kantore en Versendingsafdeling gesit het. Die nuwe kantoorruimte bied welkome verligting vir die Vertaal-, Diens-, Oudio-/Video-, Aankope-, Versendings- en Rekeningafdelings.
Verslag oor regsaangeleenthede
Die getroue profeet Jeremia het goeie rede gehad om te vertrou dat God die Almagtige hom nooit sou verlaat nie. “Hulle sal beslis teen jou veg”, het Jehovah gesê, “maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want ek is met jou om jou te red en jou te verlos” (Jer. 15:20). Soos die volgende verslae toon, geniet Jehovah se hedendaagse knegte eweneens sy onderskraging en steun terwyl hulle hulle predikingsopdrag selfs te midde van teenstand uitvoer.—Matt. 24:9; 28:19, 20.
Armenië Vahan Bayatyan, een van Jehovah se Getuies, is tot twee en ’n half jaar tronkstraf gevonnis weens sy gewetensbeswaar teen militêre diens. Nadat hy sy saak verloor het en onsuksesvol na Armeense howe geappelleer het, is sy saak deur die Europese Hof van Menseregte (EHMR) verhoor. Op 27 Oktober 2009 het sewe regters van die EHMR teen broer Bayatyan en ten gunste van Armenië beslis. Maar ’n regter wat nie met die Hof se beslissing saamgestem het nie, het gevoel dat hierdie beslissing “onverenigbaar is met huidige Europese standaarde in verband met die gewetensbeswaarkwessie”. Aangesien dit so ’n belangrike kwessie is, het die EHMR ingestem om hierdie saak na sy Groot Kamer te verwys, wat uit 17 regters bestaan.
Op 7 Julie 2011 het die paneel van 17 regters, met ’n meerderheid van 16 stemme teen een, beslis dat Armenië broer Bayatyan se reg op gewetensvryheid geskend het. Die Hof het gesê dat dit “geen rede het om daaraan te twyfel nie dat die aansoeker se beswaar teen militêre diens beweeg word deur sy godsdiensopvattings, wat opreg gehuldig word en reëlreg in stryd is met sy verpligting om militêre diens te verrig”. Hierdie mylpaalbeslissing sal hopelik lei tot die uiteindelike vrylating van 69 broers wat in Armenië opgesluit is, asook van broers in Azerbeidjan en Turkye wat met dieselfde kwessie te kampe het.a
Bulgarye Op 17 April 2011 het meer as 100 mense, insluitende vroue, kinders en bejaardes, die Herdenking van Christus se dood vreedsaam gehou in ’n Koninkryksaal in Boergas. Buite het ’n woedende skare van sowat 60 mans saamgedrom en die Getuies wat by die ingang gestaan het, met groot klippe begin gooi. Die oproerige skare het toe die Koninkryksaal bestorm, maar die broers het gekeer dat hulle die saal binnekom. Die polisie is onmiddellik ontbied, maar hulle het lank gevat om op te daag. ’n Aantal Getuies is in die aanval beseer, en vyf moes met ’n ambulans hospitaal toe geneem word. Ten spyte van die aanval het die gemeente die Gedenkmaal gehou. Die aanval was ongewoon, aangesien Jehovah se Getuies in Bulgarye oor die algemeen met respek behandel word, en dit het in werklikheid positiewe publisiteit tot gevolg gehad. Die Bestuursliggaam het gereël dat 13 takkantore die aanval onder die aandag bring van die Bulgaarse ambassades in hulle onderskeie lande. Sedertdien het die Bulgaarse regering die aanval veroordeel, en die plaaslike aanklaer het aanklagte teen agt van die aanvallers ingebring.
Suid-Korea Meer as 800 Getuies van Jehovah is nog steeds in die tronk in Suid-Korea omdat hulle om godsdiensredes en op grond van hulle gewete weier om militêre diens te verrig. Sedert 1950 is meer as 16- 000 Getuies van Jehovah tot altesaam meer as 31 000 jaar tronkstraf gevonnis omdat hulle weier om militêre diens te verrig. Waarom het soveel jong mans so ’n onwrikbare standpunt ingeneem?
Elke jong man wat weier om militêre diens te verrig, neem ’n persoonlike gewetensbesluit. Kim Dji-Gwan het byvoorbeeld tydens sy verhoor verduidelik: “Ek is diep geraak deur Bybelleringe soos ‘mense sal nie meer leer om oorlog te voer nie’ en ‘jy moet jou naaste liefhê soos jouself’. Ek het ook geleer dat beginselvaste liefde ons kan beweeg om ons vyande lief te hê. Op grond van hierdie en ander tekste en as gevolg van my eie vaste oortuigings het ek besluit om te weier om militêre diens te verrig.”—Jes. 2:4; Matt. 5:43, 44; 22:36-39.
