Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 3/22 bl. 21-24
  • Ek het die wêreld probeer verander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het die wêreld probeer verander
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Hoe kan mense dit aan mense doen?’
  • Maar almal kan tog nie duiwels wees nie
  • Ek het God gesmeek om my die waarheid te laat sien
  • Ek het vrae gevra en antwoorde gekry
  • My begeertes word verwerklik
  • Ek het die ‘begeertes van my hart’ ontvang
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • My lewe het al hoe slegter geword
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Wat sal jy vir ’n Moslem sê?
    Ons Koninkryksbediening—1999
  • My brandende begeerte om God te dien
    Ontwaak!—1992
Ontwaak!—1990
g90 3/22 bl. 21-24

Ek het die wêreld probeer verander

EK IS in Junie 1954 in New Orleans, Louisiana, gebore. Ek was die 5de van 11 kinders. My ouers was streng Katolieke en het ons derhalwe na ’n konfessionele skool gestuur. Ek was ’n altaardienaar in die kerk, het baie oggende vroeg opgestaan om die Mis by te woon en het van kleins af die begeerte gekoester om ’n Katolieke priester te word en God en die mens te dien. Toe ek standerd ses geslaag het, het ek dus na ’n seminarie, die St. Augustine’s Divine Word Seminary in Bay St. Louis, Mississippi, gegaan.

Toe ek eers daar was, het ek agtergekom dat die priesters nie so heilig was as wat ek gedink het nie. Ek het leuentaal, godslastering en dronkenskap gesien. Een priester het homoseksuele verhoudings gehad. Nog ’n priester is dikwels deur die niggie van een van die ander priesters besoek, en sy het later sy baba verwag. Die oplossing daarvoor was dat hy na ’n ander godsdiensinstelling oorgeplaas is. Ek was ontnugter en my ambisie om priester te word het gesterf, maar my begeerte om God te dien het lewendig gebly.

Ek het in die seminarie ingewoon en daar kerk toe gegaan, maar het ’n oorwegend Blanke hoërskool bygewoon. Die mense daar was rassisties. Nie dat ek nog nie voorheen die slagoffer van diskriminasie in sy talle vorme was nie, veral daardie alewige herinnerings aan my “ondergeskikte status”, die tekens by drinkfonteintjies en ruskamers wat sê: “Slegs Blankes” en “Slegs Gekleurdes” en die rassistiese aanmerkings op geboue, soos “Geen Negers toegelaat nie”.

Maar in die hoërskool was dit persoonliker. Die neerhalende name, die eindelose stroom rassistiese grappe, die voortrekkery van Blanke leerlinge, die diskriminasie teen Swartmense—dit het my verbitter. Aangesien die Swart leerlinge in die minderheid was, het sommige messe of skeermesse by hulle gedra, vir die wis en die onwis. Ek het by aktiviste-kwessies betrokke geraak, soos om boikotte te lei.

‘Hoe kan mense dit aan mense doen?’

Tydens my 11de skooljaar het ek The Autobiography of Malcolm X gelees. Ek het my geheel en al in daardie boek verdiep. Saans, nadat die ligte uitgedoof moes wees, het ek die boek bed toe geneem en dit met ’n flitslig onder die komberse gelees. Ek het ook boeke oor die slawehandel in Afrika gelees. Ek het boeke gehad met sketse van die slaweskepe en wat gewys het hoe Swartmense soos sardientjies teen mekaar gedruk was; wanneer een van hulle gesterf het, is hy eenvoudig vir die haaie wat daardie skepe gevolg het, gegooi. Sulke dinge is in my geheue ingebrand. Wanneer ek snags geslaap het, het ek daardie dinge met mense sien gebeur en gewonder: ‘Hoe kan mense dit aan mense doen?’ Ek het Witmense begin haat.

