“Aangesien ons hierdie bediening het . . . , gee ons nie moed op nie”
SOOS VERTEL DEUR RONALD TAYLOR
Gedurende die somer van 1963 het ek om my lewe geveg. Terwyl ek langs die strand in die water geloop het, het ek in ’n bedrieglike holte getrap en het meteens in baie diep water geval. Aangesien ek nie kon swem nie, was ek op die punt om net ’n paar meter van die strand af te verdrink. Ek het reeds drie maal in die water weggesak en baie seewater gesluk toe ’n vriend my penarie gesien en my na die strand getrek het. Danksy die vinnige toepassing van kunsmatige asemhaling het ek die voorval oorleef.
DIT was nie die eerste keer dat ek tot die besef gekom het dat dit belangrik is om nooit moed op te gee nie—selfs al lyk dinge hopeloos. Van jongs af moes ek vir my geestelike lewe veg.
Dit was gedurende die duistere dae van die tweede wêreldoorlog dat ek vir die eerste keer met die Christelike waarheid in aanraking gekom het. Ek was een van die duisende kinders wat uit Londen verwyder is om die gevare van bomaanvalle te ontvlug. Aangesien ek net 12 jaar oud was, het die oorlog nie werklik baie vir my beteken nie; dit was byna soos ’n avontuur.
’n Bejaarde egpaar in Weston-super-Mare, Suidwes-Engeland, het vir my gesorg. Kort nadat ek by die egpaar se huis aangekom het, het pionierbedienaars ons begin besoek. Dit was die Hargreaves-gesin; al vier—Reg, Mabs, Pamela en Valeri—was spesiale pioniers. My pleegouers het die waarheid aanvaar, en nadat ek die boek Die harp van God bestudeer het, het ek ook besluit om Jehovah te dien. Slegs ses weke later is ek genooi om aan die predikingswerk deel te neem.
Ek kan nog daardie eerste dag in die velddiens onthou. ’n Paar boekies is sonder meer vir my gegee en daar is vir my gesê: “Werk jy aan daardie kant van die straat.” En dit is hoe my eerste dag in die predikingswerk verloop het. Destyds het ons dikwels getuig deur grammofoonplate te gebruik wat kragtige preke bevat het. My gelukkigste oomblikke was wanneer ek die grammofoon van huis tot huis kon dra en opnames van lesings kon speel. Ek het dit as ’n ware voorreg beskou om so gebruik te word.
Ek het baie by die skool getuig, en ek onthou hoe ek ’n stel boeke oor Bybelonderwerpe by die skoolhoof gelaat het. Toe ek 13 was, is ek by ’n nabygeleë byeenkoms in Bath gedoop. ’n Ander streekbyeenkoms gedurende oorlogstyd wat ek nooit sal vergeet nie, was die een wat in 1941 in Leicester in die De Montfort-saal gehou is. Ek het na die verhoog gegaan om my eksemplaar van die boek Kinders te ontvang, wat ’n persoonlike boodskap bevat het van broer Rutherford, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was. Die roerende toespraak wat gehou is vir al die jongmense wat teenwoordig was, het my begeerte versterk om Jehovah vir ewig te dien.
So het ek twee gelukkige jare by my pleegouers deurgebring en in die waarheid grootgeword. Maar op 14 moes ek na Londen terugkeer en begin werk om ’n bestaan te maak. Hoewel ek met my gesin herenig is, moes ek nou op geestelike gebied op my eie bene staan, aangesien niemand by die huis my oortuiging gedeel het nie. Jehovah het spoedig die hulp voorsien wat ek nodig gehad het. Slegs drie weke ná my aankoms in Londen het ’n broer na ons huis gekom en my pa se toestemming gevra om my na die plaaslike Koninkryksaal te neem. Die broer was John Barr, wat nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is. Hy het een van my geestelike “vaders” gedurende daardie kritieke tienerjare geword.—Mattheüs 19:29.
Ek het met die Paddington-gemeente begin assosieer, wat in Craven Terrace langs die Londense Bethelhuis vergader het. Aangesien ek ’n geestelike weeskind was, is ’n bejaarde gesalfde broer, “Pop” Humphreys, gevra om spesiale aandag aan my te gee. Dit was beslis ’n groot seën om met die talle gesalfde broers en susters in daardie gemeente te kon assosieer. Dié van ons met die aardse hoop—wat Jonadabs genoem is—was in die minderheid. Trouens, ek was die enigste “Jonadab” in die Gemeentelike Boekstudie wat ek bygewoon het. Hoewel ek nie veel assosiasie met ander van my eie ouderdom gehad het nie, het daardie kosbare omgang met ryp broers my talle nuttige lesse geleer. Miskien was die belangrikste les dat ’n mens nooit Jehovah se diens moet verlaat nie.