Jong mans in Suid-Korea word tans nie die keuse gegee om alternatiewe burgerlike diens te verrig nie. In ’n poging om hierdie geskil op te los, is tien sake na Korea se Konstitusionele Hof geappelleer. Op 11 November 2010 het die hof argumente aangehoor, onder meer oor die vraag of Korea se versuim om ’n alternatiewe reëling vir gewetensbeswaardes in te stel, ’n skending van die regte van Korea se burgers is.
Intussen het die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee (UNHRC) op 24 Maart 2011 beslis dat Suid-Korea internasionaal erkende standaarde van menseregte geskend het toe dit 100 gewetensbeswaardes wat Jehovah se Getuies is, opgesluit het. (Hierdie 100 broers het by die UNHRC appèl aangeteken omdat hulle opgesluit is.) Daarbenewens is die gunstige uitspraak in broer Bayatyan se saak deur die Groot Kamer van die EHMR (sien die verslag oor Armenië op bladsye 34-35) by Korea se Konstitusionele Hof ingedien vir oorweging in die hangende beslissing in verband met die tien gekombineerde sake. Maar op 30 Augustus 2011 het die Konstitusionele Hof nietemin die Wet op Militêre Diensplig sowel as die volgehoue opsluiting van gewetensbeswaardes gehandhaaf, in algehele verontagsaming van die beslissings deur die UNHRC. Twee van die nege regters, wat besef het dat die Wet op Militêre Diensplig bots met die grondwet se erkenning van gewetensvryheid, het nie met die beslissing saamgestem nie en ’n beroep gedoen dat ’n stelsel van alternatiewe burgerlike diens ingestel word.
Turkye Op 31 Julie 2007 was ons broers hier verheug om wetlike erkenning as ’n godsdiensvereniging te ontvang. Hoewel daar nog steeds uitdagings in verband met die neutraliteitskwessie en die gebruik van ons Koninkryksale is, gaan die Koninkrykswerk in hierdie land steeds vooruit. Op 26 April 2011 het die Departement van Nasionale Onderwys vir die Turkse Republiek ’n amptelike opdrag uitgestuur wat gesê het dat ‘Jehovah se Getuies vrygestel kan word van verpligte godsdiensklasse in die skool’. Die Departement het geredeneer: “Hoewel Jehovah se Getuies nie party algemene opvattings van die Christendom aanvaar nie, is Jehovah se Getuies ’n Christelike godsdiens.” Hierdie besluit is welkome nuus vir ons jong broers en susters wat deur die jare heen druippunte op skool gekry het omdat hulle weier om aan godsdiensklasse deel te neem.
Verenigde State In Mei 2011 het Kansas se Appèlhof ’n gunstige beslissing gegee in die saak Mary D. Stinemetz v. Kansas se Owerheid vir Gesondheidsbeleid. Die hof het beslis dat die staat Kansas se weiering om suster Stinemetz se bloedlose chirurgie in ’n ander staat te magtig, haar federale sowel as staat- grondwetlike regte geskend het. Aangesien die soort bloedlose chirurgie wat die suster nodig gehad het, nie in Kansas beskikbaar was nie, het die hof die staat Kansas beveel om ons suster se chirurgie in ’n ander staat te magtig. Dit is ’n oorwinning, nie net vir suster Stinemetz nie, maar ook vir ander verkondigers in die Verenigde State wat staatsondersteunde gesondheidsorg ontvang.
Op 10 Augustus 2011 het die Hooggeregshof van Kansas ’n gunstige beslissing bekragtig wat aan Monica McGlory, een van Jehovah se Getuies, toesig oor haar seun toegeken het. Die pa het toesig oor die kind probeer verkry en het beweer dat suster McGlory nie toesig oor hulle seun moet kry nie omdat (1) sy nie tot ’n bloedoortapping sal instem nie, (2) sy die kind saam met haar in die deur-tot-deur-bediening neem en (3) sy hom na bewering van sy pa en sy gemeenskap vervreem deur hulle seun van Armageddon te leer.
Kansas se Hooggeregshof het grondwetlike beginsels bevestig wat reeds in 1957 uiteengesit is toe dit gesê het: “Godsdiensvryheid, soos gewaarborg deur ons grondwet, moet getrou gehandhaaf word, en godsdiensleringe aan kinders behoort nie en moet nie beskou word as ’n grondslag vir beslissings oor kindertoesig nie.” Aangaande die bloedoortappingskwessie het die hof gesê: “Ons kan nie ’n uitspraak in sake [oor toesig] lewer op grond van ’n denkbeeldige toekomstige ongeluk of siekte wat dalk [’n bloedoortapping] noodsaaklik sal maak nie.”
Frankryk Daar was groot blydskap op 30 Junie 2011 toe die EHMR ’n beslissing ten gunste van die Vereniging van Jehovah se Getuies van Frankryk gegee het. Dit was die uitslag van ’n 16 jaar lange regstryd weens ’n buitensporige en omstrede belastingheffing van 60 persent op bydraes aan die takkantoor. Die Getuies is die enigste vername godsdiensorganisasie wat op hierdie wyse belas is. Die regering van Frankryk wou Jehovah se Getuies verplig om altesaam 58 miljoen euro (meer as R638 miljoen) te betaal, ’n bedrag wat die bates van die Vereniging ver oorskry. Nadat selfs die hoogste hof in Frankryk die belastingheffing bekragtig het, is die saak in Februarie 2005 na die EHMR geappelleer.
Op 30 Junie 2011 het die sewe regters van die EHMR eenparig verklaar dat Frankryk se optrede, indien dit gehandhaaf word, Jehovah se Getuies regstreeks sal verhinder om hulle godsdiens vryelik te beoefen. Die Hof het bevestig dat die beskerming wat deur die Europese Konvensie oor Menseregte verleen word, op Jehovah se Getuies van toepassing is. Hierdie verreikende presedent sal ’n waardevolle middel wees in die strewe na godsdiensvryheid in ander lande onder die jurisdiksie van die EHMR, soos Armenië, Bulgarye, Georgië en Rusland. Dit is ook betekenisvol dat dit die eerste keer is dat die regering van Frankryk skuldig bevind is aan die skending van die Europese Konvensie se artikel oor godsdiensvryheid. Die Franse regering het nie teen die beslissing geappelleer nie.
Rusland Op 10 Junie 2010 het die EHMR aan Jehovah se Getuies ’n geskiedkundige regsoorwinning teen die Russiese regering verleen in die saak Jehovah se Getuies van Moskou v. Rusland. Hoewel die Russiese regering versoek het dat die saak na die Groot Kamer van die Hof met sy paneel van 17 regters verwys word, het die paneel van die Groot Kamer op 13 Desember 2010 die regering se versoek verwerp, wat die beslissing van 10 Junie finaal gemaak het. Volgens hierdie beslissing het die Russiese regering “’n wetlike verpligting . . . om ’n einde te maak aan die skending soos deur die Hof bevind is en om so ver moontlik vergoeding te doen vir die gevolge daarvan”. Maar tot dusver het die regering versuim om hierdie beslissing uit te voer. Dit het eerder nuwe maniere gevind om die Getuies te teister en die vrye beoefening van hulle godsdiens te verhinder.
Byvoorbeeld, op 25 Augustus 2011 het die polisie in die vroeë oggendure ’n klopjag gedoen op 19 van ons broers se huise in die stad Taganrog en beslag gelê op godsdienslektuur, rekenaars en gemeentelike verslae. Hierdie klopjagte hou blykbaar verband met ’n vroeëre beslissing van die Hooggeregshof van die Russiese Federasie dat die plaaslike godsdiensorganisasie in Taganrog gelikwideer word en dat 34 van ons publikasies as ekstremisties verklaar word. Op grond van beslissings deur Russiese howe het die regering 63 van ons publikasies op die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal geplaas.
Daarbenewens was ons broers en susters die slagoffers van ten minste 950 klopjagte, aanrandings, inhegtenisnemings en gevalle van polisieaanhouding. Die Russiese owerheid het 11 strafsake teen ons broers aanhangig gemaak, en baie Koninkryksale is deur vandale beskadig. Die owerheid het selfs waarnemingskameras in die huis van ten minste een gesin aangebring en baie ander se telefoongesprekke afgeluister en e-posrekeninge gemonitor in ’n poging om kriminele aanklagte onder die wet teen ekstremisme te versin.
So ’n versinde aanklag is in die stad Gorno-Altaisk teen die 35-jarige Aleksandr Kalistratof ingebring, wat daarvan beskuldig is dat hy “godsdienshaat of -vyandigheid aanstig” onder ’n wet teen ekstremisme wat oral deur voorstanders van menseregte gekritiseer word. Gedurende die verhoor, wat van 7 Oktober 2010 tot 18 Maart 2011 geduur het, kon nie een van die 71 staatsgetuies wat onder kruisverhoor geneem is, enige kriminele daad—of selfs oogmerk—aan Aleksandr se kant bewys nie. Die hof het die lektuur en leringe van Jehovah se Getuies deeglik bestudeer, en op 14 April 2011 het die regter hom onskuldig bevind. Die aanklaer het egter teen hierdie uitspraak geappelleer, en op 26 Mei 2011 het die Hooggeregshof van die Republiek Altai besluit om die saak terug te verwys na die laer hof vir ’n verhoor met ’n nuwe regter. Nadat hy geheel en al vrygespreek is, staar broer Kalistratof dus nou ’n heeltemal nuwe verhoor in die gesig waarin hy nog steeds valslik as ’n ekstremis verklaar kan word.
Hierdie saak met betrekking tot sogenaamd gevaarlike bedrywighede het natuurlik groot openbare aandag op ons werk in die klein stad Gorno-Altaisk gevestig. Hoe het die plaaslike Getuies, wat ook die risiko loop om voor die hof gedaag te word, onder hierdie omstandighede gevaar?
“Gedurende hierdie moeilike tyd het die Bybel kosbaarder geword”, sê ’n suster met die naam Inna. “My broers en susters is meer soos familie, en ek voel nader aan Jehovah as ooit tevore!” Hoewel party van ons publikasies verbied is, is baie studies begin deur net die Bybel te gebruik. Die aantal verkondigers in die Republiek Altai het met 24 persent toegeneem. Die Getuies het 33 persent meer tyd in die veldbediening deurgebring. Die Gedenkmaalbywoningsyfer was 16 persent hoër as die vorige jaar, twee keer soveel as die aantal verkondigers in die hele republiek!
Intussen het Jehovah se Getuies in Rusland 13 nuwe aansoeke by die EHMR teen die Russiese regering ingedien. Een van die aansoeke betwis die Hooggeregshof se beslissing van 8 Desember 2009, en ’n ander een betwis die beslissing van die Hooggeregshof van die Republiek Altai waarvolgens 18 van ons publikasies as ekstremisties verklaar is.
[Voetnoot]
a Uit die 49 sake wat die EHMR sedert 1965 in verband met Jehovah se Getuies verhoor het, het die Hof gunstige beslissings in al die sake behalwe 2 gegee. Hierdie onlangse oorwinning met betrekking tot broer Bayatyan het nou een van hierdie twee ongunstige beslissings ter syde gestel.
[Lokteks op bladsy 14]
“Daar staan in die Profete geskrywe: ‘En hulle sal almal deur Jehovah geleer word’”
[Lokteks op bladsy 25]
“Die woord ‘dankie’ kan skaars die gevoelens in my hart weergee”
[Venster op bladsy 12]
Wat hulle oor hulppionierdiens gesê het:
• “Ek kon vir die eerste keer in my lewe as ’n hulppionier dien. Ek het nie woorde om my dankbaarheid vir hierdie geleentheid uit te spreek nie!”
• “Baie dankie vir hierdie nuwe reëling. Dit het ons soveel vreugde verskaf.”
• “Dit was ’n hoogtepunt in ons gemeente se geskiedenis.”
• “Die feit dat ons soveel hulppioniers gehad het, het tot ’n gees van vrede en eenheid in die gemeente bygedra.”
• “Ja, Armageddon kom sekerlik binnekort!”—’n Man wat nie ’n Getuie is nie en ons groter bedrywigheid in April opgemerk het.
[Venster op bladsy 43]
HULLE ‘ROEP MET VREUGDE UIT’
HIERDIE wêreld, wat onder die toornige beheer van Satan is, ondervind al hoe groter weë (Op. 12:12). Daarenteen ‘roep Jehovah se knegte met vreugde uit weens die goeie toestand van die hart’ (Jes. 65:13, 14). Hulle gaan sonder ophou voort om soveel mense moontlik te nooi om die ware God te aanbid, in die wete dat ‘almal wat hulle toevlug tot Jehovah neem, bly sal wees en tot onbepaalde tyd met vreugde sal uitroep’.—Ps. 5:11.