Teen die tyd dat ek op universiteit was en die Black Panthers op die kampus gekom het, was ek vatbaar vir hulle idees. Hulle het geglo dat mag uit ’n geweerloop kom en dat daar bloedvergieting in Amerika tussen die rasse moes wees. Ek het hulle beskouing gedeel. Hulle wou hê dat ek by hulle moes aansluit, maar ek het nie. Ek het die Black Panthers se koerant verkoop, ek het saam met hulle dwelms gebruik, maar ek kon nie met hulle ateïsme saamstem nie. Ek het nog aan God geglo, hoewel ek deur Katolisisme ontnugter is weens die onsedelikheid en skynheiligheid van die priesters in die seminarie. Dit was op hierdie tydstip dat ek dit ernstig oorweeg het om selfmoord te pleeg deur van die Mississippi-brug af te spring.

Kort daarna het ’n Swart Moslem, wat die koerant Muhammad Speaks verkoop het, op die kampus gekom. Ons het oor die Swartman se posisie gepraat, en ek het vergaderinge van die Swart Moslems begin bywoon. Hulle het Witmense gehaat—dit was hulle wat my vertel het dat die Witman die Duiwel is. Nee, nie dat hy net duiwels, of diabolies, is nie, maar dat hy die Duiwel self is—wat verduidelik het waarom die Blankes sulke wreedhede teen die Swartmense gepleeg het. Wat het hulle aan die Amerikaanse Indiane en aan Swartmense in die slawehandel gedoen? Hulle het miljoene doodgemaak, dis wat hulle gedoen het!

Maar almal kan tog nie duiwels wees nie

Ek het derhalwe ’n Swart Moslem geword. Ek het my van, Dugué, wat Frans is, na X laat verander. Ek het Virgil X geword. As Swart Moslem was ek baie ywerig om hulle koerant te verkoop en in my deelname aan ander aktiwiteite. Ek het gemeen dat dit die regte manier was om God te dien. Maar na ’n ruk saam met die Swart Moslems het ek van hulle leerstellings, van hulle gebruike, in twyfel begin trek—selfs die gedagte dat die Witman die Duiwel is.

Ek het weliswaar slegte ondervindinge met Blankes in my lewe gehad, maar was hulle almal sonder uitsondering duiwels? Ek het aan die Blanke basketbalafrigter gedink wat Swartmense goedgesind was. Dan was daar ’n jong Blanke regsgeleerde wat my in ’n diskriminasiesaak teen New Orleans se Skoolraad verteenwoordig het. Daar was ander ordentlike Blankes wat ek in my lewe geken het—hulle kon tog nie almal duiwels wees nie.

Ek het ook oor die opstanding gedink. Die Swart Moslems het geleer dat wanneer jy sterf dit klaar is met jou! Maar ek het geredeneer: ‘As God die mens uit stof kon skep, kan hy hom tog uit die graf opwek.’ Dan was daar die Swart Moslems se geldsake. Ek het 300 eksemplare van die koerant Muhammad Speaks per week verkoop, 1200 per maand, en hulle het die geld gekry. Daar was die ledegeld wat ons moes betaal. So baie van die prediking het om geld gedraai. Ek het omtrent vier uur slaap per nag gekry. Ek het my hele lewe aan die Swart Moslems gewy. En nou het ek aan party van hulle leerstellings begin twyfel. Al daardie dinge het deur my kop gemaal, het op my gemoed gedruk.

Op ’n dag in Desember 1974 by my sekulêre werk by ’n gemeenskapsentrum het al hierdie gedagtes in my kop begin woel. Ek het nog nooit voorheen so gevoel nie. Ek het gedink dat ek my verstand verloor. Ek moes gou daar wegkom voordat iets slegs gebeur. Ek moes ’n kans hê om tot verhaal te kom, ’n bietjie tyd om na te dink oor die rigting wat my lewe inslaan. Ek het vir die mense by die sentrum gesê dat ek vir die dag moes weggaan. Ek het hulle geen verduideliking gegee nie.

