Die nuwe Walliese Bybel—’n verbetering?
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
“Die oogmerk is nie dat Y Beibl Cymraeg Newydd [Die Nuwe Walliese Bybel] die William Morgan-Bybel [hierbo] [Artwork—(Welsh Bible text)] moet verdring nie, maar dat hy sy plek naas die klassieke Bybel moet inneem”, sê die Bybelgenootskap. Wie was William Morgan, en wat kan aangaande die Walliese taal en hierdie Bybelvertalings gesê word?
WALLIS, ’n pragtige bergagtige land wat ongeveer 21 000 vierkante kilometer beslaan en aan die westekant van Engeland se grens geleë is, het twee amptelike tale, Wallies en Engels. Wallies, wat ouer as Engels is, is ’n ou taal wat van die Keltiese vertakking van die Indoe-Europese taalfamilie afkomstig is. Vandag het die land ’n bevolking van effens minder as driemiljoen mense, maar slegs 1 uit 4 praat Wallies. Hulle het egter eers sedert die 16de eeu die Bybel in Wallies gehad.
Die boek wat ’n taal gered het
Die Walliese vertaling van die Christelike Griekse Skrifte is teen 1567 voltooi. Dit was hoofsaaklik die werk van twee vakkundiges, William Salesbury en Richard Davies, met Thomas Huet se vertaling van die boek Openbaring. William Morgan, ’n kenner van Hebreeus, Grieks en Latyn, het hulle vertalings later hersien en sy vertaling van die Hebreeuse Skrifte bygevoeg. Die volledige Bybel is uiteindelik in 1588 gepubliseer, en sodoende is die doel bereik dat elke Wallieser die waarheid van die Skrif uit die bron in sy eie taal kon uitskep.—Wales—A History, deur Wynford Vaughan-Thomas.
Na die publikasie van die Engelse King James Version in 1611 is Morgan se Bybel hersien deur sy opvolger, Richard Parry, en hierdie uitgawe word vandag nog gebruik. Maar soos The Bible in Wales dit stel: “Parry se Bybel het die Walliesers sommige voordele van Morgan se kundigheid ontneem.”
William Morgan se vertaling was ’n merkwaardige prestasie. Hy het hom ook as ’n prosameester onderskei, selfs al het hy geen voorbeeld gehad om te volg nie, aangesien daar tot op daardie tydstip feitlik niks behalwe poësie in Wallies geskryf is nie. Sy hartlike, deftige styl en vloeiende uitdrukkings was 400 jaar lank vir die Walliesers ’n maatstaf wat prosa sowel as spraak betref. Maar dit het nog meer gedoen. “As daar ooit ’n enkele boek was wat ’n taal gered het”, sê Walliese geskiedskrywer Wynford Vaughan-Thomas, “is dit die Walliese Bybel.”
Iets noodsaakliks nie gered nie
Om die 400ste herdenking van die Walliese Bybel te vier, het ’n nuwe vertaling in 1988 verskyn—die eindproduk van 25 jaar se werk. Wat is party kenmerke daarvan, en hoe vergelyk dit met William Morgan se Bybel?
Soos enige ander taal het Wallies deur die eeue heen verander en ontwikkel. Daarom kon ’n mens verwag dat Y Beibl Cymraeg Newydd in “idiomatiese Wallies, wat vir lesers in die laat 20ste eeu verstaanbaar is”, geskryf sou word. Die hoop dat “hierdie nuwe moderne vertaling ’n beter begrip van God se Woord sal meebring, en die mense van Wallis opnuut bewus sal maak van die boodskap daarvan” is inderdaad edel. Wat kan egter gesê word aangaande die bewering dat dit “die vertalers se hoofdoel was om die betekenis van die oorspronklike teks so akkuraat en getrou moontlik weer te gee”? Hoe grondig is daardie bewering?
In die Hebreeuse Skrifte verskyn die naam van God in die vorm van die Tetragrammaton, יהוה, wat in Wallies met Jehofa, of Jehofah, vertaal word. Toe die vertaalkomitee gevra is watter beleid hulle in die Y Beibl Cymraeg Newydd sou volg wanneer hulle hierdie Tetragrammaton vertaal, het hulle geantwoord: “Jehofah is ’n kunsmatige naam! . . . Dit [Jehofah] klink dalk indrukwekkend, maar dit kom met niks in die oorspronklike Bybeltaal ooreen nie . . . Die woord [Tetragrammaton] kom weliswaar meer as seweduisend keer in die Bybel voor, maar die Jode het elke keer (die) HERE gesê.” Hulle het hul dus blykbaar deur Joodse tradisie laat lei en besluit om nie die persoonlike naam van God te vertaal nie maar dit eerder met ARGLWYDD (HERE) te vervang. Hoewel die vertalers teen die gebruik van Jehofah beswaar maak, erken hulle in hul “Voorwoord by die Ou Testament” dat daar ’n ander “tradisionele manier is om die goddelike naam te vertaal . . . Yahweh”. Waarom het hulle dan nie ten minste dít gebruik nie?
The New English Bible sê in ’n voetnoot by Exodus 3:15: “Die Hebreeuse konsonante is YHWH, vermoedelik as Yahweh uitgespreek, maar tradisioneel as Jehovah gelees.” In die moderne New Jerusalem Bible is die Tetragrammaton vertaal met “Yahweh”, want soos die Redakteur se Voorwoord erken: “Dit is beslis ’n toutologie [onnodige herhaling] om te sê ‘Die Here is God’, terwyl ‘Yahweh is God’ nie ’n toutologie is nie.” Tog is dit presies wat die vertalers van Y Beibl Cymraeg Newydd doen wanneer hulle byvoorbeeld Psalm 100:3 as volg vertaal: “Gwybyddwch mai’r ARGLWYDD sydd Dduw [“Weet dat die HERE God is”].”
Hoewel Y Beibl Cymraeg Newydd se vertaalkomitee in hulle beleidsverklaring gemeld het dat “die Goddelike Naam in die Ou Testament . . . as HERE sal verskyn”, is hulle eienaardig genoeg inkonsekwent. In Exodus 17:15 gebruik hulle teks “Jehofa-Nissi” (“Jehovah is my banier”), en in Barnwyr (Rigters) 6:24 “Jehofa-shalom” (“Jehovah is vrede”). Maar in soortgelyke uitdrukkings waarin die goddelike naam gebruik word, soos “Jehovah-jireh” (“Jehovah sal [daarvoor] sorg; Jehovah sal voorsien”) in Genesis 22:14 (NW), verskyn “ARGLWYDD” sonder enige verduideliking.
In teenstelling met hierdie teenstrydighede in Y Beibl Cymraeg Newydd het Hebreeuse kenner William Morgan besef dat die Tetragrammaton persoonlikheid aandui. Hy het die naam Jehofa byvoorbeeld in Exodus 6:2, 3 en Psalm 83:18 gebruik. Dit is interessant dat hy ook die verkorte vorm van die goddelike naam, Jah, in sy vertaling “Halelu-Jah” (“Loof Jah, julle volke”) in die Christelike Griekse Skrifte in Gweledigaeth Ioan (Openbaring) 19:1, 3, 4 en 6 gebruik.
Die Walliesers prys Jehovah
Ten tyde van sy dood in 1604 was William Morgan nog in die skuld gewees weens die druk van sy nuwe Bybelvertaling, maar sy doelwit was verwesenlik. Dit is grotendeels te danke aan sy bekwaamheid en liefdevolle arbeid dat die Bybel ’n ryke erfenis vir die godsdiensgesinde Walliesers geword het.
Die goeie nuus van Jehovah God se Koninkryk word vandag deur sowat 6500 Getuies van Jehovah, wat meer as 80 gemeentes uitmaak, in Wallis verkondig. Party studiehulpe wat deur die Wagtoringgenootskap gepubliseer word, is ook in Wallies beskikbaar vir mense wat met Engels sukkel. Oral in die prinsdom Wallis verkondig en waardeer Jehovah se lojale Getuies dus sy naam en voorneme, ongeag watter Bybelvertaling byderhand is.—Jesaja 43:10-12, vgl. NW.