[Tabel/Grafieke op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BESKIKBAAR IN 106 TALE
Volledige Nuwe Wêreld-vertaling: 62 Christelike Griekse
Geskrifte: 44
Afrikaans Amerikaanse Gebaretaal
Albanees Amharies
Arabies Azerbeidjans
Armeens Azerbeidjans (Cyrilliese skrif)
Bulgaars Brasiliaanse Gebaretaal
Cebuano Chitonga
Chichewa Colombiaanse Gebaretaal
Chinees (Tradisioneel) Esties
Chinees (Vereenvoudig) Ewe
Cibemba Fidjiaans
Deens Gun
Duits Haïtiaanse Kreools
Efik Hiligaynon
Engels Hindi
Fins Hiri Motu
Frans Italiaanse Gebaretaal
Georgies Kambodjaans
Grieks Kanarees
Hongaars Kazak
Ibo Kikaonde
Iloko Kiribati
Indonesies Letties
Italiaans Litaus
Japannees Luganda
Joroeba Luvale
Kinyarwanda Malabaars
Kirgisies Mexikaanse Gebaretaal
Kirundi Mianmees
Koreaans Nepalees
Kroaties Oekraïens
Lingala Oesbekies
Malgassies Pandjabi
Maltees Pangasinaans
Masedonies Papiamentoe (Curaçao)
Nederlands Russiese Gebaretaal
Noors Sango
Osseties Silozi
Pools Sranantongo
Portugees Tamil
Roemeens Thai
Russies Tok Pisin
Samoaans Tongaans
Sepedi Tumbuka
Serwies Viëtnamees
Serwies (Romeinse skrif)
Shona
Singala
Slowaaks
Sloweens
Spaans
Suid-Sotho
Swahili
Sweeds
Tagalog
Tsjeggies
Tsonga
Tswana
Turks
Twi (Akuapem)
Twi (Asante)
Xhosa
Zulu
[Grafieke]
◀ 76% ◁ 24%
Teen 2011 het ten minste 76 persent van die wêreld se bevolking die “Nuwe Wêreld-vertaling” (in sy geheel of gedeeltelik) in hulle moedertaal gehad
110
100
90
80
70
60
50
40
30
20
10
0
1950 1955 1960 1965 1970 1975 1980 1985 1990 1995 2000 2005 2010
[Grafiek op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Wêreldwyd het 2 657 377 verkondigers as hulppioniers gedien
2.5 (MILJOEN)
2.0
1.5
1.0
0.5
0
2008 2009 2010 2011
[Kaart op bladsy 35]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VERENIGDE STATE
FRANKRYK
BULGARYE
TURKYE
ARMENIË
AZERBEIDJAN
RUSLAND
SUID-KOREA
[Prent op bladsy 6]
Bo: Pioniers en verkondigers het hulle Bybelstudente na Jeannette se huis geneem vir hulle studies. (Sien bladsy 9)
[Prent op bladsy 7]
’n Groep gewone en hulppioniers wat op pad is om velddiens te gaan doen in Madrid, Spanje
[Prent op bladsy 10]
Tosji getuig vir ’n helper in ’n verpleeginrigting
[Prent op bladsy 11]
Alejandro en sy pa op die laaste dag van die maand in Sant Celoni, Barcelona, Spanje
[Prent op bladsy 13]
Wagtoring- onderrigsentrum by Patterson, New York, VSA
[Prent op bladsy 18]
Koninkryksaal in Rikoezentakata, Japan
[Prent op bladsy 22]
Bo: Vrywilligers dra puin uit ’n broer se huis in Sjibata, Mijagi
[Prent op bladsy 22]
Links: ’n Takkomiteelid hou ’n toespraak by ’n broer se huis in Rikoezentakata
[Prent op bladsy 22]
Onder: Vrywilligers berei middagete voor vir dié wat ’n spesiale byeenkomsdag in die rampgebied bywoon
[Prent op bladsy 24]
Litause en Lettiese vertalings
[Prente op bladsy 31]
Gedenkteken by Yankee-stadion, New York, VSA
[Prent op bladsy 32]
Kantoor in Burkina Faso
[Prent op bladsy 32]
Takkantoor in Chili
[Prente op bladsy 33]
Konstruksiewerkers by die kantoor in Burkina Faso
[Prente op bladsy 33]
Nuwe takfasiliteite in Hongkong
[Prent op bladsy 34]
Europese Hof van Menseregte, Straatsburg, Frankryk
[Prente op bladsy 38]
Leerlinge met hulle skoolrapporte. Hulle is bly dat hulle vrygestel is van godsdiensklasse
[Prent op bladsy 41]
Getuies preek in Gorno-Altaisk, die Republiek Altai