Waardeer jy die Bybel?
MARY JONES is net oor die 200 jaar gelede in Llanfihangel gebore—’n afgeleë Walliese dorpie nie ver van die Atlantiese kuslyn af nie. Haar ouers was arm wewers—te arm om ’n Bybel te besit. Maar hulle het ’n liefde vir God by hulle dogter ingeskerp deur vir haar Bybelverhale te vertel en tekste op te sê wat hulle kon onthou. Mary het dikwels een van hulle bure se Walliese Bybel gelees en begin om die bietjie geld wat sy kon te spaar, aangesien sy vasbeslote was om haar eie te koop.
In die jaar 1800, toe Mary 16 was, het sy gehoor dat ’n paar Walliese Bybels te koop was in die dorpie Bala wat 40 kilometer daarvandaan geleë was. Sy het haar nie deur die afstand laat afskrik nie en het besluit om daarheen te stap. Sy hét toe ook kaalvoet oor die heuwels gestap. Maar toe sy daar aangekom het, was al die Bybels reeds verkoop. Mary het ook uitgevind dat die geld wat sy gespaar het heeltemal te min was.
Die plaaslike predikant is diep getref deur Mary se kennis van en liefde vir die Bybel. Toe hy haar trane van teleurstelling sien ná al die moeite wat sy gedoen het, het hy goedgunstig sy eie eksemplaar vir haar gegee en gesê: “Lees dit sorgvuldig, bestudeer dit ywerig, bewaar die heilige woorde as ’n skat in jou geheue en leef in ooreenstemming met die leringe daarvan.”
Hierdie verhaal is later by ’n vergadering van die Committee of the Religious Tract Society of London oorvertel. Hulle het daar besluit om Bybelvertalings nie net aan die mense van Wallis nie, maar aan die hele wêreld te verskaf. Die eerste van talle Bybelgenootskappe van die 19de eeu het hulle oorsprong by hierdie eenvoudige begin gehad. Daarna het daar al hoe meer Bybels in ander tale begin verskyn.
Vandag druk die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, wat in 1884 geïnkorporeer is, Bybels en Bybelstudiehulpe in meer as 200 tale. Hulle het wêreldwyd al 72 miljoen eksemplare van die New World Translation of the Holy Scriptures in hedendaagse tale versprei. Die New World Translation, wat uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks vertaal is, is nou in sy geheel of ten dele in 18 tale beskikbaar en word tans in nog 12 tale vertaal.
Byna almal het nou toegang tot die Bybel, maar hoe beskou jy dit? Waardeer jy die Bybel? Het jy ’n eksemplaar wat jy as ’n skat bewaar en lees?
[Foto-erkenning op bladsy 3]
From the book The Story of Mary Jones and Her Bible