Ek het die ‘begeertes van my hart’ ontvang
Soos vertel deur P. J. Wentzel
TOE ons skip na die reis van Suid-Afrika af in die hawe van New York dok, het ’n Swartman ons by die hawe ontmoet. Hy was daar om vir my, my vrou Lina en ’n bejaarde vrou wat saam met ons gereis het na ons huisvesting te neem. Ons het in ’n Swart buurt stilgehou en die bestuurder het uitgeklim om vir ons reisgenoot seker te maak van die adres. “Maar, Piet”, het sy vir my gesê, “dis alles Swart!”
“Dis Amerika”, het ek haar herinner. “Daar is geen verskil tussen Swart en Wit hier nie; ons is almal dieselfde.” (Maar ek het innerlik gehoop dat ek en my vrou na Witmense geneem sou word!) Toe het die bestuurder ons metgesel kom haal en sy is hartlik verwelkom deur ’n Swart gesin.
Toe was dit ons beurt—nog in die Swart gebied. Terwyl ons gasheer en sy vrou die motor genader het, het ek vurig tot God gebid om my te help om ontslae te raak van enige rassevooroordeel wat daar nog mag wees—’n erfenis van my ouers.
Ons Swart gashere in New York het ons hartlik verwelkom. Hulle het ons na ons kamer geneem, waar alles silwerskoon was. Toe hulle ons alleen laat, was ons eers stil. Toe het Lina na die bed toe geloop, die hoek van die deken opgelig en gesê: “Piet, om te dink dat ek vanaand vir die eerste keer in my lewe in ’n Swart vrou se bed moet slaap!” Maar ons het ons gashere leer ken en innig liefgekry.
Waarom was dit vir my en my reisgenote so ’n groot ding om rassevooroordeel te bowe te kom?
Vroeë invloede
Bonnievale, waar ek in 1922 gebore is, is ’n dorpie sowat 160 kilometer oos van Kaapstad. My vader was ’n lidmaat van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Dit was ’n kerk slegs vir Witmense. Die Swartmense het hulle eie kerke gehad in ’n afsonderlike woonbuurt waar hulle gewoon het. Ons is dus grootgemaak om die afgeskeidenheid van rasse te aanvaar.
En hoe diepgewortel kan rassevooroordeel tog wees! Ons is geleer dat ons ras beter is. Ons het Swartmense beskou as persone wat soos mense, maar nie soos standgenote behandel moet word nie. In my jong dae was dit die gebruik om hulle by die agterdeur te ontvang, en as ons hulle tee aangebied het, is dit bedien in ’n spesiale beker wat net vir Swartmense gehou is. Ons is wysgemaak dat dinge miskien in die hemel anders is, maar dat daar op aarde streng apartheid is.
Kort nadat ek 17 geword het, het ek my vader gevra of ek aangeneem kon word, maar hy het gemeen dat ek te jonk was. Die volgende jaar het hy egter vir my gesê dat dit nou tyd was vir aanneming. Ek het dit baie ernstig opgeneem. Vir my het dit beteken dat jy jouself aan God gee en sy wil doen. En aangesien ek vir die wêreld en die genietinge daarvan gelewe het, en onder meer ’n strawwe roker was, het ek besef dat ek drastiese veranderinge in my lewe moes aanbring.
Ek het derhalwe die grootste deel van elke etenstyd aan Skriflesing bestee. Dit was vir my ’n openbaring—ek kon sien dat my en my familie se lewenswyse ver te kort geskiet het aan die Skrif se vereistes. Hoewel ek die Bybel in my moedertaal, Afrikaans, gelees het, was daar baie dinge wat ek nie verstaan het nie. Ek het gevolglik nie net gelees nie, maar ook tot God gebid om my te help om die Bybel te verstaan.
Toe die tyd vir katkisasieklasse aangebreek het, het ek reeds ’n groot deel van die Bybel gelees. Ek het my vader gevra waar aanneming in die Bybel uiteengesit word sodat ek dit kon bestudeer.
“Dit is nie in die Bybel nie”, het hy geantwoord. “Dit is ’n vereiste van die kerk.” Ek was geskok!
“Maar as aanneming nie in God se Woord is nie, hoe kan ek dit aanvaar?” het ek gevra. “En as ons in hierdie uiters belangrike saak mislei word, hoe kan ek my lewe aan die kerk toevertrou?”
Wel, van toe af het ek na die waarheid begin soek.
Soeke na die waarheid
Eendag het ’n vriend my na ’n diens by die Nederduits Gereformeerde Kerk genooi—ek het geruime tyd nie kerk toe gegaan nie. Die predikant het oor hoop gepraat: “As ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” (Romeine 8:24, 25). A, dit was wat ek wou weet! Wat is ons hoop? Waarvoor lewe ek? Sou ek nou antwoorde kry? Maar die predikant het versuim om ’n hoop vir die toekoms te beskryf. Terwyl ek daar gesit het, het ek God gesmeek om die predikant te help om my te help!
Iets anders het my gepla. Ek bet opgemerk dat baie mense gesit en dut het. Ek het daarna gesmag om die waarheid te hoor, en hier het mense gesit en slaap! Ek het die kerk teleurgesteld verlaat en nooit weer teruggegaan nie.
Later het ek die Bybel bespreek met ’n vriend wat Pinksteridees gehad het. Hy het gesê dat ’n persoon wat God wil dien deur onderdompeling in water gedoop moet word. Ek het derhalwe die volgende diens van hierdie groepie bygewoon en is in die rivier gedoop. Dit het my vader bitter kwaad gemaak. Hy het my selfs met die dood gedreig omdat ek dit durf waag het om by ’n sekte aan te sluit! Ek kon nie meer die Bybel tuis lees nie, maar het dit gedoen saam met die groepie by wie ek aangesluit het. Ek kon nie eens meer saam met my vader eet nie, en wanneer ek met hom in aanraking gekom het, het hy vir my gesê om my gesig weg te draai. Hy wou dit nie sien nie!
Die Pinkstergroepie het bloot die Bybel gelees, gesing, saam gebid en in tale gepraat. Teen daardie tyd het ek my lewe in orde gebring en ook rook opgegee. Ek het hard probeer om soos die ander die heilige gees te ontvang, en het selfs ’n paar dae gevas, maar niks het gebeur nie. Toe het ek oor dinge nagedink. Ek het geweet dat daar ander in die dorp is wat beweer het dat hulle in tale praat, maar hulle het onsedelike lewens gelei. Hoe kon God dus sy heilige gees aan mense gee wie se lewens nie met sy wil gestrook het nie? En iets anders het my gepla. Ek het besluit om die leier van ons groep te vra.
“Is die heilige gees wat jy en ander ontvang dieselfde heilige gees wat die Bybel geïnspireer het?” het ek gevra.
“Ja”, het hy geantwoord.
“Wel, gaan die aarde die mens se ewige tuiste wees of gaan dit vernietig word?”
“Die aarde gaan vernietig word en Christene sal in die hemel woon.”
“Maar hier moet iewers fout wees”, het ek geantwoord, “want die Bybel sê dat die aarde vir ewig bly staan—’n stelling wat deur God se gees geïnspireer is—dieselfde gees wat jy beweer jy het.”—Prediker 1:4.
Ek het toe geweet dat ons groepie nie die waarheid het nie. My soeke daarna het voortgeduur.
Eendag het die Pinkstergroepleier vir my ’n boek gebring met die titel Rykdom, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. Toe ek begin lees, kon ek sien dat dit strook met wat ek in die Bybel gelees het. Uiteindelik het ek die waarheid gevind! Ek het geskryf en nog publikasies gevra. Ons groepie het dit gretig aanvaar en ons het dit gebruik om die Bybel te bestudeer en vir ander te getuig. Kort hierna het ’n paar van Jehovah se Getuies Bonnievale vlugtig besoek, en ons het ’n goeie bespreking met hulle gehad. Vier van ons het boonop die volgende Sondag saam met hulle aan die huis-tot-huispredikingswerk deelgeneem.
Ons vorm ’n gemeentetjie
Ons het nog boeke van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Kaapstad bestel sodat ons kon voortgaan om die boodskap van hoop te versprei. Hulle het gesê dat ons eers aansoek om die stigting van ’n gemeente moet doen. Ons was aanvanklik bang hiervoor, maar namate die behoefte aan boeke dringender geword het, het ons uiteindelik aansoek gedoen en is tot ’n nuwe gemeente gevorm—net ons vier, hoewel nie een van ons as ’n Getuie gedoop is nie!
Ons het elke maand gerapporteer hoeveel predikingswerk ons gedoen het. Maar omdat ons onopgelei was, het ons nie herbesoeke gedoen by mense wat belangstelling getoon het nie. Die takkantoor het ons aandag maand na maand hierop gevestig. Uiteindelik het twee van ons die moed bymekaargeskraap en na ’n huis gegaan waar die mense ontvanklik gelyk het. Ons het die gesin vergader en ’n gesang saam gesing. Ek het toe met gebed geopen en ’n Bybelopname van een van J. F. Rutherford se lesings gespeel. Almal het aandagtig geluister. Ons het toe met nog ’n gesang en ’n gebed afgesluit. Op pad huis toe het ek gesê: “Wel, dit was ons eerste herbesoek!”
Intussen het my vader se teenkanting onverpoos voortgeduur. My kennis van die Bybel was min! Maar ek het hartgrondig geglo in wat ek geweet het. Eendag het Rachel, een van my susters, vir ons kom kuier. Gedurende my etensuur het sy oor die Drie-eenheid begin redeneer.
“Waarom verwerp julle die Drie-eenheidsleerstelling?” het sy gevra. “Ons kerk leer duidelik dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees mede-ewig en gelyk in mag is.”
“As die heilige gees gelyk is aan die Vader en die Seun”, het ek geantwoord, “dan kan dit vir my doen presies wat die Vader en die Seun kan doen. Ek kan dus net sowel tot die heilige gees bid.”
Rachel het niks gesê nie. Maar my vader in die vertrek langsaan het uitgeroep: “Rachel, los hom. Jy sal niks met hom uitrig nie.” Die hele gesin het vergader om Rachel te ondersteun. Toe het my vader die vertrek hoogs ontsteld binnegestorm. Hy het sy vuis gebal en dit tot teen my voorkop gebring—maar gestop en teruggestaan. Ek het doodstil gebly.
“Jy sit daar soos ’n skynheilige engel”, het my vader geskreeu. Hy het my herinner aan die tyd toe ek aangebied het om teen Hitler te veg en hy toestemming geweier het, aangesien ek minderjarig was. “Ek wens nou dat jy gegaan en gesneuwel het!” het hy uitgeroep. Ek het hom kalm bedank dat hy my gekeer het om by die leër aan te sluit.
Toe alles verby was, het ek uitgegaan en gepeins. Voor ek in die Bybel begin belangstel het, was daar vrede. Nou was daar ’n familietwis. Wat moes ek doen? Teruggaan kerk toe en so familievrede herstel? As ek dit sou doen, sou ek die kosbare waarhede wat ek geleer het, versaak. My ouers het my in die wêreld gebring, maar slegs God kon my die ewige lewe gee. Met my hand teen ’n pragtige palmboom, regop en stewig, het ek net daar besluit: “Hulle kan my doodmaak, maar ek gaan nie terugdraai nie.”
Ek betree die voltydse diens
Ek was ongetroud, jonk en sterk en het te ingeperk begin voel deur my werk by ’n plaaslike kaasfabriek. Ek het daar ses dae per week vir ’n geringe loon gewerk, maar kon slegs een dag per week in heilige diens aan Jehovah bestee, van wie ek die ewige lewe verwag het. Waarom sou ek aanhou kaas maak wanneer ek kosbare waarhede het wat lewens kon red? Ek wou ’n voltydse bedienaar wees.
Ek het aan die Genootskap geskryf en gesê dat ek ’n “pionier”, of voltydse werker, wou wees. “Maar hoe?” het ek gevra. Ek was slegs 18 en my vader sou nooit daartoe instem nie. Ek het ’n antwoord ontvang wat hierdie pragtige woorde aangehaal het: “Verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:4).
Hoe kon my hartsbegeerte vervul word wanneer my vader so gekant is? Ek het nietemin oor daardie woorde nagedink en aanhou bid.
Uiteindelik het ek ’n plan beraam. Ek het vir my vader gesê dat daar geen toekoms vir my in Bonnievale was nie en dat ek Kaapstad toe wou trek. Hy het gesê: “Ek weet waarom. Jy wil daardie boeke van regter Rutherford gaan verkoop!” Maar hy het ingestem.
In Kaapstad het ek hard gewerk om genoeg te verdien sodat ek die paar dinge kon koop wat ek nodig sou hê om die voltydse diens te betree. Toe ek die takopsiener, George Phillips, ontmoet het, het ek ’n probleem gehad. Omdat ek van ’n Afrikaanse gemeenskap af gekom het, was my Engels so swak dat ek deur middel van ’n tolk met hom moes praat. En by die vergaderinge het ek so min verstaan dat ek eenkeer ’n byeenkoms wat vir Kaapstad gereël is, misgeloop het omdat ek nie die aankondiging verstaan het nie!
In November het broer Phillips my meegedeel dat daar vir my ’n geleentheid was om pionierdiens in Kimberley te doen en dat ek die volgende maand kon begin. Ek is huis toe om die familie te groet. Ek moes my emosies in toom hou, want ek het gedink dat ek hulle miskien nie weer voor Armageddon sou sien nie! Maar ek het nie vir hulle vertel dat ek ’n pionier gaan word nie.
Dit was op 1 Desember 1941, op die ouderdom van 19, dat ek my pionierloopbaan in Kimberley begin het. Vandaar het ek aan my ouers geskryf. Ek het nie ’n wrok jeens my vader gekoester vir die manier waarop hy my behandel het nie. Moeder het teruggeskryf dat sy bly was dat ek my hartsbegeerte kon verwesenlik. Ek het my inderdaad ‘in Jehovah verlustig’, want hy het my die ‘begeerte van my hart’ gegee—die voltydse bediening.
Ek ontvang nog ’n ‘begeerte van my hart’
In 1942 het ek in Johannesburg, by die eerste nasionale byeenkoms wat ek bygewoon het, my toewyding aan God deur doop gesimboliseer. Twee jaar later het ek ’n jong pioniersuster, Lina Muller, ontmoet. Ons was aangetrokke tot mekaar, maar ons het besluit om tot na die groot verdrukking te wag voor ons ernstig aan trou sou dink.
Die openbarevergaderingveldtog het in 1945 begin. Ek het toe in Vereeniging saam met twee ander pioniers gedien. Een van hulle was Frans Muller, Lina se broer. Toe ons aanvanklik van hierdie nuwe kampanje gehoor het, was ons dit eens dat dit nie vir ons was nie—ons het geen ondervinding as openbare sprekers gehad nie. Met die Genootskap se aansporing het ons egter toesprake gekies. Ons het ’n stil plekkie naby die Vaalrivier gekies om ons toesprake te oefen, en daar het ons ons “gehoor”—die rivier—toegespreek! Ons het grootliks beloon gevoel toe daar ’n maand later, in plaas van die gewone vier of vyf by ons groepvergadering, 37 vir die eerste toespraak opgedaag het!
In 1947 is ek in die kringwerk aangestel. Ek en Lina is die volgende jaar getroud. Sedertdien arbei my dierbare vrou aan my sy—’n uiters lojale metgesel. Ek het dus nog ’n ‘begeerte van my hart’ ontvang.
Belangrike lesse
In 1953 het ek en Lina die groot voorreg gehad om die “New World Society”-Byeenkoms in New York, V.S.A., by te woon—ons eerste oorsese reis. Dit is toe dat een van ons Christenbroers ons by die hawe opgelaai het om ons na die huis van die Swart Getuiegesin te neem by wie ons gebly het. Hoe lief het ons tog vir daardie dierbare broers en susters geword!
Hierdie ondervinding het ons baie gehelp toe ek later die Swart Getuies in Suid-Afrika as streekopsiener gedien het. Ons is dikwels in baie nederige huise ontvang, en moes soms op die vloer sit en eenkeer selfs op die vloer slaap.
Sedert 1966 dien ek en my vrou in Bethel hier in Suid-Afrika. Nadat ek 20 jaar as reisende opsiener gedien het, was dit vir my aanvanklik moeilik om by die lewe in Bethel aan te pas. Ek was baie lief daarvoor om te preek, te onderrig en ander op te lei. Maar met die verloop van tyd het ek geleer om Betheldiens innig te waardeer. Mettertyd het ek die voorreg ontvang om in die Diensafdeling te werk en dien nou al etlike jare as ’n lid van die Takkomitee.
Ek kan onthou dat ons in 1942, toe ek nog in Kimberley was, gehoor het van die President van die Genootskap, J. F. Rutherford, se afsterwe. ’n Nuusberig het gesê: ‘Noudat die leier van Jehovah se Getuies dood is, sal die organisasie verwelk en doodgaan, soos ’n pampoenstoel in die warm son.’ Maar hoe pragtig het die organisasie tog deur die jare heen aangehou floreer—selfs gedurende die skroeiende hitte van vervolging! En watter wonderlike groei het tog in Suid-Afrika sedert daardie vroeë jare in Bonnievale plaasgevind! Toe was daar nagenoeg 1 000 Getuies in Suid-Afrika; nou is daar meer as 36 000.
Wanneer ek nadink oor wat Jehovah en sy organisasie oor die jare heen vir my gedoen en beteken het, spoor ek my jong mede-Getuies heelhartig aan om plek te maak vir voltydse diens, indien enigsins moontlik. Dit bring ryk beloninge mee. Ek weet dat as ek aanhou om my daarin te verlustig om Jehovah se wil te doen, hy my die begeerte van my hart sal gee—’n ewigheid van vreugdevolle diens.
[Lokteks op bladsy 9]
Ons het ons Swart gashere leer ken en innig liefgekry
[Lokteks op bladsy 12]
“Jy sit daar soos ’n skynheilige engel”, het my vader geskreeu. “Ek wens nou dat jy gegaan en gesneuwel het!”
[Lokteks op bladsy 13]
Hoe pragtig het die organisasie deur die jare heen aangehou floreer—selfs gedurende die hitte van vervolging!
[Prent op bladsy 10]
P. J. Wentzel en sy vrou Lina