Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 5/8 bl. 18-19
  • Gebed in sport—Luister God daarna?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebed in sport—Luister God daarna?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Jy moet jou naaste verbrysel’
  • Woon God sportbyeenkomste by?
  • God luister na sy vriende
  • Kies God kant in sport?
    Ontwaak!—1994
  • Probleme in hedendaagse sport
    Ontwaak!—1991
  • Moet ek by ’n sportspan aansluit?
    Ontwaak!—1996
  • Spansport—is dit goed vir my?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 5/8 bl. 18-19

Die Bybelse beskouing

Gebed in sport—Luister God daarna?

DIE lug is gelaai met opwinding terwyl duisende bewonderaars die stadion binnestroom en ondersteuning vir hulle gunstelingspan uitbulder. Die spelers het pas hulle opwarmingsoefeninge voltooi, en binne enkele oomblikke gaan die fluitjie geblaas word om die wedstryd te laat begin. Aan die een kant van die veld is die spelers saamgehurk, en in die middel kniel die kaptein, wat bid: “God, seën asseblief ons span, skenk ons die oorwinning oor ons teenstanders, en beskerm ons teen beserings. Amen.” Die bondel spat met ’n harde kreet uiteen, die spelers neem hulle posisies op die veld in, die fluitjie blaas, en die georganiseerde geweld van Amerikaanse voetbal begin.

Individuele en spangebede voor, gedurende en na deelname aan verskillende sportsoorte het iets algemeens geword. Maar luister God daarna? Of maak dit, soos party aanvoer, ’n bespotting van gebed?

‘Jy moet jou naaste verbrysel’

Dwarsdeur die wêreld word amper elke sportsoort deur geweld ontsier—op die veld en op die pawiljoene. ’n Voormalige professionele voetbalspeler in die Verenigde State het geskryf: “Daar kan gesê word dat liggaamsvergruising die hele doel van voetbal is, soos doodmaak en verminking van oorlog is.” Hy het verder gesê: “Mededingende, georganiseerde besering is ’n wesenlike deel van ons lewenswyse, en voetbal is een van die meer verstaanbare spieëls . . . wat ons wys hoe opwindend en lonend dit is om jou naaste te verbrysel.”

Jou naaste verbrysel? Jesus het gesê jy moet jou naaste liefhê (Mattheüs 22:39). Dit is onmoontlik om te dink dat die God van liefde by een van vandag se sportbyeenkomste, met hulle klem op wen-tot-elke-prys, teenwoordig sou wees en dit sou seën.—1 Johannes 4:16.

Woon God sportbyeenkomste by?

Een faktor wat gebed in sport aanmoedig, is die godsdienslering dat God alomteenwoordig is, dat God te alle tye by alle bestaande plekke en dinge teenwoordig is. In die boek God Goes to Football Games sê geestelike en voormalige sportspan-kapelaan L. H. Hollingsworth byvoorbeeld: “Elke formele oortuiging wat ons oor God huldig, sluit die idee van Sy alomteenwoordigheid in; die idee, wil jy glo, dat Hy beslis teenwoordig is by wat ons ons sekulêre ondervinding noem . . . Dit wil sê, God gaan kerk toe, en God gaan na voetbalwedstryde toe.”

Maar die Bybel leer nie dat God alomteenwoordig is nie. Die Christenapostel Paulus het geskryf: “Want Christus het . . . ingegaan . . . in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24). Daar is twee belangrike punte wat hierdie teks onder ons aandag bring: dat God ’n geespersoon is en dat hy ’n vaste woonplek, die hemel, het (1 Konings 8:49; Johannes 4:24). Hy kan dus nie terselfdertyd op enige ander plek wees nie.

God luister na sy vriende

Wel, as God nie sportbyeenkomste bywoon nie, luister hy dan ten minste na die gebede? Voordat gebede die horende ore van hierdie God van die hemel, voor wie Jesus verskyn het, kan bereik, moet die een wat bid kennis hê, kennis van God se voornemens, sy persoonlikheid, sy eienskappe, sy weë en sy naam (Jakobus 4:3). Jesus het die nodigheid om God te ken, beklemtoon toe hy gebid het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God.”—Johannes 17:3.

Dit vereis kommunikasie om iemand te leer ken. God kommunikeer met die mens deur die Bybel, en die Bybel is die middel waardeur ons die God van die hemel kan leer ken. Dit leer ons dat sy naam Jehovah is (Psalm 83:19, NW). Die Bybel sê ook dat God die wêreld so lief gehad het dat hy sy eniggebore Seun, Jesus, hier na die aarde gestuur het sodat die mens die geleentheid sou hê om vir ewig te lewe (Johannes 3:16). Wanneer ons die Bybel lees en bestudeer, word Jehovah werklik, en word ons deur Jesus na hom getrek (Johannes 6:44, 65; Jakobus 4:8). Omdat Jehovah werklik is, kan ons ’n intieme persoonlike verhouding met hom aankweek.

Vriendskap met God behels egter tweerigtingkommunikasie. Dit vereis dat ons in gebed met Jehovah praat. Die Bybel sê dat God ’n “Hoorder van die gebed” is en dat ‘hy nie ver van elkeen van ons is nie’ (Psalm 65:3; Handelinge 17:27). Maar dit beteken nie dat God na alle gebede luister nie (Jesaja 1:15-17). Na wie se gebede is God bereid om te luister?

Die psalmis Dawid het gesê: “Die vertroulike omgang met Jehovah behoort aan hulle wat hom vrees” (Psalm 25:14, NW). In die oorspronklike Hebreeus kom die uitdrukking “vertroulike omgang” van ’n grondwoord (sohd) wat beteken “om vas te maak”. Gevolglik dra hierdie vers die gedagte oor van toelating tot die binneste kring van Jehovah of tot ’n vriendskapsverbond met hom. Net dié aanbidders wat gepaste respek toon, word toegelaat. Ons intieme vriendskap met God laat ons dus vrees om daardie verhouding te skend deur enigiets te doen wat hom sal mishaag, soos om gebed as ’n gelukbringer te gebruik om ’n sportoorwinning te verseker.

Jehovah luister na gebede van opregte persone wat vriendskap met hom verlang, en hy is nie partydig nie. Hy het nie gunstelinge nie en vereer nie een volksgroep, ras of selfs sportspan bo ’n ander nie (Psalm 65:3; Handelinge 10:34, 35). As God wel na die gebede van sportmededingers luister en albei spanne bid tot hom om oorwinning, watter een moet hy seën? Of sal dit God se skuld wees as ’n speler tydens ’n wedstryd ernstig beseer word?

Ons moet dus om die regte dinge bid. Die apostel Johannes verduidelik dit só: ‘As ons iets volgens sy wil vra, sal hy ons verhoor’ (1 Johannes 5:14). Jehovah luister na gebede wat in ooreenstemming met sy wil is. Ons moet weet wat sy wil en voornemens is sodat ons gebede in harmonie daarmee sal wees.

God se wil en voornemens en sy glorieryke naam is ver verwyder van vandag se mededingende en gewelddadige sportbyeenkomste. God is nie partydig nie. Luister God dus wanneer daar by hierdie geleenthede gebid word? Hoegenaamd nie!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel