Buiteaardse wesens—die eeue-oue droom
HEDENDAAGSE skrywers van wetenskapsverhale het nie die idee van buiteaardse wesens uitgedink nie. Sowat 23 eeue gelede het ’n Griekse filosoof genaamd Metrodorus geleer dat ’n heelal met net een bewoonde wêreld so onwaarskynlik is soos ’n groot saailand waarin net een koringaar groei. Lucretius, ’n Romeinse digter van die eerste eeu v.G.J., het geskryf dat daar “in ander dele van die hemelruim ander aardes en verskillende menserasse is”.
Hierdie leerstelling wat die pluraliteit van wêrelde genoem word, was baie eeue lank in onguns by die Christendom. Maar van omstreeks 1700 af tot die vroeë deel van ons eeu het die meeste geleerde mense, met inbegrip van die vernaamste wetenskaplikes in die geskiedenis, vas geglo aan lewe op ander wêrelde. Trouens, een opvoedkundige van die middel-1800’s is alom gekritiseer toe hy dit gewaag het om ’n verhandeling te skryf waarin hy die leerstelling ontken het.
Dit het gelyk asof mense graag aan buiteaardse wesens wou glo, selfs op grond van die flouste bewyse. In 1835 het ’n koerantverslaggewer geskryf dat sterrekundiges lewe op die maan ontdek het. Hy het geskryf dat vreemde diere, eksotiese plante en selfs klein mensies met vlerke, wat rondgesweef en duidelik gebare gemaak het, deur ’n teleskoop gesien is! Die sirkulasie van sy koerant het die hoogte ingeskiet. Baie het aangehou om die storie te glo selfs nadat dit as bedrog oopgevlek is.
Wetenskaplikes was ook optimisties. In die laat 1800’s was sterrekundige Percival Lowell oortuig dat hy ’n ingewikkelde stelsel kanale op die planeet Mars kon sien. Hy het hulle breedvoerig in kaart gebring en boeke geskryf oor die beskawing wat hulle aangelê het. In Frankryk was die Akademie vir die Natuurwetenskappe so seker dat daar lewe op Mars is dat dit ’n beloning aangebied het vir die eerste persoon wat met enige buiteaardse wesens behalwe Marsbewoners kommunikeer.
Party het buitensporige metodes voorgestel om met wesens op nabygeleë wêrelde te kommunikeer, soos om groot vure in die Sahara-woestyn aan te steek en om geometriese woude oor die hele Siberië aan te plant. In 1899 het ’n Amerikaanse uitvinder ’n mas opgerig met ’n koperbol bo-op en kragtige elektriese impulse daardeur gestuur om met die Marsbewoners te kommunikeer. Mense se hare het gerys en ligte het in ’n omtrek van 50 kilometer gegloei, maar daar was geen antwoord van Mars nie.
Vol hoop
Hoewel die tegnologie agter vandag se soektog na lewe op ander wêrelde moontlik nuut is, bly een ding onveranderd: Wetenskaplikes is steeds vol vertroue dat die mens nie alleen in die heelal is nie. Soos sterrekundige Otto Wöhrbach in die Duitse koerant Nürnberger Nachrichten geskryf het: “Daar is kwalik ’n natuurwetenskaplike wat nie ja sal sê wanneer hy gevra word of daar buiteaardse lewe is nie.” Gene Bylinsky, skrywer van Life in Darwin’s Universe, het dit so gestel: “As radiosterrekundiges geglo kan word, sal daar enige dag van nou af ’n sein van die sterre af deur die onmeetbare ruimte flits om ons kosmiese alleenheid te beëindig.”
Waarom is wetenskaplikes so seker dat lewe op ander wêrelde bestaan? Hulle optimisme begin by die sterre. Daar is so baie van hulle—duisendmiljoene in ons galaksie. Dan begin die veronderstellings. Baie van daardie sterre moet tog sekerlik planete hê wat om hulle wentel, en lewe moes op sommige van daardie wêrelde ontwikkel het. Sterrekundiges het daardie redenasie gevolg en gespekuleer dat daar duisende tot miljoene beskawings hier in ons eie galaksie is!
Maak dit saak?
Watter verskil maak dit of daar lewe in die buitenste ruimte is of nie? Wel, wetenskaplikes meen dat antwoorde ’n geweldige uitwerking op die mensdom sal hê. Hulle sê dat as ons uitvind dat ons alleen in die heelal is die mensdom sal leer om lewe hier te waardeer omdat dit uniek is. Aan die ander kant redeneer een gesiene wetenskaplike dat vreemde beskawings waarskynlik baie miljoene jare verder as ons eie gevorder sal wees en moontlik hulle ontsaglike wysheid aan ons sal oordra. Hulle sal ons miskien leer om ons siektes te genees, om besoedeling, oorloë en hongersnood te beëindig. Dalk sal hulle ons selfs wys hoe om die dood te oorwin!
Geen siekte, oorlog of die dood meer nie—daardie soort hoop beteken baie vir mense in ons bewoë tye. Dit beteken ongetwyfeld ook vir jou baie. Maar jy sal waarskynlik saamstem dat dit beter is om geen hoop te hê nie as om op ’n valse hoop te steun. Dit is dan belangrik dat ons moet uitvind of wetenskaplikes op vaste grond is wanneer hulle beweer dat die heelal van bevolkte wêrelde wemel.
[Lokteks op bladsy 5]
Is wetenskaplikes op vaste grond wanneer hulle beweer dat die heelal van bevolkte wêrelde wemel?