In daardie dae het ons gewoonlik die hele naweek aan die predikingswerk gewy. Ek is aangestel om vir die “klankmotor” te sorg, wat in werklikheid ’n driewiel was waarop klanktoerusting en ’n motorbattery aangebring is. Elke Saterdag het ek op die driewiel na verskillende straathoeke gery, waar ons musiek en daarna een van broer Rutherford se toesprake gespeel het. Saterdae was ook gebruik vir straatwerk met ons tydskrifsakke. Sondae het ons aan die huis-tot-huis-werk gewy en boekies en gebonde boeke aangebied.
My assosiasie met ywerige ouer broers het die begeerte in my aangewakker om ’n pionier te word. Dié begeerte is versterk toe ek by die streekbyeenkomste na toesprake oor die pionierdiens geluister het. ’n Streekbyeenkoms wat ’n diepgaande uitwerking op my lewe gehad het, was die een wat in 1947 in Earl’s Court, Londen, gehou is. Twee maande later het ek die pionierdiens betree en sedertdien het ek daarna gestreef om die pioniergees te behou. Die vreugde wat ek daaruit geput het om progressiewe Bybelstudies te hou, het as herbevestiging gedien dat dit die regte besluit was.
’n Spaanse bruid en ’n Spaanse toewysing
In 1957, terwyl ek nog ’n pionier in die Paddington-gemeente was, het ek ’n lieflike Spaanse suster met die naam Rafaela ontmoet. Ná ’n paar maande is ons getroud. Ons doelwit was om saam as pioniers te dien, maar ons het eers na Madrid gegaan sodat ek Rafaela se ouers kon ontmoet. Dit was ’n besoek wat my lewe verander het. Terwyl ons in Madrid was, het broer Ray Dusinberre, die takopsiener van Spanje, my gevra of ons dit sou oorweeg om in Spanje te dien, waar daar ’n ontsaglike behoefte aan ervare broers was.
Hoe kon ons so ’n uitnodiging van die hand wys? Om dié rede het ons in 1958 ons voltydse diens saam in Spanje begin. Destyds was die land onder die bewind van Franco en was ons werk nie wetlik erken nie, wat die predikingswerk baie moeilik gemaak het. Daarbenewens moes ek die eerste paar jaar met Spaans sukkel. Weer eens was dit ’n geval van nie moed opgee nie, al het ek by meer as een geleentheid gehuil van absolute frustrasie omdat ek nie met die broers in die gemeente kon kommunikeer nie.
Daar was so ’n groot behoefte aan opsieners dat ek binne ’n maand na ’n groepie omgesien het, hoewel ek skaars Spaans kon praat. Aangesien ons werk in die geheim gedoen moes word, is ons in groepies van 15 tot 20 verkondigers georganiseer, wat min of meer soos gemeentetjies gefunksioneer het. In die begin was dit senutergend om die vergaderinge te hou, aangesien ek nie altyd die antwoorde van die gehoor kon verstaan nie. Maar my vrou het agter gesit en as sy opgemerk het dat ek verward is, het sy onopsigtelik haar kop geknik om te bevestig dat die antwoord reg was.
Ek het nie ’n aanleg vir tale nie, en meer as een keer het ek gevoel dat ek wil teruggaan Engeland toe waar ek alles baie makliker kon doen. Maar die liefde en vriendskap van ons liewe Spaanse broers en susters het uit die staanspoor vergoed vir my frustrasies met die taal. En Jehovah het my met spesiale voorregte geseën wat dit alles die moeite werd laat lyk het. In 1958 is ek genooi om die internasionale byeenkoms in New York as ’n afgevaardigde van Spanje by te woon. Toe, in 1962, het ek kosbare opleiding by die Koninkryksbedieningskool ontvang wat vir ons in Tanger, Marokko, gereël is.
Nog ’n probleem waarmee ek te kampe gehad het, afgesien van die taal, was die voortdurende bekommernis om deur die polisie gearresteer te word. As ’n buitelander het ek geweet dat arrestasie outomaties tot deportasie sou lei. Om die risiko te verminder, het ons in pare gewerk. Terwyl die een getuig het, het die ander vir enige tekens van gevaar geluister. Nadat ons een of twee deure besoek het, dikwels op die boonste verdieping van ’n woonstelgebou, het ons twee of drie blokke verder gegaan en by nog twee of drie huise besoek afgelê. Ons het die Bybel baie gebruik en het slegs ’n paar boekies gedra wat in ons oorjasse weggesteek was om vir belangstellendes aan te bied.
Ná ’n jaar in Madrid is ons na Vigo gestuur, ’n groot stad in Noordwes-Spanje waar daar glad nie Getuies was nie. Die Genootskap het aanbeveel dat my vrou die eerste maand of wat die meeste van die getuieniswerk doen—om die indruk te skep dat ons toeriste was. Ondanks ons pogings om op die agtergrond te bly, het ons predikingswerk aandag getrek. Binne ’n maand het Katolieke priesters oor die radio teen ons begin uitvaar. Hulle het hulle gemeentelede gewaarsku dat ’n egpaar van huis tot huis gaan en oor die Bybel gesels—wat destyds so te sê ’n verbode boek was. Die egpaar wat deur die polisie gesoek is, was ’n buitelander en sy Spaanse vrou, wat byna al die praatwerk gedoen het!
Die priesters het verklaar dat ’n blote gesprek met hierdie gevaarlike egpaar ’n sonde was wat slegs vergewe kon word as dit onmiddellik aan ’n priester gebieg word. En waarlik, aan die einde van ’n aangename gesprek met een vrou het sy gesê dat ons haar moet verskoon, want sy moes gaan bieg. Toe ons haar huis verlaat, het ons gesien hoe sy haar na die kerk toe haas.
Uitsetting uit die land
Slegs twee maande ná ons aankoms in Vigo het die polisie toegeslaan. Die polisieman wat ons gearresteer het, was simpatiek en het ons nie vir die rit na die polisiestasie geboei nie. By die polisiestasie het ons ’n bekende gesig gesien, ’n tikster vir wie ons kort tevore getuig het. Dit was duidelik dat sy verleë was om te sien dat ons soos misdadigers behandel word en het ons dadelik verseker dat sy ons nie geïnkrimineer het nie. Ons is nietemin daarvan aangekla dat ons die “geestelike eenheid van Spanje” bedreig en ons is ses weke later gedeporteer.
Dit was ’n terugslag, maar ons was glad nie van plan om moed op te gee nie. Daar was nog baie werk om op die Iberiese Skiereiland te doen. Ná drie maande in Tanger is ons na Gibraltar gestuur—nog ’n onaangeraakte gebied. Soos die apostel Paulus sê, sal ons voortgaan en sal ons beloon word as ons ons bediening hoogskat (2 Korinthiërs 4:1, 7, 8). Dit het in ons geval waar geblyk. By die heel eerste huis wat ons in Gibraltar besoek het, het ons ’n Bybelstudie met die hele gesin begin. Spoedig het elkeen van ons 17 studies gehou. Baie van die mense met wie ons gestudeer het, het Getuies geword, en binne twee jaar was daar ’n gemeente van 25 verkondigers.
Maar soos in Vigo het die geestelikes ’n aksie teen ons begin voer. Die Anglikaanse biskop van Gibraltar het die polisiehoof gewaarsku dat ons “ongewenste persone” was, en die druk wat hy uitgeoefen het, het op die ou end vrugte afgewerp. In Januarie 1962 is ons uit Gibraltar gesit. Waarheen sou ons nou gaan? Daar was steeds hulp nodig in Spanje; ons het dus teruggegaan in die hoop dat die polisie al van ons vergeet het.
Die sonnige stad Sevilla was ons nuwe tuiste. Daar het ons die vreugde gehad om ten nouste saam met ’n ander pionierpaar, Ray en Pat Kirkup, te werk. Hoewel Sevilla ’n stad met ’n halfmiljoen inwoners was, was daar net 21 verkondigers en daar was dus baie werk om te doen. Nou is daar 15 gemeentes met 1 500 verkondigers. ’n Jaar later het ons ’n aangename verrassing gehad; ons is genooi om kringwerk in die Barcelona-omgewing te doen.
Kringwerk in ’n land waar ons werk nie wetlik erken is nie, was ietwat anders. Elke week het ons groepies besoek, waarvan die meeste baie min bekwame broers gehad het. Hierdie hardwerkende broers het al die opleiding en hulp nodig gehad wat ons hulle kon gee. Ons het hierdie toewysing terdeë geniet! Nadat ons etlike jare in gebiede deurgebring het waar daar min of geen Getuies was, was ons baie bly om soveel verskillende broers en susters te kon besoek. Daarbenewens was die predikingswerk in Barcelona makliker en baie mense wou die Bybel bestudeer.
’n Stryd teen depressie
Net ses maande later het my lewe egter dramaties verander. Ons eerste vakansie by die see het byna in ’n tragedie geëindig toe ek die ongeluk gehad het wat vroeër beskryf is. Ek het fisies taamlik gou herstel van die skok dat ek byna verdrink het; tog het die voorval ’n onuitwisbare letsel op my senuweestelsel gelaat.
Ek het ’n paar maande lank met moeite met die kringwerk voortgegaan, maar ek moes uiteindelik vir mediese behandeling na Engeland terugkeer. Ná twee jaar het ek genoegsaam herstel sodat ons na Spanje kon terugkeer, waar ons die kringwerk hervat het. Maar dit was net vir ’n kort rukkie. My vrou se ouers het ernstig siek geword en ons het die voltydse diens verlaat om vir hulle te sorg.
Die lewe het moeiliker geword toe ek in 1968 ’n totale senuwee-ineenstorting gehad het. Daar was tye dat beide ek en Rafaela gedink het dat ek nooit sou herstel nie. Dit was asof ek weer aan die verdrink was, maar op ’n ander manier! Behalwe dat ek weens die depressie deur negatiewe gevoelens oorweldig is, het dit my van al my krag beroof. Ek het met tye aan uitermatige uitputting gely, wat my genoodsaak het om byna heeltyd te rus. Destyds het nie al die broers hierdie soort probleem verstaan nie; ek het natuurlik geweet dat Jehovah verstaan. Ek het dit baie geniet om die wonderlike artikels in Die Wagtoring en die Ontwaak! te lees wat begrip toon en baie nuttig is vir diegene wat aan depressie ly.
Dwarsdeur hierdie moeilike tyd was my vrou ’n voortdurende bron van bemoediging. Om probleme saam die hoof te bied, verstewig werklik die huweliksband. Rafaela se ouers het gesterf, en ná 12 jaar het my gesondheid dermate verbeter dat ons gemeen het ons kon weer die voltydse diens betree. In 1981 is ons, tot ons verbasing en vreugde, weer genooi om kringwerk te doen.
Ontsaglike teokratiese veranderinge het in Spanje plaasgevind sedert ons vorige ondervinding in die kringwerk. Die predikingswerk kon nou vryelik gedoen word en ek moes dus op hoogte van sake kom. Dit was nogtans ’n groot voorreg om weer as ’n kringopsiener te dien. Aangesien ons as pioniers gedien het ondanks moeilike omstandighede, kon ons pioniers aanmoedig wat probleme ondervind het. En ons kon ander dikwels help om by die pioniergeledere aan te sluit.
Ná 11 jaar van kringwerk in Madrid en Barcelona het ons swak gesondheid weer eens vereis dat ons van toewysing verander. Ons is as spesiale pioniers na die stad Salamanca gestuur, waar ek as ouere man kon help. Die broers in Salamanca het ons dadelik tuis laat voel. ’n Jaar later het ’n ander krisis ons volharding op die proef gestel.
Rafaela het op onverklaarbare wyse aan bloedarmoede begin ly, en toetse het getoon dat sy kolonkanker gehad het. Nou moes ek sterk wees en my vrou al die bystand gee wat ek kon. Ons eerste reaksie was ongeloof, wat deur vrees gevolg is. Sou Rafaela dit oorleef? Dit is tye soos hierdie dat volle vertroue in Jehovah ons help om voort te gaan. Ek is bly om te sê dat Rafaela ’n suksesvolle operasie gehad het en ons hoop dat die kanker nie sal terugkeer nie.
Hoewel ons gedurende die 36 jaar wat ons in Spanje deurgebring het goeie en slegte tye gehad het, was dit hartverblydend om in hierdie tyd van geestelike groei te lewe. Ons het die groepie van sowat 800 verkondigers in 1958 sien groei tot ’n menigte van meer as 100 000 verkondigers vandag. Ons probleme is deur ons baie vreugdes oortref—om ander te help om die waarheid te aanvaar en geestelik ryp te word, om as man en vrou saam te werk en om te voel dat ons ons lewe op die beste moontlike manier gebruik het.
Paulus sê in sy tweede brief aan die Korinthiërs: “Aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie” (2 Korinthiërs 4:1). Wanneer ek terugkyk, dink ek daar was etlike faktore in my lewe wat voorkom het dat ek moed opgegee het. Die voorbeeld van getroue gesalfde broers wat gedurende my wordingsjare aandag aan my gegee het, het ’n goeie grondslag voorsien. Om ’n huweliksmaat met dieselfde geestelike doelwitte te hê, is ’n wonderlike hulp; toe ek terneergedruk was, het Rafaela my aangemoedig, en ek het dieselfde vir haar gedoen. ’n Sin vir humor is ook ’n groot bate. Om saam met die broers te kan lag—en vir onsself te lag—laat die probleme op die een of ander manier minder oorweldigend lyk.
Maar dit vereis bowenal Jehovah se krag om ondanks beproewinge te volhard. Ek onthou altyd Paulus se woorde: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Met Jehovah aan ons kant is daar vir ons geen rede om moed op te gee nie.—Filippense 4:13, NAV.
[Prente op bladsy 23]
Ronald en Rafaela Taylor in 1958
[Prente op bladsy 24, 25]
’n Vergadering in Spanje terwyl die werk verbied was (1969)