Ek het God gesmeek om my die waarheid te laat sien

Ek het my van die werk af huis toe gehaas. Ek het op my knieë gegaan en tot God gebid. Ek het om die waarheid gebid. Vir die eerste keer het ek God gesmeek om my die waarheid te laat sien, om my die organisasie wat dit het te wys. Ek het voorheen gebid om ’n manier om Swartmense te help, om die regte rassistiese organisasie wat Wittes haat. Maar nou het ek net om die waarheid gebid, wat en waar dit ook al was. “As u Allah is, help my. As u nie Allah is nie, help my asseblief wie u ook al is. Help my om die waarheid te vind.”

Teen hierdie tyd het ek weer my regte naam, Virgil Dugué, gebruik. Ek het nog by my ma en pa in New Orleans gewoon. Toe ek die volgende dag ná my vurige gebed tot God wakker geword het, het ek ’n Wagtoring in die huis gekry. Ek weet nie hoe dit daar gekom het nie. Dit was ongewoon omdat ek nog nooit voorheen lektuur van Jehovah se Getuies in die huis gesien het nie. Ek het gevra of enigiemand in die gesin weet waar dit vandaan gekom het. Niemand het geweet nie. Iemand moes dit onder die deur ingedruk het.

Dit was die nommer van 15 Desember 1974. Op die voorblad was daar ’n prentjie van Maria en Josef en van Jesus in die krip—Witmense! En die vraag: “Is dit die manier om Jesus Christus te eer?” Ek het gedink: ‘Hulle gaan dit bevestig en sê dat jy Jesus moet aanbid.’ As dit enige ander nommer van die tydskrif was, sou ek dit waarskynlik opsy gegooi het. Maar ek het dit oopgemaak en die eerste artikel vlugtig gelees en besef dat hulle sê dat Jesus nie God is nie en dat jy Jesus nie moet aanbid nie. Dit was vir my ’n openbaring! Ek het gedink dat al die sektes van die Christendom Jesus aanbid en dat hulle almal dink dat Jesus God is.

Maar omdat ek ’n Swart Moslem was, het ek geweet dat Jesus nie God is nie. Hulle het talle tekste gelees wat toon dat Jesus nie God is nie, onder andere die teks in Johannes 14:28: “My Vader is groter as Ek.” Hulle het geleer dat Jesus ’n profeet is, en dat Elia Mohammed, ’n leier van die Swart Moslems, glo die laaste profeet is. Ek het derhalwe geweet dat Jesus nie God is nie, en toe ek dit in daardie artikel lees, was dit asof ek van ’n las ontslae geraak het. Toe ek die artikel klaar gelees het, het ek sprakeloos daar gesit. Ek het nie geweet wat om te dink nie. Ek was nie oortuig dat dit die waarheid is nie. Maar vir die eerste keer het ek besef dat nie alle sogenaamde Christengodsdienste Kersfees of ander heidense vakansiedae vier nie. En aangesien ek om die waarheid gebid het, het ek gedink: ‘Kan dit die waarheid wees? Is dit die antwoord op my gebed?’

Ek het al die sogenaamde Christenkerke in die telefoongids opgesoek. Ek het hulle gebel en net gevra: “Vier julle Kersfees?” Wanneer hulle ja gesê het, het ek die telefoon neergesit. Op die ou end was nog net Jehovah se Getuies oor. Kon dit ’n antwoord op my gebed wees? Ek het nog nooit na hulle geluister nie. Miskien was dit tyd dat ek luister. Ek het hulle Koninkryksaal geskakel. ’n Blanke man het geantwoord. Hy wou na my huis toe kom om die Bybel met my te studeer. Maar ek was versigtig. Ek het nee gesê. Hy was ’n Witmens; hy kon nog die duiwel wees.

Ek het vrae gevra en antwoorde gekry

Ons het gevolglik oor die telefoon gepraat. Vir die eerste keer in my lewe het ek tevrede gevoel. Ek het hom elke dag gebel, nog vrae gevra en nog antwoorde gekry. Hy het vir my bewyse gegee. Wat hy gesê het, het hy met tekste uit die Bybel gestaaf. Ek was beïndruk. Dit was die eerste keer dat enigiemand die Bybel gebruik het om my vrae te beantwoord. ’n Straal van hoop het by my posgevat. Ek het ’n New World Translation of the Holy Scriptures met ’n klein konkordansie agterin aangeskaf. Ek het dit aandagtig bestudeer en nog baie waarhede geleer.

’n Maand later het ek na Dallas, Texas, verhuis. Nadat ek gevestig was, het ek die plaaslike Koninkryksaal geskakel. Die persoon wat geantwoord het, het my opgelaai en na ’n vergadering by die saal geneem. Daar is ek aan ’n Getuie voorgestel wat ingestem het om met my te studeer. Ek het na sy huis gegaan vir die studie. Ek was geestelik uitgehonger, en ons het dus drie keer per week, elke keer ’n paar uur lank, gestudeer. Sy naam was Curtis. Ek het op sy drumpel gewag wanneer hy van die werk af gekom het. Hy het so baie geduld met my gehad. Ek het nie besef dat die tuisbybelstudies gewoonlik een keer per week en net een uur lank gehou word nie, en Curtis het my nooit gesê nie. Ek het in Januarie of Februarie 1975 saam met hom begin studeer; ons het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in Mei daardie jaar voltooi.

Ek het kort daarna na New Orleans teruggekeer, met die Getuies by die Koninkryksaal omgegaan en die goeie nuus van die Koninkryk van huis tot huis begin verkondig. Ek het gemeen dat ek ywerig moes wees as ’n Getuie van Jehovah aangesien ek as ’n Swart Moslem so ywerig was dat ek 100 tot 150 uur per maand daaraan bestee het om die koerant Muhammad Speaks te verkoop en snags net vier uur geslaap het. Benewens my studie het ek dus gepreek en talle tuisbybelstudies gehou. Trouens, ek onthou dat die voorsitter my tydens een Diensvergaderingprogram gevra het:

“Hoeveel tyd het jy verlede maand aan die velddiens bestee?”

“Ongeveer honderd uur.”

“Hoeveel Bybelstudies hou jy?”

“Tien.”

Almal in die gehoor het oor hierdie hoë syfers gefluister en ek het gewonder: ‘Het ek iets verkeerds gesê? Doen ek nie genoeg nie?’

My begeertes word verwerklik

Ek het in so ’n mate gevorder dat ek my toegewy het en op 21 Desember 1975 gedoop is. Jehovah het my die daaropvolgende jaar met ’n wonderlike vrou, Brenda, geseën. Trouens, ek het Brenda die dag toe ek gedoop is, ontmoet. Sy was toe ’n voltydse Koninkryksverkondiger en het een gebly nadat ons getroud is. Ek het my twee jaar later, in 1978, by haar in die voltydse bediening aangesluit. Twee jaar daarna, in 1980, is ek en Brenda genooi om lede te word van die Bethelgesin in Brooklyn, New York, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies. Ons dien Jehovah steeds daar.

Wanneer ek op my lewe terugkyk, dink ek aan my jong jare toe ek graag ’n Katolieke priester wou word en God en die mens wou dien. Ek dink aan my soeke na ’n doel, eers by die Black Panthers en toe by die Swart Moslems, en ek onthou die dae toe ek deur hierdie bewegings ontnugter is, net soos ek vroeër deur die priesterdom ontnugter is. Maar deur dit alles het my geloof in God nooit gewankel nie. Ek dank Jehovah dat hy my van valse godsdiens en die politiek bevry het en my op die weg na die waarheid en die lewe geplaas het.

My jeugbegeerte om God en die mens te dien is uiteindelik verwerklik!—Soos vertel deur Virgil Dugué.

[Prent op bladsy 23]

Virgil en Brenda Dugué

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel