“So solied soos die Rots van Gibraltar”
Die Rots van Gibraltar lyk ongetwyfeld solied waar dit steil uit die warm, blou Mediterreense waters tot ’n hoogte van 426 meter oprys. Op ’n helder dag kan ’n mens die skerp piek van Gibraltar maklik uit suidelike Spanje en Marokko kilometers daarvandaan aan die oorkant van die Middellandse See sien.
Gibraltar se geskiedenis kan teruggevoer word tot daardie mistige tydperke toe eertydse matrose, wat geglo het dat die aarde plat is, gedink het dat as hulle deur die Straat van Gibraltar gaan hulle die einde van die wêreld en die afgrond van vernietiging sou bereik. Dit is ook beskou as een van die Pilare van Hercules; die ander een is Djebel Musa by Ceuta, aan die kus van Afrika oorkant die straat. Volgens ’n mite het die Griekse held Hercules die berge verdeel.
Die stad Gibraltar het sy bestaan te danke aan die Arabiere wat in die agste een G.J. uit Noord-Afrika gekom en later die stad in 1160 gestig het. Die naam Gibraltar kom van die Arabiese naam Djebel al Tarik of Berg van Tarik. Ṭāriq ibn Ziyād was ’n Arabiese leier wat die laaste Gotiese koning in 711 G.J. verslaan het.
Die Spanjaarde het Gibraltar in 1462 verower, maar het dit in 1704 aan die Britte afgestaan. Dit is vandag nog een van die laaste buiteposte van die vroeëre Britse Ryk. Maar die Rots van Gibraltar is steeds ’n simbool van iets wat solied en permanent is.
Twee gemeentes (Engels en Spaans) van ongeveer 120 Getuies van Jehovah in Gibraltar verkondig die belofte van God se Koninkryksregering aan die Gibraltarese, ’n belofte wat selfs solieder as die Rots is!—Titus 1:1, 2; Hebreërs 6:17-19.